Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w94 12/15 bl. 23-25
  • Moet jy tot Jesus bid?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Moet jy tot Jesus bid?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat is ’n gebed?
  • Die erkenning van Jesus in ons gebede
  • Hoe word die naam van Jesus ‘aangeroep’?
  • Wat Jesus vir ons kan doen
  • Hoe eer jy Jesus?
  • Aanvaarbare gebede
  • Oor gebede wat God verhoor
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Kom nader aan God deur gebed
    Wat leer die Bybel werklik?
  • Die voorreg van gebed
    Wat kan die Bybel ons leer?
  • Kom na aan God deur gebed
    Wat vereis God van ons?
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
w94 12/15 bl. 23-25

Moet jy tot Jesus bid?

VIR party mense is dit gepas om tot Jesus te bid. In Duitsland is baie mense as kinders geleer dat hulle voor ete hulle hande moet vou en Jesus Christus moet dank.

Volgens die Bybel beklee Jesus inderdaad ’n baie hoë posisie in die hemel. Maar beteken dit dat ons tot hom moet bid? Jy is dalk onder diegene wat, uit liefde vir Jesus, gebede tot hom rig; maar wat dink Jesus self van sulke gebede?

Maar waarom word hierdie vrae in die eerste plek geopper? Want die Bybel sê dat Jehovah God die “Hoorder van die gebed” is. Dit behoort ons dus nouliks te verbaas dat knegte van God in die ou tyd, soos die Israeliete, slegs tot Jehovah God, die Almagtige, gebid het.—Psalm 5:2, 3; 65:3.

Het dinge verander toe Jesus, die Seun van God, aarde toe gekom het om die mensdom van sonde en die dood te verlos? Nee, gebede is steeds tot Jehovah gerig. Toe Jesus op aarde was, het hyself dikwels tot sy hemelse Vader gebid, en hy het ander geleer om dieselfde te doen. Dink net aan die modelgebed, wat soms die Gebed van die Here of die Onse Vader genoem word, wat een van die bekendste gebede ter wêreld is. Jesus het ons nie geleer om tot hom te bid nie; hy het vir ons hierdie model gegee: “Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word.”—Mattheüs 6:6, 9; 26:39, 42.

Kom ons beskou nou die onderwerp deegliker deur ondersoek in te stel na wat gebed in werklikheid is.

Wat is ’n gebed?

Elke gebed is ’n vorm van aanbidding. The World Book Encyclopedia bevestig dit en sê: “Gebed is ’n vorm van aanbidding waardeur ’n mens God eer, dank en belydenis doen of smeking tot hom rig.”

By een geleentheid het Jesus gesê: “Daar staan geskrywe: ‘Dit is Jehovah jou God wat jy moet aanbid, en dit is aan hom alleen wat jy heilige diens moet verrig.’” Jesus het trou gebly aan die fundamentele waarheid dat aanbidding—en daarom ook gebede—slegs tot sy Vader, Jehovah God, gerig moes word.—Lukas 4:8, NW; 6:12.

Die erkenning van Jesus in ons gebede

Jesus het as ’n losprysofferande vir die mensdom gesterf, hy is deur God opgewek en tot ’n hoë posisie verhef. Soos jy jou seker kan voorstel, het al hierdie dinge wel ’n verandering teweeggebring wat aanvaarbare gebede betref. In watter opsig?

Die apostel Paulus beskryf die groot invloed wat Jesus se posisie op gebed uitoefen soos volg: “Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ’n naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is, en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader.”—Filippense 2:9-11.

Beteken die woorde, ‘in die Naam van Jesus sou elke knie buig’, dat ons tot hom moet bid? Nee. Die Griekse frase wat hier van toepassing is, “dui op die naam waarin diegene wat die knie buig, verenig en waarin almal in eenheid (πᾶν γόνυ) aanbid. Die naam wat Jesus ontvang het, beweeg almal tot verenigde aanbidding” (A Grammar of the Idiom of the New Testament, deur G. B. Winer). Ja, ’n gebed moet “in die naam van Jesus” aangebied word om aanvaarbaar te wees, maar dit word nogtans tot Jehovah God gerig en strek hom tot eer. Om hierdie rede het Paulus gesê: “Laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God.”—Filippense 4:6.

Net soos ’n pad na ’n bestemming lei, is Jesus die “weg” wat na God die Almagtige lei. “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie”, het Jesus die apostels geleer (Johannes 14:6). Ons moet dus ons gebede tot God deur Jesus rig en nie direk tot Jesus self nie.a

‘Maar’, vra party dalk, ‘sê die Bybel nie dat die dissipel Stefanus, sowel as die apostel Johannes met Jesus in die hemel gepraat het nie?’ Dit is waar. Daar was egter nie gebede by hierdie gebeure betrokke nie, want Stefanus en Johannes het albei Jesus in ’n gesig gesien en direk met hom gepraat (Handelinge 7:56, 59; Openbaring 1:17-19; 22:20). Hou in gedagte dat deur bloot met God te praat nie op sigself ’n gebed is nie. Adam en Eva het met God gepraat, en verskonings vir hulle groot sonde gemaak, toe Hy hulle ná hulle sonde in Eden geoordeel het. Die manier waarop hulle met hom gepraat het, was nie ’n gebed nie (Genesis 3:8-19). Dit sal gevolglik verkeerd wees om Stefanus of Johannes se woorde aan Jesus as bewys aan te voer dat ons in werklikheid tot hom moet bid.

Hoe word die naam van Jesus ‘aangeroep’?

Bestaan daar nog by jou twyfelgedagtes in die sin dat jy steeds dink dat dit gepas is om tot Jesus te bid? ’n Vrou het na ’n takkantoor van die Wagtoringgenootskap geskryf en gesê: “Ek is ongelukkig steeds nie oortuig dat die eerste Christene nie tot Jesus gebid het nie.” Sy het Paulus se woorde in 1 Korinthiërs 1:2 in gedagte gehad, waar hy gepraat het van “almal wat die Naam van onse Here Jesus Christus in elke plek aanroep”. ’n Mens moet egter in gedagte hou dat die uitdrukking ‘om aan te roep’ in die oorspronklike taal ander dinge as gebed kan beteken.

Hoe is die naam van Christus in elke plek ‘aangeroep’? Een manier was dat Jesus van Nasaret se volgelinge hom openlik erken het as die Messias en “Verlosser van die wêreld” en baie wonderwerke in sy naam verrig het (1 Johannes 4:14; Handelinge 3:6; 19:5). Daarom sê The Interpreter’s Bible dat die frase “om die naam van ons Here aan te roep . . . eerder beteken om sy gesag te erken as om tot hom te bid”.

As ons Christus aanvaar en geloof in sy vergote bloed beoefen, wat vergifnis van sonde moontlik maak, beteken dit ook dat ons ‘die Naam van onse Here Jesus Christus aanroep’. (Vergelyk Handelinge 10:43 met 22:16.) En ons sê letterlik Jesus se naam wanneer ons ook al deur hom tot God bid. Hoewel die Bybel dus toon dat ons die naam van Jesus kan aanroep, dui dit nie daarop dat ons tot hom moet bid nie.—Efesiërs 5:20; Kolossense 3:17.

Wat Jesus vir ons kan doen

Jesus het sy dissipels uitdruklik belowe: “As julle iets in my Naam vra, sal Ek dit doen.” Beteken dit dat ons tot hom moet bid? Nee. Die versoek word tot Jehovah God gerig—maar in Jesus se naam (Johannes 14:13, 14; 15:16). Ons smeek God dat Sy Seun, Jesus, sy groot krag en gesag ten behoewe van ons gebruik.

Hoe kommunikeer Jesus vandag met sy ware volgelinge? Paulus se beskrywing van die gemeente van gesalfde Christene kan dit toelig. Hy het dit met ’n liggaam vergelyk en Jesus Christus met die hoof. Die “hoof” voorsien in die behoeftes van die lede van die geestelike liggaam deur middel van “gewrigte en ligamente” of die middele en reëlings om sy gemeente van geestelike voedsel en leiding te voorsien (Kolossense 2:19, NW). Op ’n soortgelyke wyse gebruik Jesus vandag “gawes [in die vorm van] mense”, of geestelik bekwame manne, om die leiding in die gemeente te neem en selfs lede tereg te wys indien dit nodig sou word. Daar is geen voorsiening vir gemeentelede om direk met Jesus te kommunikeer of tot hom te bid nie, maar hulle behoort beslis—ja, hulle moet—tot Jesus se Vader, Jehovah God, bid.—Efesiërs 4:8-12, NW.

Hoe eer jy Jesus?

Wat die redding van mense betref, speel Jesus inderdaad ’n sleutelrol! Die apostel Petrus het gesê: “Die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie” (Handelinge 4:12). Is jy bewus van hoe belangrik Jesus se naam is?

Ons verlaag nie Jesus se posisie deur nie ons gebede tot hom te rig nie. Ons vereer Jesus eerder as ons in sy naam bid. En net soos kinders hulle ouers eerbiedig deur gehoorsaam te wees, vereer ons Jesus Christus deur sy bevele te gehoorsaam, veral die nuwe gebod om mekaar lief te hê.—Johannes 5:23; 13:34.

Aanvaarbare gebede

Wil jy graag hê jou gebede moet aanvaarbaar wees? Rig hulle dan tot Jehovah God en doen dit in die naam van sy Seun, Jesus. Kom tot ’n kennis van God se wil, en laat jou gebede daardie begrip weerspieël (1 Johannes 3:21, 22; 5:14). Put krag uit die woorde van Psalm 66:20: “Geloofd sy God wat my gebed nie afgewys en sy goedertierenheid aan my nie onttrek het nie.”

Soos ons gesien het, is gebede ’n vorm van aanbidding wat uitsluitlik aan die almagtige God behoort. Deur al ons gebede tot Jehovah God te rig, toon ons dat ons ag slaan op Jesus se riglyne om te bid: “Onse Vader wat in die hemele is.”—Mattheüs 6:9.

[Voetnoot]

a Party mense bid dalk tot Jesus omdat hulle glo dat hy God is. Maar Jesus was die Seun van God, en hyself het Jehovah, sy Vader, aanbid (Johannes 20:17). Sien Moet jy aan die Drie-eenheid glo?, uitgegee deur die Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania, vir ’n breedvoerige bespreking van hierdie onderwerp.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel