Ouers en kinders: Stel God eerste!
“Vrees die ware God en onderhou sy gebooie.”—PREDIKER 12:13, NW.
1. Watter vrees moet ouers en kinders aankweek, en wat sal dit aan hulle verskaf?
’N PROFESIE oor Jesus Christus het gesê dat hy “vreugde [sal] skep in die vrees van Jehovah” (Jesaja 11:3, NW). Sy vrees was hoofsaaklik ’n diepgaande eerbied en ontsag vir God, ’n vrees om God te mishaag omdat hy hom liefgehad het. Ouers en kinders moet so ’n Christelike vrees vir God aankweek, wat hulle vreugde sal verskaf, soos dit met Jesus die geval was. Hulle moet God eerste in hulle lewe stel deur sy gebooie te gehoorsaam. Volgens een Bybelskrywer is dit “die hele verpligting van die mens”.—Prediker 12:13, NW.
2. Wat was die belangrikste gebod van die Wet, en aan wie is dit hoofsaaklik gegee?
2 Die belangrikste gebod van die Wet, naamlik dat ons ‘Jehovah met ons hele hart, siel en krag moet liefhê’, is hoofsaaklik aan ouers gegee. Ons kan dit sien uit die verdere woorde van die Wet: “Jy moet dit [hierdie woorde oor liefde vir Jehovah] jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan” (Deuteronomium 6:4-7; Markus 12:28-30). Ouers is dus beveel om God eerste te stel deur hom self lief te hê en deur hulle kinders te leer om dieselfde te doen.
’n Christelike verantwoordelikheid
3. Hoe het Jesus die belangrikheid getoon om aandag aan kinders te skenk?
3 Jesus het getoon hoe belangrik dit is om selfs aan jong kinders aandag te skenk. Teen die einde van Jesus se aardse bediening het mense by een geleentheid hulle kindertjies na hom toe begin bring. Omdat Jesus se dissipels klaarblyklik gemeen het dat hy te besig is om lastig geval te word, het hulle die mense probeer keer. Maar Jesus het sy dissipels berispe: “Laat die jong kinders na my toe kom, en moet hulle nie probeer keer nie.” Jesus het selfs “die kinders in sy arms geneem” en sodoende op treffende wyse getoon hoe belangrik dit is om aandag aan kleintjies te skenk.—Lukas 18:15-17; Markus 10:13-16.
4. Aan wie is die bevel gegee om “dissipels van mense van al die nasies” te maak, en wat sou dit van hulle vereis?
4 Jesus het dit ook duidelik gestel dat sy volgelinge die verantwoordelikheid het om, buiten hulle eie kinders, ook ander mense te onderrig. Ná sy dood en opstanding het Jesus “aan meer as vyfhonderd broers tegelyk verskyn”—onder andere aan ouers (1 Korintiërs 15:6). Dit het blykbaar by ’n berg in Galilea gebeur waar sy 11 apostels ook bymekaar was. Daar het Jesus hulle almal aangespoor: “Gaan dus en maak dissipels van mense van al die nasies, . . . en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het” (Matteus 28:16-20). Geen Christen kan met reg hierdie bevel verontagsaam nie! As vaders en moeders dit wil uitvoer, moet hulle na hulle kinders omsien en ook aan die openbare predikings- en onderrigtingswerk deelneem.
5. (a) Wat toon dat die meeste apostels, indien nie almal nie, getroud was en dus moontlik kinders gehad het? (b) Op watter raad moes gesinshoofde ernstig ag slaan?
5 Dit is betekenisvol dat selfs die apostels hulle gesinsverantwoordelikhede in ewewig moes hou met die verpligting om te preek asook om oor die kudde van God toesig te hou (Johannes 21:1-3, 15-17; Handelinge 1:8). Dit is omdat die meeste van hulle, indien nie almal nie, getroud was. Die apostel Paulus het dus verduidelik: “Ons het die reg om ’n suster as vrou rond te neem net soos die res van die apostels en die Here se broers en Sefas, nie waar nie?” (1 Korintiërs 9:5; Matteus 8:14). Party apostels het moontlik ook kinders gehad. Vroeë geskiedskrywers, soos Eusebius, sê dat Petrus kinders gehad het. Alle vroeë Christenouers moes die skriftuurlike raad volg: “Ja, as iemand vir dié wat syne is, en veral vir dié wat lede van sy huisgesin is, nie sorg nie, het hy die geloof verloën en is hy erger as ’n ongelowige.”—1 Timoteus 5:8.
Die vernaamste verantwoordelikheid
6. (a) Voor watter uitdaging kom Christen- ouer manne met gesinne te staan? (b) Wat is ’n ouer man se vernaamste verantwoordelikheid?
6 Christen- ouer manne wat vandag gesinne het, is in ’n soortgelyke situasie as die apostels. Hulle moet hulle verantwoordelikheid om na die geestelike en fisiese behoeftes van hulle gesin om te sien in ewewig hou met hulle verpligting om aan die openbare predikingswerk deel te neem en as herders oor die kudde van God toesig te hou. Watter bedrywigheid moet die voorkeur geniet? Die Wagtoring van 15 Junie 1964 het gesê: ‘Die vader se eerste verpligting is teenoor sy gesin en hy kan inderdaad nie behoorlik dien indien hy nie hierdie verpligting nakom nie.’
7. Hoe stel Christenvaders God eerste?
7 Vaders moet God dus eerste stel deur ag te slaan op die bevel ‘om aan te hou om hulle kinders in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah op te voed’ (Efesiërs 6:4). Daardie verantwoordelikheid kan nie op iemand anders afgeskuif word nie, selfs al het ’n vader dalk ook ’n toewysing om oor bedrywighede in die Christengemeente toesig te hou. Hoe kan sulke vaders hulle verantwoordelikhede nakom—deur na hulle gesinslede se fisiese, geestelike en emosionele behoeftes om te sien—en terselfdertyd die leiding neem en toesig hou in die gemeente?
Voorsien die nodige ondersteuning
8. Hoe kan ’n ouer man se vrou hom ondersteun?
8 Ouer manne met gesinsverantwoordelikhede kan ongetwyfeld by ondersteuning baat vind. Die Wagtoring wat hierbo aangehaal word, het gemeld dat ’n Christenvrou haar man kan ondersteun. Dit het gesê: “Sy kan dit vir hom so gerieflik as moontlik maak om sy verskillende toewysings voor te berei en help om hom en haarself kosbare tyd te bespaar deur ’n goeie rooster in die huis te hê, maaltye op tyd te hê, gereed te wees om stiptelik na gemeentelike vergaderinge toe te vertrek. . . . Onder die leiding van haar man kan die Christenvrou baie doen om die kinders op te lei in die weg wat hulle moet gaan om vir Jehovah welgevallig te wees” (Spreuke 22:6). Ja, die vrou is geskep om “’n hulp” te wees, en haar man sal verstandig wees as hy haar hulp aanvaar (Genesis 2:18). Haar ondersteuning kan dit vir hom moontlik maak om beter na sy verantwoordelikhede in die gesin en in die gemeente om te sien.
9. Wie in die Tessalonika-gemeente is aangemoedig om ander gemeentelede te help?
9 Dit is egter nie net Christen- ouer manne se vrouens wat dinge kan doen ter ondersteuning van ’n opsiener wat ‘as herder oor die kudde van God toesig hou’ sowel as na sy eie huisgesin moet omsien nie (1 Petrus 5:2). Wie anders kan dit doen? Die apostel Paulus het die broers in Tessalonika aangespoor om respek te hê vir dié wat onder hulle “die leiding gee”. Maar Paulus het verder aan hierdie selfde broers—spesifiek diegene wat nie die leiding gee nie—geskryf: “Ons [maan] julle, broers: Vermaan die wanordelikes ernstig, praat vertroostend met die terneergedrukte siele, ondersteun die swakkes, wees lankmoedig teenoor almal.”—1 Tessalonisense 5:12-14.
10. Watter goeie uitwerking het die liefdevolle hulp van al die broers op die gemeente?
10 Hoe goed is dit tog wanneer die broers in ’n gemeente die liefde het wat hulle beweeg om die terneergedruktes te vertroos, die swakkes te ondersteun, die wanordelikes ernstig te vermaan en lankmoedig teenoor almal te wees! Die broers in Tessalonika, wat ondanks hewige verdrukking kort tevore Bybelwaarheid aangeneem het, het Paulus se raad om dit te doen, toegepas (Handelinge 17:1-9; 1 Tessalonisense 1:6; 2:14; 5:11). Dink net aan die goeie uitwerking wat hulle liefdevolle samewerking gehad het deur die hele gemeente te versterk en te verenig! Wanneer die broers mekaar eweneens vandag vertroos, ondersteun en vermaan, maak dit die herderlike verantwoordelikhede van ouer manne, wat dikwels gesinne het om na om te sien, soveel makliker om te behartig.
11. (a) Waarom is dit redelik om tot die slotsom te kom dat die term “broers” vroue ingesluit het? (b) Watter hulp kan ’n ryp Christenvrou vandag aan jonger vroue verleen?
11 Was vroue ingesluit onder die “broers” met wie die apostel Paulus gepraat het? Ja, hulle was, aangesien baie vroue gelowiges geword het (Handelinge 17:1, 4; 1 Petrus 2:17; 5:9). Watter soort hulp kon sulke vroue verleen? Wel, daar was jonger vroue in die gemeentes wat gesukkel het om hulle “geslagsdrange” te beheers of wat “terneergedrukte siele” geword het (1 Timoteus 5:11-13). Sommige vroue het vandag dieselfde probleme. Wat hulle dalk die nodigste het, is net ’n horende oor of iemand om hulle te troos. ’n Bekwame Christenvrou is dikwels die beste persoon om sulke hulp te voorsien. Sy kan byvoorbeeld persoonlike probleme met ’n ander vrou bespreek wat ’n Christenman nie gepas alleen sou kon doen nie. Paulus het beklemtoon hoe waardevol sulke hulp is en geskryf: “Laat die bejaarde vroue . . . leraresse [wees] van wat goed is; dat hulle die jong vroue tot besinning kan bring, om hulle mans lief te hê, om hulle kinders lief te hê, om gesond van verstand te wees, kuis, werkers by die huis, goed, terwyl hulle hulle aan hulle eie mans onderwerp, sodat daar nie smadend van die woord van God gepraat sal word nie.”—Titus 2:3-5.
12. Wie se leiding moet almal in die gemeente volg?
12 Watter seën is nederige susters tog in ’n gemeente as hulle aan hulle mans sowel as aan die ouer manne hulle ondersteuning gee! (1 Timoteus 2:11, 12; Hebreërs 13:17). Ouer manne met gesinsverantwoordelikhede vind veral baat wanneer almal saamwerk om mekaar in ’n gees van liefde te help en wanneer almal hulle aan die leiding van die aangestelde herders onderwerp.—1 Petrus 5:1, 2.
Ouers, wat stel julle eerste?
13. Hoe laat baie vaders hulle gesinne in die steek?
13 Jare gelede het ’n bekende verhoogkunstenaar gesê: “Ek sien suksesvolle mans wat sakeondernemings met honderde mans bestuur; hulle weet hoe om elke situasie te hanteer, hoe om in die sakewêreld te dissiplineer en te beloon. Maar die grootste onderneming wat hulle bestuur, is hulle gesin, en dis ’n mislukking.” Waarom? Is dit nie omdat hulle sake- en ander belange eerste stel en God se raad verontagsaam nie? Sy Woord sê: ‘Hierdie woorde wat ek jou beveel, moet jy jou kinders inskerp.’ En dit moes elke dag gedoen word. Ouers moet van hulle tyd—en veral van hulle liefde en diepe besorgdheid—gee sonder om terug te hou.—Deuteronomium 6:6-9.
14. (a) Hoe moet ouers na hulle kinders omsien? (b) Wat sluit behoorlike opleiding van kinders in?
14 Die Bybel herinner ons daaraan dat kinders ’n erfdeel van Jehovah is (Psalm 127:3). Sien jy na jou kinders om as God se eiendom, ’n geskenk wat hy aan jou toevertrou het? Jou kind sal waarskynlik daarop reageer as jy hom of haar in jou arms neem en sodoende jou liefdevolle sorg en aandag openbaar (Markus 10:16). Maar om ‘’n kind op te lei ooreenkomstig die weg vir hom’, vereis meer as om hom net drukkies en soentjies te gee. Om toegerus te wees met die wysheid om die lewe se slaggate te vermy, het ’n kind ook liefdevolle dissipline nodig. ’n Ouer toon opregte liefde deur ‘sy kind met tugtiging te besoek’.—Spreuke 13:1, 24; 22:6, NW.
15. Wat toon hoe belangrik ouerlike dissipline is?
15 Die noodsaaklikheid van ouerlike dissipline blyk uit ’n skoolraadgewer se beskrywing van kinders wat na haar kantoor toe kom: “Hulle is bejammerenswaardig, swaarmoedig en verlore. Hulle huil wanneer hulle vertel wat regtig aangaan. Baie—baie meer as wat ’n mens sou dink—het al selfmoord probeer pleeg, en dis nie omdat hulle so gelukkig is dat hulle dit nie kan verduur nie; dis omdat hulle so ongelukkig, ongeliefd en gespanne is, want op so ’n jong ouderdom is hulle ‘in beheer’, en dit is vir hulle net een te veel.” Sy het bygevoeg: “Dis skrikwekkend vir ’n jongmens om te voel dat hy aan die stuur van sake is.” Kinders verset hulle dalk weliswaar teen dissipline, maar hulle waardeer in werklikheid ouerlike riglyne en beperkings. Hulle is bly dat hulle ouers genoeg vir hulle omgee om vir hulle perke te stel. “Dit is ’n ontsaglike las van my hart af”, het een tiener gesê wie se ouers dit gedoen het.
16. (a) Wat gebeur met sommige kinders wat in Christenhuise grootgemaak word? (b) Waarom beteken die eiesinnige weg van ’n kind nie noodwendig dat die opleiding wat die ouers gegee het nie goed was nie?
16 Maar ondanks die feit dat sommige jongmense ouers het wat vir hulle lief is en hulle goed oplei, slaan hulle, soos die verlore seun in Jesus se gelykenis, ouerlike riglyne in die wind en raak hulle die pad byster (Lukas 15:11-16). Maar dit op sigself beteken nie dat die ouers nie hulle verantwoordelikheid nagekom het nie om hulle kind behoorlik op te lei, soos Spreuke 22:6 (NW) beveel. Die woorde: ‘Lei ’n seun op ooreenkomstig die weg vir hom, en hy sal nie daarvan afwyk nie’, is as ’n algemene reël gegee. Ongelukkig sal sommige kinders, soos die verlore seun, ‘die gehoorsaamheid vir ’n ouer verag’.—Spreuke 30:17.
17. Waaruit kan ouers met eiesinnige kinders troos put?
17 ’n Vader van ’n eiesinnige seun het gekla: “Ek het baie hard probeer om sy hart te bereik. Ek weet nie wat om te doen nie, want ek het al soveel dinge probeer. Niks het gewerk nie.” Hopelik sal sulke eiesinnige kinders mettertyd die liefdevolle opleiding wat hulle ontvang het, onthou en soos die verlore seun terugkeer. Dit bly egter ’n feit dat sommige kinders opstandig raak en onsedelike dinge doen tot groot verdriet van hulle ouers. Ouers kan troos put uit die wete dat selfs die grootste onderrigter wat nog op aarde gelewe het, gesien het hoe sy leerling Judas Iskariot wat lank saam met hom gewandel het, hom verraai. En dit het Jehovah ongetwyfeld hartseer gemaak toe baie van sy eie geesseuns sy raad verwerp het en sonder Sy toedoen in opstand gekom het.—Lukas 22:47, 48; Openbaring 12:9.
Kinders—Wie gaan julle behaag?
18. Hoe kan kinders toon dat hulle God eerste stel?
18 Jehovah spoor julle jonges aan: “Kinders, wees gehoorsaam aan julle ouers in eenheid met die Here” (Efesiërs 6:1). Jongmense stel God eerste as hulle dit doen. Moenie dwaas wees nie! “Die sot verag die tug van sy vader”, sê God se Woord. Jy moet ook nie verwaand aanneem dat jy nie tug nodig het nie. Feit is dat daar “’n geslag [is] wat rein is in sy eie oë en tog van sy vuiligheid nie gewas is nie” (Spreuke 15:5; 30:12). Gee dus ag op die Goddelike riglyne—“luister” na, “bewaar”, “vergeet” nie, “slaan ag” op, “hou vas” aan en “verwerp” nie die gebooie en dissipline van ouers nie.—Spreuke 1:8; 2:1; 3:1; 4:1, NAV; 6:20, vgl. NAV.
19. (a) Watter kragtige redes het kinders om Jehovah te gehoorsaam? (b) Hoe kan jongmense toon dat hulle dankbaar teenoor God is?
19 Jy het kragtige redes om Jehovah te gehoorsaam. Hy is lief vir jou, en hy het sy wette gegee, onder andere die wet vir kinders om hulle ouers te gehoorsaam, om jou te beskerm en jou te help om ’n gelukkige lewe te geniet (Jesaja 48:17). Hy het ook sy Seun gegee om vir jou te sterf, sodat jy van sonde en die dood gered kan word en die ewige lewe kan geniet (Johannes 3:16). Is jy dankbaar? God kyk uit die hemel neer en ondersoek julle hart om te sien of julle hom waarlik liefhet en sy voorsienings waardeer (Psalm 14:2). Satan hou julle ook dop, en hy smaad God deur te beweer dat julle Hom nie sal gehoorsaam nie. Julle maak Satan bly en julle ‘grief’ Jehovah wanneer julle aan God ongehoorsaam is (Psalm 78:40, 41). Jehovah doen ’n beroep op julle: “Wees wys, my seun, en verbly my hart [deur my te gehoorsaam], sodat ek hom wat my smaad, kan antwoord gee” (Spreuke 27:11). Ja, die vraag is: Wie gaan julle behaag, Satan of Jehovah?
20. Hoe behou een jongmens die moed om Jehovah te dien selfs wanneer sy bang word?
20 Vanweë die druk wat Satan en sy wêreld op ons uitoefen, is dit nie maklik om God se wil te doen nie. Dit kan skrikwekkend wees. Een jongmens het gesê: “Om bang te wees, is soos om koud te kry. Jy kan iets daaromtrent doen.” Sy het verduidelik: “Wanneer jy koud kry, trek jy ’n trui aan. As jy steeds koud kry, trek jy nog een aan. En jy hou aan om iets aan te trek totdat die koue verdwyn en jy nie meer koud kry nie. Om dus tot Jehovah te bid wanneer jy bang is, is soos om ’n trui aan te trek wanneer jy koud kry. As ek ná een gebed nog steeds bang is, bid ek weer, en weer, en weer, totdat ek nie meer bang voel nie. En dit werk. Dit het my uit die moeilikheid gehou!”
21. Hoe sal Jehovah ons bystaan as ons werklik probeer om hom eerste in ons lewe te stel?
21 As ons werklik probeer om God eerste in ons lewe te stel, sal Jehovah ons bystaan. Hy sal ons versterk deur hulp van sy engele te voorsien wanneer dit nodig is, soos hy vir sy Seun gedoen het (Matteus 18:10; Lukas 22:43). Ouers en kinders, wees moedig. Verkry Christelike vrees, en dit sal julle vreugde verskaf (Jesaja 11:3, NW). Ja, ‘vrees die ware God en onderhou sy gebooie, want dit is die hele verpligting van die mens’.—Prediker 12:13, NW.
Kan jy antwoord?
◻ Watter verantwoordelikhede moes Jesus se vroeë volgelinge in ewewig hou?
◻ Watter verantwoordelikheid moet Christenouers nakom?
◻ Watter hulp is vir Christen- ouer manne met gesinne beskikbaar?
◻ Watter waardevolle diens kan susters in die gemeente lewer?
◻ Watter raad en riglyne moet kinders volg?
[Prent op bladsy 15]
’n Bekwame Christenvrou kan dikwels ’n jonger vrou van die nodige hulp voorsien
[Prent op bladsy 17]
Watter troos kan ouers van eiesinnige kinders uit die Skrif put?