Vrae van lesers
Eerste Johannes 4:18 sê: “Daar is geen vrees in die liefde nie, maar volmaakte liefde werp vrees uit.” Maar Petrus het geskryf: “Wees lief vir die hele gemeenskap van broers, vrees God” (1 Petrus 2:17). Hoe kan ons hierdie twee verse met mekaar in ooreenstemming bring?
Petrus sowel as Johannes was apostels wat regstreeks by Jesus Christus self geleer het. Ons kan dus vertrou dat wat hulle geskryf het wel ooreenstem. Wat die verse hierbo betref, is die oplossing dat die twee apostels van verskillende soorte vrees gepraat het.
Kom ons beskou eers Petrus se raad. Soos die verband toon, het Petrus mede-Christene geïnspireerde raad gegee oor hulle gesindheid teenoor diegene in gesag. Met ander woorde, hy het kommentaar gelewer oor die regte beskouing van onderdanigheid op sekere gebiede. Daarom het hy Christene aangeraai om onderdanig te wees aan mense wat gesaghebbende posisies in menslike regerings beklee, soos konings en goewerneurs (1 Petrus 2:13, 14). Petrus het verder geskryf: “Eer alle soorte mense, wees lief vir die hele gemeenskap van broers, vrees God, eer die koning.”—1 Petrus 2:17.
Teen hierdie agtergrond gesien, is dit duidelik dat Petrus, toe hy gesê het dat Christene ‘God moet vrees’, bedoel het dat ons ’n diepe, eerbiedige agting vir God moet hê, ’n vrees om die hoogste gesag te mishaag.—Vergelyk Hebreërs 11:7.
Wat van die apostel Johannes se woorde? Vroeër in 1 Johannes hoofstuk 4 het die apostel aandag gegee aan die nodigheid daarvan om “geïnspireerde uitinge” wat van valse profete kom te toets. Daardie uitinge kom gewis nie van Jehovah God nie; hulle kom van of weerspieël die goddelose wêreld.
Hierteenoor het gesalfde Christene hulle “oorsprong by God” (1 Johannes 4:1-6). Daarom het Johannes aangedring: “Geliefdes, laat ons aanhou om mekaar lief te hê, want die liefde kom van God.” God het die inisiatief geneem om liefde te betoon—hy het “sy Seun uitgestuur . . . as ’n soenofferande vir ons sondes” (1 Johannes 4:7-10). Hoe moet ons hierop reageer?
Dit is duidelik dat ons in eenheid met ons liefdevolle God moet bly. Ons moet nie vir hom bang wees of bewe wanneer ons hom in gebed wil nader nie. Vroeër het Johannes gemaan: “As ons hart ons nie veroordeel nie, het ons vrymoedigheid van spraak teenoor God; en wat ons ook al vra, ontvang ons van hom, omdat ons sy gebooie onderhou” (1 Johannes 3:21, 22). Ja, ’n goeie gewete gee ons die vrymoedigheid om God te nader sonder ’n vrees wat ons verlam of teëhou. Uit liefde het ons die vrymoedigheid om met Jehovah te praat, of hom in gebed te nader. In hierdie opsig ‘is daar geen vrees in die liefde nie’.
Kom ons verbind dan die twee gedagtes. ’n Christen moet altyd ’n eerbiedige vrees vir Jehovah hê, wat uit ’n diepe eerbied vir sy posisie, mag en geregtigheid voortspruit. Maar ons het God as ons Vader ook lief en voel na aan hom en het die vrymoedigheid om hom te nader. Pleks dat vrees vir hom ons teëhou, het ons die vertroue dat ons hom kan nader, soos ’n kind die vrymoedigheid het om ’n liefdevolle ouer te nader.—Jakobus 4:8.