Lesse uit die wonderwerke van Jesus
“EN OP die derde dag het ’n huweliksfees in Kana in Galilea plaasgevind . . . Jesus en sy dissipels is ook na die huweliksfees genooi. Toe die wyn opraak, het die moeder van Jesus vir hom gesê: ‘Hulle het geen wyn nie.’” Hierdie voorval het die weg vir Jesus se eerste wonderwerk berei.—Johannes 2:1-3.
Was so ’n probleem nie te onbeduidend, te nietig, om onder Jesus se aandag te bring nie? Een Bybelgeleerde verduidelik: “Gasvryheid in die Ooste was ’n heilige plig . . . Ware gasvryheid, veral by ’n huweliksfees, het ’n groot oorvloed vereis. As die voorrade by ’n huweliksfees [opgeraak] het, sou die gesin en die jong egpaar die skande nooit te bowe gekom het nie.”
Jesus het derhalwe tot die daad oorgegaan. Hy het gesien dat “ses waterkruike van klip daar gestaan [het], soos vereis volgens die reinigingsvoorskrifte van die Jode”. Rituele wassery voor maaltye was gebruiklik onder die Jode en baie water was nodig om in die behoeftes van die aanwesiges te voorsien. “Maak die waterkruike vol water”, het Jesus diegene beveel wat die gaste bedien het. Jesus was nie “die feesleier” nie, maar hy het direk en met gesag gepraat. Die verslag sê: ‘Die feesleier het toe die water geproe wat in wyn verander is.’—Johannes 2:6-9; Markus 7:3.
Dit lyk dalk eienaardig dat iets so alledaags soos ’n huweliksfees die agtergrond vir Jesus se eerste wonderwerk sou wees, maar die voorval openbaar baie omtrent Jesus. Hy was ’n ongetroude man en by latere geleenthede het hy die voordele van die ongehude staat met sy dissipels bespreek (Matteus 19:12). Maar sy teenwoordigheid by ’n huweliksfees het getoon dat hy glad nie teen die huwelik gekant was nie. Hy was gebalanseerd en het die huweliksreëling gesteun; hy het dit as iets eerbaars in God se oë beskou.—Vergelyk Hebreërs 13:4.
Jesus was nie die stroewe askeet soos die kerkkunstenaars hom later voorgestel het nie. Hy het dit klaarblyklik geniet om tussen mense te wees en het nie gesellighede afgekeur nie. (Vergelyk Lukas 5:29.) Sy optrede het dus ’n presedent vir sy volgelinge geskep. Jesus het persoonlik bewys dat hulle nie onnodig ernstig of stuurs moet wees—asof regverdigheid vreugdeloosheid beteken nie. Inteendeel, Christene is later beveel: “Verheug julle altyd in die Here” (Filippense 4:4). Hedendaagse Christene maak seker dat hulle ontspanning binne redelike perke hou. Hulle vind hulle vreugde in God se diens, maar in navolging van Jesus se voorbeeld ruim hulle soms tyd in om gesellig met mekaar te verkeer.
Let ook op die teerheid van Jesus se gevoelens. Hy was onder geen verpligting om ’n wonderwerk te verrig nie. Daar was geen profesie in hierdie verband wat vervul moes word nie. Klaarblyklik is Jesus eenvoudig deur sy ma se besorgdheid en die bruidspaar se verknorsing beweeg. Hy het hulle gevoelens in ag geneem en wou hulle die verleentheid spaar. Versterk dit nie jou vertroue dat Christus werklik in jou belangstel nie—selfs in jou alledaagse probleme?—Vergelyk Hebreërs 4:14-16.
Aangesien elke kruik “twee of drie vloeistofmate” water “kon hou”, het Jesus se wonderwerk ’n groot hoeveelheid wyn behels—miskien 390 liter! (Johannes 2:6). Waarom so ’n ontsaglike hoeveelheid? Jesus het nie dronkenskap, iets wat God veroordeel, aangemoedig nie (Efesiërs 5:18). Hy het eerder goddelike vrygewigheid aan die dag gelê. Aangesien wyn ’n alledaagse drank was, sou enige surplus by ander geleenthede gebruik kon word.—Vergelyk Matteus 14:14-20; 15:32-37.
Die vroeë Christene het Jesus se voorbeeld van vrygewigheid gevolg. (Vergelyk Handelinge 4:34, 35.) En Jehovah se hedendaagse volk word eweneens aangemoedig om ‘altyddeur te gee’ (Lukas 6:38). Maar Jesus se eerste wonderwerk is ook van profetiese belang. Dit wys na ’n toekomstige tydperk wanneer God op milde wyse “’n maaltyd van vetspyse, ’n maaltyd van ou wyn” sal voorsien, en ’n algehele einde aan honger sal maak.—Jesaja 25:6.
Maar wat van die baie wonderwerke wat Jesus verrig het waarby liggaamlike genesing betrokke was? Wat kan ons daaruit leer?
Hy doen goed op die Sabbat
“Staan op, tel jou draagbed op en loop.” Jesus het daardie woorde aan ’n man gesê wat 38 jaar lank siek was. Die Evangelieverslag sê voorts: “Daarop het die man onmiddellik gesond geword, en hy het sy draagbed opgetel en begin loop.” Verbasend genoeg was nie almal met hierdie wending tevrede nie. Die verslag sê: ‘Die Jode het Jesus begin vervolg, omdat hy hierdie dinge gedurende die Sabbat gedoen het.’—Johannes 5:1-9, 16.
Die Sabbat was bedoel om ’n dag van rus en vreugde vir almal te wees (Exodus 20:8-11). Teen Jesus se tyd het dit egter ’n doolhof van onderdrukkende, mensgemaakte reëls geword. Die geleerde Alfred Edersheim het geskryf dat aangeleenthede in die uitvoerige Sabbatwetgedeeltes van die Talmoed “ernstig bespreek word asof dit van kardinale godsdienstige belang is, aangeleenthede wat ’n mens jou skaars kan voorstel ’n gesonde verstand ernstig sou oorweeg” (The Life and Times of Jesus the Messiah). Die rabbi’s het groot waarde aan beuselagtige, arbitrêre reëls geheg wat feitlik elke aspek van ’n Jood se lewe gereël het—dikwels met hardvogtige minagting vir mense se gevoelens. Een Sabbatreël het bepaal: “As ’n gebou op iemand ingeval het en daar twyfel bestaan of hy daar is of nie, en of hy lewe of dood is, en of hy ’n heiden of ’n Israeliet is, kan hulle die puin wegruim wat op hom lê. As hulle hom lewend vind, kan hulle die puin wat op hom lê verder wegruim; maar as [hy] dood [is], moet hulle hom los.”—Verhandeling Yoma 8:7, The Mishnah, vertaal deur Herbert Danby.
Hoe het Jesus sulke haarklowery in verband met die wet beskou? Toe hy gekritiseer is omdat hy mense op die Sabbat genees het, het hy gesê: “My Vader het tot nou toe aangehou werk, en ek hou aan werk” (Johannes 5:17). Jesus was nie besig met sekulêre werk om homself te verryk nie. Hy het eerder die wil van God gedoen. Net soos die Leviete toegelaat is om met hulle heilige diens op die Sabbat voort te gaan, kon Jesus volgens reg die pligte uitvoer wat God aan hom as die Messias opgedra het sonder om God se Wet te oortree.—Matteus 12:5.
Jesus se genesings op die Sabbat het ook die Joodse skrifgeleerdes en Fariseërs aan die kaak gestel as “alte regverdig”—onbuigsaam en ongebalanseerd in hulle denke (Prediker 7:16). Dit was beslis nie God se wil dat goeie dade tot sekere dae van die week beperk moes word nie; ook het God nie bedoel dat die Sabbat ’n ydele oefening in die navolging van reëls moes wees nie. Jesus het in Markus 2:27 gesê: “Die sabbat het ter wille van die mens in aansyn gekom, en nie die mens ter wille van die sabbat nie.” Jesus was lief vir mense, nie vir arbitrêre reëls nie.
Hedendaagse Christene sou dus verstandig wees om nie te onbuigsaam of wetgeoriënteerd in hulle denke te wees nie. Diegene wat gesag in die gemeente het, belas ander nie met buitensporige mensgemaakte reëls en beleide nie. Jesus se voorbeeld moedig ons ook aan om na geleenthede te soek om goed te doen. Byvoorbeeld, ’n Christen sal nooit redeneer dat hy slegs van Bybelwaarhede sal getuig wanneer hy formeel aan die huis-tot-huis-bediening deelneem of wanneer hy ’n toespraak hou nie. Die Christen, sê die apostel Petrus, behoort ‘altyd gereed te wees om hom te verdedig voor elkeen wat van hom ’n rede vir die hoop in hom eis’ (1 Petrus 3:15). Om goed te doen, het geen tydsbeperkings nie.
’n Les in medelye
Nog ’n besondere wonderwerk is in Lukas 7:11-17 opgeteken. Volgens die verslag het Jesus “na ’n stad gereis wat Nain genoem word, en sy dissipels en ’n groot skare het saam met hom gereis”. Begraafplase kan tot vandag toe suidoos van die hedendaagse Arabiese dorp Nain gesien word. “Toe hy naby die poort van die stad kom”, het hy op ’n lawaaierige toneel afgekom. “Kyk! toe word daar ’n dooie man uitgedra, die enigverwekte seun van sy moeder. Sy was boonop ’n weduwee. Daar was ook ’n aansienlike skare uit die stad by haar.” H. B. Tristram het gesê dat “die manier waarop ’n begrafnis gehou is, nie verander het” sedert die ou tyd nie, en het bygevoeg: “Ek het die vroue die baar vooraf sien gaan, gelei deur vroue wat beroepsrouklaers is. Hulle gooi hulle arms op, trek hulle hare, met die wildste gebare van verdriet, en roep die naam van die oorledene uit.”—Eastern Customs in Bible Lands.
Te midde van sulke lawaaierige chaos het ’n bedroefde weduwee geloop wie se gesig van droefheid vertrek moes gewees het. Aangesien sy reeds haar man verloor het, het sy haar seun, in die woorde van die skrywer Herbert Lockyer, beskou as “die steun in haar ouderdom, en die vertroosting van haar eensaamheid—die steunpilaar van die huis. Met die verlies van haar enigste seun is die laaste oorblywende stut vernietig” (All the Miracles of the Bible). Wat was Jesus se reaksie? Lukas se betekenisvolle woorde lui: “Toe die Here haar sien, is hy ontroer deur medelye met haar, en hy het vir haar gesê: ‘Hou op huil.’” Die uitdrukking “ontroer deur medelye” kom van ’n Griekse woord wat letterlik “ingewande” beteken. Dit beteken “om in ’n mens se ingewande ontroer te wees” (Vine’s Expository Dictionary of Old and New Testament Words). Ja, Jesus is tot in sy diepste wese geraak.
Jesus se eie moeder was waarskynlik ’n weduwee op hierdie stadium, en omdat hy sy pleegvader, Josef, aan die dood afgestaan het, het hy dus seker geweet watter hartseer die dood meebring. (Vergelyk Johannes 19:25-27.) Dit was nie nodig vir die weduwee om Jesus te smeek nie. Hy het uit sy eie “nader gegaan en die baar aangeraak”, ondanks die feit dat ’n mens onder die Mosaïese Wet onrein sou wees as jy ’n lyk aanraak (Numeri 19:11). Deur sy wonderdadige kragte kon Jesus die werklike oorsprong van onreinheid verwyder! “Hy het gesê: ‘Jong man, ek sê vir jou: Staan op!’ En die dooie man het regop gaan sit en begin praat, en hy het hom aan sy moeder gegee.”
Wat ’n aangrypende les in medelye! Christene moenie die liefdelose, koue gesindhede navolg wat gedurende hierdie “laaste dae” geopenbaar word nie (2 Timoteus 3:1-5). Inteendeel, 1 Petrus 3:8 maan: “Laastens moet julle almal eensgesind wees, meegevoel betoon, broederlike geneentheid en tere medelye hê.” Wanneer een van ons kennisse met ’n sterfgeval of ’n ernstige siekte te kampe het, kan ons nie die dooie opwek of die sieke genees nie. Maar ons kan praktiese hulp en vertroosting bied, miskien deur net daar te wees en saam met hulle te treur.—Romeine 12:15.
Hierdie dramatiese opstanding wat Jesus verrig het, wys ook na die toekoms—’n tyd wanneer “almal wat in die gedenkgrafte is sy stem sal hoor en sal uitkom”! (Johannes 5:28, 29). Bedroefdes oor die hele wêreld sal Jesus se medelye persoonlik ondervind wanneer ontslape moeders, vaders, kinders en vriende uit die graf terugkeer!
Die lesse van die wonderwerke
Dit is dus duidelik dat die wonderwerke van Jesus nie net opwindende vertonings van krag was nie. Hulle het God verheerlik en ’n voorbeeld gestel vir Christene wat aangespoor word om ‘God te verheerlik’ (Romeine 15:6). Hulle het ons aangemoedig om goed te doen, vrygewigheid te betoon en medelye aan die dag te lê. Nog belangriker, hulle het as ’n voorskou gedien van die kragtige werke wat gedurende Christus se Duisendjarige Ryk gedoen gaan word.
Terwyl Jesus op aarde was, het hy sy kragtige werke binne ’n betreklik klein geografiese gebied gedoen (Matteus 15:24). As die verheerlikte Koning sal sy jurisdiksie oor die hele aarde uitgebrei word! (Psalm 72:8). Destyds het diegene wat wonderdadig deur hom genees en opgewek is uiteindelik gesterf. Onder sy hemelse koningskap sal sonde en die dood heeltemal verwyder word, wat die weg vir die ewige lewe sal baan (Romeine 6:23; Openbaring 21:3, 4). Ja, Jesus se wonderwerke wys na ’n glorieryke toekoms. Jehovah se Getuies het miljoene al gehelp om ’n werklike hoop te koester om ’n deel daarvan te wees. Totdat daardie tyd aanbreek, bied die wonderwerke van Jesus Christus voorwaar ’n wonderlike voorsmaak van wat binnekort sal plaasvind!
[Prent op bladsy 7]
Jesus verander water in wyn