Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w95 6/1 bl. 6-10
  • Hoewel ons treur, is ons nie sonder hoop nie

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoewel ons treur, is ons nie sonder hoop nie
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die dood word ’n deel van die mensdom
  • Getroues wat getreur het
  • Smart in Jesus se tyd
  • Watter hoop is daar vir die dooies?
  • Praktiese hulp vir diegene wat treur
  • Ware hoop vir jou geliefdes wat gesterf het
    Wat leer die Bybel werklik?
  • Is dit verkeerd om te treur?
    Ontwaak!—1994
  • Wat gebeur met ons afgestorwe dierbares?
    Kennis wat tot die ewige lewe lei
  • ’n Vaste hoop vir die dooies
    Wanneer ’n geliefde sterf
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
w95 6/1 bl. 6-10

Hoewel ons treur, is ons nie sonder hoop nie

“Ons wil nie hê dat julle onkundig moet wees aangaande dié wat in die dood slaap nie, sodat julle nie treur soos die res wat geen hoop het nie.”—1 TESSALONISENSE 4:13.

1. Wat ondervind die mensdom gereeld?

HET jy al ’n geliefde aan die dood afgestaan? Ongeag hoe oud ons is, die meeste van ons het al die smart ervaar wat met die verlies van ’n familielid of ’n vriend gepaardgaan. Miskien was dit ’n grootouer, ’n ouer, ’n huweliksmaat of ’n kind. Ouderdom, siekte en ongelukke eis voortdurend lewens. Misdaad, geweld en oorlog dra tot die ellende en smart by. Jaarliks sterf daar gemiddeld meer as 50 miljoen mense oor die hele wêreld. Die daaglikse gemiddelde in 1993 was 140 250. Die smart wat deur die dood veroorsaak word, het ’n uitwerking op vriende en familie, en dit laat ’n diep leemte.

2. Waarom is dit onnatuurlik dat kinders sterf?

2 Het ons nie meegevoel met die ouers in Kalifornië, VSA, wat ’n swanger dogter op tragiese wyse in ’n fratsmotorongeluk verloor het nie? In een slag het hulle hulle enigste dogter verloor sowel as die baba wat hulle eerste kleinkind sou wees. Die slagoffer se man het ’n vrou en sy eerste seun of dogter verloor. Dit is vir ouers iets onnatuurliks om ’n kind aan die dood af te staan, ongeag of hy nog jonk of al ouer is. Dit is nie normaal dat kinders voor hulle ouers sterf nie. Ons almal het die lewe lief. Daarom is die dood waarlik ’n vyand.—1 Korintiërs 15:26.

Die dood word ’n deel van die mensdom

3. Watter uitwerking het Abel se dood moontlik op Adam en Eva gehad?

3 Sonde en die dood heers al sowat sesduisend jaar van die mensegeskiedenis as konings, sedert die opstand van ons eerste menseouers, Adam en Eva (Romeine 5:14; 6:12, 23). Die Bybel sê nie vir ons hoe hulle op die moord van hulle seun Abel deur sy broer Kain gereageer het nie. Dit moes vir hulle om meer as een rede ’n verpletterende ondervinding gewees het. Hier het hulle vir die eerste keer met die dood van ’n mens te doen gekry deurdat hulle eie seun gesterf het. Hulle het die gevolge van hulle opstand en die volgehoue misbruik van wilsvryheid gesien. Kain het, ten spyte van God se waarskuwings, besluit om die eerste broedermoord te pleeg. Ons weet dat Abel se dood Eva diep moes getref het omdat sy, toe sy aan Set geboorte geskenk het, gesê het: “God het my ’n ander kind geskenk in die plek van Abel, omdat Kain hom doodgeslaan het.”—Genesis 4:3-8, 25.

4. Waarom kon die mite van ’n onsterflike siel geen vertroosting ná Abel se dood gebied het nie?

4 Ons eerste menseouers het ook die werklikheid gesien van God se vonnis oor hulle—dat hulle ‘sekerlik sou sterwe’ as hulle opstandig en ongehoorsaam was. Ten spyte van Satan se leuen het die mite van die onsterflike siel blykbaar toe nog nie ontwikkel nie, en daarom kon hulle geen valse vertroosting daaruit put nie. God het vir Adam gesê: “Jy [sal] terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer.” Hy het geen melding gemaak van ’n toekomstige bestaan as ’n onsterflike siel in die hemel, hel, Limbus, vaevuur of iewers anders nie (Genesis 2:17; 3:4, 5, 19). As lewende siele wat gesondig het, sou Adam en Eva uiteindelik sterf en ophou bestaan. Koning Salomo is geïnspireer om te skryf: “Die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie, en hulle het geen loon meer nie, want hulle nagedagtenis word vergeet. Hulle liefde sowel as hulle haat, ook hulle naywer, het lankal verdwyn, en hulle het vir ewig geen deel meer aan alles wat gebeur onder die son nie.”—Prediker 9:5, 6.

5. Wat is die ware hoop vir die dooies?

5 Hoe waar is daardie woorde tog nie! Ja, wie kan voorouers van twee- of driehonderd jaar gelede onthou? Selfs hulle grafte is dikwels vergete of al lank verwaarloos. Beteken dit dat daar geen hoop vir ons afgestorwe dierbares is nie? Nee, glad nie. Aangaande haar afgestorwe broer Lasarus het Marta vir Jesus gesê: “Ek weet dat hy in die opstanding op die laaste dag sal opstaan” (Johannes 11:24). Die Hebreeuse volk het geglo dat God die dooies êrens in die toekoms sou opwek. Maar dit het nie verhinder dat hulle oor die verlies van ’n geliefde treur nie.—Job 14:13.

Getroues wat getreur het

6, 7. Hoe het Abraham en Jakob op die dood gereageer?

6 Byna vierduisend jaar gelede, toe Abraham se vrou Sara gesterf het, ‘het Abraham gekom om oor Sara te rouklaag en haar te beween’. Daardie getroue kneg van God het sy diep gevoelens oor die verlies van sy dierbare en lojale vrou gewys. Hoewel hy ’n man van durf en daad was, was hy nie skaam om sy smart deur trane te wys nie.—Genesis 14:11-16; 23:1, 2.

7 Dit was ook so in Jakob se geval. Hoe het hy gereageer toe hy onder die indruk gebring is dat sy seun Josef deur ’n wilde dier doodgemaak is? Ons lees in Genesis 37:34, 35: “Toe skeur Jakob sy klere en trek ’n roukleed om sy heupe, en hy het oor sy seun gerou, baie dae lank. En al sy seuns en al sy dogters het moeite gedoen om hom te troos, maar hy het geweier om hom te laat troos en gesê: Nee, treurende sal ek na my seun in die doderyk afdaal! So het sy vader hom dan beween.” Ja, dit is menslik sowel as natuurlik om aan smart uiting te gee wanneer ’n geliefde sterf.

8. Hoe het die Hebreërs dikwels aan hulle smart uiting gegee?

8 Party dink dalk dat Jakob se reaksie volgens hedendaagse en plaaslike standaarde oordrewe en melodramaties was. Maar hy was ’n produk van ’n ander tyd en kultuur. Die manier waarop hy aan sy smart uiting gegee het—deur ’n roukleed te dra—is die eerste vermelding van hierdie gebruik in die Bybel. Soos die Hebreeuse Geskrifte beskryf, is droefheid egter ook getoon deur te weeklaag, klaagliedere te komponeer en in as te sit. Dit is duidelik dat die Hebreërs nie hulle ware gevoelens van smart onderdruk het nie.a—Esegiël 27:30-32; Amos 8:10.

Smart in Jesus se tyd

9, 10. (a) Hoe het Jesus op Lasarus se dood gereageer? (b) Wat vertel Jesus se reaksie vir ons van hom?

9 Wat kan ons van Jesus se vroeë dissipels sê? Toe Lasarus byvoorbeeld gesterf het, het sy susters Marta en Maria met trane en geween oor sy dood getreur. Hoe het die volmaakte man Jesus gereageer toe hy daar aangekom het? Johannes se verslag sê: “Toe het Maria, toe sy aankom waar Jesus was en hom sien, voor sy voete neergeval en vir hom gesê: ‘Here, as u hier was, sou my broer nie gesterf het nie.’ Toe Jesus haar dan sien huil en die Jode wat saam met haar gekom het, sien huil, het hy in die gees gekreun en verontrus geword; en hy het gesê: ‘Waar het julle hom neergelê?’ Hulle het vir hom gesê: ‘Here, kom kyk.’ Jesus het trane begin stort.”—Johannes 11:32-35.

10 “Jesus het trane begin stort.” Daardie paar woorde spreek boekdele oor Jesus se menslikheid, sy medelye en sy gevoelens. Al was Jesus ten volle bewus van die opstandingshoop, ‘het hy geween’ (Johannes 11:35, AB). Die verslag sê verder dat die omstanders gesê het: “Kyk watter geneentheid het hy vir [Lasarus] gehad!” As die volmaakte man Jesus oor die verlies van ’n vriend gehuil het, is dit beslis nie ’n skande as ’n man of ’n vrou vandag treur en huil nie.—Johannes 11:36.

Watter hoop is daar vir die dooies?

11. (a) Wat kan ons leer uit Bybelse voorbeelde van mense wat getreur het? (b) Waarom treur ons nie soos diegene wat geen hoop het nie?

11 Wat kan ons uit hierdie Bybelse voorbeelde leer? Dat dit menslik en natuurlik is om te treur en dat ons nie skaam hoef te wees om ons smart te wys nie. Al word die dood van ’n geliefde deur die opstandingshoop versag, is dit steeds ’n traumatiese verlies wat ’n mens diep raak. Jare, moontlik dekades, van intieme kameraadskap en samesyn kom skielik en op tragiese wyse tot ’n einde. Ons treur nou wel nie soos diegene wat geen hoop het of soos diegene met ’n valse hoop nie (1 Tessalonisense 4:13). Ons word ook nie mislei deur enige mites dat die mens ’n onsterflike siel het of deur reïnkarnasie voortlewe nie. Ons weet wel dat Jehovah ‘nuwe hemele en ’n nuwe aarde waarin regverdigheid sal woon’, belowe het (2 Petrus 3:13). God “sal elke traan van [ons] oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en geskreeu en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan.”—Openbaring 21:4.

12. Hoe het Paulus sy geloof in die opstanding uitgedruk?

12 Watter hoop is daar vir diegene wat gesterf het?b Die Christenskrywer Paulus is geïnspireer om ons vertroosting en hoop te gee toe hy geskryf het: “As laaste vyand gaan die dood tot niet gemaak word” (1 Korintiërs 15:26). The New English Bible sê: “Die laaste vyand wat vernietig gaan word, is die dood.” Waarom kon Paulus so seker daarvan wees? Omdat hy deur iemand wat uit die dood opgewek is, Jesus Christus, tot bekering gebring en onderrig is (Handelinge 9:3-19). Dit is ook waarom Paulus kon sê: “Aangesien die dood deur ’n mens [Adam] is, is die opstanding van die dooies ook deur ’n mens [Jesus]. Want net soos almal in Adam sterf, só sal almal ook in die Christus lewend gemaak word.”—1 Korintiërs 15:21, 22.

13. Hoe het ooggetuies op die opwekking van Lasarus gereageer?

13 Jesus se lering bied ons groot vertroosting en hoop vir die toekoms. Wat het hy byvoorbeeld in die geval van Lasarus gedoen? Hy het na die graf gegaan waar Lasarus se liggaam reeds vier dae gelê het. Hy het gebid, “en toe hy hierdie dinge gesê het, het hy met ’n harde stem uitgeroep: ‘Lasarus, kom uit!’ Die man wat dood was, het uitgekom met sy voete en hande met grafdoeke gebind, en sy gesig was met ’n doek toegedraai. Jesus het vir hulle gesê: ‘Maak hom los en laat hom gaan.’” Kan jy jou die uitdrukking van verbasing en vreugde op Marta en Maria se gesigte voorstel? Hoe verbaas moes die bure tog nie gewees het toe hulle hierdie wonderwerk gesien het nie! Dit is geen wonder dat baie toeskouers geloof in Jesus gestel het nie. Maar sy godsdiensvyande ‘het beraadslaag om hom dood te maak’.—Johannes 11:41-53.

14. Waarvan was Lasarus se opstanding ’n waarborg?

14 Jesus het daardie onvergeetlike opwekking voor baie ooggetuies gedoen. Dit was ’n waarborg van die toekomstige opstanding wat hy by ’n vorige geleentheid voorspel het toe hy gesê het: “Moet julle nie hieroor verwonder nie, want die uur kom waarin almal wat in die gedenkgrafte is [die Seun van God se] stem sal hoor en sal uitkom, dié wat goeie dinge gedoen het tot ’n opstanding van die lewe, dié wat veragtelike dinge beoefen het tot ’n opstanding van oordeel.”—Johannes 5:28, 29.

15. Watter bewys het Paulus en Ananias van Jesus se opstanding gehad?

15 Soos voorheen genoem is, het die apostel Paulus in die opstanding geglo. Op grond waarvan? Hy was vroeër die berugte Saulus, vervolger van die Christene. Sy naam en reputasie het gelowiges met vrees vervul. Was dit dan nie hy wat sy goedkeuring gegee het dat die Christenmartelaar Stefanus gestenig word nie? (Handelinge 8:1; 9:1, 2, 26). Maar op die pad na Damaskus het die verrese Christus Saulus tot besinning gebring deur hom tydelik met blindheid te slaan. Saulus het ’n stem vir hom hoor sê: “‘Saul, Saul, waarom vervolg jy my?’ Hy het gesê: ‘Wie is u, Here?’ Hy het gesê: ‘Ek is Jesus, wat jy vervolg.’” Dieselfde verrese Christus het Ananias, wat in Damaskus gewoon het, toe beveel om na die huis te gaan waar Saulus gebid het en sy sig te herstel. Saulus sowel as Ananias het dus, uit persoonlike ondervinding, alle rede gehad om in die opstanding te glo.—Handelinge 9:4, 5, 10-12.

16, 17. (a) Hoe weet ons dat Paulus nie aan die Griekse konsep van die inherente onsterflikheid van die siel geglo het nie? (b) Watter vaste hoop bied die Bybel? (Hebreërs 6:17-20).

16 Let op hoe Saulus, die apostel Paulus, geantwoord het toe hy as ’n vervolgde Christen voor goewerneur Feliks gebring is. Ons lees in Handelinge 24:15: “Ek het die hoop op God . . . dat daar ’n opstanding van die regverdiges sowel as die onregverdiges gaan wees.” Dit is duidelik dat Paulus nie aan die heidense Griekse konsep van die inherente onsterflikheid van die siel geglo het nie, wat glo na die een of ander mitologiese hiernamaals of onderwêreld gegaan het. Hy het in die opstanding geglo en mense geleer om geloof daarin te beoefen. Vir sommige sal dit die gawe van onsterflike lewe as geesskepsele in die hemel saam met Christus beteken en vir die meeste ’n terugkeer tot lewe op ’n volmaakte aarde.—Lukas 23:43; 1 Korintiërs 15:20-22, 53, 54; Openbaring 7:4, 9, 17; 14:1, 3.

17 Die Bybel gee ons dus ’n duidelike belofte en ’n vaste hoop dat baie hulle geliefdes deur middel van die opstanding weer hier op die aarde sal sien, maar dit sal onder heeltemal ander omstandighede wees.—2 Petrus 3:13; Openbaring 21:1-4.

Praktiese hulp vir diegene wat treur

18. (a) Watter nuttige instrument is by die “Godvrugtige Vrees”-Streekbyeenkomste vrygestel? (Sien die venster.) (b) Watter vrae moet nou beantwoord word?

18 Ons het nou ons herinneringe en ons smart. Wat kan ons doen om deur hierdie moeilike tydperk van droefheid te kom? Wat kan ander doen om dié wat treur te help? Wat kan ons daarbenewens doen om daardie opregtes te help wat ons in ons veldbediening teëkom wat sonder ’n ware hoop is en ook treur? En watter verdere vertroosting kan ons uit die Bybel put oor ons geliefdes wat ontslaap het? Die volgende artikel sal ’n paar wenke gee.

[Voetnote]

a Vir meer inligting oor hoe mense in Bybelse tye getreur het, sien Insight on the Scriptures, Deel 2, bladsye 446-7, wat deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., uitgegee word.

b Vir meer inligting oor die opstandingshoop wat in die Bybel aangetref word, sien Insight on the Scriptures, Deel 2, bladsye 783-93.

Kan jy antwoord?

◻ Waarom kan daar gesê word dat die dood ’n vyand is?

◻ Hoe het knegte van God in Bybeltye aan hulle smart uiting gegee?

◻ Watter hoop is daar vir afgestorwe dierbares?

◻ Op grond waarvan kon Paulus in die opstanding glo?

[Venster op bladsy 8, 9]

Praktiese hulp vir diegene wat treur

By die “Godvrugtige Vrees”-Streekbyeenkomste gedurende 1994-95 het die Wagtoringgenootskap ’n nuwe brosjure met die titel Wanneer ’n geliefde sterf vrygestel. Hierdie bemoedigende publikasie is ontwerp om vertroosting aan mense van alle nasies en tale te bied. Soos jy moontlik reeds gesien het, gee dit die Bybel se eenvoudige verduideliking van die dood en die toestand van die dooies. Wat selfs belangriker is, is dat dit God se belofte deur Christus Jesus van ’n opstanding tot die lewe op ’n gereinigde paradysaarde beklemtoon. Dit verskaf waarlik vertroosting aan dié wat treur. Daarom behoort dit ’n nuttige instrument in die Christelike bediening te wees en kan dit help om belangstelling te prikkel, wat tot baie meer tuisbybelstudies sal lei. Die studievrae is oordeelkundig in vensters aan die einde van elke deel geplaas sodat ’n maklike hersiening van die punte wat bespreek is, gedoen kan word met enige opregte persoon wat treur.

[Prent op bladsy 8]

Toe Lasarus gesterf het, het Jesus geween

[Prent op bladsy 9]

Jesus het Lasarus uit die dood opgewek

[Foto-erkenning op bladsy 7]

First Mourning, by W. Bouguereau, from original plate in Photo-Drama of Creation, 1914

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel