Jehovah se Getuies in alle wêrelddele—Swede
SWEDE beslaan die oostelike kant van die Skandinawiese skiereiland en strek tot bo die Noordpoolsirkel. Swede, wat wêreldwyd bekend is vir sy welige, immergroen woude, asook vir sy mere en berge, is een van die mees yl bevolkte lande in Europa. Jehovah se Getuies soek nietemin sedert die laat 1800’s met welslae daar na liefhebbers van waarheid. Neem ’n onlangse voorbeeld.
’n Vrou het die Bybel saam met die Getuies gestudeer, maar haar man het nie daarvan gehou nie. Hy het vir sy vrou gesê om die studie te staak, en sy het dit gedoen. Hierdie man het by ’n pakkamer gewerk waar broueryprodukte gebêre is. Op ’n dag het ’n vragmotorbestuurder saam met sy tienjarige kleinseun na die pakkamer toe gekom. Die oupa het die man gevra om ’n ogie oor die seun te hou terwyl hy sy vragmotor laai. In ’n poging om ’n gesprek aan te knoop, het die man die seun gevra watter presente hy vir sy laaste verjaarsdag gekry het. Tot die man se verbasing het die seun vir hom gesê dat hy en sy gesin nie verjaarsdae vier nie omdat hulle Jehovah se Getuies is. Die seun het ook vir hom gesê dat hy op ander tye van die jaar geskenke kry en niks mis nie, aangesien hy ’n baie hartlike en liefdevolle gesin het. Geen geskenke is soveel werd soos dit nie, het hy bygevoeg.
Die seun het verskeie kere saam met sy oupa teruggekom. Die man het die seun elke keer ’n klomp vrae gevra, en hy was diep beïndruk deur die manier waarop die seun sonder enige aarseling eerlike, reguit antwoorde gegee het. Hy was ook geraak deur die seun se waardering vir regte waardes. Een aand nadat die man na ’n televisieprogram gekyk het wat die ellendige toestande in die wêreld gewys het, het hy besef dat hy geestelike dinge ernstiger moet ondersoek. Hy het die Getuie wat met sy vrou gestudeer het, geskakel en haar gevra om terug te kom. Kort voor lank het ’n Getuie met die man gestudeer, en hy het vinnig vooruitgang gemaak. Hy is op 10 April 1994 gedoop. Sy vrou is ook nou gedoop.
Groei vereis konstruksie
Swede is die tuiste van baie vlugtelinge uit ander lande, en die Sweedse Getuies het goeie resultate gehad deur vir hulle te getuig. Die werk behaal oor die algemeen soveel welslae dat nuwe Koninkryksale vir die uitbreiding nodig is. Van 1986 tot 1993 is 37 Koninkryksale deur middel van die snelboumetode gebou, terwyl 8 sale vergroot en opgeknap is. In 1994 alleen is nog sewe Koninkryksale gebou en drie opgeknap.
Daar is tans 65 gemeentes wat vir hulp wag om ’n nuwe Koninkryksaal te bou of hulle huidige een te vergroot of op te knap. Ongeveer 2 500 vrywilligers help met sulke bouprojekte, en die gemeentes waardeer hulle liefdevolle bystand grootliks.
Die noordelike deel van Swede wat bo die Noordpoolsirkel geleë is, word soms die land van die middernagson genoem. Dit is so omdat die son gedurende ’n deel van die somer nooit daar ondergaan nie. Die lig van waarheid bly egter ook regoor Swede helder skyn. Met Jehovah se seën sal daardie geestelike lig nooit verdof nie, maar net al hoe helderder skyn.
[Venster op bladsy 8]
OORSIG
1994-diensjaar
VERKONDIGERHOOGTEPUNT: 24 246
VERHOUDING: 1 Getuie vir elke 362
GEDENKMAALOPKOMS: 40 372
GEMIDDELDE PIONIERVERKONDIGERS: 2 509
GEMIDDELDE BYBELSTUDIES: 11 306
AANTAL GEDOOP: 850
AANTAL GEMEENTES: 358
TAKKANTOOR: ARBOGA
[Prent op bladsy 9]
Die takkantoor en Bethelhuis in Arboga
[Prent op bladsy 9]
Die vroeë Getuies in Hjo het hierdie minibus gebruik om ’n gebied van ongeveer 5 000 vierkante kilometer te dek