Vrae van lesers
Wat het die dissipel Jakobus bedoel toe hy gesê het: “Nie baie van julle moet leermeesters word nie, my broers, aangesien julle weet dat ons ’n swaarder oordeel sal ontvang”?—Jakobus 3:1.
Jakobus het Christene beslis nie afgeraai om ander die waarheid te leer nie. In Matteus 28:19, 20 het Jesus sy dissipels die opdrag gegee: “Maak dissipels van mense van al die nasies, . . . en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het.” Alle Christene moet dus leermeesters wees. Die apostel Paulus het Hebreeuse Christene vermaan omdat hulle nog nie leermeesters was nie. Hy het geskryf: “Hoewel julle met die oog op die tyd inderdaad leermeesters behoort te wees, het julle weer nodig dat iemand julle van die begin af die elementêre dinge van die heilige verklarings van God moet leer.”—Hebreërs 5:12.
Waarvan het Jakobus dan gepraat? Hy het na diegene met spesiale onderrigtingsvoorregte in die gemeente verwys. In Efesiërs 4:11 lees ons: “Hy [Jesus Christus, die Hoof van die gemeente] het party as apostels gegee, party as profete, party as evangeliste, party as herders en leermeesters.” Net soos vandag was daar spesiale onderrigtingsposisies in die eerste-eeuse gemeentes. Die Bestuursliggaam verteenwoordig byvoorbeeld “die getroue en verstandige slaaf” en het die spesiale verantwoordelikheid om oor die onderrigting van die wêreldwye gemeente toesig te hou (Matteus 24:45). Reisende opsieners en gemeentelike ouer manne het ook spesiale onderrigtingsverantwoordelikhede.
Het Jakobus vir bekwame Christenmanne gesê dat hulle uit vrees vir God se swaarder oordeel nie die rol van leermeester moet aanvaar nie? Beslis nie. Die amp van ouer man is ’n groot voorreg, soos getoon word in 1 Timoteus 3:1, wat sê: “As iemand na ’n opsienersamp streef, begeer hy ’n voortreflike werk.” Een van die vereistes om as ’n gemeentelike ouer man aangestel te word, is dat ’n man ‘bekwaam is om te onderrig’ (1 Timoteus 3:2). Jakobus het nie Paulus se geïnspireerde woorde weerspreek nie.
Maar in die eerste eeu G.J. het party hulle blykbaar as leermeesters voorgedoen, hoewel hulle nie aan die vereistes voldoen het of aangestel is nie. Hulle het waarskynlik gemeen dat daardie rol met ’n mate van vernaamheid gepaardgaan, en hulle wou persoonlike aansien hê. (Vergelyk Markus 12:38-40; 1 Timoteus 5:17.) Die apostel Johannes het van Diotrefes melding gemaak, wat ‘daarvan gehou het om die eerste plek te beklee, maar niks van Johannes met respek ontvang het nie’ (3 Johannes 9). Eerste Timoteus 1:7 praat van sommige wat ‘leermeesters van die wet wou wees, maar wat nie die dinge begryp het wat hulle gesê het of die dinge waaroor hulle sterk bewerings gemaak het nie’. Die woorde van Jakobus 3:1 geld veral vir manne wat leermeesters wil wees, maar wat die verkeerde beweegrede het. Hulle kan die kudde ernstige skade berokken en sal gevolglik ’n swaarder oordeel ontvang.—Romeine 2:17-21; 14:12.
Jakobus 3:1 is ook ’n goeie herinnering vir diegene wat wel aan die vereistes voldoen en wat as leermeesters dien. Aangesien veel aan hulle toevertrou is, sal veel van hulle vereis word (Lukas 12:48). Jesus het gesê dat “die mense van elke onvoordelige woord wat hulle spreek rekenskap sal gee op die Oordeelsdag” (Matteus 12:36). Dit is veral waar van diegene wie se woorde meer gewig dra, die aangestelde ouer manne.
Ouer manne sal rekenskap gee van die wyse waarop hulle Jehovah se skape behandel (Hebreërs 13:17). Wat hulle sê, raak lewens. ’n Ouer man moet dus versigtig wees dat hy nie sy eie beskouings bevorder of die skape mishandel soos die Fariseërs gedoen het nie. Hy moet daarna streef om dieselfde innige liefde te openbaar wat Jesus betoon het. ’n Ouer man moet in elke onderrigsituasie, en veral wanneer hy by regterlike sake betrokke is, goed oor sy woorde nadink en nie ondeurdagte uitdrukkings gebruik of bloot sy eie idees uitspreek nie. As die herder volkome op Jehovah, sy Woord en sy riglyne deur sy organisasie vertrou, sal hy God se ryk seën ontvang, nie “’n swaarder oordeel” nie.