Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w94 9/15 bl. 25-26
  • Die Bron van onwankelbare moed

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Bron van onwankelbare moed
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Les vir Christene
  • Een godsdiens sal oorbly
    Ontwaak!—1996
  • Hou goeie moed!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Maak my moedig
    ‘Sing met vreugde’ vir Jehovah
  • ‘Wees moedig en baie sterk’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
w94 9/15 bl. 25-26

Die Bron van onwankelbare moed

“’N BLAASGELUID het ons in ons spore laat vassteek. Toe, uit ’n bos aan ons linkerkant, het twee voëls met uitgestrekte vlerke na ons toe gehardloop. Voor ons het twee eiers in ’n holtetjie in die grond gelê. Die voëls het verhoed dat ons per ongeluk op hulle nes trap. Telkens wanneer ons nader probeer kom het en ’n foto van die mooi, gevlekte bruin eiers probeer neem het, het die voëls hulle dreigvertoning herhaal. ‘Hoe moedig tog’, het ons gedink.”

Dit was die ondervinding van vier volwassenes toe hulle die nes van ’n dikkop genader het. ’n Kleiner voël is die bontkiewiet. In die boek Everyone’s Guide to South African Birds verduidelik die voëlkundiges, mnre. Sinclair en Mendelsohn: “Broeipare beskerm hulle nes en kuikens met al hulle mag en word in die teenwoordigheid van ’n indringer baie aggressief. Hulle word nie deur die grootte van die oortreder afgeskrik nie en vlieg op terwyl hulle hard skreeu en duik vreesloos neer op selfs mense in ’n poging om hulle weg te hou.”

Sommige het al gesien hoe ’n groot olifant toevallig in die rigting van ’n bontkiewiet se nes geloop het en hoe die voël hom dan probeer keer het. Die olifant is gewoonlik tegemoetkomend en loop om.

Waar kry voëls sulke oënskynlike moed? Dit is afkomstig van die Een wat hulle geskep het. Jehovah God het hierdie klein skepseltjies geprogrammeer met instinktiewe meganismes om te verhoed dat groter diere hulle nes of jong kuikens skade aandoen.

’n Les vir Christene

Christene kan ’n les hieruit leer, hoewel hulle meer moet doen as om bloot instinktiewe moed aan die dag te lê. Daar word van hulle verwag om die voetspore te volg van hulle Heer, Jesus Christus, wat God se bevele vreesloos gehoorsaam het (Hebreërs 12:1-3). Die Bybel veroordeel lafaards wat terugdeins van diens aan God (Hebreërs 10:39, NAV; Openbaring 21:8). Terselfdertyd verstaan Jehovah ons onvolmaakte samestelling en weet hy dat ons soms sonde doen of nie genoeg moed het om sy wil ten volle te doen nie (Psalm 103:12-14). Wat kan iemand doen as vrees hom huiwerig maak om te doen wat reg is?

’n Christen moet hom in gebed tot God wend vir krag om beproewinge die hoof te bied en om die Goddelike wil te bly doen. Die Bybel bevat hierdie gerusstellende belofte van Jehovah se hulp: “Hy gee die vermoeide krag en vermenigvuldig sterkte vir die wat geen kragte het nie. Die jonges word moeg en mat, en die jongmanne struikel selfs; maar die wat op die HERE wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie” (Jesaja 40:29-31). Talle onvolmaakte mense het al die waarheid van hierdie woorde ondervind en “krag uit swakheid ontvang” (Hebreërs 11:34). ’n Goeie voorbeeld was die Christenapostel Paulus, wat geskryf het: “Die Here het my bygestaan en my krag gegee, sodat deur my die prediking heeltemal volbring kan word en al die heidene dit kan hoor.”—2 Timotheüs 4:17.

Selfs nuwe belangstellendes wat navolgers van Jesus Christus wil word, kan sulke versterkende hulp ontvang. Neem byvoorbeeld ’n Suid-Afrikaanse man met die naam Henry, wat die tesourier van sy kerk was en langs sy predikant gewoon het. Henry was op soek na die waarheid. Ten spyte van sy bande met die kerk het hy eendag die aanbod van ’n gratis tuisbybelstudie met Jehovah se Getuies aanvaar. Mettertyd het hy die begeerte uitgespreek om ’n Getuie te word en gevra watter stappe hy moet doen om daardie doel te bereik. Daar is aan hom verduidelik dat hy eers as lid van sy kerk moet bedank (Openbaring 18:4). Aangesien die predikant sy buurman en vriend was, het Henry gemeen dat hy nie net ’n brief kon skryf om sy lidmaatskap te beëindig nie, maar dat hy die saak van aangesig tot aangesig moes verduidelik. Hy het dit moedig gedoen.

Die predikant was geskok en het later die moderator en ander kerklidmate geneem om Henry te besoek. Hulle wou weet waarom hy hulle kerk verlaat het om lid te word van ’n godsdiens wat, volgens hulle, nie God se heilige gees het nie. “Aanvanklik was ek bang om hulle te antwoord”, het Henry verduidelik, “omdat hulle nog altyd groot invloed op my gehad het. Maar ek het Jehovah se hulp gevra, en hy het my in staat gestel om ter verdediging te sê: ‘Watter een van al die internasionale godsdienste gebruik alleen God se naam, Jehovah? Is dit nie Jehovah se Getuies nie? Dink julle God sal hulle toelaat om sy naam te dra en hulle nie ook sy heilige gees gee nie?’” Die kerkamptenare kon nie sulke redenering weerlê nie. Henry is dankbaar vir die kennis en krag wat God voorsien en neem nou moedig saam met Jehovah se Getuies deel aan die bediening van huis tot huis.

Ja, om ’n ware Christen te wees, verg moed. Namate hierdie wêreld se einde al hoe nader kom, sal toetse van ons geloof toeneem. Satan wil God se knegte van hulle wonderlike hoop op die ewige lewe beroof deur hulle onkreukbaarheid teenoor Jehovah te probeer verbreek. (Vergelyk Openbaring 2:10.) Maar ons moet nooit moed opgee nie. Selfs as ons vanweë vrees ’n tydelike terugslag ervaar, kan Jehovah ons help om te herstel. Ons moet voortdurend op hom vertrou vir krag om sy wil te bly doen. Onthou, hy wat vreeslose voëls geskep het, is die Bron van onwankelbare moed. Ware Christene moet inderdaad “goeie moed . . . hou en sê: ‘Jehovah is my helper; ek sal nie bang wees nie. Wat kan ’n mens aan my doen?’”—Hebreërs 13:6, NW.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel