Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w95 7/1 bl. 5-8
  • Waarom na die waarheid soek?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarom na die waarheid soek?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die prys van relativisme
  • Wat is die waarheid?
  • Die waarheid in aksie
  • ’n Skat wat enige prys werd is
  • Christene aanbid met gees en waarheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • “Ek sal in u waarheid wandel”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) — 2018
  • Volg die God van waarheid na
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • ‘Gaan voort om die weg van die waarheid te volg’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2022
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
w95 7/1 bl. 5-8

Waarom na die waarheid soek?

BAIE godsdiensorganisasies beweer dat hulle die waarheid het, en hulle dra dit ywerig aan ander uit. Maar onder hulle word daar ’n verbysterende magdom “waarhede” aangebied. Is dit net ’n verdere bewys dat alle waarhede relatief is, dat daar geen absolute waarhede is nie? Nee.

In sy boek The Art of Thinking, spreek professor V. R. Ruggiero sy verbasing uit oor die feit dat selfs intelligente mense soms sê dat waarheid relatief is. Hy redeneer: “As elkeen sy eie waarheid bepaal, kan geen persoon se idee beter as ’n ander s’n wees nie. Almal moet gelyk wees. En as alle idees gelyk is, wat is die nut daarvan om enigiets na te vors? Waarom in die grond grawe om antwoorde op argeologiese vrae te kry? Waarom die oorsake van spanning in die Midde-Ooste ondersoek? Waarom na ’n geneesmiddel teen kanker soek? Waarom die sterrestelsel verken? Hierdie bedrywighede maak alleenlik sin as party antwoorde beter as ander is, as die waarheid afsonderlik is van, en onaangetas is deur, individuele perspektiewe.”

Trouens, niemand glo werklik dat daar geen waarheid is nie. Wanneer dit by die fisiese werklikhede, soos geneeskunde, wiskunde of die wette van fisika kom, sal selfs die getrouste relativis glo dat sommige dinge waar is. Wie van ons sou dit waag om in ’n vliegtuig te ry as ons nie gedink het dat die wette van aërodinamika absolute waarhede was nie? Bewysbare waarhede bestaan wel; hulle omring ons, en ons skik ons lewens daarna.

Die prys van relativisme

Dit is egter op sedelike gebied waar die dwalinge van relativisme die duidelikste is, want dít is waar hierdie denkwyse die meeste skade gedoen het. The Encyclopedia Americana maak die volgende stelling: “Daar is al ernstig getwyfel of kennis, oftewel bekende waarheid, deur mense gevind kan word . . . Dit is egter duidelik dat die mensegemeenskap agteruitgaan wanneer die gekoppelde ideale van waarheid en kennis as onprakties of nadelig verwerp word.”

Miskien het jy sulke agteruitgang opgemerk. Die Bybel se sedelike leringe wat duidelik sê dat geslagsonsedelikheid verkeerd is, word byvoorbeeld maar selde nog as waarhede beskou. Situasie-etiek—“besluit self wat reg is vir jou”—is aan die orde van die dag. Kan enigiemand sê dat sosiale agteruitgang nie die gevolg van hierdie relativistiese beskouing is nie? Die wêreldwye epidemies van seksueel oordraagbare siektes, gebroke gesinne en tienerswangerskappe spreek immers vanself.

Wat is die waarheid?

Kom ons verlaat nou die troebel water van relativisme en ondersoek kortliks wat die Bybel as die suiwer water van waarheid beskryf (Johannes 4:14; Openbaring 22:17). In die Bybel is “waarheid” glad nie soos die abstrakte, vae begrip waaroor filosowe debatteer nie.

Toe Jesus gesê het dat sy hele doel in die lewe was om van die waarheid te praat, het hy van iets gepraat waaraan getroue Jode eeue lank groot waarde geheg het. In hulle heilige geskrifte het die Jode lank reeds van die “waarheid” gelees as iets tasbaars, nie iets teoreties nie. In die Bybel is “waarheid” die vertaling van die Hebreeuse woord “ʼemethʹ”, wat op iets dui wat bestendig, solied en, miskien bowenal, betroubaar is.

Die Jode het goeie rede gehad om die waarheid so te beskou. Hulle het hulle God, Jehovah, “die God van waarheid” genoem (Psalm 31:5, NW). Dit was omdat Jehovah alles gedoen het wat hy gesê het hy sou doen. Wanneer hy beloftes gemaak het, het hy hulle gehou. Wanneer hy profesieë geïnspireer het, is hulle vervul. Wanneer hy finale oordele uitgespreek het, is hulle uitgevoer. Miljoene Israeliete was ooggetuies van hierdie werklikhede. Die geïnspireerde Bybelskrywers het hulle as onbetwisbare geskiedenisfeite opgeteken. Anders as ander sogenaamde heilige boeke word die Bybel nie teen ’n agtergrond van mites of legendes aangebied nie. Dit is gegrond op bewysbare feite—geskiedkundige, argeologiese, wetenskaplike en sosiologiese werklikhede. Dit is geen wonder nie dat die psalmis van Jehovah sê: “U wet is waarheid. . . . Al u gebooie is waarheid. . . . Die hele inhoud van u woord is waarheid”!—Psalm 119:142, 151, 160.

Jesus Christus het die woorde van daardie psalm herhaal toe hy in gebed tot Jehovah gesê het: “U woord is waarheid” (Johannes 17:17). Jesus het geweet dat alles wat sy Vader gesê het volkome seker en betroubaar was. Jesus was eweneens “vol . . . waarheid” (Johannes 1:14). Sy volgelinge het as ooggetuies geleer, en vir die nageslag opgeteken, dat alles wat hy gesê het rotsvas, die waarheid, was.a

Maar toe Jesus vir Pilatus vertel het dat hy aarde toe gekom het om die waarheid te praat, het hy ’n spesifieke waarheid in gedagte gehad. Jesus het daardie stelling gemaak in antwoord op Pilatus se vraag: “Is jy dan ’n koning?” (Johannes 18:37). God se Koninkryk en Jesus se rol as die Koning daarvan was juis die tema, die kern, van Jesus se leer terwyl hy op die aarde was (Lukas 4:43). Die feit dat hierdie Koninkryk Jehovah se naam gaan heilig, sy soewereiniteit gaan regverdig en getroue mense in ’n ewige en gelukkige lewe gaan herstel, is die “waarheid” waarop alle ware Christene hoop. Aangesien Jesus so ’n belangrike rol speel in die vervulling van al God se profesieë en omdat al God se profesieë deur sy toedoen “Amen”, of waar, word, kon Jesus tereg sê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe.”—Johannes 14:6; 2 Korintiërs 1:20; Openbaring 3:14.

Die besef dat hierdie waarheid heeltemal betroubaar is, beteken baie vir Christene van vandag. Dit beteken dat hulle geloof in God en hulle hoop op sy beloftes op feite berus, op werklikhede.

Die waarheid in aksie

Dit is nie verbasend dat die Bybel waarheid met optrede verbind nie (1 Samuel 12:24; 1 Johannes 3:18). Die waarheid was vir godvresende Jode nie ’n onderwerp om oor te filosofeer nie; dit was ’n lewenswyse. Die Hebreeuse woord vir “waarheid” kon ook “getrouheid” beteken en is gebruik om iemand te beskryf wat vertrou kon word om sy woord te hou. Jesus het sy volgelinge geleer om die waarheid in dieselfde lig te beskou. Hy het die huigelagtigheid van die Fariseërs, die groot gaping tussen hulle eiegeregtige woorde en hulle onregverdige dade, heftig veroordeel. En hy het die voorbeeld gestel deur te lewe volgens die waarhede wat hy geleer het.

So moet dit ook vir al Christus se volgelinge wees. Vir hulle is die waarheid van God se Woord, die verkwikkende goeie nuus van God se Koninkryk onder die heerskappy van Jesus Christus, meer, baie meer, as blote inligting. Daardie waarheid spoor hulle aan om op te tree, dwing hulle om daarvolgens te lewe en om dit aan ander uit te dra. (Vergelyk Jeremia 20:9.) Die lewenswyse wat die eerste-eeuse Christengemeente as volgelinge van Christus aangeneem het, het soms bloot as “die waarheid” of “die weg van die waarheid” bekend gestaan.—2 Johannes 4; 3 Johannes 4, 8; 2 Petrus 2:2.

’n Skat wat enige prys werd is

Daar is weliswaar ’n prys daaraan verbonde om die waarhede van God se Woord te aanvaar. Eerstens, om net die waarheid te leer ken, kan ’n skokkende ervaring wees. The Encyclopedia Americana sê: “Die waarheid is dikwels onaangenaam omdat dit nie vooroordeel en mites steun nie.” Wanneer ons sien dat ons oortuigings as onwaar blootgelê word, kan dit ’n ontnugtering wees, veral as ons geleer is deur godsdiensleiers op wie ons vertrou het. Party vergelyk die ervaring daarmee om uit te vind dat ouers op wie ’n mens vertrou het eintlik geheime misdadigers is. Maar is dit nie beter om godsdienswaarheid te wete te kom as om jou hele lewe lank onder ’n wanindruk te verkeer nie? Is dit nie beter om die feite te ken as om deur leuens gemanipuleer te word nie?b—Vergelyk Johannes 8:32; Romeine 3:4.

Tweedens, ’n lewe volgens godsdienswaarheid kan ons die aanvaarding van party van ons voormalige vriende kos. In ’n wêreld waar so baie “die waarheid van God vir die leuen verruil het”, kom diegene wat aan die waarheid van God se Woord vashou vreemd voor of word hulle soms vermy en misverstaan.—Romeine 1:25; 1 Petrus 4:4.

Maar die waarheid is hierdie tweeledige prys werd. Kennis van die waarheid bevry ons van leuens, bedrog en bygelowigheid. En wanneer ons daarvolgens lewe, versterk die waarheid ons om ontberinge te verduur. God se waarheid is so betroubaar en gegrond, en dit besiel ons met soveel hoop, dat dit ons in staat stel om enige toets te deurstaan. Dit is geen wonder nie dat die apostel Paulus die waarheid met ’n breë, sterk leergordel vergelyk wat soldate gedra het wanneer hulle gaan veg het!—Efesiërs 6:13, 14.

Die Bybelspreuk sê: “Koop die waarheid en verkoop dit nie, ook wysheid en tug en verstand” (Spreuke 23:23). Om die waarheid te verwerp as iets relatiefs of iets wat nie bestaan nie, sou beteken dat ’n mens jou kans verspeel om deel te hê aan die opwindendste en sinvolste ondersoek wat die lewe bied. As jy dit vind, dan vind jy hoop; as jy dit ken en liefhet, dan sal jy die Skepper van die heelal en sy enigverwekte Seun ken en liefhê; as jy daarvolgens lewe, dan lewe jy met ’n doel en met gemoedsrus, nou en vir ewig.—Spreuke 2:1-5; Sagaria 8:19; Johannes 17:3.

[Voetnote]

a Daar is meer as 70 plekke in die Evangelieverslae waar Jesus ’n unieke uitdrukking gebruik het om die betroubaarheid van sy woorde te beklemtoon. Hy het dikwels “Amen” (“Voorwaar”, NW) gesê om ’n sin in te lei. Die ooreenkomstige Hebreeuse woord het “seker, waar” beteken. The New International Dictionary of New Testament Theology sê: “Deurdat Jesus sy woorde met amen ingelei het, het hy getoon dat dit seker en betroubaar is. Hy het daarby gestaan en dit op homself en sy hoorders bindend gemaak. Dit is ’n uitdrukking van sy majesteit en gesag.”

b Die Griekse woord vir “waarheid”, a·leʹthei·a, kom van ’n woord wat beteken “nie versteek nie”, en daarom behels die waarheid dikwels die onthulling van wat voorheen verberg was.—Vergelyk Lukas 12:2.

[Venster op bladsy 6]

Verander die waarheid ooit?

DAARDIE interessante vraag is deur V. R. Ruggiero in sy boek The Art of Thinking geopper. Sy antwoord is nee. Hy verduidelik verder: “Soms lyk dit wel so, maar by nader ondersoek sal dit blyk dat dit nooit verander het nie.”

Hy sê: “Dink aan die geval van die outeurskap van die eerste boek van die Bybel, die boek Genesis. Christene en Jode het eeue lank geglo dat die boek ’n enkele skrywer gehad het. Mettertyd is hierdie siening in twyfel getrek en uiteindelik vervang deur die beskouing dat tot vyf skrywers tot Genesis bygedra het. Toe, in 1981, het die uitslae van ’n vyf jaar lange taalkundige ontleding van Genesis verskyn, en dit het gesê dat daar ’n waarskynlikheid van 82 persent was dat daar een enkele outeur was, soos aanvanklik gedink is.

“Het die waarheid aangaande die outeurskap van Genesis verander? Nee. Net ons beskouing het verander. . . . Die waarheid sal nie deur ons kennis of deur ons onkunde verander word nie.”

[Venster op bladsy 7]

Eerbied vir die waarheid

“EERBIED vir die waarheid is nie net die skynsinisme van ons eie tyd, wat alles probeer ‘ontmasker’ met die beskouing dat niemand en niks werklik op die waarheid aanspraak kan maak nie. Dit is die gesindheid wat vreugdevolle vertroue dat die waarheid wel gevind kan word, verbind met ’n nederige onderdanigheid aan die waarheid wanneer en waar dit ook al te voorskyn kom. Sulke ontvanklikheid vir die waarheid word vereis van diegene wat die God van waarheid aanbid; terwyl ’n gepaste eerbied vir die waarheid verseker dat ’n mens eerlik is in sy handelinge met sy medemens, in woord en in daad. Ons het gesien dat die O[u] T[estament] en die N[uwe] T[estament] van dié gesindheid getuig.”—The New International Dictionary of New Testament Theology, Deel 3, bladsy 901.

[Prente op bladsy 7]

Wetenskaplike vooruitgang berus op die onthulling van wetenskaplike waarhede

[Prent op bladsy 8]

Die waarheid omvat die Koninkryk en sy seëninge

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel