Handhaaf onkreukbaarheid en lewe!
“VERVLOEK God en sterf!” Die voorblad van ons tydskrif beeld Job se vrou uit, wat hom met daardie woorde aangeval het. Dit was sowat 3 600 jaar gelede. Maar daardie mondelinge aanval op God se getroue kneg vestig die aandag op ’n geskil waarby die mensdom vandag nog betrokke is. Getroue Job het verskriklike verliese gely—sy vee, sy huis, sy tien kinders. Nou word sy liggaam deur ’n chroniese siekte geteister, wat hom tot die uiterste toe beproef. Die rede? Die aartsvyand van God en die mens, Satan die Duiwel, het ’n aantyging verder gevoer dat die mens nie onkreukbaarheid teenoor God onder swaar beproewing kan handhaaf nie.—Job 1:11, 12; 2:4, 5, 9, 10, vgl. NAV.
Vandag, soos in Job se dag, “[lê] die hele wêreld in die mag van die Bose”, Satan die Duiwel (1 Johannes 5:19). Trouens, dit is vandag meer as ooit die geval, want nou is die een “wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei,” uit die hemel na die aarde neergewerp (Openbaring 12:9). Dit verklaar die verskriklike ellendes wat die mensdom in ons tyd teister. Die eerste wêreldoorlog, wat in 1914 uitgebreek het, was “’n begin van die smarte” wat tot diep in hierdie 20ste eeu voortgeduur het.—Mattheüs 24:7, 8.
Voel jy ooit dat jy in hierdie wrede, verdorwe wêreld die einde van menslike volharding bereik het? Wonder jy ooit: ‘Het die lewe enige doel?’ Job het moontlik so gevoel, maar hy het nooit geloof in God verloor nie, hoewel hy foute begaan het. Hy het sy vasbeslotenheid in hierdie woorde uitgedruk: “Totdat ek die asem uitblaas, sal ek my onskuld [onkreukbaarheid, NW] nie prysgee nie.” Hy was vol vertroue dat God ‘sy onkreukbaarheid te wete sal kom’.—Job 27:5; 31:6, NW.
Jesus Christus, God se eie Seun, moes ook beproewinge verduur terwyl hy hier op die aarde was. Satan het Jesus op verskeie maniere aangeval. Hy het Jesus se fisiese behoeftes gebruik en Sy vertroue op God se Woord getoets, soos by die berg van versoeking (Mattheüs 4:1-11). Hy het Jesus geteister deur die afvallige skrifgeleerdes en Fariseërs en hulle dupes te gebruik om hom te vervolg, van godslastering te beskuldig en planne te beraam om hom dood te maak (Lukas 5:21; Johannes 5:16-18; 10:36-39; 11:57). Wat hulle aan Jesus gedoen het, was baie erger as wat die drie valse vertroosters aan Job gedoen het.—Job 16:2; 19:1, 2.
In die tuin van Getsemane het Jesus, toe hy die klimaks van sy beproewing genader het, vir sy dissipels gesê: “My siel is diep bedroef tot die dood toe.” Toe het hy “op sy aangesig geval en gebid en gesê: My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan; nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil.” Ten laaste het Jesus, ter vervulling van die profetiese woorde van Psalm 22:2, aan die folterpaal uitgeroep: “My God, my God, waarom het U My verlaat?” Maar God het Jesus per slot van rekening nie verlaat nie, want Jesus het volmaakte onkreukbaarheid teenoor Hom gehandhaaf en ’n voorbeeld vir alle ware Christene voorsien om na te volg. Jehovah het Jesus se handhawing van onkreukbaarheid beloon deur hom op te wek en hom tot die hoogste hemele te verhef (Mattheüs 26:38, 39; 27:46; Handelinge 2:32-36; 5:30; 1 Petrus 2:21). God sal alle ander beloon wat eweneens onkreukbaarheid teenoor hom handhaaf.
Jesus se onkreukbaarheid het nie alleen ’n volledige antwoord op Satan se aantyging gegee nie, maar die offerande van sy volmaakte menselewe het die losprys voorsien, op grond waarvan handhawers van onkreukbaarheid die ewige lewe kan verkry (Mattheüs 20:28). Eerstens versamel Jesus ’n gesalfde “klein kuddetjie” wat mede-erfgename met hom in die Koninkryk van die hemele word (Lukas 12:32). Hierna word “’n groot menigte” versamel om “die groot verdrukking” te oorleef om die ewige lewe in die ryk van God se Koninkryk op aarde te beërf.—Openbaring 7:9, 14-17.
Job, ’n handhawer van onkreukbaarheid, sal onder die miljarde dooies wees wat dan opgewek sal word om ’n deel van daardie vreedsame “nuwe aarde”-gemeenskap te word (2 Petrus 3:13; Johannes 5:28, 29). Soos uitgebeeld op ons tydskrif se agterblad, is onkreukbaarheid in Job se dag beloon toe Jehovah ‘die einde van Job meer geseën het as sy begin’. Hy het geestelike krag verkry as iemand wat ‘nie met sy lippe gesondig het nie’. God het sy lewe met nog 140 jaar verleng. Hy het Job materieel dubbel soveel gegee as wat hy tevore gehad het, en Job het toe “sewe seuns en drie dogters gehad”, en die dogters was as die mooistes in die hele land beskou (Job 2:10; 42:12-17). Maar al hierdie voorspoed was slegs ’n voorsmaak van die seëninge wat handhawers van onkreukbaarheid in die Paradys van die “nuwe aarde” sal geniet. Jy kan ook in daardie vreugde deel, soos die volgende bladsye sal verduidelik!
[Prent op bladsy 4]
Jesus het die volmaakte voorbeeld as ’n handhawer van onkreukbaarheid gestel