Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w95 3/15 bl. 4-7
  • Gebede in die Bybel verdien ’n nadere ondersoek

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Gebede in die Bybel verdien ’n nadere ondersoek
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ‘Sien die ellende van u diensmaagd aan’
  • “Maar ek is nog jonk”
  • “Sodat hulle almal een kan wees”
  • ‘Laat julle versoeke by God bekend word’
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • Verryk jou gebede deur Bybelstudie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Wat sê jou gebede oor jou?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Kom nader aan God deur gebed
    Wat leer die Bybel werklik?
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
w95 3/15 bl. 4-7

Gebede in die Bybel verdien ’n nadere ondersoek

’N DESPERATE vrou, ’n koning en God se eie Seun het die gebede gedoen wat ons nou van naderby sal beskou. Elke gebed is na aanleiding van verskillende omstandighede gedoen. Tog kan sulke situasies ons vandag raak. Wat kan ons uit hierdie voorbeelde leer?

‘Sien die ellende van u diensmaagd aan’

Worstel jy met ’n hardnekkige probleem? Of gaan jy onder sorge gebuk? Dan het jy baie gemeen met Hanna voordat sy aan haar eerste kind, Samuel, geboorte gegee het. Sy was kinderloos en is deur ’n ander vrou bespot. Trouens, Hanna het soveel sorge en verdriet gehad dat sy nie wou eet nie (1 Samuel 1:2-8, 15, 16). Sy het haar tot Jehovah gerig en die volgende smeekbede gedoen:

“HERE van die leërskare, as U waarlik die ellende van u diensmaagd aansien en aan my dink en u diensmaagd nie vergeet nie, maar u diensmaagd ’n manlike kind skenk, dan sal ek hom aan die HERE gee al die dae van sy lewe; en geen skeermes sal op sy hoof kom nie.”—1 Samuel 1:11.

Let op dat Hanna nie in vae terme gepraat het nie. Sy het Jehovah met ’n spesifieke versoek (om ’n manlike kind) genader en dit met ’n vaste voorneme (om hom tot God se beskikking te stel) gepaard laat gaan. Wat leer ons hieruit?

Wanneer jy met teëspoed te kampe het, moet jy spesifiek in jou gebede wees. Ongeag wat jou probleem is—hetsy dit jou huislike omstandighede, eensaamheid of swak gesondheid is—bid tot Jehovah daaroor. Beskryf aan hom presies wat die aard van jou probleem is en hoe jy voel. “Elke aand vertrou ek al my probleme aan Jehovah toe”, sê ’n weduwee met die naam Louise. “Soms is daar baie, maar ek noem elkeen duidelik.”

Dit hou voordele in om spesifiek te wees wanneer ons met Jehovah praat. Dit kan ons help om helderheid oor ons probleem te kry, waarna dit moontlik nie meer so oorweldigend lyk nie. As ons spesifieke gebede doen, bevry dit ons van kommer. Selfs voordat Hanna se gebed verhoor is, het sy gerusgestel gevoel, en “sy was nie meer bedruk nie” (1 Samuel 1:18, NAV). As ons spesifiek is, help dit ons bowendien om gou die antwoord op ons gebed te herken. “Hoe meer spesifiek ek my gebede bewoord”, sê Bernhard, ’n Christen in Duitsland, “hoe duideliker is die antwoorde.”

“Maar ek is nog jonk”

Maar iemand kan ’n ander soort besorgdheid ondervind as hy ’n toewysing ontvang waarvoor hy onwaardig voel. Voel jy soms oorweldig deur die verantwoordelikhede wat Jehovah jou gee? Of beskou party mense jou as ongeskik vir jou toewysing? Jong Salomo was in daardie situasie toe hy as koning van Israel gesalf is. Sekere vername manne het verkies dat iemand anders op die troon sit (1 Konings 1:5-7, 41-46; 2:13-22). Vroeg in sy bewind het Salomo ’n versoek in gebed gedoen:

“Here my God, U het my koning gemaak . . . maar ek is nog jonk en onervare . . . Gee my die gehoorsaamheid aan U dat ek u volk reg sal regeer en in alles insig sal hê.”—1 Konings 3:7-9, NAV.

Salomo het sy gebed laat draai om sy verhouding met Jehovah, om die voorreg wat aan hom gegee is en om sy vermoë om die toewysing uit te voer. Wanneer ons ook al verantwoordelikhede ontvang wat ons meen bo ons vermoë is, moet ons God eweneens versoek om ons toe te rus om die taak te verrig. Beskou die volgende ondervindinge:

“Toe ek gevra is om na groter verantwoordelikhede by die takkantoor van die Wagtoringgenootskap om te sien”, verduidelik Eugene, “het ek heeltemal onbevoeg gevoel. Daar was ander wat bekwamer was en veel meer ondervinding gehad het. Ek het die volgende twee nagte baie min geslaap en het die meeste van die tyd gebid, wat my krag en die nodige selfvertroue gegee het.”

Roy is gevra om ’n begrafnistoespraak te hou ná die skielike en tragiese dood van ’n jong vriend wat baie geliefd was. Daar sou beslis honderde teenwoordig wees. Wat het Roy gedoen? “Ek het nog selde soveel gebid om krag en die vermoë om die regte woorde te vind om opbouende gedagtes oor te dra en om vertroosting te bied.”

Namate die Skepper ‘dinge bespoedig’ en namate sy organisasie uitbrei, is dit ’n natuurlike gevolg dat verantwoordelikhede aan meer van sy knegte opgedra word (Jesaja 60:22, NW). As jy gevra word om ’n groter aandeel te hê, kan jy daarvan seker wees dat Jehovah vir enige gebrek aan ondervinding, opleiding of vermoë aan jou kant kan vergoed. Nader God op dieselfde manier as wat Salomo gedoen het, en Hy sal jou toerus om die toewysing te behartig.

“Sodat hulle almal een kan wees”

’n Derde situasie wat vandag ontstaan, is dat ’n mens gevra kan word om ’n groep in gebed te verteenwoordig. Waarvoor moet ons bid wanneer ons gevra word om ’n gebed ten behoewe van ander te doen? Beskou Jesus se gebed wat in Johannes hoofstuk 17 opgeteken staan. Hy het hierdie gebed op sy laaste aand as ’n mens ten aanhore van sy dissipels gedoen. Watter soort versoeke het hy tot sy hemelse Vader gerig?

Jesus het klem gelê op die gemeenskaplike doelwitte en die hoop wat al die aanwesiges koester. Hy het die verheerliking van Jehovah God se naam en die verkondiging van die Koninkryk gemeld. Jesus het die waarde van ’n persoonlike verhouding met die Vader en die Seun beklemtoon, wat op kennis van die Skrif gegrond is. Hy het van afgeskeidenheid van die wêreld gepraat, wat sy volgelinge op teenstand sou voorberei. Christus het ook sy Vader gevra om die dissipels te beskerm en hulle in ware aanbidding te verenig.

Ja, Jesus het eenheid beklemtoon (Johannes 17:20, 21). Vroeër daardie aand was die dissipels in ’n onvolwasse woordewisseling gewikkel (Lukas 22:24-27). In gebed het Christus hulle egter nie probeer berispe nie, maar hulle probeer verenig. Gesins- en gemeentelike gebede behoort dus eweneens liefde te bevorder en wrywing tussen persone te probeer oorkom. Diegene wat verteenwoordig word, moet in eenheid saamgebind word.—Psalm 133:1-3.

Hierdie eenheid word getoon wanneer die luisteraars ter afsluiting sê: “Amen”, of “Laat dit so wees.” Dit is slegs moontlik as hulle alles wat gesê is, verstaan en daarmee saamstem. Dit sou dus onvanpas wees om in gebed ’n onderwerp te meld waarmee sommige aanwesiges onbekend is. Byvoorbeeld, ’n ouer man wat ’n gemeente in gebed verteenwoordig, vra moontlik Jehovah se seën op ’n geestelike broer of suster wat ernstig siek is. Maar dit sal gewoonlik beter wees as hy dit slegs doen as die oorgrote meerderheid van dié wat hy verteenwoordig die persoon ken en van die siekte gehoor het.

Let ook op dat Jesus nie die persoonlike behoeftes van elke lid van die groep afsonderlik gemeld het nie. As hy dit gedoen het, sou intieme sake gemeld geword het waarvan net sekere persone bewus was. Persoonlike sake is ’n gepaste onderwerp vir private gebede, wat ’n mens so lank en so vertroulik kan maak as wat jy wil.

Hoe moet ’n persoon hom voorberei om ’n groot vergadering aanbidders in gebed te verteenwoordig? Een ervare Christen verduidelik: “Ek dink vooruit waarvoor om dankie te sê, watter versoeke die broers moontlik het en watter versoeke ek ten behoewe van hulle kan meld. Ek plaas die gedagtes, waaronder lofuitinge, in die regte volgorde in my verstand. Voordat ek die openbare gebed doen, doen ek ’n stille gebed en vra om hulp om die broers op ’n waardige wyse te verteenwoordig.”

Wat jou omstandighede ook al is, jy sal waarskynlik ’n gebed in die Bybel vind wat deur iemand in ’n situasie soos joune gedoen is. Die groot verskeidenheid gebede in die Skrif is ’n blyk van God se liefderyke goedhartigheid. As jy hierdie gebede lees en daaroor peins, sal dit jou help om jou gebede te verryk.

[Venster op bladsy 5]

NOEMENSWAARDIGE GEBEDE IN DIE BYBEL

Jehovah se knegte het onder allerhande omstandighede gebid. Kom jou situasie met een of meer van die volgende situasies ooreen?

Het jy leiding van God af nodig, soos Eliëser?—Genesis 24:12-14.

Verkeer jy in dreigende gevaar, soos Jakob?—Genesis 32:9-12.

Wil jy God beter ken, soos Moses?—Exodus 33:12-17.

Het jy met teenstanders te kampe, soos Elia?—1 Konings 18:36, 37.

Is die predikingswerk vir jou moeilik, soos dit vir Jeremia was?—Jeremia 20:7-12.

Moet jy jou sondes bely en om vergifnis vra, soos Daniël?—Daniël 9:3-19.

Moet jy vervolging die hoof bied, soos Jesus se dissipels?—Handelinge 4:24-31.

Sien ook Matteus 6:9-13; Johannes 17:1-26; Filippense 4:6, 7; Jakobus 5:16.

[Venster op bladsy 6]

WAARVOOR ’N MENS KAN BID WANNEER JY TEEN ’N INGEWORTELDE GEWOONTE STRY

Worstel jy met ’n swakheid wat herhaaldelik kop uitsteek? Hoe kan gebede wat in die Bybel opgeteken is van nut wees? Leer by Dawid, wat op verskillende tye met betrekking tot sy eie swakhede gebid het.

Dawid het gesing: “Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes” (Psalm 139:23). Dit was Dawid se begeerte dat Jehovah God verkeerde begeertes, emosies of beweegredes naspeur. Met ander woorde, Dawid het Jehovah se hulp ingeroep om sonde te vermy.

Maar Dawid se swakhede het die oorhand oor hom gekry en hy het groot sondes gepleeg. Ook hier het gebed hom gehelp—hierdie keer om sy verhouding met God te herstel. Volgens Psalm 51:4 het Dawid gepleit: “Was my heeltemal van my ongeregtigheid en reinig my van my sonde.”

Ons kan insgelyks Jehovah nederig om hulp bid om verkeerde neigings te beteuel. Dit sal ons versterk om ’n ingewortelde swakheid te bowe te kom en kan ons help om sonde te vermy. As ons opnuut in sonde verval, moet ons Jehovah weer nader met smeekbedes dat hy ons help om die stryd voort te sit.

[Prente op bladsy 7]

Gebede wat ten behoewe van ’n groep gedoen word, moet skriftuurlike verwagtinge en gemeenskaplike geestelike doelwitte beklemtoon

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel