Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w94 10/15 bl. 16-21
  • Leer jy soos Jesus geleer het?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Leer jy soos Jesus geleer het?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Sy leer het die hart bereik
  • Jesus was toegeeflik wanneer liefde dit vereis het
  • Hy word ’n “seun van die gebod”
  • Jesus is lief vir en verstaan kinders
  • ‘Die uur het gekom!’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Jesus Christus—die grootste Sendeling
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Jesus openbaar “God se wysheid”
    Kom nader aan Jehovah
  • “Ek het vir julle die voorbeeld gestel”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
w94 10/15 bl. 16-21

Leer jy soos Jesus geleer het?

“Die skare [was] verslae oor sy leer; want Hy het geleer soos een wat gesag het, en nie soos die skrifgeleerdes nie.”—MATTHEÜS 7:28, 29.

1. Wie het Jesus gevolg terwyl hy in Galilea geleer het, en wat was Jesus se reaksie daarop?

WAAR Jesus ook al gegaan het, het die skares na hom toe gestroom. “Jesus het deur die hele Galilea rondgegaan en in hulle sinagoges geleer en die evangelie van die koninkryk verkondig en elke siekte en elke kwaal onder die volk genees.” Namate die gerug aangaande sy bedrywighede versprei het, het “groot menigtes . . . Hom gevolg van Galilea en Dekapolis en Jerusalem en Judea en van oorkant die Jordaan af” (Mattheüs 4:23, 25). Toe hy hulle sien, “het Hy innig jammer gevoel vir hulle, omdat hulle moeg en uitgeput was, soos skape wat geen herder het nie”. Terwyl hy hulle geleer het, kon hulle sy jammerte of tere geneentheid vir hulle aanvoel; dit was soos ’n strelende salf op hulle wonde wat hulle na hom toe aangetrek het.—Mattheüs 9:35, 36.

2. Wat benewens Jesus se wonderwerke het groot skares gelok?

2 Watter wonderdadige liggaamlike genesings het Jesus tog verrig—hy het melaatses genees, die dowes laat hoor, die blindes laat sien, die kreupeles laat loop, die dooies lewend gemaak! Hierdie luisterryke vertonings van Jehovah se mag deur Jesus het natuurlik groot skares gelok! Maar die wonderwerke was nie al wat hulle gelok het nie; groot skares het ook vir die geestelike genesing gekom wat voorsien is wanneer Jesus geleer het. Let byvoorbeeld op hulle reaksie nadat hulle na sy beroemde Bergpredikasie geluister het: “Toe Jesus hierdie woorde geëindig het, was die skare verslae oor sy leer; want Hy het hulle geleer soos een wat gesag het, en nie soos die skrifgeleerdes nie” (Mattheüs 7:28, 29). Hulle rabbi’s het die mondelinge oorlewerings van rabbi’s van die ou tyd as hulle gesag aangehaal. Jesus het hulle met gesag van God af geleer: “Wat Ek dan spreek—net soos die Vader vir My gesê het, so spreek Ek.”—Johannes 12:50.

Sy leer het die hart bereik

3. Hoe het die manier waarop Jesus sy boodskap oorgedra het van dié van die skrifgeleerdes en Fariseërs verskil?

3 Die verskil tussen Jesus se leer en dié van die skrifgeleerdes en die Fariseërs was nie net die inhoud daarvan nie—waarhede van God in teenstelling met die veeleisende mondelinge oorlewerings van mense—maar ook die manier waarop dit oorgedra is. Die skrifgeleerdes en Fariseërs was verwaand en ongevoelig, hulle het hulle op hoogmoedige wyse verhewe titels toegeëien en die skares op smalende wyse as “vervloek” afgemaak. Maar Jesus was sagmoedig, vriendelik, simpatiek, dikwels toegewend en hy was innig jammer vir hulle. Jesus het nie net met die regte woorde geleer nie, maar ook met aangename woorde uit sy hart, wat direk tot die hart van sy hoorders gespreek het. Sy verblydende boodskap het mense na hom toe aangetrek, hulle vroeg na die tempel toe gebring om hom te hoor en gemaak dat hulle hom aangehang en met genot na hom geluister het. Hulle het in hulle menigtes gekom om na hom te luister en het gesê: “Nooit het ’n mens so gespreek soos hierdie mens nie.”—Johannes 7:46-49; Markus 12:37; Lukas 4:22; 19:48; 21:38.

4. Wat omtrent Jesus se prediking het baie mense veral aangetrek?

4 Een rede waarom mense tot sy leer aangetrokke was, was beslis omdat hy illustrasies gebruik het. Jesus het gesien wat ander gesien het, maar hy het aan dinge gedink wat nooit by hulle opgekom het nie. Lelies wat in die veld groei, voëls wat hulle nessies bou, saaiers wat saad saai, herders wat verlore lammers terugbring, vrouens wat laslappe op ou kledingstukke vaswerk, kinders wat op die markplein speel, vissers wat hulle nette intrek—die alledaagse dinge wat almal gesien het—was nooit alledaags in Jesus se oë nie. Oral waar hy gekyk het, het hy dinge gesien wat hy kon gebruik om God en Sy Koninkryk toe te lig of om ’n punt oor die mensegemeenskap om hom te stel.

5. Waarop het Jesus sy illustrasies gegrond, en wat het sy gelykenisse doeltreffend gemaak?

5 Jesus se illustrasies is op alledaagse dinge gegrond wat mense al baie kere gesien het, en wanneer waarhede met hierdie bekende dinge verbind word, word hulle vinnig en diep in die verstand van die luisteraars ingeprent. Sulke waarhede word nie net gehoor nie; hulle word voor die geestesoog geroep en word later maklik herroep. Jesus se gelykenisse is gekenmerk deur eenvoud, hulle was nie vol onbelangrike materiaal wat mense se begrip van waarhede kon belemmer nie. Kyk byvoorbeeld na die gelykenis van die barmhartige Samaritaan. ’n Mens kan duidelik sien wat dit beteken om ’n goeie naaste te wees (Lukas 10:29-37). Dan was daar die twee seuns—die een het gesê hy sou in die wingerd gaan werk, maar hy het nie; die ander een het gesê hy sou nie, maar hy het. ’n Mens kan gou sien waarop ware gehoorsaamheid neerkom—om die werk wat jy gegee is te doen (Mattheüs 21:28-31). Niemand het gedurende Jesus se lewendige onderrigting ingesluimer nie en niemand se gedagtes het gedwaal nie. Hulle was te besig om te luister en te sien.

Jesus was toegeeflik wanneer liefde dit vereis het

6. Wanneer is redelikheid, of toegeeflikheid, veral nuttig?

6 Baie keer wanneer die Bybel sê ’n mens moet redelik wees, toon ’n voetnoot in sommige Bybels dat dit beteken om toegeeflik te wees. Die wysheid van God is toegeeflik wanneer daar versagtende omstandighede is. Ons moet soms redelik, of toegeeflik, wees. Ouere manne moet gewillig wees om toe te gee wanneer liefde dit vereis en berou dit verdien (1 Timotheüs 3:3, NW; Jakobus 3:17, NW). Jesus het wonderlike voorbeelde van toegeeflikheid nagelaat, geleenthede waar hy uitsonderings op die reël gemaak het wanneer barmhartigheid of medelye dit vereis het.

7. Wat is sommige van die voorbeelde waar Jesus toegeeflik was?

7 Jesus het eenkeer gesê: “Elkeen wat My verloën voor die mense, hom sal Ek ook verloën voor my Vader wat in die hemele is.” Maar hy het Petrus nie verwerp nie, al het Petrus hom drie keer verloën. Daar was versagtende omstandighede, wat Jesus klaarblyklik in ag geneem het (Mattheüs 10:33; Lukas 22:54-62). Daar was ook versagtende omstandighede toe die onrein vrou met bloedvloeiing die Mosaïese Wet oortree het deur tussen die mense te wees. Jesus het haar ook nie veroordeel nie. Hy het besef hoe desperaat sy was. (Markus 1:40-42; 5:25-34; sien ook Lukas 5:12, 13.) Jesus het vir sy apostels gesê om hom nie as die Messias te identifiseer nie, tog het hy nie onbuigsaam aan daardie reël vasgeklou toe hy homself as sodanig aan ’n Samaritaanse vrou by die put geïdentifiseer het nie (Mattheüs 16:20; Johannes 4:25, 26). In al hierdie gevalle het liefde, barmhartigheid en medelye hierdie toegewings gepas gemaak.—Jakobus 2:13.

8. Wanneer het die skrifgeleerdes en die Fariseërs die reëls uitgelê soos dit hulle gepas het en wanneer nie?

8 Dit was anders met die ontoegeeflike skrifgeleerdes en Fariseërs. Self het hulle hulle Sabbatstradisies ontheilig deur hulle bees na die water te lei. Of as hulle bees of hulle seun in ’n put geval het, sou hulle die Sabbat ontheilig om hom daar uit te kry. Maar vir die gewone mense sou hulle nie eers ’n bietjie toegee nie! Hulle was nie bereid om “[die vereistes] met hulle vinger [te] verroer nie” (Mattheüs 23:4; Lukas 14:5, NAV). Vir Jesus het mense meer beteken as die meeste reëls; vir die Fariseërs het reëls meer beteken as die mense.

Hy word ’n “seun van die gebod”

9, 10. Waar het Jesus se ouers hom gevind nadat hulle na Jerusalem teruggekeer het, en wat het Jesus se uitvraery te kenne gegee?

9 Party kla dat daar net een voorval uit Jesus se kinderdae opgeteken is. Maar baie besef nie hoe betekenisvol daardie gebeurtenis was nie. Ons word in Lukas 2:46, 47 daarvan vertel: “Ná drie dae het hulle Hom in die tempel gevind, terwyl Hy in die midde van die leraars sit en na hulle luister en hulle uitvra. En almal wat Hom gehoor het, was verbaas oor sy verstand en sy antwoorde.” Kittel se Theological Dictionary of the New Testament dra die gedagte oor dat die Griekse woord vir “uitvra” in hierdie geval nie net ’n seun se nuuskierigheid was nie. Die woord kan verwys na die ondervraging wat tydens ’n regterlike verhoor, ’n ondersoek en ’n kruisverhoor gebruik word, of selfs na die “ondersoekende en slinkse vrae van die Fariseërs en Sadduseërs”, soos dié wat in Markus 10:2 en 12:18-23 genoem word.

10 Dieselfde woordeboek sê verder: “In [die] lig van hierdie gebruik kan daar gevra word of . . . [Lukas] 2:46 nie soseer op die vraende nuuskierigheid van die seun dui nie, maar eerder op Sy suksesvolle redenering. [Vers] 47 sou baie goed by die laasgenoemde beskouing pas.”a Rotherham se vertaling van vers 47 gee dit weer as ’n dramatiese konfrontasie: “Toe was almal wat hom gehoor het buite hulleself [van verbasing] vanweë sy begrip en sy antwoorde.” Robertson se Word Pictures in the New Testament sê dat hulle voortdurende verbasing beteken dat “hulle buite hulleself gestaan het, asof hulle oë uitgepeul het”.

11. Wat was Maria en Josef se reaksie op wat hulle gesien en gehoor het, en wat stel een teologiese woordeboek voor?

11 Toe Jesus se ouers uiteindelik op die toneel verskyn het, “was hulle verslae” (Lukas 2:48). Robertson sê die Griekse woord in hierdie uitdrukking beteken “om met ’n hou te tref, uit te dryf”. Hy voeg by dat dit wat Josef en Maria gesien en gehoor het hulle soos “’n hou getref het”. In ’n sekere sin was Jesus reeds ’n verstommende leermeester. En na aanleiding van hierdie voorval in die tempel beweer Kittel se werk dat “Jesus reeds in Sy kinderdae met die konflik begin het waarin Sy teenstanders uiteindelik die stryd gewonne sou moes gee”.

12. Wat was ’n kenmerk van Jesus se latere besprekings met die godsdiensleiers?

12 En hulle het beslis die stryd gewonne gegee! Jare later was dit deur sulke uitvraery dat Jesus die Fariseërs die onderspit laat delf het totdat hulle “van daardie dag af dit [nie] meer gewaag [het] om Hom vrae te stel nie” (Mattheüs 22:41-46). Die Sadduseërs is eweneens oor die vraag van die opstanding die swye opgelê, en “hulle het Hom nie meer iets durf vra nie” (Lukas 20:27-40). Die skrifgeleerdes het nie veel beter gevaar nie. Ná een van hulle ’n bespreking met Jesus gehad het, het “niemand . . . dit meer gewaag om Hom vrae te stel nie”.—Markus 12:28-34.

13. Wat het die gebeurtenis by die tempel so belangrik in Jesus se lewe gemaak, en op watter verdere bewustheid dui dit?

13 Waarom is hierdie gebeurtenis waarby Jesus en die leraars by die tempel betrokke was die een wat uit sy kinderdae uitgesonder en gemeld word? Omdat dit ’n keerpunt in Jesus se lewe was. Toe hy omtrent 12 jaar oud was, het hy volgens die Jode ’n “seun van die gebod” geword, wat hom die verantwoordelikheid gegee het om al die verordeninge daarvan te hou. Toe Maria teenoor Jesus gekla het oor die angs wat hy haar en Josef veroorsaak het, het haar seun se antwoord getoon dat hy waarskynlik bewus was van die wonderdadige aspek ten opsigte van sy geboorte en sy Messiaanse toekoms. Dit word te kenne gegee deurdat hy gesê het dat God op ’n baie direkte wyse sy Vader is: “Waarom het u My gesoek? Het u nie geweet dat Ek in die dinge van my Vader moet wees nie?” Terloops, hierdie is Jesus se eerste woorde wat in die Bybel opgeteken is, en dit toon dat hy bewus was van die doel waarmee Jehovah hom na die aarde gestuur het. Hierdie hele voorval is dus van groot belang.—Lukas 2:48, 49.

Jesus is lief vir en verstaan kinders

14. Watter interessante punte kan die verslag van die jong Jesus by die tempel by jongmense tuisbring?

14 Hierdie verslag moet jongmense veral ontroer. Dit toon hoe ywerig Jesus moes gestudeer het terwyl hy tot volwassenheid gegroei het. Die rabbi’s by die tempel was verstom oor die wysheid van hierdie 12-jarige “seun van die gebod”. Tog het hy steeds saam met Josef in die skrynwerkerswinkel gewerk terwyl hy aan hom en Maria “onderdanig” was en toegeneem het “in genade by God en die mense”.—Lukas 2:51, 52.

15. Hoe was Jesus gedurende sy aardse bediening ’n aanmoediging vir jongmense, en wat beteken dit vir hedendaagse jongmense?

15 Jesus was gedurende sy aardse bediening ’n groot aanmoediging vir jongmense: “Toe die owerpriesters en skrifgeleerdes die wonderwerke sien wat Hy gedoen het, en die kinders wat in die tempel uitroep en sê: Hosanna vir die Seun van Dawid! was hulle verontwaardig en sê vir Hom: Hoor U wat hulle daar sê? En Jesus antwoord hulle: Ja, het julle nooit gelees: Uit die mond van kinders en suigelinge het U vir U lof berei nie?” (Mattheüs 21:15, 16; Psalm 8:3). Hy is vandag net so ’n groot aanmoediging vir honderdduisende jongmense wat hulle onkreukbaarheid handhaaf en God loof, van wie sommige dit selfs ten koste van hulle lewe gedoen het!

16. (a) Watter les het Jesus sy apostels geleer deur ’n kindjie in hulle midde te laat staan? (b) Op watter baie kritieke tyd in Jesus se lewe het hy steeds tyd vir kinders gehad?

16 Toe die apostels gestry het oor wie die grootste was, het Jesus vir die 12 gesê: “As iemand die eerste wil wees, moet hy die laaste van almal en almal se dienaar wees. En Hy neem ’n kindjie en laat hom in hul midde staan en slaan sy arms om hom en sê vir hulle: Elkeen wat een van sulke kindertjies ontvang in my Naam, ontvang My. En elkeen wat My ontvang, ontvang nie My nie, maar Hom wat My gestuur het” (Markus 9:35-37). Daarbenewens het hy, toe hy die laaste keer op pad na Jerusalem was om ’n verskriklike beproewing en dood deur te maak, tyd gemaak vir kinders: “Laat die kindertjies na My toe kom en verhinder hulle nie, want aan sulkes behoort die koninkryk van God.” Hy het toe “sy arms om hulle geslaan, sy hande op hulle gelê en hulle geseën”.—Markus 10:13-16.

17. Waarom is dit vir Jesus maklik om hom met kinders te vereenselwig, en wat moet kinders oor hom onthou?

17 Jesus weet hoe dit voel om ’n kind in ’n volwassenewêreld te wees. Hy het saam met volwassenes gewoon, saam met hulle gewerk, gevoel hoe dit is om aan hulle onderworpe te wees, en het ook die warm, veilige gevoel ervaar wat hulle liefde hom gegee het. Kinders, hierdie selfde Jesus is julle vriend; hy het vir julle gesterf, en julle sal vir ewig lewe as julle sy bevele gehoorsaam.—Johannes 15:13, 14.

18. Watter aangrypende gedagte moet ons onthou, veral ten tye van spanning of gevaar?

18 Om te doen wat Jesus beveel, is nie so moeilik as wat dit lyk nie. Jongmense, hy is daar vir julle en vir alle ander mense, soos ons in Mattheüs 11:28-30 lees: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle [of, “Kom saam met my onder my juk”, voetnoot in NW] en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig.” Dink net, terwyl jy deur die lewe gaan en Jehovah dien, loop Jesus saam met jou, terwyl hy die juk sag en die las lig maak. Wat ’n aangrypende gedagte is dit tog vir ons almal!

19. Watter vrae in verband met die maniere waarop Jesus geleer het, kan ons van tyd tot tyd hersien?

19 Noudat ons ’n paar maniere hersien het waarop Jesus geleer het, kan ons ons afvra: Leer ons soos hy geleer het? Word ons deur jammerte beweeg om te doen wat ons kan om diegene wat fisies siek of geestelik uitgehonger is te help? Leer ons, wanneer ons ander onderrig, God se Woord of leer ons, soos die Fariseërs, ons eie idees? Is ons bedag op die alledaagse dinge om ons wat gebruik kan word om geestelike waarhede te verduidelik, te visualiseer, te kristalliseer en die begrip daarvan te verruim? Vermy ons dit om streng by sekere reëls te bly wanneer liefde en barmhartigheid weens omstandighede beter aan die dag gelê kan word deur toegeeflik te wees in die toepassing van sulke reëls? En wat van kinders? Toon ons dieselfde tere besorgdheid en liefderyke goedhartigheid wat Jesus getoon het? Moedig jy jou kinders aan om te studeer soos Jesus as ’n jong seun gedoen het? Sal jy soos Jesus ferm optree, maar bereid wees om berouvolle persone hartlik te ontvang soos ’n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak?—Mattheüs 23:37.

20. Met watter aangename gedagte kan ons ons vertroos terwyl ons ons God dien?

20 As ons ons bes probeer om te leer soos Jesus geleer het, sal hy beslis toelaat dat ons ‘met hom onder sy juk kom’.—Mattheüs 11:28-30.

[Voetnoot]

a Ons het natuurlik alle rede om te glo dat Jesus behoorlike respek teenoor diegene sou betoon wat ouer as hy was, veral teenoor die grysaards en die priesters.—Vergelyk Levitikus 19:32; Handelinge 23:2-5.

Onthou jy?

◻ Waarom het die skares na Jesus toe gestroom?

◻ Waarom het Jesus met tye toegewings ten opsigte van sekere reëls gemaak?

◻ Wat kan ons uit Jesus se uitvraery van die leraars by die tempel leer?

◻ Watter lesse kan ons uit Jesus se verhouding met kinders leer?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel