Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w94 11/15 bl. 26-28
  • “Betaal belasting as jy belasting verskuldig is”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Betaal belasting as jy belasting verskuldig is”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Vyf riglyne
  • Handhaaf ’n godvererende reputasie
  • Belasting—Die prys vir ’n “beskaafde samelewing”?
    Ontwaak!—2003
  • Moet jy jou belasting betaal?
    Ontwaak!—2003
  • Belasting—Moet jy dit betaal?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • Toenemende gegriefdheid oor belasting?
    Ontwaak!—2003
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
w94 11/15 bl. 26-28

“Betaal belasting as jy belasting verskuldig is”

“IN HIERDIE wêreld is niks behalwe die dood en belasting seker nie.” So het Benjamin Franklin, die 18de-eeuse Amerikaanse staatsman en uitvinder, gesê. Sy woorde, wat so dikwels aangehaal word, weerspieël nie net hoe onvermydelik belasting is nie, maar ook die angs wat daarmee gepaardgaan. Vir baie mense is die betaling van belasting nie veel aanlokliker as die dood nie.

Hoe onaangenaam die betaling van belasting ook al mag wees, dit is ’n verpligting wat opregte Christene baie ernstig opneem. Die apostel Paulus het aan die Christengemeente in Rome geskryf: “Gee aan elkeen wat jy hom verskuldig is: Betaal belasting as jy belasting verskuldig is; aksyns as dit aksyns is; respek as dit respek is; eer as dit eer is” (Romeine 13:7, New International Version). En Jesus Christus het spesifiek na belasting verwys toe hy gesê het: “Betaal aan die keiser wat die keiser toekom, en aan God wat God toekom.”—Markus 12:14, 17.

Jehovah het die regerende “hoër owerhede” toegelaat om te bestaan en vereis dat sy knegte in relatiewe onderworpenheid aan hulle moet wees. Waarom dring God dan daarop aan dat sy aanbidders belasting betaal? Paulus noem drie hoofredes: (1) die “straf” wat die “hoër owerhede” wetsverbrekers oplê; (2) ’n Christen se gewete wat nie skoon sal wees as hy met sy belasting kul nie; (3) die nodigheid om hierdie “dienaars” te betaal vir dienste wat hulle verskaf en die mate van orde wat hulle handhaaf (Romeine 13:1-7, vgl. NW). Baie hou nie daarvan om belasting te betaal nie. Maar hulle sal nog minder daarvan hou om in ’n land te woon waar daar geen polisie- of brandweerbeskerming, geen padonderhoud, geen skole en geen posstelsel is nie. Die Amerikaanse regsgeleerde Oliver Wendell Holmes het dit eenkeer só gestel: “Belasting is wat ons vir ’n beskaafde samelewing betaal.”

Om belasting te betaal, is niks nuuts vir God se knegte nie. Inwoners van eertydse Israel het ’n vorm van belasting betaal om hulle konings te onderhou, en sommige van dié heersers het die volk swaar belas met onredelike belasting. Die Jode het ook heffings en belasting aan die vreemde moondhede betaal wat hulle oorheers het, soos Egipte, Persië en Rome. Dus het Christene in Paulus se dag goed geweet waarvan hy praat toe hy die betaling van belasting genoem het. Hulle het geweet dat hulle alle belasting moes betaal wat hulle geskuld het, of die belasting redelik was of nie en ongeag hoe die regering hierdie geld sou spandeer. Dieselfde geld vandag vir Christene. Watter beginsels kan egter vir ons as riglyne dien wanneer ons belasting in hierdie ingewikkelde tye betaal?

Vyf riglyne

Wees ordelik. Ons dien Jehovah en volg hom na, en hy is nie “’n God van wanorde nie, maar van vrede” (1 Korinthiërs 14:33; Efesiërs 5:1). Dit is noodsaaklik om ordelik te wees wanneer dit by die betaling van belasting kom. Is jou verslae volledig, akkuraat en georganiseerd? ’n Duur liaseerstelsel is gewoonlik nie nodig nie. Jy kan ’n lêer vir elke soort verslag hou (soos vir kwitansies wat jou verskeie uitgawes spesifiseer). Dit kan voldoende wees om hierdie lêers dan in groter lêers vir elke jaar te groepeer. In baie lande is dit nodig om sulke lêers ’n aantal jare te hou, ingeval die regering sou besluit om vorige verslae te ondersoek. Jy moet dus niks weggooi totdat jy seker is dat dit nie meer nodig is nie.

Wees eerlik. Paulus het geskryf: “Hou aan om vir ons te bid, want ons vertrou dat ons ’n eerlike gewete het, aangesien ons ons in alles eerlik wil gedra” (Hebreërs 13:18). ’n Hartgrondige begeerte om eerlik te wees, moet elke besluit rig wat ons neem wanneer ons belasting betaal. Beskou eerstens belasting op aanmeldbare inkomste. In baie lande is aanvullende inkomste—uit fooitjies, los werk, verkope—belasbaar sodra dit ’n bepaalde bedrag oorskry. ’n Christen met ’n “eerlike gewete” sal uitvind wat die belasbare inkomste is waar hy woon en sal die gepaste belasting betaal.

Tweedens is daar die kwessie van aftrekkings. Normaalweg laat regerings belastingbetalers toe om sekere uitgawes van hulle belasbare inkomste af te trek. In hierdie oneerlike wêreld sien baie geen kwaad daarin om “skeppend” of “verbeeldingryk” te wees wanneer dit by sulke aftrekkings kom nie. ’n Man in die Verenigde State het glo ’n duur pelsjas vir sy vrou gekoop en dit toe ’n dag lank by sy besigheidsplek opgehang sodat hy dit kon aftrek as ’n vorm van “versiering” vir die werkplek! ’n Ander man het die onkoste van sy dogter se huwelik as besigheidsonkoste afgetrek. ’n Ander wat weer sy vrou maande lank saam met hom op ’n reis in die Verre-Ooste geneem het, het die onkoste daarvan probeer aftrek, hoewel sy eintlik hoofsaaklik om sosiale en vermaaklikheidsredes daar was. Daar blyk geen einde aan sulke gevalle te wees nie. Kortom, om iets ’n besigheidsaftrekking te noem terwyl dit eintlik iets heel anders is, is eintlik ’n leuen—iets wat ons God, Jehovah, totaal verafsku.—Spreuke 6:16-19.

Wees versigtig. Jesus het sy volgelinge gemaan om “versigtig soos die slange en opreg soos die duiwe” te wees (Mattheüs 10:16). Daardie raad kan ewe goed op ons belastingbetalingsgebruike toegepas word. Veral in ontwikkelde lande betaal meer en meer mense deesdae ’n rekenmeestersfirma of die een of ander beroepspersoon om hulle belasting uit te werk. Dan teken hulle eenvoudig die vorms en stuur die tjek in. Dit sal ’n goeie geleentheid wees om te let op die vermaning wat in Spreuke 14:15 opgeteken staan: “Wie ervaring kortkom, glo alles wat gesê word; ’n verstandige mens oorweeg elke tree wat hy gee.”—NAV.

Heelparty belastingbetalers het probleme met die regering ondervind omdat hulle ‘alles geglo het’ wat ’n beginsellose rekenmeester of onervare belastingvoorbereider gesê het. Hoeveel beter tog om verstandig te wees! Oorweeg elke tree wat jy gee deur alle dokumente versigtig deur te lees voordat jy dit teken. Indien ’n inskrywing, weglating of aftrekking vreemd voorkom, moet jy ’n verduideliking vra—herhaaldelik indien nodig—totdat jy tevrede is dat die saak eerlik en wettig is. In baie lande het belastingwetgewing weliswaar geweldig ingewikkeld geword, maar dit is die verstandige weg om, sover moontlik, enigiets wat jy teken te verstaan. In sommige gevalle sal jy dalk vind dat ’n mede-Christen wat vertroud is met belastingwetgewing lig op die saak kan werp. Een Christen- ouere man wat belastingsake as ’n prokureur hanteer, sê kortom: “As jou rekenmeester iets voorstel wat net te goed klink om waar te wees, is dit waarskynlik die geval!”

Wees verantwoordelik. “Elkeen sal sy eie pak dra”, het die apostel Paulus geskryf (Galasiërs 6:5). Wanneer dit by die betaling van belastings kom, moet elke Christen die verantwoordelikheid nakom om eerlik en wetsgehoorsaam te wees. Dit is nie ’n saak waarin die gemeentelike ouere manne toesig uitoefen op die kudde wat onder hulle sorg is nie. (Vergelyk 2 Korinthiërs 1:24.) Hulle raak nie betrokke by belastingsake nie tensy ’n ernstige oortreding, wat moontlik ’n skandaal in die gemeenskap behels, onder hulle aandag kom. Oor die algemeen is dit ’n gebied waar elke Christen daarvoor verantwoordelik is om sy behoorlik opgeleide gewete met die toepassing van skriftuurlike beginsels te gebruik (Hebreërs 5:14). Dit beteken dat jy daarvan bewus moet wees dat die teken van ’n belastingdokument—ongeag wie dit voorberei het—heel moontlik ’n wettige verklaring kan wees dat jy die dokument gelees het en meen dat die inhoud die waarheid is.a

Wees onberispelik. Christen- ouere manne moet “onberispelik” wees om vir hulle amp te kan kwalifiseer. Net so moet die hele gemeente onberispelik voor God wees. (1 Timotheüs 3:2; vergelyk Efesiërs 5:27.) Hulle strewe dus daarna om ’n goeie reputasie in die gemeenskap te behou, selfs met die betaling van belasting. Jesus Christus het self die voorbeeld in hierdie verband gestel. Sy dissipel Petrus is gevra of Jesus die tempelbelasting betaal, ’n geringe saak van twee dragmas. Eintlik was Jesus nie onderhewig aan hierdie belasting nie, aangesien die tempel sy Vader se huis was en geen koning sy eie seun belas nie. Jesus het dit in soveel woorde gesê; tog het hy daardie belasting betaal. Om die waarheid te sê, hy het selfs ’n wonderwerk gebruik om die nodige geld te voorsien! Waarom belasting betaal waaraan hy tereg nie onderhewig was nie? Soos Jesus self gesê het, was dit sodat “ons hulle geen aanstoot mag gee nie”.—Mattheüs 17:24-27.b

Handhaaf ’n godvererende reputasie

Jehovah se Getuies is vandag insgelyks daaroor begaan om ander nie te laat struikel nie. Dit is dus nie verbasend nie dat hulle as ’n groep wêreldwyd ’n goeie reputasie geniet as eerlike belastingbetalers. Die Spaanse koerant El Diario Vasco het byvoorbeeld verslag gelewer oor wydverspreide belastingontduiking in Spanje, maar opgemerk: “Die enigste uitsondering [is] Jehovah se Getuies. Wanneer hulle koop of verkoop, is die [eiendoms]waarde wat hulle verklaar die absolute waarheid.” ’n Paar jaar gelede het ’n Amerikaanse koerant, die San Francisco Examiner, eweneens berig: “’n Mens kan [Jehovah se Getuies] as modelburgers beskou. Hulle betaal hulle belasting getrou, versorg die siekes en bestry ongeletterdheid.”

Geen ware Christen sal enigiets wil doen om hierdie swaar verdiende reputasie te skaad nie. Sou jy, as jy die keuse gehad het, die gevaar wou loop om ter wille van ’n som geld as ’n belastingbedrieër bekend te staan? Nee. Jy sal sekerlik eerder geld verloor as om jou goeie naam te beklad en jou waardes en selfs jou aanbidding van Jehovah in ’n slegte lig te stel.

In werklikheid kan die handhawing van ’n reputasie as ’n regverdige, eerlike persoon jou by tye geld kos. Soos die eertydse Griekse filosoof Plato ongeveer 24 eeue gelede opgemerk het: “Wanneer daar inkomstebelasting is, sal die regverdige man meer en die onregverdige minder op dieselfde inkomstebedrag betaal.” Hy kon maar bygevoeg het dat die regverdige man nooit spyt is om die prys vir regverdigheid te betaal nie. Selfs net om so ’n reputasie te hê, is die koste werd. Dit is inderdaad waar van Christene. Hulle goeie reputasie is vir hulle kosbaar, want dit eer hulle hemelse Vader en kan daartoe bydra dat ander na hulle lewenswyse en na hulle God, Jehovah, aangetrek word.—Spreuke 11:30; 1 Petrus 3:1.

Maar ware Christene koester bowenal hulle verhouding met Jehovah. God sien alles wat hulle doen, en hulle het die begeerte om hom te behaag (Hebreërs 4:13). Daarom verwerp hulle die versoeking om die regering te probeer bedrieg. Hulle besef dat God behae skep in eerlike, opregte gedrag (Psalm 15:1-3). En aangesien hulle Jehovah se hart wil verbly, betaal hulle al die belasting wat hulle verskuldig is.—Spreuke 27:11; Romeine 13:7.

[Voetnote]

a Dit kan ’n uitdaging wees vir Christene wat ’n gesamentlike belastingopgawe met ’n ongelowige maat moet invul. Die Christenvrou moet ’n pligsgetroue poging aanwend om die hoofskapbeginsel met gehoorsaamheid aan die keiser se belastingwette te balanseer. Sy moet egter bewus wees van die moontlike regsgevolge daarvan om ’n vals dokument te teken.—Vergelyk Romeine 13:1; 1 Korinthiërs 11:3.

b Interessant genoeg, Mattheüs se Evangelie is die enigste wat hierdie voorval in Jesus se aardse lewe opgeteken het. Mattheüs, wat ’n voormalige belastinggaarder was, moes ongetwyfeld beïndruk gewees het deur Jesus se gesindheid in hierdie aangeleentheid.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel