Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w94 11/1 bl. 4-8
  • Menselyding—Waarom laat God dit toe?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Menselyding—Waarom laat God dit toe?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die begin van menselyding
  • God se wyse reaksie
  • Wat anders is bewys?
  • Waarom laat God lyding toe?
    Kennis wat tot die ewige lewe lei
  • Waarom goddeloosheid voortduur
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • ’n Geskil wat jou raak
    Ware vrede en veiligheid—Hoe kan jy dit vind?
  • Hoekom gebeur slegte dinge, en hoekom kry mense swaar?
    Geniet die lewe vir ewig! – Bybellesse wat jou kan help
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
w94 11/1 bl. 4-8

Menselyding—Waarom laat God dit toe?

AAN die begin van die mensegeskiedenis was daar eenvoudig geen trane van droefheid of pyn nie. Menselyding het nie bestaan nie. Die mens het ’n volmaakte begin gehad. “Toe sien God alles wat Hy gemaak het, en—dit was baie goed.”—Genesis 1:31.

Maar party maak beswaar: ‘Die verhaal van Adam en Eva in die tuin van Eden is net simbolies.’ Ongelukkig is dít wat baie geestelikes van die Christendom sê. Maar niemand minder nie as Jesus Christus self het bevestig dat die gebeure in Eden werklik plaasgevind het (Mattheüs 19:4-6). Daarbenewens kan ons alleenlik verstaan waarom God menselyding toelaat as ons daardie gebeure in die vroeë geskiedenis van die mens van nader beskou.

Die eerste mens, Adam, is die bevredigende werk gegee om na die tuin van Eden om te sien. God het ook die doel voor hom gestel om sy tuiste in Eden tot ’n aardwye tuin van genot uit te brei (Genesis 1:28; 2:15). Om Adam met hierdie groot taak te help, het God hom ’n huweliksmaat, Eva, gegee en vir hulle gesê om vrugbaar te wees, te vermeerder en die aarde te onderwerp. Maar nog iets was nodig om die sukses van God se voorneme vir die aarde en die mensdom te verseker. Aangesien die mens na God se beeld geskep is, het hy wilsvryheid besit; gevolglik moes die mens se wil nooit met God s’n bots nie. Andersins sou daar wanorde in die heelal wees, en God se voorneme om die aarde met ’n vreedsame mensegesin te vul sou nie verwesenlik word nie.

Onderworpenheid aan God se heerskappy was nie outomaties nie. Dit moes ’n liefdevolle uitoefening van die mens se wilsvryheid wees. Ons lees byvoorbeeld dat Jesus Christus, toe hy voor ’n swaar toets te staan gekom het, gebid het: “Vader, as U tog maar hierdie beker van My wil wegneem! Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geskied!”—Lukas 22:42.

Dit het eweneens van Adam en Eva afgehang om te bewys dat hulle hulle aan God se heerskappy wou onderwerp. Daarom het Jehovah God ’n eenvoudige toets gereël. Een van die bome in die tuin is “die boom van die kennis van goed en kwaad” genoem. Dit het God se reg afgebeeld om die standaarde van korrekte gedrag vas te stel. God het hulle baie duidelik verbied om die vrugte van hierdie boom te eet. As Adam en Eva ongehoorsaam was, sou dit hulle dood beteken het.—Genesis 2:9, 16, 17.

Die begin van menselyding

Eendag het ’n geesseun van God dit gewaag om die manier waarop God sy heerskappy uitoefen te bevraagteken. Hy het ’n slang as spreekbuis gebruik en vir Eva gevra: “Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie?” (Genesis 3:1). ’n Saadjie van twyfel is dus in Eva se verstand gesaai oor die vraag of die manier waarop God regeer reg is.a Eva het reg geantwoord, soos sy by haar man geleer het. Maar die geesskepsel het God toe weerspreek en ’n leuen vertel oor die gevolge van ongehoorsaamheid deur te sê: “Julle sal gewis nie sterwe nie; maar God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken.”—Genesis 3:4, 5.

Ongelukkig is Eva verlei en onder die indruk gebring dat ongehoorsaamheid nie menselyding nie, maar wel ’n beter lewe, tot gevolg sou hê. Hoe meer sy na die vrug gekyk het, hoe begeerliker het dit gelyk, en sy het daarvan begin eet. Later het sy Adam oorreed om ook daarvan te eet. Dit is tragies dat Adam gekies het om eerder in sy vrou se guns te bly as in God s’n.—Genesis 3:6; 1 Timotheüs 2:13, 14.

Deur hierdie opstand aan te stig, het hierdie geesskepsel hom in ’n teenstander van God verander. Hy is gevolglik Satan genoem, van die Hebreeuse woord wat “teenstander” beteken. Hy het ook leuens vertel oor God en homself sodoende ’n lasteraar gemaak. Daarom word hy ook Duiwel genoem, van ’n Griekse woord wat “lasteraar” beteken.—Openbaring 12:9.

So het menselyding begin. Drie van God se skepsele het hulle gawe van wilsvryheid misbruik en ’n selfsugtige lewenswyse in verset teen hulle Skepper ingeslaan. Nou het die vraag ontstaan: Hoe sou God hierdie opstand op ’n regverdige manier hanteer wat die res van sy intelligente skepping sou gerusstel, onder andere getroue engele in die hemel en toekomstige afstammelinge van Adam en Eva?

God se wyse reaksie

Party dink dalk dat dit die beste sou gewees het as God Satan, Adam en Eva daar en dan vernietig het. Maar dit sou nie die geskille besleg het wat deur die opstand geopper is nie. Satan het God se manier van regeer in twyfel getrek en gesê dat dit vir mense beter sou wees as hulle onafhanklik van God se heerskappy was. Aangesien hy dit reggekry het om die eerste twee mense teen God se heerskappy te laat draai, het dit ander vrae laat ontstaan. Het die feit dat Adam en Eva gesondig het, beteken dat daar iets geskort het met die manier waarop God die mens geskep het? Kon God enigiemand op aarde hê wat aan hom getrou sou bly? En wat van Jehovah se engeleseuns wat Satan se opstand gesien het? Sou hulle die regverdigheid van Sy soewereiniteit ondersteun? Dit was duidelik dat genoeg tyd nodig was om hierdie geskille te besleg. Daarom het God Satan toegelaat om tot in ons dag te bestaan.

Wat Adam en Eva betref, op die dag toe hulle ongehoorsaam was, het God hulle ter dood veroordeel. So het die dood ontstaan. Hulle afstammelinge, wat gebore is nadat Adam en Eva gesondig het, het sonde en die dood van hulle onvolmaakte ouers geërf.—Romeine 5:14.

Satan het begin met die eerste twee mense aan sy kant van die geskil. Hy het die tyd wat hy gegun is, gebruik om al Adam se afstammelinge onder sy beheer te probeer hou. Hy het ook daarin geslaag om ’n aantal engele te verlei wat hulle by hom geskaar het in sy opstand. Die meerderheid van God se engeleseuns het egter die regverdigheid van Jehovah se soewereiniteit lojaal gehandhaaf.—Genesis 6:1, 2; Judas 6; Openbaring 12:3, 9.

Die geskil was heerskappy deur God of deur Satan, ’n geskil wat in die dae van Job nog bestaan het. Hierdie getroue man het deur sy gedrag bewys dat hy God se regverdige heerskappy bo sataniese onafhanklikheid verkies het, op dieselfde manier as wat godvresende manne soos Abel, Henog, Noag, Abraham, Isak, Jakob en Josef toe reeds gedoen het. Job het die onderwerp van ’n gesprek geword wat voor die getroue engele van God in die hemel plaasgevind het. Om Sy regverdige heerskappy te verdedig, het God vir Satan gesê: “Het jy ag gegee op my kneg Job? Want daar is niemand op die aarde soos hy nie: ’n man vroom en opreg, godvresend en wat afwyk van die kwaad.”—Job 1:6-8.

Satan het nie die stryd gewonne gegee nie en het beweer dat Job God alleenlik om selfsugtige redes gedien het, aangesien God Job ryklik met materiële welvaart geseën het. Daarom het Satan die aantyging gemaak: “Maar strek net u hand uit en tas alles aan wat hy het—waarlik, hy sal U in u aangesig seën!” (Job 1:11). Satan het selfs verder gegaan en die onkreukbaarheid van al God se skepsele in twyfel getrek. “Alles wat iemand het, sal hy gee vir sy lewe”, het hy gesê (Job 2:4). Hierdie lasterlike aanval het nie net Job geraak nie, maar al God se getroue aanbidders in die hemel en op aarde. Satan het geïnsinueer dat hulle hulle verhouding met Jehovah sou prysgee as hulle lewe op die spel was.

Jehovah God het volle vertroue in Job se onkreukbaarheid gehad. Hy het hiervan bewys gelewer deur Satan toe te laat om menselyding oor Job te bring. Deur sy getrouheid het Job nie alleen sy eie naam van blaam gesuiwer nie, maar, nog belangriker, hy het die regverdigheid van Jehovah se soewereiniteit gehandhaaf. Hy het bewys dat die Duiwel ’n leuenaar is.—Job 2:10; 42:7.

Die beste voorbeeld van getrouheid tydens beproewing is egter Jesus Christus. God het die lewe van hierdie engeleseun uit die hemel na die baarmoeder van ’n maagd oorgeplaas. Gevolglik het Jesus nie sonde en onvolmaaktheid geërf nie. Hy het eerder grootgeword as ’n volmaakte man, die presiese ekwivalent van die eerste mens voor hy sy volmaaktheid verloor het. Satan het Jesus ’n spesiale teiken gemaak en baie versoekings en beproewinge oor hom gebring, en uiteindelik ’n vernederende dood. Maar Satan kon Jesus nie sy onkreukbaarheid laat prysgee nie. Jesus het die regverdigheid van sy Vader se heerskappy ten volle gehandhaaf. Hy het ook bewys dat die volmaakte man Adam geen verskoning gehad het om by Satan aan te sluit in sy opstand nie. Adam kon tydens sy veel kleiner toets getrou gebly het.

Wat anders is bewys?

Bykans 6 000 jaar van menselyding het verbygegaan sedert die opstand van Adam en Eva. Gedurende hierdie tyd het God die mens toegelaat om baie verskillende regeringsvorme op die proef te stel. Die betreurenswaardige verslag van menselyding bewys dat die mens homself nie kan regeer nie. Trouens, anargie is nou in baie wêrelddele aan die orde van die dag. Onafhanklikheid van God, wat deur Satan voorgestaan word, is rampspoedig.

Dit was nie nodig dat Jehovah enigiets aan homself moes bewys nie. Hy weet dat sy manier van regeer regverdig en vir die beswil van sy skepsele is. Maar om bevredigende antwoorde te gee op al die vrae wat deur Satan se opstand geopper is, het hy sy intelligente skepsele die geleentheid gegee om te toon dat hulle sy regverdige heerskappy verkies.

Die belonings wat liefde vir God en getrouheid aan hom inhou, is veel groter as die tydelike lyding wat die Duiwel kan bring. Die geval van Job lig dit toe. Jehovah God het Job genees van die siekte wat die Duiwel oor hom gebring het. Daarbenewens het God “die einde van Job meer geseën as sy begin”. Eindelik, nadat sy lewe met 140 jaar verleng is, het Job “gesterwe, oud en afgeleef”.—Job 42:10-17.

Die Christen-Bybelskrywer Jakobus vestig die aandag hierop wanneer hy sê: “Julle het gehoor van die lydsaamheid van Job, en julle het die einddoel van die Here met hom gesien, dat die Here vol medelye en ontferming is.”—Jakobus 5:11.

Die tyd vir Satan en sy wêreld is nou verby. Binnekort gaan God al die lyding wat Satan se opstand oor die mensdom gebring het ongedaan maak. Selfs die dooies gaan opgewek word (Johannes 11:25). Dan sal getroue manne soos Job die geleentheid hê om ewige lewe op ’n paradysaarde te verkry. Hierdie toekomstige seëninge wat God oor sy knegte sal uitstort, sal hom tot in alle ewigheid verheerlik as ’n regverdige Soewerein wat inderdaad “vol medelye en ontferming is”.

[Voetnoot]

a ’n Regsgeleerde en skrywer van die vroeë 20ste eeu, Philip Mauro, wat hierdie vraag ondersoek het, het in sy bespreking van “Die oorsprong van boosheid” tot die slotsom gekom dat dit “die oorsaak van al die probleme van die mensdom” is.

[Venster/Prente op bladsy 8]

DIE WREDE GODE VAN MENSE

DIE gode van antieke tye is dikwels as bloeddorstig en wellustig uitgebeeld. Om hulle te paai, het ouers selfs hulle kinders lewend in vure verbrand (Deuteronomium 12:31). Heidense filosowe het weer na die ander uiterste gegaan en geleer dat God nie gevoelens soos woede of deernis ervaar nie.

Die demoon-geïnspireerde beskouings van hierdie filosowe het God se naamvolk, die Jode, beïnvloed. Die Joodse filosoof Filo, ’n tydgenoot van Jesus, het beweer dat God “hoegenaamd geen gevoelens het nie”.

Nie eers die streng Joodse sekte, die Fariseërs, het die invloed van die Griekse filosofie vrygespring nie. Hulle het Plato se leringe aangeneem wat sê dat die mens bestaan uit ’n onsterflike siel wat in ’n menseliggaam vasgevang is. Daarbenewens het die Fariseërs volgens die eerste-eeuse geskiedskrywer Josefus geglo dat die siele van goddelose mense ’n “ewige straf ondergaan”. Daar is egter geen grondslag vir so ’n beskouing in die Bybel nie.—Genesis 2:7; 3:19; Prediker 9:5; Esegiël 18:4.

Wat van Jesus se volgelinge? Het hulle toegelaat dat hulle deur heidense filosofieë beïnvloed word? Die apostel Paulus het die gevaar hiervan besef en het mede-Christene gewaarsku: “Pas op dat niemand julle as ’n buit wegvoer deur die wysbegeerte [“filosofie”, NW] en nietige misleiding nie, volgens die oorlewering van die mense, volgens die eerste beginsels van die wêreld en nie volgens Christus nie.”—Kolossense 2:8; sien ook 1 Timotheüs 6:20.

Ongelukkig het ’n hele paar verklaarde Christenopsieners van die tweede en derde eeu daardie waarskuwing geïgnoreer en geleer dat God nie gevoelens het nie. The Encyclopedia of Religion sê: “Oor die algemeen was die begrip ten opsigte van God se eienskappe baie soos dit in die Joodse en filosofiese denke van die tyd bevestig is . . . Die idee dat God die Vader gevoelens soos deernis kon ervaar . . . is oor die algemeen tot laat in die twintigste eeu as onaanvaarbaar beskou.

Sodoende het die Christendom die valse lering van ’n wrede god aangeneem wat sondaars straf deur hulle ’n ewige, bewuste pyniging te laat ondergaan. Daarteenoor sê Jehovah God duidelik in sy Woord, die Bybel, “die loon van die sonde is die dood” en nie ewige, bewuste pyniging nie.—Romeine 6:23.

[Erkennings]

Above: Acropolis Museum, Greece

Courtesy of The British Museum

[Prent op bladsy 7]

God se voorneme om die aarde in ’n paradys soos Eden te omskep, moet vervul word!

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel