Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w95 8/15 bl. 12-17
  • ’n Liefdevolle uitnodiging aan die vermoeides

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Liefdevolle uitnodiging aan die vermoeides
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Diegene “wat swoeg en swaar belaai is”
  • Die werklike oorsaak van hulle swaarkry
  • Jesus se uitnodiging vandag
  • Verligting en verkwikking
  • Matteus 11:28-30 – “Kom na My toe, . . . en Ek sal julle rus gee”
    Verduidelikings van Bybelverse
  • ‘Vind verkwikking vir julle siel’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • “Kom na my toe, . . . en ek sal julle verkwik”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2019
  • Verligting van spanning—Praktiese hulp
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
w95 8/15 bl. 12-17

’n Liefdevolle uitnodiging aan die vermoeides

“Kom na my toe, almal wat swoeg en swaar belaai is, en ek sal julle verkwik.”—MATTEUS 11:28.

1. Wat het Jesus in Galilea gesien toe hy op sy derde predikingsreis was?

AAN die begin van 32 G.J. was Jesus op sy derde predikingsreis in die gebied Galilea. Hy het deur die stede en dorpe gereis en “in hulle sinagoges geleer en die goeie nuus van die koninkryk verkondig en elke soort kwaal en elke soort gebrek genees”. Terwyl hy dit gedoen het, het hy die skare gesien, en hy het “medelye vir hulle gevoel, want hulle was gestroop en rondgegooi soos skape sonder ’n herder”.—Matteus 9:35, 36.

2. Hoe het Jesus die mense gehelp?

2 Maar Jesus het nie net medelye vir die skare gevoel nie. Nadat hy sy dissipels die opdrag gegee het om tot “die Heer van die oes”, Jehovah God, te bid, het hy hulle uitgestuur om die mense te help (Matteus 9:38; 10:1). Toe het hy die mense vertel van die weg na ware verligting en vertroosting. Hy het aan hulle hierdie hartverblydende uitnodiging gerig: “Kom na my toe, almal wat swoeg en swaar belaai is, en ek sal julle verkwik. Neem my juk op julle en leer by my, want ek is saggeaard en nederig van hart, en julle sal verkwikking vir julle siele vind.”—Matteus 11:28, 29.

3. Waarom is Jesus se uitnodiging vandag nog net so aanloklik?

3 Ons lewe vandag in ’n tyd waarin baie mense swaar belas en belaai voel (Romeine 8:22; 2 Timoteus 3:1). Om net ’n bestaan te maak, verg soveel tyd en energie van party dat hulle baie min vir hulle gesin, vriende of enigiets anders oor het. Baie is met ernstige siekte, kwellinge, depressie en ander fisiese en emosionele probleme belas. Weens die druk wat hulle ondervind, probeer party verligting vind deur hulle aan plesier, voedsel, drank en selfs dwelmmisbruik oor te gee. Dit laat hulle natuurlik net in ’n bose kringloop beland wat vir hulle meer probleme en druk teweegbring (Romeine 8:6). Vandag klink Jesus se liefdevolle uitnodiging ongetwyfeld net so aanloklik soos destyds.

4. Watter vrae moet ons oorweeg as ons by Jesus se liefdevolle uitnodiging baat wil vind?

4 Maar waaraan was die mense in Jesus se dag onderwerp sodat hulle “gestroop en rondgegooi” was en Jesus beweeg is om medelye vir hulle te voel? Wat was die laste en vragte wat hulle moes dra, en hoe sou Jesus se uitnodiging hulle gehelp het? Die antwoorde op hierdie vrae kan ons baie help om by Jesus se liefdevolle uitnodiging aan die vermoeides baat te vind.

Diegene “wat swoeg en swaar belaai is”

5. Waarom was dit gepas dat die apostel Matteus oor hierdie gebeurtenis in Jesus se bediening verslag gedoen het?

5 Dit is interessant dat slegs Matteus oor hierdie gebeurtenis in Jesus se bediening verslag gedoen het. Aangesien Matteus, wat ook as Levi bekend gestaan het, ’n belastinggaarder was, was hy goed bekend met ’n spesifieke las wat die mense gedra het (Matteus 9:9; Markus 2:14). Die boek Daily Life in the Time of Jesus sê: “Die belasting wat [die Jode] in geld en in goedere [moes] betaal, was uitermate hoog, en wat dit soveel erger gemaak het, was die feit dat daar twee onafhanklike vorme van belasting was, burgerlike belasting en godsdiensbelasting; en nie een van hierdie vorme van belasting was lig nie.”

6. (a) Watter belastingstelsel is in Jesus se dag gebruik? (b) Waarom het belastinggaarders so ’n slegte reputasie gehad? (c) Waaraan het Paulus dit nodig geag om sy mede-Christene te herinner?

6 Wat al hierdie dinge veral swaar gemaak het, was die belastingstelsel wat hulle destyds gehad het. Romeinse amptenare het die reg om belasting in die provinsies in te vorder aan die hoogste bieërs toegeken. Hulle het op hulle beurt mense in plaaslike gemeenskappe in diens geneem om oor die belastinginvordering self toesig te hou. Elkeen in die piramidale skema het gemeen dat hy heeltemal geregverdig is om sy eie kommissie, of deel, by te las. Lukas het byvoorbeeld vertel van “’n man wat die naam Saggeus gehad het; en hy was ’n hoofbelastinggaarder, en hy was ryk” (Lukas 19:2). Die “hoofbelastinggaarder” Saggeus en diegene onder sy toesig het klaarblyklik ten koste van die mense se ellende skatryk geword. Die mishandeling en korrupsie wat deur so ’n stelsel teweeggebring is, het daartoe gelei dat die mense belastinggaarders onder sondaars en hoere gereken het, en in die meeste gevalle waarskynlik heeltemal tereg (Matteus 9:10; 21:31, 32; Markus 2:15; Lukas 7:34). Aangesien die mense onder ’n byna ondraaglike las gebuk gegaan het, is dit geen wonder dat die apostel Paulus dit nodig geag het om sy mede-Christene daaraan te herinner om nie weens die Romeinse juk verbitterd te word nie, maar om “aan almal [te gee] wat hulle toekom: aan hom wat die belasting verlang, die belasting; aan hom wat die skatting verlang, die skatting”.—Romeine 13:7a; vergelyk Lukas 23:2.

7. Hoe het die Romeinse strafwette tot die las van die mense bygedra?

7 Paulus het Christene ook daaraan herinner om ‘aan hom wat vrees verlang, sulke vrees te gee, en aan hom wat eer verlang, sulke eer’ (Romeine 13:7b). Die Romeine was bekend vir hulle wrede en streng strafwette. Geseling, lyfstraf, swaar tronkstraf en teregstelling is dikwels gebruik om die mense te beheer (Lukas 23:32, 33; Handelinge 22:24, 25). Selfs die Joodse leiers was gemagtig om sulke straf na goeddunke toe te dien (Matteus 10:17; Handelinge 5:40). So ’n stelsel was ongetwyfeld vir enigeen wat daaronder gelewe het uiters onderdrukkend, indien nie selfs verdrukkend nie.

8. Hoe het die godsdiensleiers ’n las op die mense gelaai?

8 Die Romeinse belasting en wette was egter nie so erg soos die las wat die godsdiensleiers van daardie tyd op die gewone mense geplaas het nie. Trouens, dit wil voorkom asof Jesus hoofsaaklik hieroor besorg was toe hy hulle beskryf het as mense wat “swoeg en swaar belaai is”. Jesus het gesê dat die godsdiensleiers, pleks van die vertrapte mense hoop en vertroosting te bied, ‘swaar vragte saambind en dit op die skouers van die mense sit, maar self nie bereid is om dit met hulle vinger te verroer nie’ (Matteus 23:4; Lukas 11:46). ’n Mens kan die feit nie miskyk dat die Evangelies die godsdiensleiers—veral die skrifgeleerdes en die Fariseërs—as ’n hoogmoedige, gevoellose en skynheilige groep voorstel nie. Hulle het op die gewone mense neergesien en hulle as ongeletterd en onrein beskou, en hulle het die vreemdelinge onder hulle verag. ’n Kommentaar op hulle gesindheid sê: “’n Man wat ’n perd oorlaai, is deesdae voor die wet aanspreeklik. Wat van ’n man wat 613 gebooie op ‘die mense van die land’ gelaai het sonder dat hulle enige godsdiensopleiding gehad het; en nadat hy niks gedoen het om hulle te help nie, het hy hulle as goddeloos veroordeel?” Die werklike las was natuurlik nie die Mosaïese Wet nie, maar die ontsaglike hoeveelheid tradisies wat die mense opgelê is.

Die werklike oorsaak van hulle swaarkry

9. Hoe het die toestande onder die mense in Jesus se dag met dié in koning Salomo se dag vergelyk?

9 Die materiële las op die mense was soms swaar, met die gevolg dat armoede algemeen voorgekom het. Die Israeliete moes die redelike belasting betaal wat deur die Mosaïese Wet uiteengesit is. Toe, gedurende Salomo se heerskappy, het die mense bygedra tot baie duur nasionale projekte, soos die bou van die tempel en ander bouwerk (1 Konings 7:1-8; 9:17-19). Tog sê die Bybel vir ons dat die mense ‘geëet en gedrink het en bly was. En Juda en Israel het veilig gewoon, elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom, van Dan tot Berseba, al die dae van Salomo’ (1 Konings 4:20, 25). Waaraan kan die verskil toegeskryf word?

10. Wat was die rede vir Israel se situasie teen die eerste eeu?

10 Solank die nasie getrou by ware aanbidding gebly het, het hulle Jehovah se guns geniet en is hulle ondanks die groot nasionale uitgawes met veiligheid en voorspoed geseën. Jehovah het hulle egter gewaarsku dat hulle situasie heeltemal sou verander as hulle ‘van hom afvallig sou word en nie sy gebooie onderhou nie’. Trouens, ‘Israel sou ’n spreekwoord en ’n spotlied word onder al die volke’ (1 Konings 9:6, 7). Dit het presies so gebeur. Israel het onder vreemde oorheersing gekom, en die eens glorieryke koninkryk is tot blote koloniale status verlaag. Wat ’n prys om te betaal omdat hulle hulle geestelike verpligtinge nagelaat het!

11. Waarom het Jesus gemeen die mense is “gestroop en rondgegooi soos skape sonder ’n herder”?

11 Al hierdie dinge help ons verstaan waarom die mense wat Jesus gesien het in sy oë “gestroop en rondgegooi” was. Hulle was Israeliete, Jehovah se volk, wat oor die algemeen probeer het om volgens God se wette te lewe en hulle aanbidding op ’n aanneemlike manier voort te sit. Hulle is nietemin uitgebuit en vertrap deur nie net die politieke en handelsmagte nie, maar ook deur die afvallige godsdiensleiers onder hulle. Hulle was “soos skape sonder ’n herder”, want hulle het niemand gehad om vir hulle te sorg of om hulle saak te stel nie. Hulle het hulp nodig gehad om die uiters harde werklikhede te verduur. Hoe tydig was Jesus se liefdevolle en vriendelike uitnodiging tog!

Jesus se uitnodiging vandag

12. Watter druk ondervind God se knegte en ander opregte mense vandag?

12 In baie opsigte is dinge vandag dieselfde. Opregte mense wat ’n eerlike bestaan probeer voer, vind die druk en eise van hierdie verdorwe stelsel van dinge moeilik om te verduur. Selfs diegene wat hulle lewe aan Jehovah toegewy het, is nie immuun nie. Verslae toon dat party van Jehovah se knegte dit al hoe moeiliker vind om al hulle verantwoordelikhede na te kom, hoewel hulle dit graag wil doen. Hulle voel belas, vermoei en afgemat. Party voel selfs dat dit ’n verligting sal wees as hulle alles net kan laat vaar en êrens heen kan verdwyn sodat hulle dinge net weer in perspektief kan sien. Het jy al ooit so gevoel? Ken jy iemand na aan jou wat in daardie situasie is? Ja, Jesus se hartverblydende uitnodiging het vandag vir ons groot betekenis.

13. Waarom kan ons seker wees dat Jesus ons kan help om rus en verkwikking te vind?

13 Voordat Jesus sy liefdevolle uitnodiging gerig het, het hy gesê: “Alles is deur my Vader aan my oorgegee, en niemand ken die Seun ten volle nie, behalwe die Vader, en ook ken niemand die Vader ten volle nie, behalwe die Seun en enigeen aan wie die Seun bereid is om hom te openbaar” (Matteus 11:27). As gevolg van hierdie intieme verhouding tussen Jesus en sy Vader kan ons seker wees dat ons in ’n hegte, persoonlike verhouding met Jehovah, “die God van alle vertroosting”, kan tree as ons Jesus se uitnodiging aanvaar en sy dissipels word. (2 Korintiërs 1:3; vergelyk Johannes 14:6.) Daarbenewens het slegs Jesus Christus die mag en gesag om ons laste ligter te maak, aangesien ‘alles aan hom oorgegee is’. Watter laste? Dié wat deur die verdorwe politieke, handel- en godsdiensstelsels opgelê word, asook die las wat ons oorgeërfde sonde en onvolmaaktheid ons oplê. Wat ’n bemoedigende en gerusstellende gedagte om reg uit die staanspoor te hê!

14. Van watter geswoeg kon Jesus verkwikking bied?

14 Jesus het vervolgens gesê: “Kom na my toe, almal wat swoeg en swaar belaai is, en ek sal julle verkwik” (Matteus 11:28). Jesus het hom beslis nie teen harde werk uitgespreek nie, want hy het sy dissipels dikwels aangespoor om hulle in te span in die werk wat hulle gehad het (Lukas 13:24). Maar om te “swoeg” (te “arbei”, Kingdom Interlinear) dui op langdurige en uitputtende arbeid, dikwels sonder enige resultaat wat die moeite werd is. En “swaar belaai” dra die gedagte oor van iemand wat bo sy normale kragte belas is. Die verskil kan vergelyk word met die verskil tussen ’n man wat grawe op soek na ’n verborge skat en een wat slote in ’n strafkamp grawe. Hulle doen dieselfde harde werk. Een pak die taak ywerig aan, maar vir die ander een is dit eindelose sloofwerk. Dit is die doel van die werk, of die gebrek aan ’n doel, wat die verskil maak.

15. (a) Watter vrae moet ons ons afvra as ons voel dat ons ’n swaar las op ons skouers dra? (b) Wat kan oor die bron van ons laste gesê word?

15 Voel dit vir jou of jy “swoeg en swaar belaai is”, dat daar net te veel van jou tyd en energie vereis word? Voel die laste wat jy dra te swaar vir jou? Indien wel, sal dit dalk help as jy jou afvra: ‘Waarvoor swoeg ek? Watter soort vrag dra ek?’ ’n Bybelkommentator het meer as 80 jaar gelede hieroor gesê: “As ons die laste van die lewe beskou, vind ons dat hulle in twee kategorieë val; ons kan dit die selfopgelegde en die onvermydelike laste noem: dié wat die gevolg van ons eie dade is, en dié wat dit nie is nie.” Toe het hy voorts gesê: “Baie van ons sal verbaas wees om ná ’n streng selfondersoek te sien hoeveel van ons laste selfopgelegde laste is.”

16. Watter laste sal dit onverstandig wees om op ons te neem?

16 Wat is van die laste wat ons dalk oor onsself bring? Ons lewe vandag in ’n materialistiese, genotsugtige en onsedelike wêreld (2 Timoteus 3:1-5). Selfs toegewyde Christene is onder voortdurende druk om by die modes en lewenswyses van die wêreld aan te pas. Die apostel Johannes het geskryf oor “die begeerte van die vlees en die begeerte van die oë en die spoggerige vertoon van ’n mens se lewensmiddele” (1 Johannes 2:16). Dit is kragtige invloede wat ons maklik kan beïnvloed. Dit is bekend dat party al bereid was om baie skuld te maak sodat hulle meer van die wêreld se vermaak kan geniet of ’n sekere lewenswyse kan handhaaf. Daarna vind hulle dat hulle ’n buitensporige hoeveelheid tyd by die werk moet deurbring, of verskeie werke moet hê, om die geld te kry om hulle skuld te betaal.

17. Watter situasie kan dit selfs moeiliker maak om die vrag te dra, en hoe kan dit reggestel word?

17 Hoewel iemand dalk redeneer dat dit nie verkeerd is om van die dinge te hê of te doen wat ander het of doen nie, is dit belangrik dat hy ondersoek instel en kyk of hy nie onnodig tot sy vrag bydra nie (1 Korintiërs 10:23). Aangesien ’n mens net ’n sekere hoeveelheid kan dra, moet iets laat vaar word ten einde nog ’n vrag op te tel. Dit is baie keer die dinge wat onontbeerlik vir ons geestelike welsyn is—persoonlike Bybelstudie, vergaderingbywoning en die veldbediening—wat eerste laat vaar word. Die gevolg is ’n verlies aan geestelike krag, wat dit dan selfs moeiliker maak om die vrag te dra. Jesus Christus het teen so ’n gevaar gewaarsku toe hy gesê het: “Let op julleself dat julle harte nooit beswaar word met oormatige etery en strawwe drinkery en sorge van die lewe, en dié dag skielik, in ’n oomblik, oor julle kom soos ’n strik nie” (Lukas 21:34, 35; Hebreërs 12:1). Dit is moeilik om ’n strik raak te sien en te vermy as ’n mens swaar belaai en vermoei is.

Verligting en verkwikking

18. Wat het Jesus diegene aangebied wat na hom toe kom?

18 Jesus het dus liefdevol die oplossing aangebied: “Kom na my toe, . . . en ek sal julle verkwik” (Matteus 11:28). Die woorde “verkwik”, wat hier gebruik word, en “verkwikking” in vers 29 kom van Griekse woorde wat ooreenkom met die woord wat die Septuagint-vertaling gebruik om die Hebreeuse woord vir “sabbat” of “sabbatsonderhouding” weer te gee (Exodus 16:23). Jesus het dus nie belowe dat diegene wat na hom toe kom geen werk meer sou hê nie, maar hy het belowe dat hy hulle sou verkwik sodat hulle gereed sou wees vir die werk wat hulle in ooreenstemming met God se wil moes uitvoer.

19. Hoe ‘kom ’n mens na Jesus toe’?

19 Maar hoe ‘kom ’n mens na Jesus toe’? Jesus het vir sy dissipels gesê: “As iemand agter my aan wil kom, laat hy homself verloën en sy folterpaal opneem en my voortdurend volg” (Matteus 16:24). Om na Jesus toe te kom, impliseer gevolglik dat ’n mens jou eie wil aan God en Christus se wil onderwerp, ’n sekere mate van verantwoordelikheid aanvaar en dit voortdurend doen. Is al hierdie dinge te veeleisend? Is die prys te hoog? Kom ons kyk wat Jesus gesê het nadat hy die liefdevolle uitnodiging aan die vermoeides gerig het.

Kan jy onthou?

◻ Op watter maniere was die mense van Jesus se dag belas?

◻ Wat was die ware oorsaak van die mense se swaarkry?

◻ Hoe moet ons onsself ondersoek as ons swaar belas voel?

◻ Watter laste sal dit onverstandig wees om op ons te neem?

◻ Hoe kan ons die verkwikking ontvang wat Jesus belowe het?

[Prente op bladsy 15]

Wat is van die laste wat ons dalk oor onsself bring?

[Foto-erkenning op bladsy 15]

Courtesy of Bahamas Ministry of Tourism

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel