Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w95 7/1 bl. 14-19
  • “Die Israel van God” en die “groot skare”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Die Israel van God” en die “groot skare”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die “groot skare”
  • ’n Tipiese “koninkryk van priesters”
  • Uitlanders in Israel
  • Die geestelike nasie
  • ’n Hemelse vervulling
  • Saam in ’n herstelde “land”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Christengetuies met hemelse burgerskap
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • ’n Koninklike priesterdom tot voordeel van die hele mensdom
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
  • Burger of uitlander, God verwelkom jou!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
w95 7/1 bl. 14-19

“Die Israel van God” en die “groot skare”

“Ek [het] gesien, en kyk! ’n groot skare, wat geen mens kon tel nie.”—OPENBARING 7:9.

1-3. (a) Watter wonderlike hemelse vooruitsigte het gesalfde Christene? (b) Hoe het Satan probeer om die eerste-eeuse gemeente te vernietig? (c) Wat het in 1919 gebeur wat getoon het dat Satan se pogings om die gesalfde Christengemeente te verderf, misluk het?

DIE totstandbrenging van “die Israel van God” in 33 G.J. was ’n belangrike stap in die verwesenliking van Jehovah se voornemens (Galasiërs 6:16). Die gesalfde lede daarvan het die hoop om onsterflike geesskepsele te wees en saam met Christus in God se hemelse Koninkryk te heers (1 Korintiërs 15:50, 53, 54). In daardie posisie speel hulle ’n vername rol in die heiliging van Jehovah se naam en die verbryseling van die kop van die groot Teenstander, Satan die Duiwel (Genesis 3:15; Romeine 16:20). Dit is geen wonder dat Satan alles in sy vermoë gedoen het om hierdie nuwe gemeente te vernietig deur vervolging sowel as deur pogings om dit te verderf nie!—2 Timoteus 2:18; Judas 4; Openbaring 2:10.

2 Terwyl die apostels gelewe het, kon Satan nie welslae behaal nie. Maar ná hulle dood het afvalligheid ongehinderd versprei. Dit het uiteindelik, uit ’n menslike oogpunt beskou, gelyk of die rein Christengemeente wat deur Jesus gestig is, verderf is toe Satan die afvallige godsdiensnamaaksel voortgebring het wat vandag as die Christendom bekend staan (2 Tessalonisense 2:3-8). Maar die ware Christelike geloof het bly voortbestaan.—Matteus 28:20.

3 In sy gelykenis van die koring en die onkruid het Jesus voorspel dat ware Christene ’n tyd lank saam met “onkruid”, of valse Christene, sou groei; en dit het gebeur. Maar hy het ook gesê dat “die seuns van die koninkryk” gedurende die laaste dae weer opvallend afgeskeie van “die onkruid” sou wees (Matteus 13:36-43). Dit is ook bewaarheid. In 1919 het opregte gesalfde Christene uit Babiloniese gevangenskap gekom. Hulle is deur God as “die getroue en verstandige slaaf” erken en het die goeie nuus van die Koninkryk met vrymoedigheid begin verkondig (Matteus 24:14, 45-47; Openbaring 18:4). Hulle was bykans almal nie-Jode; maar omdat hulle die geloof van Abraham gehad het, was hulle in werklikheid ‘Abraham se nageslag’. Hulle was lede van “die Israel van God”.—Galasiërs 3:7, 26-29.

Die “groot skare”

4. Watter groep Christene het veral in die dertigerjare na vore gekom?

4 Aanvanklik het diegene wat gunstig op die prediking van hierdie gesalfde Christene gereageer het ook geestelike Israeliete, die oorblyfsel van die 144 000 met ’n hemelse hoop, geword (Openbaring 12:17). Maar veral in die dertigerjare het ’n ander groep na vore gekom. Daar is gesien dat hierdie groep die “ander skape” van die gelykenis van die skaapstalle is (Johannes 10:16). Hulle was dissipels van Christus met die hoop om vir ewig op ’n paradysaarde te lewe. Hulle was as ’t ware die geestelike nageslag van gesalfde Christene. (Jesaja 59:21; 66:22; vergelyk 1 Korintiërs 4:15, 16.) Hulle het die gesalfde Christengemeente as die getroue en verstandige slaaf erken, en soos hulle gesalfde broers het hulle Jehovah innig liefgehad, geloof in Jesus se offerande gestel, God ywerig geloof en gewillig ter wille van regverdigheid gely.

5. Hoe is daar voortdurend ’n beter begrip van die posisie van die ander skape verkry?

5 Aanvanklik is die posisie van hierdie ander skape nie goed begryp nie, maar met verloop van tyd het dinge duideliker geword. In 1932 is gesalfde Christene aangemoedig om ander skape aan te spoor om aan die predikingswerk deel te neem—iets wat talle ander skape reeds gedoen het. In 1934 is ander skape aangemoedig om hulle in water te laat doop. In 1935 is hulle as die “groot skare” van Openbaring hoofstuk 7 geïdentifiseer. In 1938 is hulle genooi om die herdenking van Jesus Christus se dood as waarnemers by te woon. In 1950 is daar besef dat ervare manne onder hulle van die “vorste” is wat as “’n toevlug teen die wind en ’n skuiling teen die stortreën” dien (Psalm 45:17; Jesaja 32:1, 2). In 1953 is God se aardse organisasie—wat teen daardie tyd grotendeels uit ander skape bestaan het—beskou as die kern van die aardse gemeenskap wat in die nuwe wêreld sou bestaan. In 1985 is daar besef dat ander skape op grond van Jesus se losprysofferande regverdig verklaar word as vriende van God en met die hoop om Armageddon te oorlewe.

6. Hoe vergelyk die posisie van die gesalfdes vandag met dié van die ander skape, en watter vrae laat dit ontstaan?

6 Teen dié tyd, in hierdie laaste deel van “die laaste dae”, het die meeste van die 144 000 al gesterf en hulle hemelse beloning ontvang (2 Timoteus 3:1; Openbaring 6:9-11; 14:13). Christene met ’n aardse hoop doen nou die meeste van die verkondiging van die goeie nuus, en hulle beskou dit as ’n voorreg om Jesus se gesalfde broers hierin te ondersteun (Matteus 25:40). Maar hierdie gesalfdes is die getroue en verstandige slaaf deur wie geestelike voedsel regdeur hierdie laaste dae voorsien word. Wat sal die situasie van die ander skape wees wanneer al die gesalfdes hulle hemelse beloning ontvang het? Watter voorsienings sal dan vir die ander skape gemaak word? ’n Kykie na eertydse Israel sal ons help om daardie vrae te beantwoord.

’n Tipiese “koninkryk van priesters”

7, 8. In watter mate was eertydse Israel onder die Wetsverbond ’n koninkryk van priesters en ’n heilige nasie?

7 Toe Jehovah Israel as sy spesiale nasie uitverkies het, het hy ’n verbond met hulle gesluit en gesê: “As julle . . . terdeë na my stem luister en my verbond hou, sal julle my eiendom uit al die volke wees, want die hele aarde is myne. En júlle sal vir My ’n koninkryk van priesters en ’n heilige nasie wees” (Exodus 19:5, 6). Israel was Jehovah se spesiale volk op grond van die Wetsverbond. Maar hoe sou die belofte aangaande ’n koninkryk van priesters en ’n heilige nasie vervul word?

8 Wanneer Israel getrou was, het hulle Jehovah se soewereiniteit erken en hom as hulle Koning aanvaar (Jesaja 33:22). Hulle was dus ’n koninkryk. Maar soos later geopenbaar is, sou die belofte aangaande “’n koninkryk” selfs meer as dit beteken. Wanneer hulle Jehovah se Wet gehoorsaam het, was hulle ook rein, afgeskeie van die nasies om hulle. Hulle was ’n heilige nasie (Deuteronomium 7:5, 6). Was hulle ’n koninkryk van priesters? Wel, in Israel is die stam van Levi vir tempeldiens afgesonder, en binne daardie stam was daar die Levitiese priesterdom. Toe die Mosaïese Wet ingestel is, is Levitiese mans in ruil vir die eersgeborene van elke nie-Levitiese gesin geneem (Exodus 22:29; Numeri 3:11-16, 40-51).a Elke gesin in Israel is dus as ’t ware in tempeldiens verteenwoordig. Dit was die naaste wat die nasie daaraan gekom het om ’n priesterdom te wees. Hulle het Jehovah nietemin voor die nasies verteenwoordig. Enige uitlander wat graag die ware God wou aanbid, moes dit saam met Israel doen.—2 Kronieke 6:32, 33; Jesaja 60:10.

9. Wat het gemaak dat Jehovah die noordelike koninkryk van Israel verwerp het ‘sodat hulle vir Hom die priesteramp nie sou bedien nie’?

9 Ná die dood van Salomo is God se volk verdeel in die noordelike nasie van Israel onder koning Jerobeam en die suidelike nasie van Juda onder koning Rehabeam. Aangesien die tempel, die sentrum van rein aanbidding, in Juda se gebied was, het Jerobeam ’n onwettige vorm van aanbidding ingestel deur beelde van kalwers in sy eie nasionale gebied op te rig. “Hy het ook tempels van die hoogtes gebou en priesters aangestel uit al die dele van die volk wat nie uit die seuns van Levi was nie” (1 Konings 12:31). Die noordelike nasie het dieper in valse aanbidding verval toe koning Agab sy uitlandse vrou, Isebel, toegelaat het om Baälaanbidding in die land te vestig. Jehovah het uiteindelik oordeel oor die opstandige koninkryk uitgespreek. Hy het deur Hosea gesê: “My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis; omdat jý die kennis verwerp het, sal Ek jou verwerp, sodat jy vir My die priesteramp nie sal bedien nie” (Hosea 4:6). Kort daarna het die Assiriërs die noordelike koninkryk van Israel vernietig.

10. Hoe het die suidelike koninkryk van Juda, wanneer hulle getrou was, Jehovah voor die nasies verteenwoordig?

10 Wat van die suidelike nasie, Juda? In die tyd van Hiskia het Jehovah deur Jesaja vir hulle gesê: “Júlle is my getuies . . . en my kneg wat Ek uitverkies het . . . Die volk wat Ek vir My geformeer het, hulle sal my lof verkondig” (Jesaja 43:10, 21; 44:21). Wanneer die suidelike koninkryk getrou was, het hulle Jehovah se heerlikheid aan die nasies verkondig en regskapenes getrek om hom by sy tempel te aanbid en deur die regmatige Levitiese priesterdom bedien te word.

Uitlanders in Israel

11, 12. Meld ’n paar uitlanders wat Jehovah saam met Israel kom dien het.

11 In die Wet wat gegee is deur Moses—wie se vrou, Sippora, ’n Midianiet was—is daar voorsiening gemaak vir die uitlanders wat gunstig op hierdie nasionale getuienis gereageer het. “’n Menigte mense van gemengde bloed”, nie-Israeliete, het Egipte saam met Israel verlaat en was teenwoordig toe die Wet gegee is (Exodus 2:16-22; 12:38; Numeri 11:4). Ragab en haar familie is uit Jerigo gered en later as ’n deel van die Joodse gemeente aanvaar (Josua 6:23-25). Kort daarna het die Gibeoniete met Israel vrede gemaak en is werk in verband met die tabernakel aan hulle opgedra.—Josua 9:3-27; sien ook 1 Konings 8:41-43; Ester 8:17.

12 Uitlanders het uiteindelik in hoë posisies gedien. Uria die Hetiet, Batseba se man, het onder “die dapper helde” van Dawid getel en so ook Selek die Ammoniet (1 Kronieke 11:26, 39, 41; 2 Samuel 11:3, 4). Ebed-Meleg, ’n Kusiet, het in die paleis gedien en het toegang tot die koning gehad (Jeremia 38:7-9). Nadat Israel uit ballingskap in Babilon teruggekeer het, het nie-Israelitiese Netinim groter verantwoordelikheid met betrekking tot hulp aan die priesters ontvang (Esra 7:24). Aangesien ’n aantal van hierdie getroue uitlanders, of vreemdelinge, vandag as ’n voorafskaduwing van die groot skare beskou word, is hulle situasie vir ons van belang.

13, 14. (a) Watter voorregte en verantwoordelikhede het proseliete in Israel gehad? (b) Hoe moes Israeliete getroue proseliete beskou?

13 Hulle was proseliete, toegewyde aanbidders van Jehovah onder die Mosaïese Wet, en is saam met die Israeliete van die nasies afgeskei (Levitikus 24:22). Hulle het offerandes gebring, valse aanbidding vermy en hulle van bloed onthou, net soos die Israeliete gedoen het (Levitikus 17:10-14; 20:2). Hulle het met die bou van Salomo se tempel gehelp en ’n aandeel gehad aan die herstel van ware aanbidding onder koning Asa en koning Hiskia (1 Kronieke 22:2; 2 Kronieke 15:8-14; 30:25). Toe Petrus die eerste sleutel van die Koninkryk met Pinkster 33 G.J. gebruik het, het “Jode sowel as [nie-Joodse] proseliete” sy woorde gehoor. Van die drieduisend wat daardie dag gedoop is, was sommige moontlik proseliete (Handelinge 2:10, 41). Kort daarna het Filippus ’n Etiopiese proseliet gedoop—voordat Petrus die laaste sleutel van die Koninkryk in die geval van Kornelius en sy gesin gebruik het (Matteus 16:19; Handelinge 8:26-40; 10:30-48). Dit is duidelik dat proseliete nie as heidene beskou is nie.

14 Die posisie van proseliete in die land was nietemin anders as dié van gebore Israeliete. Proseliete het nie as priesters gedien nie, en hulle eersgeborenes is nie in die Levitiese priesterdom verteenwoordig nie.b Proseliete het ook geen grondgebied in Israel gehad nie. Die Israeliete is nietemin beveel om bedagsaam teenoor getroue proseliete te wees en hulle as broers te beskou.—Levitikus 19:33, 34.

Die geestelike nasie

15. Wat was die gevolg toe natuurlike Israel geweier het om die Messias te aanvaar?

15 Die Wet was bedoel om Israel rein te hou, afgeskeie van die nasies om hulle. Maar dit het aan nog ’n doel beantwoord. Die apostel Paulus het geskryf: “Die Wet [het] ons tugmeester geword wat na Christus toe lei, sodat ons weens geloof regverdig verklaar kon word” (Galasiërs 3:24). Ongelukkig is die meeste Israeliete nie deur die Wet na Christus toe gelei nie (Matteus 23:15; Johannes 1:11). Jehovah God het dus daardie nasie verwerp en “die Israel van God” tot stand gebring. Daarbenewens het hy aan nie-Jode die uitnodiging gerig om volwaardige burgers in hierdie nuwe Israel te word (Galasiërs 3:28; 6:16). Dit is ten opsigte van hierdie nuwe nasie dat Jehovah se belofte in Exodus 19:5, 6 aangaande ’n koninklike priesterdom sy wonderlike, finale vervulling ondergaan. Hoe?

16, 17. In watter sin is gesalfde Christene op aarde ‘koninklik’? ’n “priesterdom”?

16 Petrus het Exodus 19:6 aangehaal toe hy aan gesalfde Christene van sy dag geskryf het: “Julle is ‘’n uitverkore ras, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige nasie, ’n volk vir spesiale besit’” (1 Petrus 2:9). Wat beteken dit? Is gesalfde Christene op aarde konings? Nee, hulle moet nog hulle koningskap ontvang (1 Korintiërs 4:8). Hulle is egter ‘koninklik’ in die sin dat hulle vir toekomstige koninklike voorregte uitverkies is. Hulle is selfs nou ’n nasie onder ’n koning, Jesus, wat deur die Groot Soewerein, Jehovah God, aangestel is. Paulus het geskryf: “[Jehovah] het ons verlos van die gesag van die duisternis en ons oorgebring in die koninkryk van die Seun van sy liefde.”—Kolossense 1:13.

17 Is gesalfde Christene op aarde ’n priesterdom? In ’n sekere sin, ja. As ’n gemeente verrig hulle onteenseglik ’n priesterlike funksie. Petrus het dit verduidelik toe hy gesê het: “Julle self [word] . . . opgebou tot ’n geestelike huis om ’n heilige priesterdom te wees” (1 Petrus 2:5; 1 Korintiërs 3:16). Vandag is die oorblyfsel gesalfde Christene gesamentlik “die getroue en verstandige slaaf”, die kanaal vir die verspreiding van geestelike voedsel (Matteus 24:45-47). Soos in eertydse Israel die geval was, moet enigiemand wat Jehovah graag wil dien dit saam met hierdie gesalfde Christene doen.

18. Wat is die gesalfde Christengemeente op aarde se vernaamste verantwoordelikheid as ’n priesterdom?

18 Daarbenewens het gesalfde Christene die voorreg van Israel oorgeneem om onder die nasies van Jehovah se grootheid te getuig. Die konteks toon dat Petrus die predikingswerk in gedagte gehad het toe hy gesalfde Christene ’n koninklike priesterdom genoem het. Trouens, hy het Jehovah se belofte in Exodus 19:6 en Sy woorde aan Israel in Jesaja 43:21 in een aanhaling saamgevoeg toe hy gesê het: “Julle is ‘. . . ’n koninklike priesterdom, . . . sodat julle die voortreflikhede alom bekend moet maak’ van die een wat julle uit die duisternis tot in sy wonderbare lig geroep het” (1 Petrus 2:9). Paulus het in ooreenstemming hiermee van die bekendmaking van Jehovah se voortreflikhede as ’n tempelofferande gepraat. Hy het geskryf: “Laat ons deur [Jesus] altyd aan God ’n lofofferande bring, dit wil sê die vrug van die lippe wat sy naam in die openbaar bekend maak.”—Hebreërs 13:15.

’n Hemelse vervulling

19. Wat is die finale, luisterryke vervulling van die belofte dat Israel ’n koninkryk van priesters sal wees?

19 Maar Exodus 19:5, 6 het uiteindelik ’n baie glorieryker vervulling. In die boek Openbaring hoor die apostel Johannes hoe hemelse wesens hierdie teks toepas wanneer hulle die verrese Jesus loof: “U is geslag, en met u bloed het u mense uit elke stam en taal en volk en nasie vir God gekoop, en u het hulle ’n koninkryk en priesters vir ons God gemaak, en hulle gaan as konings oor die aarde heers” (Openbaring 5:9, 10). Die koninklike priesterdom is dus uiteindelik God se hemelse Koninkryk, die heersende mag waarvoor Jesus ons leer bid het (Lukas 11:2). Al 144 000 gesalfde Christene wat getrou tot die einde toe volhard, sal ’n rol in daardie Koninkryksreëling speel (Openbaring 20:4, 6). Wat ’n wonderlike vervulling is dit tog van die belofte wat so lank gelede deur Moses gemaak is!

20. Watter vraag moet nog beantwoord word?

20 Hoe hou al hierdie dinge verband met die situasie van die groot skare en hulle toekoms wanneer al die gesalfdes hulle wonderlike erfenis ontvang het? Dit sal in die laaste artikel van hierdie reeks verduidelik word.

[Voetnote]

a Toe Israel se priesterdom ingestel is, is die eersgebore seuns van die nie-Levitiese stamme van Israel en die mans van die stam van Levi getel. Die eersgeborenes was 273 meer as die Levitiese mans. Daarom het Jehovah beveel dat vyf sikkels vir elkeen van die 273 betaal moes word as ’n losprys vir die verskil.

b Die menigte nie-Israeliete van gemengde bloed was teenwoordig toe die Wet in 1513 v.G.J. ingestel is, maar hulle eersgeborenes is nie ingesluit toe die Leviete in ruil vir die eersgeborenes van Israel geneem is nie. (Sien paragraaf 8.) Die Leviete is derhalwe nie in ruil vir die eersgeborenes van hierdie nie-Israeliete geneem nie.

Kan jy verduidelik?

◻ Hoe is die posisie van die ander skape mettertyd beter verstaan?

◻ Waarom het Jehovah die noordelike koninkryk van Israel verwerp sodat hulle vir hom die priesteramp nie sou bedien nie?

◻ Wat was Juda se posisie voor die nasies wanneer hulle getrou was?

◻ Wat was die posisie van getroue proseliete in Israel?

◻ Hoe dien die gesalfde gemeente as ’n koninkryk van priesters?

[Prent op bladsy 16]

As ’n koninklike priesterdom maak gesalfde Christene Jehovah se heerlikheid op aarde bekend

[Prent op bladsy 18]

Die finale vervulling van Exodus 19:6 is die Koninkryk

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel