Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w94 12/1 bl. 8-12
  • Die regmatige plek van Jehovah se aanbidding in ons lewe

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die regmatige plek van Jehovah se aanbidding in ons lewe
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Israel se aanbidding van Jehovah
  • Eerste-eeuse ywer vir ware aanbidding
  • Jehovah se aanbidding word vandag verhef
  • Ware aanbidding sal jou gelukkiger maak
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2022
  • Wie se aanbidding is vir God aanneemlik?
    Kennis wat tot die ewige lewe lei
  • Die regte manier om God te aanbid
    Wat kan die Bybel ons leer?
  • Waardeer jou voorreg om in Jehovah se geestelike tempel te aanbid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2023
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
w94 12/1 bl. 8-12

Die regmatige plek van Jehovah se aanbidding in ons lewe

“Elke dag wil ek U loof en u Naam prys vir ewig en altyd.”—PSALM 145:2.

1. Wat verlang Jehovah met betrekking tot aanbidding?

“EK JEHOVAH jou God is ’n God wat uitsluitlike toegewydheid vereis” (Exodus 20:5, NW). Moses het hierdie verklaring van Jehovah gehoor en hy het dit later herhaal toe hy die nasie Israel toegespreek het (Deuteronomium 5:9, NW). Moses het geensins getwyfel dat Jehovah God van Sy knegte verwag om Hom uitsluitlik te aanbid nie.

2, 3. (a) Wat het die Israeliete laat besef dat die gebeure wat naby die berg Sinai plaasgevind het buitengewoon was? (b) Watter vrae sal ons aangaande die aanbidding van die Israeliete en van God se hedendaagse knegte ondersoek?

2 Waar die Israeliete en die “menigte mense van gemengde bloed” wat Egipte saam met hulle verlaat het naby die berg Sinai laer opgeslaan het, het hulle iets ongewoons aanskou (Exodus 12:38). Dit het geen ooreenkoms getoon met die aanbidding van die gode van Egipte wat nou deur die tien rampe, of plae, verneder was nie. Terwyl Jehovah sy teenwoordigheid aan Moses geopenbaar het, was daar vreesinboesemende verskynsels: donderslae, blitse en die oorverdowende geluid van ’n basuin wat die hele laer laat bewe het. Toe was daar vuur en rook terwyl die hele berg geskud het (Exodus 19:16-20; Hebreërs 12:18-21). As enige Israeliet verdere bewys nodig gehad het dat dít wat besig was om te gebeur buitengewoon was, sou hy dit spoedig ontvang. Nie lank daarna nie het Moses van die berg afgekom nadat hy ’n tweede stel van God se wette ontvang het. Volgens die geïnspireerde verslag “het die vel van [Moses se] gesig geblink! Daarom was [die volk] bevrees om naby hom te kom”. Waarlik ’n onvergeetlike, bomenslike ondervinding!—Exodus 34:30.

3 Vir daardie tipiese nasie van God was daar geen twyfel oor die plek wat Jehovah se aanbidding ingeneem het nie. Hy was hulle Verlosser. Hulle was hulle lewens aan hom verskuldig. Hy was ook hulle Wetgewer. Maar het hulle aangehou om die aanbidding van Jehovah eerste te stel? En wat van God se hedendaagse knegte? Watter plek neem Jehovah se aanbidding in hulle lewe in?—Romeine 15:4.

Israel se aanbidding van Jehovah

4. Hoe is die Israeliete se laer gedurende hulle reis deur die woestyn uitgelê, en wat was in die middel van die laer?

4 Wat sou jy gesien het as jy uit die lug na Israel kon kyk waar hulle in die woestyn laer opgeslaan het? ’n Ontsaglike, maar ordelike, versameling tente wat moontlik driemiljoen of meer mense gehuisves het en in groepe van drie stamme elk na die noorde, na die suide, na die ooste en na die weste gestrek het. As jy van naderby gekyk het, sou jy ’n ander groepering nader aan die middel van die laer gesien het. In hierdie vier kleiner groepies tente het die families van die stam van Levi gewoon. Heel in die middel van die laer, in ’n deel wat deur ’n materiaalmuur afgeskei is, was ’n unieke struktuur. Dit was die “tent van samekoms” of tabernakel, wat Israeliete wat ‘wys van hart’ was volgens Jehovah se plan gebou het.—Numeri 1:52, 53; 2:3, 10, 17, 18, 25; Exodus 35:10, NW.

5. Watter doel het die tabernakel in Israel gedien?

5 Israel het die tabernakel opgerig by elkeen van die ongeveer 40 plekke waar hulle laer opgeslaan het gedurende hulle reis deur die woestyn en dit het die middelpunt van hulle laer geword (Numeri, hoofstuk 33). Dit is heel gepas dat die Bybel beskryf hoe Jehovah onder sy volk, reg in hulle midde, gewoon het. Sy heerlikheid het die tabernakel gevul (Exodus 29:43-46; 40:34; Numeri 5:3; 11:20; 16:3). Die boek Our Living Bible sê: “Hierdie draagbare heiligdom was van die allergrootste belang, aangesien dit ’n godsdienssaamtrekpunt vir die stamme geskep het. Dit het hulle sodoende verenig gehou gedurende die lange jare wat hulle in die woestyn rondgetrek het en het gesamentlike optrede moontlik gemaak.” Bowendien was die tabernakel ’n voortdurende herinnering aan die feit dat die Israeliete se aanbidding van hulle Skepper die kern van hulle lewens was.

6, 7. Watter struktuur vir aanbidding het die tabernakel vervang, en hoe was dit vir die nasie Israel van diens?

6 Nadat die Israeliete in die Beloofde Land aangekom het, was die tabernakel steeds die middelpunt van Israel se aanbidding (Josua 18:1; 1 Samuel 1:3). Met verloop van tyd wou koning Dawid ’n permanente struktuur bou. Dit was die tempel wat later deur sy seun Salomo gebou is (2 Samuel 7:1-10). By die inwyding daarvan het ’n wolk neergedaal om te toon dat Jehovah die gebou goedgekeur het. “Verseker het ek vir U ’n woonhuis gebou”, het Salomo gebid, “’n vaste plek vir U om ewig in te woon” (1 Konings 8:12, 13; 2 Kronieke 6:2). Die nuutgeboude tempel het nou die spil geword waarom die nasie se godsdiens gedraai het.

7 Alle Israelitiese mans het drie keer per jaar na Jerusalem gegaan om vreugdevolle vieringe ter erkenning van God se seën by die tempel by te woon. Hierdie samekomste was gepas “feestye van die HERE” genoem en het die aandag op die aanbidding van God gevestig (Levitikus 23:2, 4). Godvrugtige vroue sowel as ander lede van die gesin het dit ook bygewoon.—1 Samuel 1:3-7; Lukas 2:41-44.

8. Hoe getuig Psalm 84:2-13 van die belangrikheid van die aanbidding van Jehovah?

8 Die geïnspireerde psalmiste het op treffende wyse erken watter prominente plek aanbidding in hulle lewens beklee het. “Hoe lieflik is u [“grootse tabernakel”, NW] o HERE van die leërskare!” het die seuns van Korag gesing. Hulle het beslis nie net ’n blote gebou verheerlik nie. Hulle het eerder hulle stemme tot lof van Jehovah God verhef en uitgeroep: “My hart en my vlees jubel uit tot die lewende God.” Die Leviete se diens het hulle groot vreugde verskaf. “Welgeluksalig is hulle wat woon in u huis”, het hulle uitgeroep. “Hulle prys U gedurig.” Trouens, die hele Israel kon sing: “Welgeluksalig is die mens wie se sterkte in U is, in wie se hart die gebaande weë is. . . . Hulle gaan van krag tot krag; elkeen van hulle sal verskyn voor God in Sion.” Hoewel ’n Israeliet se reis na Jerusalem waarskynlik lank en vermoeiend was, het hy hernieude krag gekry wanneer hy in die hoofstad aangekom het. Sy hart is met vreugde gevul terwyl hy die voorreg om Jehovah te aanbid, besing het: “Want ’n dag in u voorhowe is beter as duisend; ek wil liewer by die drumpel staan in die huis van my God as om te woon in die tente van goddeloosheid. . . . HERE van die leërskare, welgeluksalig is die mens wat op U vertrou!” Sulke uitinge toon watter prioriteit daardie Israeliete aan Jehovah se aanbidding gegee het.—Psalm 84:2-13.

9. Wat het met die nasie Israel gebeur toe hulle nie meer Jehovah se aanbidding eerste gestel het nie?

9 Ongelukkig het Israel nie aangehou om ware aanbidding eerste te stel nie. Hulle het toegelaat dat die verering van valse gode hulle ywer vir Jehovah ondermyn. Jehovah het hulle gevolglik aan hulle vyande oorgegee en toegelaat dat hulle in ballingskap na Babilon weggevoer word. Toe hulle ná 70 jaar in hulle vaderland herstel is, het Jehovah Israel van die besielende vermanings van die getroue profete Haggai, Sagaria en Maleagi voorsien. Die priester Esra en goewerneur Nehemia het God se volk aangevuur om die tempel te herbou en ware aanbidding weer daar tot stand gebring. Maar met die verloop van die eeue het die nasie ware aanbidding weer op die agtergrond geskuif.

Eerste-eeuse ywer vir ware aanbidding

10, 11. Watter plek het Jehovah se aanbidding in die lewens van getroue persone gehad toe Jesus op die aarde was?

10 Toe, op Jehovah se bestemde tyd, het die Messias verskyn. Getroue persone het op Jehovah vertrou vir redding (Lukas 2:25; 3:15). Lukas se Evangelieverslag beskryf die 84-jarige Anna as ’n weduwee wat ‘nie weggebly het van die tempel nie, en God met vaste en gebede gedien het, nag en dag’.—Lukas 2:37.

11 “My voedsel”, het Jesus gesê, “is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het en om sy werk te volbring” (Johannes 4:34). Dink terug aan hoe Jesus gereageer het toe hy die geldwisselaars in die tempel gekonfronteer het. Hy het hulle tafels sowel as die duiweverkopers se stoele omgekeer. Markus vertel: “[Jesus] het niemand toegelaat om enige voorwerp deur die tempel te dra nie. En Hy het geleer en vir hulle gesê: Is daar nie geskrywe: My huis moet ’n huis van gebed genoem word vir al die nasies nie? Maar julle het dit ’n rowerspelonk gemaak” (Markus 11:15-17). Ja, Jesus het nie eens toegelaat dat enigiemand kortpad kies deur die tempelvoorhof wanneer hulle items na ’n ander deel van die stad dra nie. Jesus se optrede het die raad wat hy vantevore gegee het, onderskryf: “Soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid” (Mattheüs 6:33). Jesus het ons ’n wonderlike voorbeeld nagelaat van hoe hy uitsluitlike toegewydheid aan Jehovah bewys het. Hy het waarlik die daad by die woord gevoeg.—1 Petrus 2:21.

12. Hoe het Jesus se dissipels getoon dat hulle Jehovah se aanbidding eerste gestel het?

12 Jesus het ook ’n voorbeeld vir sy dissipels nagelaat om te volg in die manier waarop hy sy opdrag vervul het om die verdrukte, maar getroue, Jode van die laste van valse godsdiensgebruike te verlos (Lukas 4:18). In gehoorsaamheid aan Jesus se opdrag om dissipels te maak en hulle te doop, het die vroeë Christene Jehovah se wil in verband met hulle verrese Here met vrymoedigheid verkondig. Dit het Jehovah groot genoeë verskaf dat hulle Sy aanbidding eerste gestel het. Gevolglik het God se eie engel die apostels Petrus en Johannes op wonderdadige wyse uit die gevangenis bevry en hulle beveel: “Gaan heen, staan en vertel in die tempel aan die volk al die woorde van hierdie lewe.” Hulle is opnuut versterk en het gehoor gegee. “Hulle het nie opgehou” om elke dag in Jerusalem se tempel sowel as van huis tot huis “te leer nie, en die evangelie te verkondig dat Jesus die Christus is.”—Handelinge 1:8; 4:29, 30; 5:20, 42; Mattheüs 28:19.

13, 14. (a) Wat het Satan sedert vroeë Christelike tye met God se knegte probeer doen? (b) Wat het God se getroue knegte aangehou om te doen?

13 Namate die teenstand teen hulle predikingswerk toegeneem het, het God sy getroue knegte gerig om tydige raad neer te skryf. “Werp al julle bekommernis op [Jehovah], want Hy sorg vir julle”, het Petrus kort ná 60 G.J. geskryf. “Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu en soek wie hy kan verslind. Hom moet julle teëstaan, standvastig in die geloof, omdat julle weet dat dieselfde lyding opgelê word aan julle broederskap wat in die wêreld is.” Die vroeë Christene het daardie woorde ongetwyfeld gerusstellend gevind. Hulle het geweet dat God hulle opleiding sou voltooi nadat hulle ’n kort rukkie gely het (1 Petrus 5:7-10, vgl. NW). Gedurende daardie laaste dae van die Joodse stelsel van dinge het ware Christene die liefdevolle aanbidding van Jehovah tot nuwe hoogtes gevoer.—Kolossense 1:23.

14 Soos die apostel Paulus voorspel het, het afvalligheid, ’n verwerping van ware aanbidding, plaasgevind (Handelinge 20:29, 30; 2 Thessalonicense 2:3). Getuienis uit die laaste dekades van die eerste eeu het oorvloedige bewys hiervan gelewer (1 Johannes 2:18, 19). Satan het met welslae valse Christene tussen die ware Christene gesaai, wat dit moeilik gemaak het om hierdie “onkruid” van koringagtige Christene te onderskei. Nietemin het sommige persone met die verloop van die eeue die aanbidding van God eerste gestel, al het dit hulle lewens in gevaar gestel. Maar dit was eers tydens die laaste dekades van “die tye van die nasies” wat God sy knegte herversamel het om ware aanbidding te verhef.—Mattheüs 13:24-30, 36-43; Lukas 21:24.

Jehovah se aanbidding word vandag verhef

15. Hoe is die profesieë van Jesaja 2:2-4 en Miga 4:1-4 sedert 1919 vervul?

15 In 1919 het Jehovah die gesalfde oorblyfsel krag gegee om ’n moedige wêreldwye getuienisveldtog te onderneem wat die aanbidding van die ware God verhef het. Met die instroming van die simboliese “ander skape” sedert 1935 het die stroom mense wat in geestelike sin na “die berg van die huis van [Jehovah]” opgaan, bly toeneem. Gedurende die 1993-diensjaar het 4 709 889 Getuies van Jehovah hom geloof deur ander te nooi om by hulle aan te sluit in sy verhewe aanbidding. Wat ’n teenstelling vorm dit tog met die geestelik verdorwe toestand van die sektariese “heuwels” van die wêreldryk van valse godsdiens, vernaamlik in die Christendom!—Johannes 10:16; Jesaja 2:2-4; Miga 4:1-4.

16. Wat moet al God se knegte doen in die lig van wat in Jesaja 2:10-22 voorspel is?

16 Die aanhangers van valse godsdiens beskou hulle kerke en katedrale en selfs hulle geestelikes as “verhewe” en hulle skryf grootse titels en eer aan hulle toe. Maar let op wat Jesaja voorspel het: “Die hoë oë van die mense sal verneder word, en die hoogheid van die manne neergebuig word; en die HERE alleen sal in dié dag verhewe wees.” Wanneer sal dit gebeur? Gedurende die vinnig naderende groot verdrukking wanneer ‘die afgode geheel en al sal verdwyn’. Met die oog op die nabyheid van daardie vreesinboesemende tyd moet al God se knegte ernstig ondersoek instel na die plek wat die aanbidding van Jehovah in hulle lewe inneem.—Jesaja 2:10-22.

17. Hoe toon Jehovah se hedendaagse knegte dat Jehovah se aanbidding die belangrikste plek in hulle lewe inneem?

17 As ’n internasionale broederskap is Jehovah se Getuies welbekend vir hulle ywer in die verkondiging van die Koninkryk. Hulle aanbidding is nie blote vormdiens waarvoor daar ’n uur of wat per week opsygesit word nie. Nee, dit is hulle hele lewenswyse (Psalm 145:2). Trouens, verlede jaar het meer as 620 000 Getuies hulle sake so gereël dat hulle voltyds aan die Christelike bediening kon deelneem. Die res verwaarloos beslis nie die aanbidding van Jehovah nie. Dit neem ’n belangrike plek in hulle daaglikse gesprekke sowel as hulle openbare bediening in, al vereis gesinsverpligtinge dat hulle sekulêr hard moet werk.

18, 19. Watter lewensverhale van Getuies wat jy al gelees het, het jou bemoedig?

18 Die lewensverhale van Getuies wat in Die Wagtoring gepubliseer word, toon op watter maniere verskillende broers en susters Jehovah se aanbidding eerste in hulle lewens gehou het. Een jong suster wat haar lewe op sesjarige ouderdom aan Jehovah toegewy het, het die sendingdiens as haar doelwit gestel. Watter doelwit kan julle jong broers en susters kies wat julle sal help om Jehovah se aanbidding eerste in julle lewens te stel?—Sien die artikel “Die strewe na ’n doelwit wat ek op ses gestel het” in Die Wagtoring van 1 Maart 1992, bladsye 26-30.

19 ’n Bejaarde suster wat ’n weduwee is, voorsien nog ’n goeie voorbeeld van hoe Jehovah se aanbidding in sy regmatige plek gestel is. Sy is grootliks aangemoedig om te volhard deur diegene wat sy gehelp het om die waarheid te leer ken. Hulle was haar “familie” (Markus 3:31-35). Sal jy die ondersteuning en hulp van die jongeres in die gemeente aanvaar as jy jouself in soortgelyke omstandighede bevind? (Let asseblief op hoe suster Winifred Remmie haarself uitgedruk het in “Ek het ’n arbeider in die oes geword” wat in Die Wagtoring van 1 Julie 1992, bladsye 21-3, gepubliseer is.) Julle voltydse bedienaars, toon dat die aanbidding van Jehovah werklik eerste in julle lewens kom deur nederig te dien waar julle aangewys is, en deur julle gewillig aan teokratiese leiding te onderwerp. (Let asseblief op na die voorbeeld van broer Roy Ryan, soos vertel in die artikel “Bly na aan God se organisasie” in Die Wagtoring van 1 Desember 1991, bladsye 24-7.) Onthou, wanneer ons Jehovah se aanbidding eerste stel, het ons die versekering dat hy na ons sal omsien. Ons hoef nie bekommerd te wees oor waar ons lewensbenodigdhede vandaan sal kom nie. Die ondervindinge van susters Olive en Sonia Springate lig dit toe.—Sien die artikel “Ons het eers die Koninkryk gesoek” in Die Wagtoring van 1 Februarie 1994, bladsye 20-5.

20. Watter gepaste vrae moet ons ons nou afvra?

20 Behoort ons elkeen ons dan nie sekere indringende vrae af te vra nie? Watter plek neem die aanbidding van Jehovah in my lewe in? Vervul ek my toewyding om God se wil na die beste van my vermoë te doen? In watter aspekte van die lewe kan ek verbeter? ’n Sorgvuldige oorweging van die volgende artikel sal ons die geleentheid bied om na te dink oor hoe ons ons middele gebruik in ooreenstemming met ons gekose prioriteit in die lewe—die aanbidding van die Soewereine Heer Jehovah, ons liefdevolle Vader.—Prediker 12:13; 2 Korinthiërs 13:5.

Ter hersiening

◻ Wat verlang Jehovah met betrekking tot aanbidding?

◻ As ’n herinnering waarvan het die tabernakel gedien?

◻ Wie was in die eerste eeu G.J. uitstekende voorbeelde van ywer vir ware aanbidding, en hoe?

◻ Hoe is Jehovah se aanbidding sedert 1919 verhef?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel