Het jy onlangs iemand bemoedig?
ELENA was net 17 jaar oud toe dokters uitvind dat sy kanker van die ovaria het. Haar moeder, Mari, moes die foltering om Elena in ondraaglike pyn te sien, verduur.
Uiteindelik is Elena na ’n hospitaal in Madrid, Spanje, oorgeplaas, 1 900 kilometer van haar tuiste in die Kanariese Eilande. In Madrid was ’n span dokters bereid om sonder bloed te opereer (Handelinge 15:28, 29). Maar kort ná die aanvang van die operasie het dit duidelik geword dat Elena se toestand terminaal was. Die kanker het reeds deur haar hele liggaam versprei, en die chirurge kon nie veel doen nie. Elena het agt dae nadat sy in Madrid aangekom het, gesterf.
Mari was nie alleen in daardie verskriklike beproewing nie. Op eie koste het twee Christen- ouere manne haar en haar oudste seun na Madrid vergesel en tot Elena se dood daar gebly. “Hulle het my gehelp om die verskriklike leemte te vul wat ek binne-in my gevoel het”, verduidelik Mari. “Ek sal nooit die bemoediging vergeet wat hulle my gegee het nie. Hulle geestelike ondersteuning en praktiese hulp was van onskatbare waarde. Hulle was ’n ware ‘toevlug teen die wind’.”—Jesaja 32: 1, 2.
Jehovah is bly dat liefdevolle herders soos hierdie met soveel teerheid na sy skape omsien (Spreuke 19:17; 1 Petrus 5:2-4). Dit is egter nie net die ouere manne wat die voorreg het om ander te bemoedig nie. Alle Christene kom bymekaar om geestelike onderrigting te ontvang en ‘mekaar aan te moedig’ (Hebreërs 10:24, 25, NW). Bemoediging is ’n inherente deel van Christelike omgang.
Wat behels bemoediging?
Net soos ’n pragtige blom verwelk wanneer dit nie water kry nie, kan individue—in die gesin sowel as in die gemeente—wegkwyn weens ’n gebrek aan bemoediging. Aan die ander kant kan tydige bemoediging diegene versterk wat voor versoeking te staan kom, die terneergedruktes opbeur en diegene wat God getrou dien krag gee.
Die Griekse woord wat met “bemoediging” vertaal word, sluit die gedagte van opbeuring, aansporing en vertroosting in. Bemoediging behels dus nie net dat jy vir iemand sê hy doen goed nie. Dit kan ook behels dat jy praktiese bystand en geestelike hulp verleen.
Eintlik beteken die Griekse woord wat met “bemoediging” vertaal word letterlik “om iemand na jou toe te roep”. As ons sy aan sy met ons geestelike broers en susters wandel, kan ons onmiddellik ondersteuning bied as een van hulle moeg word of struikel (Prediker 4:9, 10). Dit is interessant dat Jehovah se volk “hom skouer aan skouer” dien (Sefanja 3:9, NW). En die apostel Paulus het ’n sekere Christen ’n “ware jukgenoot” genoem (Filippense 4:3, NW). As ons onder dieselfde juk trek deur skouer aan skouer te dien, word die las ligter, veral vir dié wat nie geestelik sterk is nie.—Vergelyk Mattheüs 11:29.
Hulle het ander bemoedig
Aangesien bemoediging so belangrik is, kan ons gerus ’n paar skriftuurlike voorbeelde ondersoek. Toe God se profeet Moses die einde van sy lewe genader het, het Jehovah Josua aangestel om die leier van die Israeliete te wees. Dit was nie ’n maklike aanwysing nie, soos Moses goed geweet het (Numeri 11:14, 15). Jehovah het gevolglik vir Moses gesê om ’n ‘bevel aan Josua te gee en hom te versterk en te bemoedig’.—Deuteronomium 3:28.
Gedurende die tyd van Israel se rigters het Jefta se dogter gewillig in ooreenstemming met haar vader se gelofte opgetree deur die moontlikheid om ’n gesin te hê prys te gee sodat sy by Jehovah se heiligdom kon dien. Het haar opoffering ongemerk verbygegaan? Nee, want Rigters 11:40 sê: ‘Die dogters van Israel het jaar vir jaar heengegaan om die dogter van Jefta, die Gileadiet, te besing, vier dae in die jaar.’ Sulke besoeke moes vir die selfopofferende dogter van Jefta baie bemoedigend gewees het.
Soms verg dit moed om ander te bemoedig. Gedurende die apostel Paulus se eerste sendingreis het hy hewige teenkanting in verskeie stede van Klein-Asië ondervind. Hy is uit Antiochië geban, het in Ikonium ternouernood teregstelling vrygespring en is by Listra gestenig en vir dood agtergelaat. Kort daarna het Paulus en sy metgeselle egter na hierdie stede teruggekeer “en die siele van die dissipels versterk en hulle vermaan om in die geloof te bly deur te sê: Ons moet deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan” (Handelinge 14:21, 22). Paulus was bereid om sy lewe te waag om hierdie nuwe dissipels te bemoedig.
Tog is nuwe dissipels nie die enigste Christene wat bemoediging nodig het nie. Jare later het Paulus ’n veeleisende reis na Rome meegemaak, waar hy verhoor sou word. Terwyl hy sy bestemming genader het, was hy dalk ietwat mismoedig. Maar toe hy by ’n punt 74 kilometer suidoos van Rome aangekom het, het hy weer moed geskep. Waarom? Want broers uit Rome het gekom om hom by die Appius-mark en Drie Herberge te ontmoet. “Toe Paulus hulle sien, het hy God gedank en moed gevat” (Handelinge 28:15). In soortgelyke omstandighede kan ons blote teenwoordigheid ons medegelowiges baie bemoedig.
Gryp geleenthede aan om ander te bemoedig
Daar is inderdaad baie geleenthede om ander te bemoedig. Het ’n goeie studentetoespraak deur ’n broer of ’n suster op die Teokratiese Bedieningskool jou hart geraak? Is jy bly dat daar geestelike sterk tieners in die gemeente is? Het die bejaardes se volharding jou beïndruk? Het jy die manier bewonder waarop een van die pioniers die Bybel in die huis-tot-huis-bediening gebruik het? Prys hulle dan daarvoor en sê iets bemoedigends.
Bemoediging speel ’n uiters belangrike rol in die gesin sowel as in die gemeente. Dit kan ouers help om hulle kinders “in die tug en vermaning van die Here” op te voed (Efesiërs 6:4). Om vir ’n kind te sê dat hy goed gedoen het, en te verduidelik waarom, kan só bemoedigend wees! Gedurende die tienerjare wanneer jongmense voor baie versoekings en druk te staan kom, is voortdurende bemoediging noodsaaklik.
’n Gebrek aan bemoediging gedurende die kinderjare kan baie nadelig wees. Michael, ’n Christen- ouere man, is vandag ’n spontane mens, maar hy sê: “My pa het nooit gesê dat ek enigiets goed gedoen het nie. Ek het dus met ’n lae selfbeeld grootgeword. . . . Al is ek nou 50 jaar oud, waardeer ek dit steeds as my vriende my herverseker dat ek goeie werk as ’n ouere man doen. . . . My eie ondervinding het my geleer hoe belangrik dit is om ander te bemoedig, en ek gaan uit my pad om dit te doen.”
Wie het bemoediging nodig?
Hardwerkende Christen- ouere manne verdien bemoediging. Paulus het geskryf: “Ons vra julle, broeders, erken die wat onder julle arbei en julle voorgangers in die Here is en julle vermaan; en bewys hulle in liefde die hoogste agting ter wille van hulle werk” (1 Thessalonicense 5:12, 13). Dit is maklik om die harde werk van die ouere manne as vanselfsprekend te aanvaar. Maar woorde van opregte waardering en bemoediging kan hulle las ligter laat voel.
Diegene onder ons wat moeilike omstandighede ondervind, het ook bemoediging nodig. “Praat vertroostend met die terneergedrukte siele, ondersteun die swakkes”, maan die Bybel (1 Thessalonicense 5:14, NW). Enkelouers, weduwees, tieners, bejaardes en die siekes is van dié wat moontlik van tyd tot tyd terneergedruk of geestelik swak voel.
María is ’n Christenvrou wie se man haar skielik verlaat het. Sy het gesê: “Daar was tye dat ek, soos Job, wou sterf [Job 14:13]. Tog het ek voortgegaan danksy die bemoediging wat ek ontvang het. Twee ouere manne, wat ek baie goed geken het, het baie ure bestee om my te help besef van watter waarde dit is om in die voltydse diens te bly. En twee simpatieke susters het my ook opgebeur en geduldig geluister terwyl ek my hart uitgestort het. Deur die Bybel te gebruik, het hulle dit vir my moontlik gemaak om dinge uit Jehovah se oogpunt te sien. Ek weet nie hoeveel keer ons Psalm 55:23 gelees het nie, maar ek weet dat ek deur hierdie teks toe te pas stadig my geestelike en emosionele ewewig herwin het. Dit het alles 12 jaar gelede gebeur, en ek is bly om te kan sê dat ek nog steeds in die voltydse diens is. My lewe is lonend en gelukkig ondanks emosionele pyn nou en dan. Ek is daarvan oortuig dat bemoediging gedurende so ’n tyd ’n groot verskil in ’n mens se lewe kan maak.”
Party het bemoediging nodig omdat hulle foute gemaak het en nou sukkel om dit reg te stel. Dalk is hulle liefdevol tereggewys (Spreuke 27:6). Die ouere manne wat die teregwysing gegee het, kan wakker wees om die persoon te prys wanneer hulle sien dat die skriftuurlike raad toegepas word. Hulle bemoedigende woorde sal ’n tweeledige voordeel hê—dit sal hulle liefde vir die een wat verkeerd gedoen het, bevestig sodat hy nie “deur sy oormatige droefheid verswelg word nie” en dit sal hom aan die voordele daarvan herinner as hy die raad toepas.—2 Korinthiërs 2:7, 8, NW.
’n Sekere ouere man het ’n ernstige fout begaan en sy diensvoorreg in die gemeente verloor. “Toe hulle die aankondiging gemaak het dat ek nie meer ’n ouere man is nie, het ek gedink dat die broers ongemaklik in my teenwoordigheid sou voel”, sê hy. “Die ouere manne het egter die rede daarvoor streng vertroulik gehou en uit hulle pad gegaan om my te bemoedig. Die res van die gemeente het eweneens liefde en kameraadskap aan my betoon, wat beslis my geestelike herstel bevorder het.”
Wees bemoedigend
In ons besige lewe is dit maklik om bemoediging agterweë te laat. Maar watter nut het dit tog nie! As jy doeltreffende bemoediging wil gee, moet jy twee dinge in gedagte hou. Dink eerstens aan wat om te sê sodat jou bemoediging spesifiek is. Soek tweedens na die geleentheid om iemand te nader wat lof verdien of wat bemoediging nodig het.
Hoe gereelder jy dit doen, hoe gelukkiger sal jy wees. Jesus verseker ons op stuk van sake: “Dit is saliger om te gee as om te ontvang” (Handelinge 20:35). Deur ander te bemoedig, sal jy jouself bemoedig. Waarom stel jy jou dit nie ten doel om elke dag iemand te bemoedig nie?