Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w94 10/1 bl. 15-20
  • Wees liefdevolle herders van God se kudde

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wees liefdevolle herders van God se kudde
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die goeie Herder se voorbeeld
  • Wrede herders in Israel
  • Liefdevolle herders in die Christengemeente
  • Respekteer die gebruik van wilsvryheid
  • Ouere manne, neem julle herdersverantwoordelikhede ernstig op
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Herders, volg die grootste Herders na
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2013
  • Wees gehoorsaam aan Jehovah se herders
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2013
  • Liefdevolle herderswerk onder Jehovah se kosbare skape
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
w94 10/1 bl. 15-20

Wees liefdevolle herders van God se kudde

“Hou as herders toesig oor die kudde van God wat onder julle sorg is.”—1 PETRUS 5:2, NW.

1, 2. Wat is Jehovah se hoofeienskap, en hoe word dit geopenbaar?

DEUR die hele Heilige Skrif word dit duidelik gestel dat liefde God se hoofeienskap is. “God is liefde”, sê 1 Johannes 4:8. Aangesien God se liefde deur sy dade geopenbaar word, sê 1 Petrus 5:7 dat God ‘vir julle sorg’. In die Bybel word die manier waarop Jehovah vir sy volk sorg, vergelyk met die manier waarop ’n liefdevolle herder met teerheid vir sy skape sorg: “Kyk, die Here HERE . . . sal sy kudde laat wei soos ’n herder; Hy sal die lammers in sy arm vergader en aan sy bors dra; die lammerooie sal Hy saggies lei” (Jesaja 40:10, 11). Hoe vertroos het Dawid tog gevoel om te kon sê: “Die HERE is my herder; niks sal my ontbreek nie”!—Psalm 23:1.

2 Dit is gepas dat die Bybel mense wat God se guns geniet met skape vergelyk, want skape is vredeliewend, onderdanig en gehoorsaam aan hulle sorgsame herder. As ’n liefdevolle Herder gee Jehovah opreg vir sy skaapgeaarde volk om. Hy toon dit deur op materiële en geestelike gebied vir hulle te voorsien en hulle deur die moeilike “laaste dae” van hierdie bose wêreld na sy inkomende regverdige nuwe wêreld te lei.—2 Timotheüs 3:1-5, 13; Mattheüs 6:31-34; 10:28-31; 2 Petrus 3:13.

3. Hoe het die psalmis Jehovah se besorgdheid oor sy skape beskryf?

3 Let op Jehovah se liefdevolle besorgdheid oor sy skape: “Die oë van die HERE is op die regverdiges, en sy ore tot hulle hulpgeroep. . . . Hulle roep, en die HERE hoor, en Hy red hulle uit al hul benoudhede. Die HERE is naby die wat gebroke is van hart, en Hy verlos die wat verslae is van gees. Menigvuldig is die teëspoede van die regverdige, maar uit dié almal red die HERE hom” (Psalm 34:16-20). Watter groot vertroosting bied die universele Herder tog aan sy skaapgeaarde volk!

Die goeie Herder se voorbeeld

4. Wat is Jesus se rol in die versorging van God se kudde?

4 God se Seun, Jesus, het goed by sy Vader geleer, want die Bybel noem Jesus “die goeie herder” (Johannes 10:11-16). Sy noodsaaklike diens ten behoewe van God se kudde is in Openbaring hoofstuk 7 opgeteken. In vers 9 word God se hedendaagse knegte “’n groot menigte . . . uit alle nasies en stamme en volke en tale” genoem. Daarna sê vers 17: “Die Lam [Jesus] . . . sal hulle laat wei en hulle na lewende waterfonteine lei, en God sal alle trane van hulle oë afvee.” Jesus lei God se skape na die waters van waarheid wat tot die ewige lewe lei (Johannes 17:3). Let op dat Jesus “die Lam” genoem word, wat na sy eie skaapgeaarde eienskappe verwys, aangesien hy die vernaamste voorbeeld van onderdanigheid aan God is.

5. Hoe het Jesus oor mense gevoel?

5 Op aarde het Jesus onder die mense gewoon en hulle haglike toestand aanskou. Hoe het hy op hulle treurige toestand gereageer? “Hy [het] innig jammer gevoel vir hulle, omdat hulle moeg en uitgeput was, soos skape wat geen herder het nie” (Mattheüs 9:36). Skape wat geen herder het nie, asook skape wat deur herders verwaarloos word, lei erg onder rowers. Maar Jesus was baie besorg, want hy het gesê: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig.”—Mattheüs 11:28-30.

6. Hoe was Jesus bedagsaam teenoor die verdruktes?

6 Bybelprofesieë het voorspel dat Jesus mense liefdevol sou behandel: “Die HERE [het] My gesalf . . . om te verbind die gebrokenes van hart, . . . om al die treurendes te troos” (Jesaja 61:1, 2; Lukas 4:17-21). Jesus het nooit die armes en verworpenes verag nie. Hy het eerder Jesaja 42:3 vervul: “Die geknakte riet sal Hy nie verbreek en die dowwe lamppit nie uitblus nie.” (Vergelyk Mattheüs 12:17-21.) Diegene wat in ’n ellendige toestand verkeer het, was soos geknakte riete, soos lamppitte wat weens te min brandstof wou uitgaan. Aangesien Jesus besef het in watter ellendige toestand hulle was, het hy medelye aan hulle betoon en hulle met krag en hoop besiel deur hulle geestelik en liggaamlik te genees.—Mattheüs 4:23.

7. Op wie het Jesus mense wat na hom geluister het se aandag gevestig?

7 Menigtes skaapgeaardes het na Jesus geluister. Sy onderrigting het soveel trefkrag gehad dat dienaars wat gestuur is om hom in hegtenis te neem, gesê het: “Nooit het ’n mens so gespreek soos hierdie mens nie” (Johannes 7:46). Selfs die skynheilige godsdiensleiers het gekla: “Die hele wêreld loop agter Hom aan”! (Johannes 12:19). Maar Jesus het nie eer of roem gesoek nie. Hy het die aandag op sy Vader gevestig. Hy het mense geleer om Jehovah te dien uit liefde vir Sy uitstekende eienskappe: “Jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele krag en uit jou hele verstand.”—Lukas 10:27, 28.

8. Hoe verskil die gehoorsaamheid wat God se volk aan hom betoon van dié wat ander aan wêreldlike heersers betoon?

8 Jehovah verheug hom oor die feit dat sy skaapgeaarde volk, op grond van hulle liefde vir hom, sy universele soewereiniteit ondersteun. Vanweë hulle kennis van sy liefdevolle eienskappe dien hulle hom uit vrye wil. Hoe verskil dit tog van hierdie wêreld se leiers wie se onderdane hulle net uit vrees of met teësin gehoorsaam of omdat hulle die een of ander bybedoeling het! Daar kan nooit van Jehovah of van Jesus gesê word wat van ’n pous van die Rooms-Katolieke Kerk gesê is nie: “Baie het hom bewonder, almal het hom gevrees, maar niemand het hom liefgehad nie.”—Vicars of Christ—The Dark Side of the Papacy deur Peter De Rosa.

Wrede herders in Israel

9, 10. Beskryf die gedrag van die leiers van eertydse Israel en van die eerste eeu.

9 In teenstelling met Jesus het die godsdiensleiers van Israel in sy dag geen liefde vir die skape gehad nie. Hulle was soos die eertydse heersers in Israel van wie Jehovah gesê het: “Wee die herders van Israel wat aan hulleself weiding verskaf! Moet die herders nie die skape laat wei nie? . . . Julle versterk die swakkes nie en maak die siekes nie gesond nie en die wat gewond is, verbind julle nie en wat weggedryf is, bring julle nie terug nie en wat verlore is, soek julle nie; maar met strengheid heers julle oor hulle en met hardheid.”—Esegiël 34:2-4.

10 Die Joodse godsdiensleiers van die eerste eeu was net so ongevoelig soos daardie politieke herders (Lukas 11:47-52). Ter toeligting: Jesus het vertel van ’n Jood wat beroof en geslaan is en halfdood langs die pad gelaat is. ’n Israelitiese priester het daar verbygekom, maar toe hy die Jood sien, het hy aan die ander kant van die pad verbygegaan. ’n Leviet het dieselfde gedoen. Toe het ’n nie-Israeliet, ’n veragte Samaritaan, daar verbygekom en die slagoffer jammer gekry. Hy het sy wonde verbind, hom op ’n pakdier na ’n herberg geneem en vir hom gesorg. Hy het die eienaar van die herberg betaal en gesê dat hy terug sou kom om enige bykomende onkoste te betaal.—Lukas 10:30-37.

11, 12. (a) Hoe het die goddeloosheid van die godsdiensleiers ’n hoogtepunt in Jesus se dag bereik? (b) Wat het die Romeine uiteindelik aan die godsdiensleiers gedoen?

11 Die godsdiensleiers van Jesus se dag was so verdorwe dat, toe Jesus Lasarus uit die dood opgewek het, die owerpriesters en die Fariseërs die Sanhedrin byeengeroep het en gesê het: “Wat sal ons doen?—want hierdie man [Jesus] doen baie tekens. As ons Hom so laat begaan, sal almal in Hom glo; en die Romeine sal kom en ons land en ons nasie albei afneem” (Johannes 11:47, 48). Jesus se goeie daad ten behoewe van die dooie man was nie vir hulle van belang nie. Hulle was besorg oor hulle posisie. Daarom ‘het hulle toe van dié dag af saam beraadslaag om Jesus om die lewe te bring’.—Johannes 11:53.

12 Die owerpriesters het hulle goddeloosheid verder vererger deur toe te “besluit om Lasarus ook om die lewe te bring, omdat baie van die Jode deur hom weggegaan en in Jesus geglo het” (Johannes 12:10, 11). Hulle selfsugtige pogings om hulle posisie te beskerm, was tevergeefs, want Jesus het vir hulle gesê: “Julle huis word vir julle woes gelaat!” (Mattheüs 23:38). Daardie woorde is bewaarheid toe die Romeine in daardie geslag gekom het en nie net ‘hulle land en hulle nasie’ afgeneem het nie, maar hulle ook hulle lewe verloor het.

Liefdevolle herders in die Christengemeente

13. Wie het Jehovah beloof om te stuur as herders vir sy kudde?

13 In die plek van die wrede, selfsugtige herders sou Jehovah die goeie Herder, Jesus, verwek om vir Sy kudde te sorg. Hy het ook belowe om liefdevolle onderherders te verwek om vir die skape te sorg: ‘Ek sal herders oor hulle verwek wat hulle sal oppas; en hulle sal nie meer bevrees wees nie’ (Jeremia 23:4). Daarom word daar vandag, soos in die eerste-eeuse Christengemeente, ‘in stad na stad ouere manne aangestel’ (Titus 1:5, NW). Hierdie geestelike ouere manne wat aan die vereistes voldoen wat in die Skrif uiteengesit word, moet ‘as herders toesig hou oor die kudde van God’.—1 Petrus 5:2; 1 Timotheüs 3:1-7; Titus 1:7-9.

14, 15. (a) Watter gesindheid het die dissipels moeilik gevind om aan te kweek? (b) Wat het Jesus gedoen om te toon dat ouere manne nederige knegte moet wees?

14 Wanneer ouere manne na die skape omsien, moet hulle die skape “bo alles . . . vurig liefhê” (1 Petrus 4:8). Maar die dissipels van Jesus, wat té besorg oor hulle eie aansien en posisie was, moes dit nog leer. Toe die moeder van twee dissipels dus vir Jesus gesê het: “Sê dat hierdie twee seuns van my in u koninkryk mag sit, een aan u regter- en een aan u linkerhand”, het die ander dissipels verontwaardig gevoel. Jesus het vir hulle gesê: ‘Die owerstes van die nasies heers oor hulle en die groot manne oefen gesag oor hulle uit; maar só moet dit onder julle nie wees nie; maar elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees.’—Mattheüs 20:20-28.

15 By ’n ander geleentheid, ná die dissipels “met mekaar gepraat [het] oor wie die grootste is”, het Jesus vir hulle gesê: “As iemand die eerste wil wees, moet hy die laaste van almal en almal se dienaar wees” (Markus 9:34, 35). Nederigheid en ’n bereidwilligheid om te dien, moes ’n deel van hulle persoonlikheid word. Tog het die dissipels steeds met daardie idees probleme ondervind, want die nag voor Jesus se dood het daar tydens die laaste aandmaal “’n driftige woordewisseling” onder hulle ontstaan oor wie die grootste was! Dit het gebeur ondanks die feit dat Jesus vir hulle gewys het hoe ’n ouere man die kudde moet dien; hy was nederig en het hulle voete gewas. Hy het gesê: “As Ek dan, die Here en die Meester, julle voete gewas het, is julle ook verplig om mekaar se voete te was. Want Ek het julle ’n voorbeeld gegee om, net soos Ek aan julle gedoen het, ook so te doen.”—Lukas 22:24, NW; Johannes 13:14, 15.

16. Wat het die Watch Tower in 1899 oor die belangrikste eienskap van ouere manne gesê?

16 Jehovah se Getuies het nog altyd geleer dat ouere manne so moet wees. Bykans ’n eeu gelede het die Watch Tower van 1 April 1899 Paulus se woorde in 1 Korinthiërs 13:1-8 aangehaal en gesê: “Die Apostel vestig duidelik die aandag daarop dat kennis en welsprekendheid nie die belangrikste toetse is nie, maar dat liefde wat die hart vul en in ons hele lewenswandel geopenbaar word en ons sterflike liggame aandryf en in werking hou die ware toets is—die ware bewys van ons Goddelike verhouding. . . . Die vernaamste kenmerk waarna gekyk moet word in elkeen wat as ’n kneg van die kerk aanvaar word, om in heilige dinge te dien, moet ten eerste die gees van liefde wees.” Dit het gesê dat manne wat nie nederig uit liefde wou dien nie “gevaarlike onderrigters is en dat hulle moontlik meer kwaad as goed sal doen”.—1 Korinthiërs 8:1.

17. Hoe beklemtoon die Bybel die eienskappe wat ouere manne moet hê?

17 Die ouere manne moet dus nie “heersers oor” die skape wees nie (1 Petrus 5:3). Hulle moet eerder die leiding daarin neem om “vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar” te wees (Efesiërs 4:32). Paulus het beklemtoon: “Beklee julle . . . met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid. . . . En beklee julle bo dit alles met die liefde wat die band van die volmaaktheid is.”—Kolossense 3:12-14.

18. (a) Watter goeie voorbeeld het Paulus gestel in die manier waarop hy die skape behandel het? (b) Waarom moet ouere manne nie die behoeftes van die skape ignoreer nie?

18 Paulus het geleer om dit te doen en gesê: “Ons was vriendelik onder julle soos ’n pleegmoeder haar kinders koester. Terwyl ons so na julle verlang het, was dit ons aangenaam om aan julle nie alleen die evangelie van God mee te deel nie, maar ook ons eie lewe, omdat julle vir ons dierbaar geword het” (1 Thessalonicense 2:7, 8). In ooreenstemming daarmee het hy gesê: “Praat vertroostend met die terneergedrukte siele, ondersteun die swakkes, wees lankmoedig teenoor almal” (1 Thessalonicense 5:14, NW). Die ouere manne moet Spreuke 21:13 in gedagte hou, ongeag die soort probleme waarmee die skape dalk na hulle toe kom: “Wie sy oor toestop vir die geskreeu van die arme, hy sal self ook roep en nie verhoor word nie.”

19. Waarom strek liefdevolle ouere manne ons tot voordeel, en hoe reageer die skape op sulke liefde?

19 Ouere manne wat liefdevolle herders vir die kudde is, strek die skape tot voordeel. Jesaja 32:2 het voorspel: “Elkeen sal wees soos ’n toevlug teen die wind en ’n skuiling teen die stortreën, soos waterstrome in ’n dor streek, soos die skaduwee van ’n swaar rots in ’n land wat versmag.” Ons is bly om te weet dat baie van ons hedendaagse ouere manne in daardie pragtige prentjie van verkwikking pas. Hulle het geleer om die volgende beginsel toe te pas: “Wees hartlik teenoor mekaar met broederlike liefde; die een moet die ander voorgaan in eerbetoning” (Romeine 12:10). Wanneer ouere manne hierdie liefde en nederigheid betoon, reageer die skape daarop deur ‘in liefde aan hulle die hoogste agting te bewys ter wille van hulle werk’.—1 Thessalonicense 5:12, 13.

Respekteer die gebruik van wilsvryheid

20. Waarom moet ouere manne mense se wilsvryheid respekteer?

20 Jehovah het mense met wilsvryheid geskep sodat hulle hulle eie besluite kan neem. Hoewel ouere manne raad moet gee en selfs moet teregwys, moet hulle nie die lewe of geloof van ander beheer nie. Paulus het gesê: “Nie dat ons die meesters oor julle geloof is nie, maar ons is medewerkers vir julle vreugde, want dit is deur julle geloof dat julle staan” (2 Korinthiërs 1:24, NW). Ja, “elkeen sal sy eie pak dra” (Galasiërs 6:5). Jehovah het ons heelwat vryheid binne die perke van sy wette en beginsels gegee. Ouere manne moet dus nie reëls neerlê waar skriftuurlike beginsels nie oortree word nie. En hulle moet enige neiging weerstaan om hulle eie persoonlike opinies as dogma te verkondig of om toe te laat dat hulle ego tussenbeide kom as iemand nie met sulke sieninge saamstem nie.—2 Korinthiërs 3:17; 1 Petrus 2:16.

21. Wat kan ons leer uit Paulus se gesindheid teenoor Filemon?

21 Let op hoe Paulus, terwyl hy in Rome in die gevangenis was, met Filemon, ’n Christen-slawe-eienaar in Kolosse in Klein-Asië, gehandel het. Filemon se slaaf Onesimus het na Rome gevlug, ’n Christen geword en het Paulus gehelp. Paulus het aan Filemon geskryf: “Ek wou hom by my hou, sodat hy my in die boeie van die evangelie in jou plek kan dien. Maar sonder jou goedkeuring wou ek niks doen nie, sodat jou goedheid nie uit dwang sou wees nie, maar uit vrye keuse” (Filemon 13, 14). Paulus het Onesimus teruggestuur en Filemon gevra om hom as ’n Christenbroer te behandel. Paulus het geweet dat die kudde nie syne was nie; dit is God s’n. Hy was nie die kudde se meester nie maar die kneg daarvan. Paulus het nie aan Filemon voorgeskryf nie; hy het sy wilsvryheid gerespekteer.

22. (a) Hoe moet ouere manne hulle posisie beskou? (b) Watter soort organisasie is Jehovah besig om tot stand te bring?

22 Namate God se organisasie groei, word meer ouere manne aangestel. Hulle, sowel as die meer ervare ouere manne, moet verstaan dat hulle ’n posisie van nederige diens beklee. Op dié manier sal God se organisasie, namate dit na die nuwe wêreld voortbeweeg, voortgaan om te groei soos hy wil hê—goed georganiseerd maar nie sodat liefde en medelye ter wille van doeltreffendheid prysgegee word nie. Sodoende sal sy organisasie al hoe aantrekliker word vir skaapgeaardes wat daarin die bewys sal sien dat “God al sy werke ten goede laat saamwerk vir dié wat God liefhet”. Dit is wat ’n mens verwag van ’n organisasie wat op liefde gegrond is, want “die liefde vergaan nimmermeer”.—Romeine 8:28, NW; 1 Korinthiërs 13:8.

Hoe sou jy antwoord?

◻ Hoe beskryf die Bybel Jehovah se besorgdheid oor sy volk?

◻ Wat is Jesus se rol in die versorging van God se kudde?

◻ Wat is die belangrikste eienskap wat ouere manne moet hê?

◻ Waarom moet ouere manne die wilsvryheid van die skape in ag neem?

[Prent op bladsy 16]

Jesus, die “goeie herder”, het medelye betoon

[Prente op bladsy 17]

Die verdorwe godsdiensleiers het saamgespan om Jesus dood te maak

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel