Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w95 6/15 bl. 13-18
  • Wat beweeg jou om God te dien?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wat beweeg jou om God te dien?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat kan jou beweegrede nadelig beïnvloed?
  • “Die liefde wat die Christus het, dring ons”
  • “Wees op julle hoede vir die suurdeeg van die Fariseërs”
  • “Elkeen volgens sy eie vermoë”
  • Die afrekening oor die gebruik van Christus se fondse
    Wêreldwye veiligheid onder die “Vredevors”
  • Die gelykenis van die talente
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Leer uit die illustrasie van die talente
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2015
  • ’n Les oor ywer – Die talente
    Jesus – Die weg, die waarheid, die lewe
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
w95 6/15 bl. 13-18

Wat beweeg jou om God te dien?

“Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met jou hele krag.”—MARKUS 12:30.

1, 2. Watter opwindende dinge word in verband met die predikingswerk bereik?

DIE werklike waarde van ’n motor word nie net deur sy voorkoms bepaal nie. ’n Laag verf kan hom beter laat lyk en ’n mooi, vaartbelynde ontwerp kan ’n moontlike koper aantrek; maar die dinge wat nie geredelik gesien kan word nie—die enjin wat die voertuig aandryf, asook al die ander dele wat dit beheer—is van baie groter belang.

2 Dit is ook so met ’n Christen se diens aan God. Jehovah se Getuies is oorvloedig in godvrugtige werke. Daar word elke jaar meer as ’n miljard uur aan die verkondiging van die goeie nuus van God se Koninkryk bestee. Daarbenewens word daar miljoene Bybelstudies gehou, en honderdduisende word gedoop. As jy ’n verkondiger van die goeie nuus is, het jy ’n aandeel—al lyk dit klein—aan hierdie opwindende syfers gehad. En jy kan seker wees dat ‘God nie onregverdig is sodat hy jou werk sal vergeet en die liefde wat jy vir sy naam getoon het nie’.—Hebreërs 6:10.

3. Waaroor moet Christene, benewens werke, uiters besorg wees, en waarom?

3 Maar die werklike waarde van ons diens—gesamentlik of as individue—word nie net in syfers gemeet nie. Daar is vir Samuel gesê “die mens sien aan wat voor oë is, maar die HERE sien die hart aan” (1 Samuel 16:7). Ja, dit is wat ons binne-in is wat vir God belangrik is. Werke is weliswaar noodsaaklik. Dade van godvrugtige toegewydheid versier die leer van Jehovah en trek moontlike dissipels aan (Matteus 5:14-16; Titus 2:10; 2 Petrus 3:11). Maar ons werke vertel nie die hele verhaal nie. Die verrese Jesus het rede tot kommer gehad oor die gemeente in Efese—ten spyte van hulle rekord van goeie werke. “Ek ken jou dade”, het hy gesê. “Nietemin het ek dít teen jou, dat jy die liefde wat jy eers gehad het, verlaat het.”—Openbaring 2:1-4.

4. (a) Hoe kan ons diens aan God soos ’n ritus word wat ons uit ’n pligsgevoel nakom? (b) Waarom is selfondersoek nodig?

4 Daar bestaan ’n gevaar. Ons diens aan God kan mettertyd soos ’n ritus word wat ons uit ’n pligsgevoel nakom. Een Christenvrou het dit so beskryf: “Ek het uitgegaan in die diens, na die vergaderinge toe gegaan, gestudeer, gebid—maar ek het dit alles outomaties gedoen en nooit iets gevoel nie.” God se knegte moet natuurlik geprys word as hulle hulle inspan selfs wanneer hulle “neergewerp” en ‘terneergedruk’ voel (2 Korintiërs 4:9; 7:6). Maar wanneer ons in ’n groef verval wat ons Christelike roetine betref, moet ons as ’t ware binne na die enjin kyk. Aan die beste motors moet daar van tyd tot tyd instandhoudingswerk gedoen word; alle Christene moet eweneens gereeld selfondersoek doen (2 Korintiërs 13:5). Ander kan ons werke sien, maar hulle kan nie onderskei wat ons tot ons dade aanspoor nie. Ons elkeen moet dus besorg wees oor die vraag: ‘Wat beweeg my om God te dien?’

Wat kan jou beweegrede nadelig beïnvloed?

5. Watter bevel was volgens Jesus die heel eerste gebod?

5 Toe Jesus gevra is watter wet wat aan Israel gegee is die heel eerste gebod is, het hy ’n bevel aangehaal wat nie op die uiterlike toegespits was nie, maar op die innerlike beweegrede: “Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met jou hele krag” (Markus 12:28-30). Jesus het dus getoon wat die dryfkrag agter ons diens aan God moet wees—liefde.

6, 7. (a) Hoe het Satan die gesinskring op geslepe wyse aangeval, en waarom? (2 Korintiërs 2:11). (b) Hoe kan ’n mens se opvoeding jou gesindheid teenoor Goddelike gesag beïnvloed?

6 Satan wil ons vermoë belemmer om die noodsaaklike eienskap liefde aan te kweek. Een metode wat hy gebruik om dit reg te kry, is om die gesinskring aan te val. Waarom? Want dit is waar ons eerste en blywendste indrukke van liefde gevorm word. Satan is goed bekend met die Bybelbeginsel dat dít wat ’n mens in jou kinderjare leer vir jou nuttig kan wees wanneer jy ’n volwassene is (Spreuke 22:6). Hy probeer op ’n geslepe wyse ons begrip van liefde op ’n vroeë ouderdom verdraai. As die “god van hierdie stelsel van dinge” sien Satan dat sy oogmerke bereik word wanneer baie grootword in huise wat nie ’n veilige hawe van liefde is nie, maar slagvelde van bitterheid, gramskap en smadende taal.—2 Korintiërs 4:4; Efesiërs 4:31, 32; 6:4, voetnoot in naslaanuitgawe; Kolossense 3:21.

7 Die boek Hoe om ’n gelukkige gesinslewe op te bou het gesê dat die manier waarop ’n vader sy ouerlike rol vervul “’n onmiskenbare uitwerking [kan] hê op die gedrag wat sy kinders later teenoor gesag—hetsy menslike of Goddelike gesag—aan die dag sal lê”.a Een Christenman wat hardhandig deur ’n kwaai vader grootgemaak is, erken: “Dit is vir my maklik om Jehovah te gehoorsaam; om hom lief te hê, is baie moeiliker.” Gehoorsaamheid is natuurlik ’n vereiste, want “om gehoorsaam te wees is beter as slagoffer” in God se oë (1 Samuel 15:22). Maar wat kan ons help om verder te gaan as om net gehoorsaam te wees en liefde vir Jehovah aan te kweek as die dryfkrag agter ons aanbidding?

“Die liefde wat die Christus het, dring ons”

8, 9. Hoe behoort Jesus se losprysofferande ons liefde vir Jehovah te wek?

8 Die grootste aansporing om hartgrondige liefde vir Jehovah aan te kweek, is ’n waardering vir Jesus Christus se losprysofferande. “Hierdeur is die liefde van God in ons geval openbaar gemaak, want God het sy enigverwekte Seun in die wêreld uitgestuur sodat ons deur hom die lewe kan verkry” (1 Johannes 4:9). Wanneer ons dit eers verstaan en waardeer, wek hierdie daad van liefde ’n reaksie van liefde. “Ons het lief omdat [Jehovah] ons eerste liefgehad het.”—1 Johannes 4:19.

9 Jesus het gewillig sy toewysing aanvaar om as die mens se Verlosser te dien. “Hieraan het ons die liefde leer ken, omdat daardie een vir ons van sy siel afstand gedoen het” (1 Johannes 3:16; Johannes 15:13). Jesus se selfopofferende liefde moet ’n gevoel van waardering in ons opwek. Ter toeligting: Gestel jy is van verdrinking gered. Kan jy net huis toe gaan, jou afdroog en daarvan vergeet? Natuurlik nie! Jy sal voel dat jy onder verpligting staan teenoor die persoon wat jou gered het. Jy is per slot van rekening jou lewe aan daardie persoon verskuldig. Is ons enigiets minder aan Jehovah God en Jesus Christus verskuldig? Sonder die losprys sal ons elkeen as ’t ware in sonde en die dood verdrink. Maar deur hierdie groot daad van liefde het ons die vooruitsig om vir ewig op ’n paradysaarde te lewe.—Romeine 5:12, 18; 1 Petrus 2:24.

10. (a) Hoe kan ons die losprys iets persoonliks maak? (b) Hoe dring die liefde wat Christus het ons?

10 Peins oor die losprys. Pas dit persoonlik toe, soos Paulus gedoen het: “Ja, die lewe wat ek nou in die vlees lewe, lewe ek deur die geloof in die Seun van God, wat my liefgehad het en homself vir my oorgegee het” (Galasiërs 2:20). Sulke bepeinsing sal hartgrondige motivering opwek, want Paulus het aan die Korintiërs geskryf: ‘Die liefde wat die Christus het, dring ons, omdat hy vir almal gesterf het, sodat dié wat lewe nie langer vir hulleself moet lewe nie, maar vir hom wat vir hulle gesterf het en opgewek is’ (2 Korintiërs 5:14, 15). The Jerusalem Bible sê dat Christus se liefde “ons oorweldig”. Wanneer ons oor Christus se liefde peins, word ons gedring, diep getref, selfs oorweldig. Dit raak ons hart en spoor ons tot dade aan. Soos J. B. Phillips se vertaling dit parafraseer: “Die dryfkrag agter ons dade is die liefde van Christus.” Enige ander soort beweegrede sal nie blywende vrugte in ons voortbring nie, soos die voorbeeld van die Fariseërs toon.

“Wees op julle hoede vir die suurdeeg van die Fariseërs”

11. Beskryf die Fariseërs se gesindheid teenoor godsdienswerke.

11 Die Fariseërs het al die lewe uit aanbidding van God geneem. Pleks van liefde vir God te benadruk, het hulle werke as die maatstaf vir geestelikheid beklemtoon. Hulle beheptheid met uitvoerige reëls het hulle van buite regverdig laat lyk, maar binne-in was hulle “vol doodsbeendere en allerhande onreinheid”.—Matteus 23:27.

12. Hoe het die Fariseërs getoon dat hulle ongevoelige harte het nadat Jesus ’n man genees het?

12 By een geleentheid het Jesus uit medelye ’n man genees wie se hand verdor het. Hoe gelukkig moes hierdie man tog nie gewees het om onmiddellik genees te word van ’n siekte wat ongetwyfeld baie fisiese en emosionele ongerief veroorsaak het nie! Tog was die Fariseërs nie saam met hom bly nie. Hulle het eerder hare gekloof oor ’n tegniese besonderheid—dat Jesus op die Sabbat hulp verleen het. Omdat die Fariseërs behep was met hulle tegniese interpretasie van die Wet, het hulle glad nie in ooreenstemming met die gees van die Wet opgetree nie. Dit is geen wonder dat Jesus ‘diep bedroef was oor die ongevoeligheid van hulle hart’ nie! (Markus 3:1-5). Daarbenewens het hy sy dissipels gewaarsku: “Wees op julle hoede vir die suurdeeg van die Fariseërs en Sadduseërs” (Matteus 16:6). Hulle optrede en gesindhede word tot ons voordeel in die Bybel blootgelê.

13. Watter les is daar vir ons in die voorbeeld van die Fariseërs?

13 Die voorbeeld van die Fariseërs leer ons dat ons ’n redelike beskouing van werke moet hê. Werke is inderdaad noodsaaklik, want ‘geloof sonder werke is dood’ (Jakobus 2:26). Maar onvolmaakte mense is geneig om ander te oordeel vir wat hulle doen pleks vir wat hulle is. Ons kan onsself soms ook so oordeel. Ons kan behep raak met dade, asof dit die enigste maatstaf vir ons geestelikheid is. Ons kan vergeet hoe belangrik dit is om ons beweegredes te ondersoek. (Vergelyk 2 Korintiërs 5:12.) Ons kan onbuigsame, wettiese persone word wat “die muggie uitsif maar die kameel insluk”, wat die letter van die wet gehoorsaam maar die doel daarvan skend.—Matteus 23:24.

14. Hoe was die Fariseërs soos ’n vuil beker of skottel?

14 Die Fariseërs het nie begryp dat dade van godvrugtige toegewydheid die natuurlike gevolg is wanneer iemand Jehovah waarlik liefhet nie. Geestelikheid vloei van binne na buite. Jesus het die Fariseërs skerp veroordeel vir hulle verkeerde denke in hierdie verband deur te sê: “Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! want julle maak die buitekant van die beker en van die skottel skoon, maar binne-in is hulle vol roof en onmatigheid. Blinde Fariseër, maak eers die binnekant van die beker en van die skottel skoon, sodat die buitekant daarvan ook skoon kan word.”—Matteus 23:25, 26.

15. Noem voorbeelde wat toon dat Jesus verder as die uiterlike kyk.

15 Die buitekant van ’n beker, ’n skottel of selfs ’n gebou sê nie alles nie. Jesus se dissipels was vervul met ontsag oor die skoonheid van Jerusalem se tempel wat Jesus “’n rowerspelonk” genoem het as gevolg van dít wat daarbinne aangegaan het (Markus 11:17; 13:1). Wat van die tempel gegeld het, geld van miljoene wat bely dat hulle Christene is, soos die Christendom se geskiedenis toon. Jesus het gesê dat hy sommige wat “kragtige werke” in sy naam verrig het as “werkers van wetteloosheid” sou veroordeel (Matteus 7:22, 23). In sterk teenstelling daarmee het hy van ’n weduwee gesê wat ’n byna onbeduidende bedrag by die tempel bygedra het: “Hierdie arm weduwee [het] meer ingegooi . . . as almal wat geld in die skatkiste gegooi het . . . Sy het in haar gebrek alles ingegooi wat sy gehad het, haar hele lewensonderhoud” (Markus 12:41-44). Teenstrydige oordele? Glad nie. Jesus het in albei gevalle Jehovah se beskouing weerspieël (Johannes 8:16). Hy het die beweegredes agter die werke gesien en daarvolgens geoordeel.

“Elkeen volgens sy eie vermoë”

16. Waarom is dit nie nodig dat ons ons bedrywigheid gedurig met dié van ’n ander Christen vergelyk nie?

16 As ons die regte beweegredes het, is dit nie nodig om gedurig vergelykings te maak nie. Daar kom byvoorbeeld niks goeds daarvan as ’n mens op wedywerende wyse probeer om net soveel tyd as ’n ander Christen in die bediening deur te bring of om dieselfde prestasies as hy in die predikingswerk te behaal nie. Jesus het gesê dat jy Jehovah met jou hele hart, verstand, siel en krag moet liefhê—nie iemand anders s’n nie. Elkeen se vermoëns, stamina en omstandighede verskil. As jou situasie dit toelaat, sal liefde jou beweeg om baie tyd in die bediening deur te bring—moontlik selfs as ’n voltydse pionierbedienaar. Maar as jy met ’n siekte worstel, bestee jy moontlik minder tyd aan die bediening as wat jy graag wil. Moenie mismoedig raak nie. Getrouheid aan God word nie in ure gemeet nie. As jou beweegredes suiwer is, sal jy rede tot vreugde hê. Paulus het geskryf: “Laat elkeen sy eie werk op die proef stel, en dan sal hy net met betrekking tot homself rede tot verblyding hê, en nie in vergelyking met die ander persoon nie.”—Galasiërs 6:4.

17. Vertel kortliks die gelykenis van die talente in jou eie woorde.

17 Beskou Jesus se gelykenis van die talente, soos opgeteken in Matteus 25:14-30. ’n Man wat op die punt gestaan het om na die buiteland te reis, het sy slawe ontbied en sy besittings aan hulle toevertrou. “Vir een het hy vyf talente gegee, vir ’n ander twee, vir nog ’n ander een, vir elkeen volgens sy eie vermoë.” Wat het die heer gevind toe hy teruggekeer het om met sy slawe afrekening te hou? Die slaaf wat vyf talente ontvang het, het nog vyf verkry. Ook die slaaf wat twee talente ontvang het, het nog twee verkry. Die slaaf wat een talent ontvang het, het dit in die grond begrawe en niks gedoen om sy heer se rykdom te vermeerder nie. Hoe het die heer die situasie beskou?

18, 19. (a) Waarom het die heer nie die slaaf wat twee talente ontvang het met die slaaf vergelyk wat vyf talente ontvang het nie? (b) Wat leer die gelykenis van die talente ons oor lof en vergelykings? (c) Waarom het die derde slaaf ’n ongunstige oordeel ontvang?

18 Kom ons kyk eers na die slawe wat onderskeidelik vyf en twee talente ontvang het. Die heer het vir elk van hierdie slawe gesê: “Mooi so, goeie en getroue slaaf!” Sou hy dit vir die slaaf met vyf talente gesê het as daardie slaaf net twee verkry het? Waarskynlik nie! Daarenteen het hy ook nie vir die slaaf wat twee talente verkry het, gesê: ‘Waarom het jy nie vyf verkry nie? Kyk net na jou medeslaaf en hoeveel hy vir my verkry het!’ Nee, die medelydende heer, wat Jesus afgebeeld het, het nie vergelykings gemaak nie. Hy het die talente aan “elkeen volgens sy eie vermoë” gegee, en hy het nie meer terugverwag as wat elkeen kon gee nie. Albei slawe het ewe veel lof ontvang, want albei het heelhartig vir hulle heer gewerk. Ons kan almal hieruit leer.

19 Die derde slaaf is natuurlik nie geprys nie. Trouens, hy is in die duisternis daar buite gegooi. Omdat hy net een talent ontvang het, sou daar nie van hom verwag gewees het om soveel te verkry as die slaaf met vyf talente nie. Maar hy het nie eers probeer nie! Hy het uiteindelik ’n ongunstige oordeel ontvang vanweë sy “goddelose en trae” hartstoestand, wat op ’n gebrek aan liefde vir die heer gedui het.

20. Hoe beskou Jehovah ons beperkinge?

20 Jehovah verwag van ons elkeen om hom met ons hele krag lief te hê, en tog is dit so hartverblydend dat “Hy weet watter maaksel ons is, gedagtig dat ons stof is”! (Psalm 103:14). Spreuke 21:2 sê “die HERE toets die harte”—nie statistiek nie. Hy verstaan al die beperkinge waaroor ons geen beheer het nie, of dit nou geldelik, fisies, emosioneel of iets anders is (Jesaja 63:9). Terselfdertyd verwag hy dat ons moet woeker met al die middele wat ons het. Jehovah is volmaak, maar wanneer dit by sy onvolmaakte aanbidders kom, is hy nie ’n perfeksionis nie. Hy is nie onredelik in sy optrede of onrealisties in sy verwagtinge nie.

21. Watter goeie resultate sal die gevolg wees as ons diens aan God deur liefde gemotiveer word?

21 Om Jehovah met ons hele hart, siel, verstand en krag lief te hê, “is baie meer werd as al die heelbrandoffers en offerandes” (Markus 12:33). As ons deur liefde beweeg word, sal ons alles wat ons kan in God se diens doen. Petrus het geskryf dat as godvrugtige eienskappe, onder andere liefde, “in julle bestaan en oorvloedig is, sal dit verhoed dat julle onbedrywig of onvrugbaar word met betrekking tot die juiste kennis van ons Here Jesus Christus”.—2 Petrus 1:8.

[Voetnoot]

a Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.

Ter hersiening

◻ Wat moet die dryfkrag agter ons diens aan God wees?

◻ Hoe dring die liefde van Christus ons om Jehovah te dien?

◻ Watter vooroordeel van die Fariseërs moet ons vermy?

◻ Waarom is dit onverstandig om gedurig ons diens met dié van ’n ander Christen te vergelyk?

[Prente op bladsy 16]

Die vermoëns, stamina en omstandighede van individue verskil

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel