Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w95 1/1 bl. 24-26
  • “Uit die mond van kinders”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Uit die mond van kinders”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Goeie gedrag ’n getuienis
  • Bekwame jong Getuies
  • Die jonges se moed gee ’n goeie getuienis
  • Soeke na die waarheid beloon
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Uit die mond van kinders
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
w95 1/1 bl. 24-26

“Uit die mond van kinders”

TOE Samuel ’n jong seun was, het hy vasgestaan by regverdige beginsels ondanks die goddeloosheid van die hoëpriester Eli se seuns (1 Samuel 2:22; 3:1). In Elisa se dag het ’n klein Israelitiese gevangene in Sirië moedig vir haar meesteres getuig (2 Konings 5:2-4). Toe Jesus 12 was, het hy onbeskroomd met die leraars van Israel gepraat en het hy vrae gevra en antwoorde gegee wat omstanders verbaas het (Lukas 2:46-48). Deur die geskiedenis heen het Jehovah se jong aanbidders hom getrou gedien.

Lê jongmense vandag daardie selfde getroue gesindheid aan die dag? Ja, beslis! Verslae van die Wagtoringgenootskap se takkantore toon dat talle gelowige jongmense “hulle gewillig aanbied” in Jehovah se diens (Psalm 110:3, NW). Die goeie resultate van hulle pogings spoor alle Christene, oud en jonk, aan om “nie moeg [te] word om goed te doen nie”.—Galasiërs 6:9.

’n Goeie voorbeeld is Ajoemi, ’n Japannese dogtertjie wat ’n verkondiger geword het toe sy ses was en haar dit ten doel gestel het om vir elkeen in haar klas te getuig. Sy het toestemming gekry om verskeie publikasies in die klasbiblioteek te sit en het haar voorberei om enige vrae te beantwoord wat haar skoolmaats moontlik sou vra. Feitlik al haar klasmaats sowel as die onderwyseres het die publikasies leer ken. Gedurende Ajoemi se ses jaar op laerskool het sy reëlings vir 13 Bybelstudies getref. Sy is gedoop toe sy in standerd twee was, en een van haar maats met wie sy gestudeer het, is in standerd vier gedoop. Wat meer is, hierdie Bybelstudent se moeder en twee ouer susters het ook gestudeer en is gedoop.

Goeie gedrag ’n getuienis

“Hou julle lewenswandel onder die heidene skoon”, het die apostel Petrus gesê, en jong Christene neem hierdie bevel ernstig op (1 Petrus 2:12). Gevolglik gee hulle goeie gedrag dikwels ’n uitstekende getuienis. In die Afrikaland, Kameroen, het ’n man ’n gemeentelike vergadering van Jehovah se Getuies die tweede keer bygewoon en toevallig langs ’n dogtertjie gesit. Wanneer die spreker die gehoor genooi het om ’n deel in die Bybel op te soek, het die man opgemerk dat die dogtertjie die teks gou in haar eie Bybel gekry en aandagtig saamgelees het. Haar gesindheid het hom so beïndruk dat hy ná die vergadering na die spreker toe gegaan en gesê het: “Hierdie dogtertjie het gemaak dat ek die Bybel saam met julle wil studeer.”

In Suid-Afrika is daar ’n skool waar 25 leerlinge kinders van Jehovah se Getuies is. Hulle goeie gedrag het ’n uitstekende reputasie vir Jehovah se Getuies tot gevolg gehad. Een onderwyseres het vertroulik vir ’n Getuie-ouer gesê dat sy nie verstaan hoe die Getuies dit regkry om hulle kinders so goed op te lei nie, veral aangesien haar eie kerk nie in staat is om jongmense te help nie. ’n Nuwe onderwyseres het by die skool kom aflos en het dadelik die goeie gedrag van die Getuiekinders opgemerk. Sy het een van die Getuieseuns gevra wat sy sal moet doen om een van Jehovah se Getuies te word. Hy het verduidelik dat sy ’n Bybelstudie moet hê en het gereël dat sy ouers die belangstelling verder ontwikkel.

In Costa Rica het Rigoberto die waarheid ingesien toe twee klasmaats die Bybel gebruik het om sy vrae oor die Drie-eenheid, die siel en die helse vuur te beantwoord. Wat hulle gesê het, het hom beïndruk, nie net omdat hulle in staat was om die Skrif te gebruik nie, maar ook omdat hulle uitstekende gedrag so anders was as dít wat hy in die kerke van die Christendom gesien het. Ondanks gesinsteenkanting maak Rigoberto goeie vordering met sy Bybelstudie.

In Spanje het twee Getuies van Jehovah—een van hulle nege jaar oud—’n man met die naam Onofre besoek. Terwyl die volwasse Getuie die meeste van die praatwerk gedoen het, het die jong Getuie saam in die Skrif gevolg en party Bybeltekste uit die kop aangehaal. Dit het Onofre beïndruk. Hy het besluit dat hy die Bybel wil bestudeer by dieselfde plek waar daardie jong seun geleer het om die Skrif so goed te gebruik. Daarom het hy vroeg die volgende Sondagoggend na die Koninkryksaal toe gegaan. Hy moes buite wag tot die middag, toe die Getuies vir hulle vergadering opgedaag het. Hy het van toe af goeie vordering gemaak en het onlangs sy toewyding deur waterdoop gesimboliseer.

Bekwame jong Getuies

Ja, Jehovah gebruik jongmense sowel as volwassenes om die sagmoediges van hart te bereik. ’n Verdere bewys hiervan is ’n ondervinding uit Hongarye. ’n Hospitaalverpleegster daar het opgemerk dat ’n sekere tienjarige pasiënt se besoekers elke keer vir haar leesstof sowel as eetgoed gebring het. Sy het gewonder wat ’n jong meisie sal lees en het uitgevind dat dit die Bybel was. Die verpleegster het met haar gesels en het later gesê: “Sy het my eintlik van die eerste oomblik af geleer.” Toe die jong meisie uit die hospitaal ontslaan is, het sy die verpleegster genooi om ’n byeenkoms by te woon, maar die verpleegster het dit van die hand gewys. Later het sy egter ingestem om die “Suiwer Taal”-Streekbyeenkoms by te woon. Sy het kort daarna met ’n Bybelstudie begin, en ’n jaar later is sy gedoop—alles omdat ’n meisietjie haar tyd in die hospitaal gebruik het om Bybellektuur te lees.

Ana Ruth, in El Salvador, was in haar tweede jaar van hoërskool. Sy het die gewoonte gehad om Bybellektuur op haar lessenaar te laat sodat ander dit kon lees as hulle wou. Ana Ruth het agtergekom dat die lektuur verdwyn en dan na ’n ruk weer verskyn en het uitgevind dat ’n skoolmaat, Evelyn, dit lees. Evelyn het naderhand tot ’n studie ingestem en gemeentelike vergaderinge begin bywoon. Sy is mettertyd gedoop en dien nou as ’n gereelde hulppionier. Ana Ruth is ’n gewone pionier.

In Panama het ’n suster ’n studie begin met ’n vrou wie se man die waarheid so begin teëstaan het dat die studie byna stopgesit is. Die man se gesindheid het egter met verloop van tyd verbeter. ’n Ruk later het sy vleeslike broer, ’n Getuie, hom gevra om ’n diefalarm in sy huis te installeer. Terwyl hy besig was om die alarm te installeer, het sy negejarige broerskind by die huis gekom en baie hartseer gelyk. Hy het haar gevra wat verkeerd is, en sy het gesê dat sy en haar ouer suster gegaan het om ’n Bybelstudie te hou, maar die persoon was nie tuis nie en sy kon dus daardie dag niks vir Jehovah doen nie. Haar oom het gesê: “Waarom preek jy nie vir my nie? Dan sal jy iets vir Jehovah doen.” Sy broerskind het opgeruimd gehardloop om haar Bybel te gaan haal, en ’n studie is begin.

Haar moeder (die man se skoonsuster) het na die gesprek geluister. Sy het gedink dat dit alles net ’n grap was, maar elke keer as die man na haar huis toe gekom het, het hy gevra dat sy broerskind ’n Bybelstudie met hom hou. Toe die moeder sien dat haar swaer ernstig is en ’n paar moeilike vrae het, het sy besluit om self die studie te hou terwyl haar dogter bysit. Hy het twee keer per week begin studeer en het vinnig vordering gemaak. Hy het mettertyd die punt van toewyding bereik en is by dieselfde byeenkoms as sy vrou gedoop—danksy die goeie gesindheid van sy jong broerskind.

Die jonges se moed gee ’n goeie getuienis

Die Bybel sê: “Wees moedig en laat jou hart sterk wees. Ja, hoop op Jehovah” (Psalm 27:14, NW). Hierdie woorde geld vir al God se knegte, en kinders sowel as volwassenes het dit gedurende die afgelope jaar ter harte geneem. Toe ’n vyfjarige dogtertjie in Australië by ’n nuwe skool begin het, het haar moeder na die onderwyseres toe gegaan om die opvattings van Jehovah se Getuies te verduidelik. Die onderwyseres het gesê: “Ek weet reeds wat julle glo. Jou dogter het alles aan my verduidelik.” Hierdie dogtertjie was nie te skaam om alleen na haar onderwyseres toe te gaan en haar geloof te verduidelik nie.

Die vyfjarige Andrea in Roemenië het ook moed aan die dag gelê. Toe haar moeder die Ortodokse geloof verlaat en ’n Getuie geword het, het haar bure geweier om na haar te luister. Andrea het die diensopsiener eendag by die Gemeentelike Boekstudie hoor beklemtoon hoe belangrik dit is om vir ’n mens se bure te preek. Sy het ernstig hieroor nagedink en by die huis vir haar moeder gesê: “As Mamma weg is werk toe sal ek opstaan, my sak met lektuur pak net soos Mamma, en ek sal tot Jehovah bid om my te help sodat ek met die bure oor die waarheid kan praat.”

Die volgende dag het Andrea gedoen wat sy belowe het. Sy het toe haar moed bymekaargeskraap en die deurklokkie van een van die bure gelui. Toe die huisbewoner die deur oopmaak, het hierdie dogtertjie gesê: “Ek weet dat julle nie van my ma hou vandat sy ’n Getuie geword het nie. Sy het al ’n paar keer met julle probeer praat, maar julle wou nie na haar luister nie. Dit krap haar om, maar ek wil hê julle moet weet dat ons lief is vir julle.” Daarna het Andrea ’n goeie getuienis gegee. In een dag het sy ses boeke, ses tydskrifte, vier boekies en vier traktate versprei. Sedertdien doen sy nog gereeld velddiens.

In Rwanda moes ons broers al groot moed aan die dag lê weens die oorlog daar. By een geleentheid is ’n Getuiegesin na ’n kamer geneem waar soldate gereed gemaak het om hulle dood te maak. Die gesin het toestemming gevra om eers te bid. Dit is toegestaan, en almal behalwe die dogtertjie, Deborah, het sag gebid. Volgens ’n verslag het Deborah hardop gebid: “Jehovah, ek en Pappa het hierdie week vyf tydskrifte versprei. Hoe gaan ons weer by daardie mense uitkom om hulle die waarheid te leer en hulle te help om die lewe te kry? En hoe gaan ek nou ’n verkondiger wees? Ek wou gedoop word sodat ek u kan dien.” Toe ’n soldaat dit hoor, het hy gesê: “Ons kan julle weens hierdie dogtertjie nie doodmaak nie.” Deborah het geantwoord: “Dankie.” Die gesin is gespaar.

Tydens Jesus se triomfantlike intog in Jerusalem teen die einde van sy aardse lewe is hy deur ’n groot, juigende skare begroet. Die skare het uit kinders sowel as volwassenes bestaan. Volgens die verslag het jong seuns ‘in die tempel uitgeroep en gesê: Hosanna vir die Seun van Dawid!’ Toe die hoofpriesters en die skrifgeleerdes hierteen beswaar maak, het Jesus geantwoord: “Het julle nooit gelees: Uit die mond van kinders en suigelinge het U vir U lof berei nie?”—Mattheüs 21:15, 16.

Is dit nie opwindend om te sien dat Jesus se woorde selfs vandag nog waar is nie? “Uit die mond van kinders en suigelinge”—en, kan ons byvoeg, tieners en jong manne en vroue—het Jehovah vir hom lof berei. Trouens, wanneer dit by die sing van Jehovah se lof kom, is daar nie ’n minimum ouderdom nie.—Joël 2:28, 29.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel