Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w95 2/1 bl. 4-7
  • Waarom is dit tyd om te besluit?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarom is dit tyd om te besluit?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Waarom Israel verwerp is
  • Die Christendom se groot afvalligheid
  • Is hervorming onmoontlik?
  • Dit is nou die tyd om ‘uit haar uit te gaan’
  • Die Bybel se valse vriend
    Die Bybel—God se woord of die mens s’n?
  • Die ware God en jou toekoms
    Die mensdom se soeke na God
  • Hoe die Christendom ’n deel van hierdie wêreld geword het
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Babilon die Grote—geval en geoordeel
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
w95 2/1 bl. 4-7

Waarom is dit tyd om te besluit?

IN DIE 16de eeu v.G.J. het God die Israeliete gekies as sy “eiendom uit al die volke . . . ’n heilige nasie” (Exodus 19:5, 6). Hulle het gou hulle heiligheid, hulle godsdiensreinheid, verloor en toegelaat dat naburige nasies se afgodediens en verdorwe gebruike hulle verontreinig. Hulle het dus getoon dat hulle “’n hardnekkige volk” is (Deuteronomium 9:6, 13; 10:16; 1 Korinthiërs 10:7-11). Gedurende ’n tydperk van meer as driehonderd jaar ná die dood van Josua het Jehovah rigters aangestel, getroue leiers wat die Israeliete na ware aanbidding moes teruglei. Die volk het egter “niks laat vaar van hulle handelinge en van hulle hardnekkige wandel nie”.—Rigters 2:17-19.

Daarna het God getroue konings en profete aangestel om die volk te oorreed om na ware aanbidding terug te keer. Die profeet Asarja het koning Asa en sy landgenote aangespoor om Jehovah te soek: “As julle Hom soek, sal Hy Hom deur julle laat vind; maar as julle Hom verlaat, sal Hy julle verlaat.” Asa het godsdienshervorming in die koninkryk van Juda teweeggebring (2 Kronieke 15:1-16). God moes later die uitnodiging deur sy profeet Joël herhaal (Joël 2:12, 13). Nog later het Sefanja die inwoners van Juda gemaan ‘om Jehovah te soek’. Die jong koning Josia het dit gedoen tydens ’n hervormingskampanje om van afgodediens en verdorwenheid ontslae te raak.—Sefanja 2:3; 2 Kronieke 34:3-7.

Ondanks sulke tydperke van berou het die godsdienstoestand van die volk al hoe erger geword (Jeremia 2:13; 44:4, 5). Jeremia het die godsdiensstelsel, wat met afgodiese gebruike verontreinig was, veroordeel en dit as onhervormbaar beskryf: “Kan ’n Kusiet sy vel verander of ’n luiperd sy vlekke? Dan sal julle ook in staat wees om goed te doen, julle wat gewend is om kwaad te doen” (Jeremia 13:23). Daarom het God die koninkryk van Juda ’n swaar straf opgelê. Jerusalem en sy tempel is in 607 v.G.J. vernietig, en die oorlewendes is as slawe na Babilon weggevoer, waar hulle 70 jaar lank gebly het.

Toe daardie tydperk verby was, het God barmhartigheid getoon. Hy het koning Kores beweeg om die Israeliete vry te laat, en ’n oorblyfsel van hulle het na Jerusalem teruggekeer om die tempel te herbou. Pleks dat hulle ’n les hieruit geleer het, het hulle weer van ware aanbidding afgedwaal en gemaak dat Jehovah God sy uitnodiging herhaal het: “Bekeer julle tot My, dan sal Ek terugkom na julle toe.”—Maleagi 3:7, NAV.

Waarom Israel verwerp is

Wat was die godsdienstoestand van die Israeliete in Jesus se dag? Die skynheilige godsdiensleiers was “blinde leiers” wat ‘leringe geleer het wat gebooie van mense was’. ‘Hulle het die gebod van God ter wille van hulle oorleweringe oortree.’ Die mense het God “met die lippe” geëer, maar hulle hart was ver van hom af (Mattheüs 15:3, 4, 8, 9, 14). Sou hulle as ’n nasie maar net nog ’n geleentheid kry om berou te toon? Nee. Jesus het gesê: “Die koninkryk van God sal van julle weggeneem en aan ’n volk gegee word wat die vrugte daarvan sal dra.” Hy het verder gesê: “Julle huis”, die tempel in Jerusalem, “word vir julle woes gelaat” (Mattheüs 21:43; 23:38). Hulle dwaling was te groot. Hulle het Jesus as die Messias verwerp en hom laat doodmaak, terwyl hulle die onderdrukkende Romeinse keiser as hulle koning gekies het.—Mattheüs 27:25; Johannes 19:15.

Die Israeliete wou nie begryp dat die tydperk waarin Jesus sy bediening uitgevoer het ’n oordeelstyd was nie. Vir Jerusalem met sy ontroue inwoners het Jesus gesê: “Jy [het] nie die tyd waarin jy geïnspekteer is, onderskei . . . nie.”—Lukas 19:44, NW.

Op Pinkster 33 G.J. het God ’n nuwe nasie, of volk, gevorm—die geesgesalfde dissipels van sy Seun, Jesus Christus, wat uit elke ras en nasie gekies sou word (Handelinge 10:34, 35; 15:14). Was daar enige hoop dat die Joodse godsdiensstelsel uiteindelik hervorm sou word? Die Romeinse leërs het die antwoord in 70 G.J. voorsien toe hulle Jerusalem met die grond gelykgemaak het. God het daardie godsdiensstelsel geheel en al verwerp.—Lukas 21:5, 6.

Die Christendom se groot afvalligheid

Die geesgesalfde Christene was ook “’n heilige volk, ’n volk as eiendom verkry” (1 Petrus 2:9; Galasiërs 6:16). Maar nie eens die oorspronklike Christengemeente het sy godsdiensreinheid baie lank behou nie.

Die Skrif het ’n groot afvalligheid, of versaking van die ware geloof, voorspel. Die simboliese onkruid van Jesus se gelykenis, dit wil sê valse Christene, sou die simboliese koring, of ware Christene, diegene wat met God se gees gesalf is, probeer verstik. Die gelykenis openbaar dat die valse Christelike godsdiens, wat deur God se aartsvyand, die Duiwel, bevorder is, op die punt was om te begin versprei, “terwyl die mense slaap”. Dit het ná die dood van Christus se getroue apostels plaasgevind, gedurende ’n tydperk van geestelike lomerigheid wat daaruit gespruit het (Mattheüs 13:24-30, 36-43; 2 Thessalonicense 2:6-8). Soos die apostels voorspel het, het talle valse Christene hulle weg in die kudde ingewurm (Handelinge 20:29, 30; 1 Timotheüs 4:1-3; 2 Timotheüs 2:16-18; 2 Petrus 2:1-3). Johannes was die laaste apostel wat gesterf het. In ongeveer 98 G.J. het hy geskryf dat “die laaste uur”, die laaste deel van die apostoliese tydperk, reeds begin het.—1 Johannes 2:18, 19.

Toe die bondgenootskap tussen godsdiens en politieke mag deur die Romeinse keiser Konstantyn bekragtig is, het die geestelike, leerstellige en sedelike toestand van die Christendom kwaai versleg. Baie geskiedkundiges is dit eens dat “die segetog van die Kerk gedurende die vierde eeu” uit die Christen se oogpunt “’n ramp” was. ‘Die Christendom het sy hoë sedelike standaard prysgegee’ en baie gebruike en filosofieë uit die heidendom aangeneem, soos “die aanbidding van Maria” en die verering van die “heiliges”, sowel as die idee van die Drie-eenheid.

Ná sy valse segetog het die Christendom se toestand agteruitgegaan. Dekrete en leerstellige definisies deur pouse en konsilies, om nie eens van die inkwisisie, kruistogte en “heilige” oorloë tussen Katolieke en Protestante te praat nie, het ’n onhervormbare godsdiensstelsel voortgebring.

In sy boek A World Lit Only by Fire skryf William Manchester: “Die pouse het in die vyftiende en sestiende eeu soos Romeinse keisers gelewe. Hulle was die rykste manne ter wêreld, en hulle en hulle kardinale het hulleself verder verryk deur heilige offisies te verkoop.” Gedurende die groot afvalligheid het klein groepies of enkele individue die ware Christelike godsdiens probeer herontdek en sodoende die karaktertrekke van die simboliese koring geopenbaar. Hulle het dikwels duur daarvoor betaal. Dieselfde boek sê: “Met tye het dit gelyk asof die ware heiliges van die Christelike godsdiens, Protestante sowel as Katolieke, verkoolde martelaars geword het wat in vlamme gehul is.” Ander sogenaamde Hervormers soos Martin Luther en Johannes Calvyn het dit reggekry om blywende godsdiensstelsels te skep wat afgeskeie van die Katolieke Kerk was, maar steeds die basiese leerstellings daarvan behou het. Hulle was ook diep betrokke by politieke aangeleenthede.

In die Protestantse veld is pogings aangewend om ’n sogenaamde godsdiensherlewing te bewerkstellig. Gedurende die 18de en 19de eeu het hierdie pogings byvoorbeeld geesdriftige buitelandse sendingbedrywighede tot gevolg gehad. Maar soos die herders self erken het, is die geestelike toestand van die Protestantse kudde vandag alles behalwe bemoedigend. Die Protestantse teoloog Oscar Cullmann het onlangs erken dat “daar binne die kerke self ’n geloofskrisis is”.

Hervormings en teenhervormings is ook in die Katolieke Kerk bevorder. Van die 11de tot die 13de eeu is daar, ondanks die wydverspreide verdorwenheid en ontsaglike rykdom van die geestelikes, monnike-ordes ingestel wat streng volgens die eed van armoede geleef het. Maar hulle is fyn dopgehou en, volgens geleerdes, deur die kerklike hiërargie onderdruk. Toe het die 16de-eeuse Teenhervorming begin wat deur die Konsilie van Trente bevorder is en grotendeels daarop gemik was om die Protestantse Hervorming teë te werk.

In die eerste helfte van die 19de eeu, gedurende die tydperk van kerklike herstel, het die Katolieke Kerk ’n eiemagtige en konserwatiewe standpunt ingeneem. Daar kan egter nie gesê word dat enige werklike hervormings teweeggebring is om die ware Christelike godsdiens te herstel nie. Dit was eerder bloot pogings om die geestelikes se gesag te bevestig te midde van die godsdiens-, politieke en sosiale veranderinge van die wêreld.

Meer onlangs, in die sestigerjare, het dit gelyk of die Katolieke Kerk ’n omvattende veranderingsproses met die ekumeniese konsilie, Vatikaan II, aan die gang wou sit. Die huidige pous het egter ’n skielike einde aan die sogenaamde konsiliêre hernuwing gemaak om die progressiewe lede van die kerk se gees te demp. Hierdie stadium, wat party die herstelling van Wojtyła noem, is deur een Katolieke groep as “’n nuwe vorm van Konstantinisme” bestempel. Soos die Jesuïetetydskrif La Civiltà Cattolica uitlig, kom die Katolieke Kerk, soos ander godsdienste te staan voor “’n radikale en wêreldwye krisis: radikaal omdat die oorsprong van geloof en die Christelike lewe daarby betrokke is; wêreldwyd omdat alle fasette van die Christelike godsdiens daarby betrokke is”.

Die Christendom se godsdienste het nie werklik ’n hervormingsproses ondergaan nie, en hulle kan ook nie, aangesien die ware Christelike godsdiens eers herstel sou word tydens die “oestyd”, met die insameling van die simboliese koring in een heilige gemeente (Mattheüs 13:30, 39). Die lang lys misdade en wandade wat in die naam van godsdiens gepleeg is, of hulle nou beweer dat hulle Christene is of nie, laat die vraag ontstaan: Is dit realisties om ware hervorming van die Christendom te verwag?

Is hervorming onmoontlik?

Die boek Openbaring, of Apokalips, praat van ’n simboliese groot hoer met die geheimsinnige naam “Babilon die Grote” (Openbaring 17:1, 5, NW). Bybellesers probeer al eeue lank die geheim van hierdie simbool ontrafel. Die rykdom en verdorwenheid van die geestelikes het baie mense gewalg. Party het gedink dat Babilon die Grote die kerklike hiërargie voorstel. Onder hulle was Johannes Hus, ’n Boheemse Katolieke priester wat in 1415 lewendig verbrand is, en Aonio Paleario, ’n Italiaanse humanis wat in 1570 gehang en verbrand is. Albei het tevergeefs daarna gestreef om die Katolieke Kerk te hervorm in die hoop dat hy na “sy oorspronklike waardigheid” sou terugkeer.

In teenstelling hiermee toon hoofstukke 17 en 18 van Openbaring dat Babilon die Grote die wêreldryk van alle valse godsdiens voorstel.a Hierdie saamgestelde “groot hoer” is onhervormbaar, want “haar sondes reik tot aan die hemel”. Trouens, in hierdie 20ste eeu is feitlik alle godsdienste, nie net dié van die Christendom nie, deels verantwoordelik vir die oorloë wat steeds soveel bloed vergiet en vir die ernstige sedelike verval waarmee die mensdom te kampe het. God het gevolglik beveel dat “Babilon” vernietig word.—Openbaring 18:5, 8.

Dit is nou die tyd om ‘uit haar uit te gaan’

Die vervulling van Bybelprofesieë toon dat die tyd waarin ons leef met “die voleinding” van hierdie goddelose “stelsel van dinge” ooreenstem (Mattheüs 24:3, NW). Niemand wat God werklik wil aanbid, kan dit bekostig om aan sy eie idees en voorkeure vas te klou nie. Hy moet ‘die HERE soek terwyl Hy nog te vinde is’, ja, sonder versuim, want die “groot verdrukking” wat Jesus voorspel het, is ophande (Jesaja 55:6; Mattheüs 24:21). Soos in die geval van die volk Israel sal God nie ’n godsdiens se verdorwenheid duld net omdat hulle oor hulle antikwiteit spog nie. In plaas daarvan om ’n skip te probeer herstel wat tot ondergang gedoem is, moet almal wat God se goedkeuring wil hê en redding wil verkry onmiddellik die geïnspireerde bevel van Openbaring 18:4 gehoorsaam: “Gaan uit [Babilon die Grote] uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie.”

Maar “gaan uit” waarheen? Waar anders is redding te vinde? Bestaan daar nie die gevaar dat jy skuiling op die verkeerde plek kan soek nie? Hoe kan die enigste godsdiens wat God se goedkeuring wegdra, geïdentifiseer word? Die enigste betroubare antwoorde kan in die Woord van God gevind word (2 Timotheüs 3:16, 17). Jehovah se Getuies nooi jou om ’n dieper studie van die Bybel te maak. Dan sal jy kan verstaan wie deur God uitverkies is as ‘’n volk vir sy Naam’, wat hy gedurende die naderende dag van sy toorn sal beskerm.—Handelinge 15:14; Sefanja 2:3; Openbaring 16:14-16.

[Voetnoot]

a Om die simboliese Babilon die Grote skriftuurlik korrek te identifiseer, sien hoofstukke 33 tot 37 van die boek Openbaring—Sy groot klimaks is ophande!, uitgegee in 1988 deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.

[Prent op bladsy 7]

As jou godsdiensskip besig is om te sink, moet jy jou tot die reddingsboot van die ware Christelike godsdiens wend

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel