Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w95 4/1 bl. 26-29
  • Hoe Christene openbare smaad die hoof bied

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe Christene openbare smaad die hoof bied
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Voorbeeld wat Christene kan volg
  • Moet ons op kritiek reageer?
  • Eerstehandse inligting is noodsaaklik
  • Moenie dat teenstanders jou afskrik nie
  • Die verdediging van ons geloof
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Sonder oorsaak gehaat
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Vervolg en tog gelukkig
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Jehovah se Getuies
    Redenering uit die Skrif
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
w95 4/1 bl. 26-29

Hoe Christene openbare smaad die hoof bied

HOE voel jy wanneer iemand jou smaad of leuens oor jou versprei? Jy voel natuurlik diep gekrenk. Jehovah se Getuies ondervind iets soortgelyks wanneer hulle ook al die skyf van onjuiste of verdraaide inligting in die media word. Maar soos Jesus in Matteus 5:11, 12 gesê het, het hulle steeds rede om vreugdevol te wees.

’n Katolieke publikasie in Duitsland het byvoorbeeld beweer dat “elke Getuie verplig is om tussen 17 en 28 persent van sy inkomste aan die hoofkwartier van die sekte te skenk”. Jehovah se Getuies is egter nie ’n sekte nie en hulle werk word geheel en al deur vrywillige bydraes gefinansier. Baie lesers is deur hierdie valse inligting mislei, en Jehovah se Getuies vind dit betreurenswaardig. Maar hoe moet ware Christene op smaad in die media reageer?

’n Voorbeeld wat Christene kan volg

Matteus hoofstuk 23 beskryf op aanskoulike wyse hoe Jesus sy godsdiensteenstanders vir hulle skynheiligheid en bedrog veroordeel het. Dien dit as voorbeeld van hoe hedendaagse Christene teenoor kritici moet optree? Nie werklik nie. God se Seun het sy godsdiensteenstanders veroordeel op grond van die unieke gesag en insig wat hy gehad het, en hy het dit gedoen ter wille van die skares wat geluister het.

Matteus 15:1-11 toon dat Jesus gekritiseer is omdat sy dissipels na bewering die Joodse oorlewering oortree het. Hoe het Jesus daarop gereageer? Hy het sy man gestaan. Jesus het soms reguit met sy kritici gepraat en hulle verkeerde beskouings weerlê. Dit is oor die algemeen nie verkeerd as hedendaagse Christene wanvoorstellings van hulle werk of leerstellings probeer regstel in ’n poging om die situasie op ’n feitelike en logiese manier op te klaar nie. Hulle doen dit om opregte mense te help besef dat die kritiek teen Jehovah se Getuies ongegrond en lasterlik is.

Maar let op Jesus se reaksie ’n tydjie later toe sy dissipels vir hom gesê het: “Weet u dat die Fariseërs aanstoot geneem het toe hulle gehoor het wat u sê?” Hierdie Fariseërs het “aanstoot geneem”—hulle was nie net ontsteld nie, maar het verstokte teenstanders geword wat deur Jesus verwerp is. Hy het gevolglik geantwoord: “Laat hulle begaan. Hulle is blinde gidse.” Verdere besprekings met sulke vyandige teenstanders was sinloos, het niemand tot voordeel gestrek nie en sou net tot ’n vrugtelose argument gelei het. (Matteus 7:6; 15:12-14; vergelyk 27:11-14.) Jesus se antwoorde toon dat daar “’n tyd [is] om te swyg en ’n tyd om te spreek”.—Prediker 3:7.

Jehovah se Getuies verwag nie dat almal met lof van hulle sal praat nie. Hulle hou Jesus se woorde in gedagte: “Wee julle wanneer al die mense goed van julle praat, want sulke dinge het hulle voorvaders aan die valse profete gedoen” (Lukas 6:26). C. T. Russell, die eerste president van die Wagtoringgenootskap, is eenkeer gevra waarom hy hom nie teen smaad verdedig nie. Hy het geantwoord: “As jy stilstaan om elke hond te skop wat vir jou blaf, sal jy nie baie ver kom nie.”

Ons moet dus nie toelaat dat hardnekkige teenstanders se aanmerkings ons aandag van ons diens aan God aflei nie (Psalm 119:69). Laat ons ons op die werk van ware Christene, dit wil sê die evangelisasiewerk, toelê. As ’n natuurlike uitvloeisel daarvan sal ons geleenthede hê om vrae te beantwoord en die kern van ons werk te verduidelik, naamlik om mense sedelik op te hef en hulle in God se Woord te onderrig.—Matteus 24:14; 28:19, 20.

Moet ons op kritiek reageer?

Jesus het van sy volgelinge gesê: ‘Julle is geen deel van die wêreld nie . . . Om dié rede haat die wêreld julle’ (Johannes 15:19). Baie persberigte wat Jehovah se Getuies smaad, is ’n blyk van hierdie haat, en hulle moet geïgnoreer word. Maar soms bevat die media dalk inligting wat ’n gebrek aan kennis van die Getuies weerspieël of wat sekere feite verdraai en verkeerd uiteensit. Party joernaliste kry moontlik inligting uit bevooroordeelde bronne. Of ons vals inligting in die media ignoreer of die waarheid op ’n gepaste wyse verdedig, hang van die omstandighede, die aanstigter van die kritiek en sy oogmerk af.

’n Gepaste brief aan die redakteur kan soms die feite regstel as die volle brief gepubliseer word. Maar so ’n brief kan presies die teenoorgestelde uitwerking hê as wat beoog word. Hoe? Die oorspronklike onwaarheid kan só selfs groter publisiteit ontvang of teenstanders verdere geleentheid gee om leuens of beswaddering in druk te laat verskyn. Dit is in die meeste gevalle verstandig om die kwessie van ’n brief aan die redakteur aan die betrokke ouer manne oor te laat. As ’n negatiewe persberig vooroordeel aanwakker, kan die takkantoor van die Wagtoringgenootskap die gemeentes in daardie land van die feite in kennis stel sodat alle verkondigers mense wat navraag daarna doen van ’n bevredigende verduideliking kan voorsien.

Is dit hoegenaamd nodig dat jy persoonlik by sulke verdraaide aantygings betrokke raak? Dit is duidelik dat Jesus se raad om ‘hulle te laat begaan’, hulle te ignoreer, op hierdie groep teenstanders van toepassing is. Lojale Christene het Bybelse redes waarom hulle afvalliges en hulle beskouings vermy (1 Korintiërs 5:11-13; Titus 3:10, 11; 1 Johannes 2:19; 2 Johannes 10, 11). As iemand opreg daarin belangstel om uit te vind of kritiek op die Getuies op feite of verdigsels berus, is jou gegronde kennis gewoonlik genoeg om ’n antwoord te verskaf.—Sien Die Wagtoring van 15 Maart 1986, bladsye 13 en 14.

As jy verdraaide inligting in die pers teëkom, kan jy die raad in Spreuke 14:15 ter harte neem: “Die eenvoudige glo elke woord, maar die skrandere let op sy voetstappe.” In Switserland was baie mense verontwaardig toe ’n sensasiepersberig gesê het dat ’n jong vroulike Getuie gesterf het omdat haar familie die mediese personeel toestemming geweier het om ’n bloedoortapping te gee. Maar is dit wat werklik gebeur het? Nee. Die pasiënt het ’n bloedoortapping om godsdiensredes geweier, maar sy het wel ingestem tot alternatiewe, bloedlose mediese behandeling. Hulle kon onmiddellik met hierdie behandeling begin het, en dit sou waarskynlik haar lewe gered het. Maar die hospitaal het onnodig met sake gesloer totdat dit te laat was. Die persberig het nie hierdie feite genoem nie.

Oorweeg dus sorgvuldig hoeveel waarheid sulke berigte bevat. Ons kan aan mense wat navraag doen, verduidelik dat plaaslike ouer manne sulke sake op ’n liefdevolle wyse en in ooreenstemming met Bybelse riglyne behartig. As ons by beginsels bly wanneer ons mense antwoord, verhoed dit dat ons sonder meer gevolgtrekkings maak.—Spreuke 18:13.

Eerstehandse inligting is noodsaaklik

In die eerste eeu het mense leuens oor Jesus Christus versprei om sy goeie naam te skend, en sommige het selfs gesê dat hy skuldig is aan verraad. (Lukas 7:34; 23:2; vergelyk Matteus 22:21.) Later het die jong Christengemeente wydverspreide teëstand vanuit godsdiens- sowel as wêreldse kringe ondervind. Aangesien ‘God die dwase dinge van die wêreld uitgekies het’, het baie mense op sy knegte neergesien (1 Korintiërs 1:22-29). Ware Christene moet vandag rekening hou met smaad, wat ’n vorm van vervolging is.—Johannes 15:20.

Maar Jehovah se Getuies waardeer dit as die persoon met wie hulle gesels redelik is en dieselfde gesindheid openbaar as party van Paulus se besoekers in Rome wat gesê het: “Ons dink dat dit gepas is om van jou te hoor wat jy dink, want waarlik, wat hierdie sekte betref, is dit aan ons bekend dat daar oral daarteen gespreek word.”—Handelinge 28:22.

Bied aan mense wat verkeerd ingelig is ’n verduideliking, en doen dit met sagmoedigheid. (Romeine 12:14; vergelyk 2 Timoteus 2:25.) Nooi hulle om eerstehandse inligting oor Jehovah se Getuies in te win, sodat hulle kan begryp wat agter valse beskuldigings skuil. Jy kan ook verduidelikings gebruik wat deur die Wagtoringgenootskap uitgegee word wat besonderhede verskaf oor die organisasie, sy geskiedenis en sy leerstellings.a Filippus het Natanael eenkeer eenvoudig geantwoord: “Kom kyk” (Johannes 1:46). Ons kan dieselfde doen. Enigeen wat wil, is hartlik welkom om die plaaslike Koninkryksaal te besoek om self te sien watter soort mense Jehovah se Getuies is en wat hulle glo.

Moenie dat teenstanders jou afskrik nie

Hoe bemoedigend is dit tog om te weet dat smaad nie keer dat mense Getuies word nie! Gedurende ’n TV-geselsprogram in Duitsland het afvalliges allerhande leuens oor die Getuies vertel. ’n Kyker het besef dat die afvallige verdraaiings fantasie is, en hy is beweeg om sy Bybelstudie met die Getuies te hervat. Ja, openbare smaad het soms positiewe resultate!—Vergelyk Filippense 1:12, 13.

Die apostel Paulus het geweet dat sommige meer aandag aan “valse stories” as aan die waarheid sou skenk. Daarom het hy geskryf: “Bly jy . . . in alles nugter van verstand, ly kwaad, doen die werk van ’n evangelis, voer jou bediening ten volle uit” (2 Timoteus 4:3-5). Moet dus nie toelaat dat jou aandag afgelei word nie en moet ‘in geen opsig bang gemaak word’ deur jou teenstanders nie (Filippense 1:28). As jy kalm en bedaard bly en die goeie nuus met vreugde verkondig, sal jy openbare smaad standvastig die hoof kan bied. Ja, hou Jesus se belofte in gedagte: “Gelukkig is julle wanneer mense julle smaad en julle vervolg en valslik allerhande goddelose dinge teen julle sê ter wille van my. Verheug julle en spring van vreugde, aangesien julle beloning groot is in die hemele; want so het hulle die profete voor julle vervolg.”—Matteus 5:11, 12.

[Voetnoot]

a Sien die publikasies Jehovah se Getuies—Verenig in die uitvoering van God se wil wêreldwyd, Jehovah se Getuies in die twintigste eeu en Jehovah se Getuies—verkondigers van God se Koninkryk.

[Lokteks op bladsy 27]

Toe hulle met teenstanders te doen gehad het, het Jesus vir sy dissipels gesê: “Laat hulle begaan.” Wat het hy bedoel?

[Lokteks op bladsy 29]

“Gelukkig is julle wanneer mense julle smaad en julle vervolg en valslik allerhande goddelose dinge teen julle sê ter wille van my.”—Matteus 5:11.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel