Die ongetroude lewe in moeilike ekonomiese tye
“EK WOU trou toe ek 25 jaar oud was”, het Chuks, wat in Wes-Afrika woon, gesê. “Ek het ’n meisie in gedagte gehad, en sy het in my belanggestel. Die probleem was geld. My pa en my ouer broer was sonder werk, en my jonger broers en susters was nog op skool. Almal het op my staatgemaak om die gesin te onderhou. Om sake te vererger, het my ouers toe siek geword, en dit het beteken dat ekstra geld nodig was om die mediese onkoste te betaal.”
Chuks, ’n Getuie van Jehovah, wou nie trou as hy nie ’n vrou kon onderhou nie. Hy het gedink aan Paulus se woorde in 1 Timoteus 5:8: “Ja, as iemand vir dié wat syne is, en veral vir dié wat lede van sy huisgesin is, nie sorg nie, het hy die geloof verloën en is hy erger as ’n ongelowige.”
“Ek het hard gewerk”, het Chuks verder gesê, “maar daar was nooit genoeg geld nie. Gevolglik moes ons ons trouplanne keer op keer uitstel. Uiteindelik het ek ’n brief van die meisie gekry wat gesê het dat iemand anders haar pa genader het en gevra het om met haar te trou. Haar pa het ingestem. ’n Paar dae ná haar brief gekom het, het die familie die verlowingspartytjie gehou.”
Net soos Chuks het baie Christenmans gesien hoe hulle trouplanne weens moeilike ekonomiese toestande skipbreuk ly of uitgestel word. In baie lande is daar hiperinflasie. In een land in Sentraal-Afrika het pryse byvoorbeeld in een jaar met 8 319 persent gestyg! In sommige lande is dit moeilik om werk te kry. Die lone is dikwels ook so karig dat dit vir ’n man moeilik is om homself te onderhou, wat nog te sê ’n vrou en kinders. Een jong man in Nigerië het gekla dat die salaris vir die voltydse werk wat hy in ’n fabriek kon kry net R61 per maand was—minder as die maandelikse busgeld werk toe en terug!
Baie ongetroude Christenvroue vind ook dat ekonomiese moeilikhede hulle trouplanne in die wiele ry. Hulle moet dikwels werk om gesinslede te onderhou. Sommige ongetroude mans wat die situasie sien, skram daarvan weg in die wete dat die man wat onder sulke omstandighede trou, genoeg sal moet verdien om nie net ’n vrou te onderhou nie, maar ook haar gesin. Ayo, wat ’n universiteitsgraad het, sukkel om haarself, haar ma en haar jonger broers en susters te onderhou. “Ek wil trou”, kla sy, “maar wanneer ander kom en my lang sleepsel [finansiële verantwoordelikhede] sien, hardloop hulle weg.”
Ondanks finansiële probleme vind baie ongetroude Christene dat familielede en ander druk op hulle uitoefen om te trou en kinders te hê. Soms kom hierdie druk in die vorm van spot. In dele van Afrika is dit byvoorbeeld gebruiklik wanneer ’n volwassene gegroet word om te vra hoe dit met sy of haar eggenoot en kinders gaan. Soms word sulke begroetinge gebruik om ongetroudes te spot. John, wat in sy laat veertigerjare is, sê: “Wanneer mense my terg en sê: ‘Hoe gaan dit met jou vrou?’ dan antwoord ek: ‘Sy kom nog.’ Die punt is, hoe kan ek met ’n vrou trou as ek haar nie kan onderhou nie?”
Vir John en baie ander soos hy word die situasie opgesom deur ’n Joroeba-spreuk: “Om gou te trou, is niks om oor te spog nie; die prys van kos is die moeilikheid.”
Moet jou nie verknies nie
Hoe maklik is dit tog om ontsteld te raak wanneer ons na iets smag wat nie verwesenlik word nie. Spreuke 13:12 sê: “’n Uitgestelde hoop maak die hart siek.” Miskien is dit hoe jy voel as jy baie graag wil trou maar finansieel nie daartoe in staat is nie. Dit kan veral die geval wees as jy een van dié is van wie die apostel Paulus gesê het dat hulle ‘van hartstog brand’.—1 Korintiërs 7:9.
Dit is dalk moeilik om jou situasie te verwerk, maar daar is dinge wat jy kan doen om dit te verduur en om selfs vreugde te hê. Jesus Christus, ’n ongetroude man, het ’n praktiese Bybelbeginsel genoem wat jou kan help om die teleurstelling van ’n uitgestelde hoop te verwerk. Hy het gesê: “Dit verskaf groter geluk om te gee as om te ontvang.”—Handelinge 20:35.
Jy kan dit toepas deur goeie dinge vir jou gesin en vir ander in die gemeente te doen. Miskien kan jy ook jou bedrywigheid in die Christelike bediening uitbrei. As jy jou daarop toelê om onselfsugtig aan ander te gee, sal jy dalk vind dat jy ‘in jou hart begin vasstaan en gesag oor jou eie wil het’.—1 Korintiërs 7:37.
’n Ander ongetroude man, die apostel Paulus, het hierdie goeie raad neergeskryf: “Let dus voortdurend streng op hoe julle wandel, dat dit nie as onwyses is nie, maar as wyses, terwyl julle die geleë tyd vir julleself uitkoop, omdat die dae goddeloos is” (Efesiërs 5:15, 16). Baie ongetroude Christene het ‘verkwikking vir hulle siele’ gevind deur hulle tyd te gebruik om nader aan Jehovah te kom deur te bid, God se Woord te bestudeer en aan Christelike vergaderinge deel te neem (Matteus 11:28-30). As jy dit doen, sal jy ’n moeilike ekonomiese situasie beter die hoof kan bied. Dit sal jou ook help om selfs groter geestelikheid te openbaar, wat van jou ’n beter man of vrou sal maak as jy uiteindelik wel trou.
Onthou altyd dat Jehovah omgee vir almal wat hom dien. Hy is bewus van probleme en moeilikhede wat jy het. Ons liefdevolle hemelse Vader weet ook wat op die lange duur geestelik sowel as emosioneel vir jou die beste is. As jy geduldig die beginsels van sy Woord in jou daaglikse lewe toepas, kan jy seker wees dat hy op sy bestemde tyd verligting sal bring en jou behoeftes en begeertes op ’n wyse sal vervul wat tot jou ewige voordeel sal wees. Die Bybel verseker ons: “Die HERE . . . sal die goeie nie onthou aan die wat in opregtheid wandel nie.”—Psalm 84:12.
Behou ’n positiewe uitkyk
Hou ook in gedagte dat daar besliste voordele aan die ongetroude lewe verbonde is. Die apostel Paulus het geskryf: ‘Hy wat sy maagdelikheid in die huwelik gee, doen goed, maar hy wat dit nie in die huwelik gee nie, sal beter doen.’—1 Korintiërs 7:38.
Waarom is dit “beter” om ongetroud te bly as om te trou? Paulus het verduidelik: “Die ongetroude man is besorg vir die dinge van die Here, hoe hy die Here se goedkeuring kan verkry. Maar die getroude man is besorg vir die dinge van die wêreld, hoe hy sy vrou se goedkeuring kan verkry, en hy is verdeeld. Verder is die ongetroude vrou, en die maagd, besorg vir die dinge van die Here, sodat sy in haar liggaam sowel as in haar gees heilig kan wees. Die getroude vrou is egter besorg vir die dinge van die wêreld, hoe sy haar man se goedkeuring kan verkry.”—1 Korintiërs 7:32-34.
Met ander woorde, getroude Christene is tereg besorg oor hulle huweliksmaat se behoeftes, asook die dinge waarvan hulle hou en nie hou nie. Maar ongetroude Christene kan hulle aandag in groter mate op Jehovah se diens toespits. Vergeleke met getroude Christene is ongetroudes in ’n beter posisie om in ‘volgehoue diens aan die Here te wees, sonder om afgelei te word’.—1 Korintiërs 7:35.
Paulus sê nie dat daar niks is wat die ongetroude Christen kan aflei nie. As jy met ekonomiese probleme belas is, voel jy dalk dat daar baie dinge is wat jou van jou bediening kan aflei. Maar die ongetroude man of vrou het gewoonlik meer persoonlike vryheid om God te dien as die getroudes.
Hoewel die apostel Paulus die ongetroude lewe as die beter weg aanbeveel het, het hy nie gesê dat dit verkeerd is om te trou nie. Hy het geskryf: “Selfs as jy sou trou, sou jy geen sonde pleeg nie.” Maar hy het gewaarsku: “Diegene wat wel trou, sal egter verdrukking in hulle vlees hê.”—1 Korintiërs 7:28.
Wat het hy daarmee bedoel? Die huwelik bring sekere bekommernisse. In moeilike ekonomiese tye sal hierdie verdrukking dalk ’n vader se besorgdheid insluit oor hoe hy vir sy vrou en kinders gaan sorg. Siekte kan ook ’n verdere finansiële en emosionele las op ’n gesin plaas.
Al is jou situasie dalk nie soos jy dit graag wil hê nie, is jy moontlik in ’n beter posisie as wat jy sou gewees het as jy getroud was en die verantwoordelikheid gehad het om vir kinders te sorg. Die probleme waarmee jy nou te kampe het, is tydelik; hulle sal in God se nuwe stelsel verwyder word—en party daarvan dalk selfs nog voor daardie tyd.—Vergelyk Psalm 145:16.
Kan jy jou bediening uitbrei?
Al is dit nie vir almal moontlik nie, het party ondanks finansiële probleme die voltydse diens betree. Chuks, wat vroeër gemeld is, het skryfbehoeftes gekoop en verkoop om sy gesin te onderhou. Omtrent dieselfde tyd toe sy trouplanne misluk het, het hy ’n brief gekry wat hom genooi het om tydelike konstruksiewerk by die plaaslike takkantoor van die Wagtoringgenootskap te doen. Sy ouer broer was bekommerd oor finansies en het hom afgeraai om te gaan. Chuks het egter geredeneer dat Jehovah hom gehelp het om sy skryfbehoefte-onderneming op die been te bring, en daarom moes hy Koninkryksbelange eerste stel en vertroue hê in God se vermoë om te voorsien (Matteus 6:25-34). Dit is buitendien net vir drie maande, het hy gedink.
Chuks het die uitnodiging aanvaar en die besigheid vir sy broer gegee. Ses jaar later is Chuks nog steeds in die voltydse diens, hy is ’n ouer man in die Christengemeente en hy is finansieel gereed om te trou. Is hy spyt oor die manier waarop dinge in sy lewe uitgewerk het? Chuks sê: “Ek het sleg gevoel toe ek nie kon trou toe ek wou nie, maar dinge het werklik goed uitgewerk. Ek het baie vreugdes en diensvoorregte geniet wat ek waarskynlik nie sou kon hê as ek destyds getrou en met ’n gesin begin het nie.”
Sekuriteit vir die toekoms
In moeilike tye soek baie die sekuriteit van die huwelik as ’n beskerming teen toekomstige finansiële moeilikheid. Baie lande wat ’n groot skuldlas het, bied min of geen hulp vir die bejaardes. Ouers steun dus dikwels op hulle gesin, en veral op hulle kinders, om hulle op hulle oudag te onderhou. Gevolglik is daar dikwels druk op ongetroude mans en vroue om te trou en kinders te hê, al is hulle finansiële toestand maar benard.
Maar die huwelik en kinders waarborg nie sekuriteit nie. Party wêreldse kinders is onwillig om vir bejaarde ouers te sorg, ander kan nie en nog ander sterf voor hulle ouers. Christene stel hulle vertroue hoofsaaklik in ’n ander bron, omdat hulle die volgende belofte van God in gedagte hou: “Ek sal jou hoegenaamd nie in die steek laat of jou ooit verlaat nie.”—Hebreërs 13:5.
Diegene wat die huwelik uitgestel het om Jehovah voltyds te dien, is nie verlate nie. Christiana is ongetroud en 32 jaar oud. Sy dien al die afgelope nege jaar as ’n gewone pionier in Nigerië. Sy sê: “Ek stel my vertroue in Jehovah, wat ons verseker dat hy sy knegte nooit in die steek sal laat nie. Ek vertrou op sy belofte. Jehovah sorg geestelik sowel as materieel vir my. Hy het getoon dat hy ’n vrygewige Vader is. Ek het byvoorbeeld getrek om pionierdiens te gaan doen waar daar Getuies nodig was. Al is daar min geriewe het ek geleer om klaar te kom. Toe ek met tifus in die hospitaal opgeneem is, het broers van my vorige gemeente my te hulp gesnel.
“Ek is baie tevrede met die voltydse diens. Ek beskou dit as ’n groot voorreg om met die Skepper van die heelal en met soveel broers en susters in alle wêrelddele saam te werk. Ek sien baie jongmense wat gefrustreerd en wanhopig voel as gevolg van die dinge wat rondom hulle gebeur. Wat my betref, my lewe is sinvol; ek sien met vertroue uit na die toekoms. Ek weet dat die beste oplossing vir die probleme waarvoor ons vandag te staan kom, is om na aan Jehovah te bly.”
As jy baie graag wil trou, maar weens ekonomiese probleme nie kan nie, hou goeie moed! Jy is nie alleen nie. Daar is baie wat soortgelyke probleme met Jehovah se hulp verduur. Benut jou situasie so goed moontlik deur jou daarop toe te lê om goeie dinge vir ander te doen en jou geestelikheid op te bou. Kom nader aan God; hy sal jou help, want hy is werklik besorg oor jou.—1 Petrus 5:7.