Hoe kan jy in ’n gevaarlike buurt aan die lewe bly?
“EK WAS die hele tyd bang. Ek was bang in die hysbak. Ek was bang in my motor. Ek was bang in my woonstel. Daar was oral misdaad. Mense is gedurig beroof”, sê Maria. Is jy, soos hierdie Brasiliaanse vrou, bang in jou buurt, veral in die donkerte van die nag?
Dit kan opwindend wees om speurverhale te lees, maar in die werklike lewe is daar dikwels nie ’n gelukkige uiteinde nie. ’n Misdaad bly moontlik onopgelos. Of in die geval van moord moet iemand sonder ’n man, vader of seun, sonder ’n vrou, moeder of dogter, met die lewe voortgaan. Neem gewelddadige misdaad in jou omgewing toe? Hunker jy na ’n stil plek waar jou gesin veilig sal wees? Of wat kan jy doen om aan die lewe te bly as jy jou kinders noodgedwonge in ’n misdaadgeteisterde gebied moet grootmaak?
Daar is weliswaar nog stede waar min misdaad aangemeld word. In baie lande woon mense nog in vreedsame plattelandse gebiede of in rustige dorpies. Maar dinge is vinnig besig om te verander, selfs in gebiede wat vroeër as misdaadvry beskou is. Vyftig jaar gelede het 70 persent van die bevolking in Brasilië byvoorbeeld op die platteland gewoon. Nou woon 70 persent in die stede. Tesame met werksgeleenthede was daar ’n toename in stedelike probleme, soos misdaad en geweld. Hetsy jy in ’n gevaarlike omgewing woon of nie, jy moet nog werk toe of skool toe gaan en baie dinge weg van die huis af doen.
’n Polisiehoof in Rio de Janeiro is bewus van die heersende “panieksindroom” en sê dat maatskaplike onreg en georganiseerde misdaad bydraende faktore is. Hy meen ook dat koerante en die televisie tot die algemene vrees bydra “deur die bevolking se gees met tragiese nuus te ondermyn”. Dwelmverslawing, gesinsverbrokkeling en gebrekkige godsdiensonderrig dra ook tot die toenemende wetteloosheid by. En wat hou die toekoms in? Sal al die gewelddadige tonele, wat as vermaak in boeke en rolprente as iets alledaags uitgebeeld word, mense hardvogtig teenoor ander laat optree? Sal gebiede wat as misdaadvry beskou word ook gevaarlik word?
Aangesien geweld glad nie vir die slagoffer aangenaam is nie, het ons ’n sterk begeerte om veilig te wees. Dit is geen wonder dat besorgde burgers eis dat daar meer polisiemanne op straat moet wees en dat swaarder tronkstrawwe of selfs die doodstraf opgelê moet word nie! Ondanks die risiko’s skaf party vuurwapens vir selfverdediging aan. Ander wil hê dat die owerheid vuurwapenverkope moet beperk. Maar ondanks die slegte nuus dat misdaad hoogty vier, hoef ’n mens nie moedeloos te word nie. Trouens, baie inwoners van groot stede soos Johannesburg, Mexikostad, New York, Rio de Janeiro en Sao Paulo is nog nooit beroof nie. Kom ons kyk hoe mense in ’n gevaarlike buurt hulle situasie die hoof bied.
Hulle behou ’n positiewe gesindheid
Met verwysing na ’n misdaadgeteisterde gebied lewer ’n skrywer kommentaar oor “die vindingrykheid en volharding van duisende Brasiliane wat ’n mate van waardigheid en eerbaarheid behou in lewensomstandighede wat steeds haglik is”. Ná 38 jaar in Rio de Janeiro sê Jorge: “Ek vermy sekere strate en gebiede en toon geen belangstelling in straatgebeure nie. Ek vermy dit ook om saans laat op straat te wees en openbaar nie uitermatige vrees nie. Hoewel ek versigtig is, beskou ek mense as eerlik en behandel ek hulle met waardigheid en respek.”
Ja, voorkom onnodige moeilikheid. Bemoei jou met jou eie sake. Moet nooit die feit as onbelangrik afmaak dat oorweldigende vrees die senuwees op hol kan laat raak en selfs goed opgevoede mense onredelik kan laat optree nie. Odair sê aangaande sy werk in gevaarlike gebiede: “Ek probeer positief wees en voed nie my verstand met vrees vir slegte dinge wat kan gebeur nie, want dit veroorsaak onnodige spanning en paniek. Ek probeer om aan alle mense respek te betoon.” Behalwe dat ’n mens op jou hoede moet wees en op ’n afstand moet bly van mense wat verdag voorkom, voeg hy nog iets by wat ’n mens kan help om jou emosies te beheers: “Ek kweek bowenal vertroue op Jehovah God aan en hou in gedagte dat niks hom ontgaan nie en dat alles wat gebeur deur hom toegelaat word.”
Maar niemand hou daarvan om voortdurend in vrees te lewe nie. Wie sal bowendien ontken dat uitermatige vrees en spanning vir ’n mens se emosionele en fisiese gesondheid skadelik is? Watter hoop is daar dus vir diegene wat vrees dat hulle te eniger tyd aangeval kan word? Sal ons, aangesien baie mense vrees dat die misdaadsituasie verder gaan versleg, ooit die einde van geweld sien? Ons nooi jou om die volgende artikel, “Wanneer sal vrees tot ’n einde kom?” te lees.