Moenie moed opgee nie!
“Laat ons . . . nie ophou om te doen wat voortreflik is nie, want op die regte tyd sal ons maai indien ons nie moeg word nie.”—GALASIËRS 6:9.
1, 2. (a) Op watter maniere jag ’n leeu? (b) Op wie wil die Duiwel veral jag maak?
’N LEEU jag op verskeie maniere. Soms sal hy sy prooi voorlê by watergate of langs paadjies wat dikwels gebruik word. Maar soms, sê die boek Portraits in the Wild, “benut [’n leeu] bloot ’n situasie—wanneer hy byvoorbeeld op ’n sebravul afkom wat slaap”.
2 Ons “teenstander, die Duiwel”, verduidelik die apostel Petrus, “loop rond soos ’n brullende leeu en is daarop uit om iemand te verslind” (1 Petrus 5:8). Omdat Satan weet dat hy min tyd oor het, oefen hy al hoe groter druk op mense uit om te keer dat hulle Jehovah dien. Hierdie “brullende leeu” stel egter veral daarin belang om op Jehovah se knegte jag te maak (Openbaring 12:12, 17). Sy jagmetodes kom ooreen met dié van sy eweknie in die diereryk. Hoe so?
3, 4. (a) Watter metodes gebruik Satan om op Jehovah se knegte jag te maak? (b) Watter vrae kom by ons op, aangesien dit nou ‘kritieke tye is wat moeilik is om deur te kom’?
3 Soms gebruik Satan ’n hinderlaag—vervolging of teenkanting wat daarop gemik is om ons onkreukbaarheid te ondermyn sodat ons ophou om Jehovah te dien (2 Timoteus 3:12). Maar ander kere benut die Duiwel, soos die leeu, bloot ’n situasie. Hy wag totdat ons mismoedig of moeg word, en dan probeer hy munt slaan uit ons swak emosionele toestand sodat hy ons kan kry om moed op te gee. Ons mag nie ’n maklike prooi word nie!
4 Maar ons lewe in die moeilikste tydperk in die ganse mensegeskiedenis. In hierdie ‘kritieke tye wat moeilik is om deur te kom’, kan baie van ons nou en dan mismoedig of beswaard voel (2 Timoteus 3:1). Hoe kan ons dan keer dat ons so moeg word dat ons ’n maklike prooi vir die Duiwel word? Ja, hoe kan ons ag slaan op die apostel Paulus se geïnspireerde raad: “Laat ons . . . nie ophou om te doen wat voortreflik is nie, want op die regte tyd sal ons maai indien ons nie moeg word nie”?—Galasiërs 6:9.
Wanneer ander ons teleurstel
5. Wat het Dawid moeg gemaak, maar wat het hy nie gedoen nie?
5 In Bybeltye het selfs die getrouste knegte van Jehovah dalk beswaard gevoel. “Ek is moeg van my gesug”, het die psalmis Dawid geskryf. “Elke nag laat ek my bed swem; ek deurweek my bed met my trane. My oog het dof geword van verdriet.” Waarom het Dawid so gevoel? “Vanweë al my teëstanders”, het hy verduidelik. Die kwaad wat ander Dawid aangedoen het, het soveel hartseer veroorsaak dat sy trane vryelik gevloei het. Tog het Dawid Jehovah nie die rug toegekeer as gevolg van wat sy medemens aan hom gedoen het nie.—Psalm 6:7-10.
6. (a) Hoe kan ander se woorde of dade ons raak? (b) Hoe maak party hulleself ’n maklike prooi vir die Duiwel?
6 Ander se woorde of dade kan ons eweneens vanweë groot hartseer laat moeg word. “Daar is een wat onverskillig woorde uitspreek soos swaardsteke”, sê Spreuke 12:18. Wanneer die onverskillige persoon ’n Christenbroer of -suster is, kan die ‘steekwond’ diep wees. Die menslike neiging is dalk om aanstoot te neem, moontlik ’n wrok te koester. Dit is veral die geval as ons meen dat ons onvriendelik of onregverdig behandel is. Ons vind dit dalk moeilik om met iemand te praat wat ons te na gekom het; ons vermy hom of haar dalk selfs opsetlik. Party het moed opgegee en opgehou om na Christelike vergaderinge toe te kom, omdat hulle vanweë die wrok beswaard voel. Ongelukkig het hulle sodoende ‘plek vir die Duiwel toegelaat’ om hulle as ’n maklike prooi uit te oorlê.—Efesiërs 4:27.
7. (a) Hoe kan ons dit vermy om die Duiwel se planne te bevorder wanneer ander ons teleurstel of seermaak? (b) Waarom moet ons van ons wrok ontslae raak?
7 Hoe kan ons dit vermy om die Duiwel se planne te bevorder wanneer ander ons teleurstel of seermaak? Ons moet probeer om nie ’n wrok te koester nie. Neem eerder die inisiatief om vrede te maak of die saak so gou moontlik te skik (Efesiërs 4:26). Kolossense 3:13 vermaan ons: “Hou aan om . . . mekaar vryelik te vergewe as iemand rede tot klagte teen ’n ander het.” Vergifnis is veral gepas wanneer die een wat jou te na gekom het sy fout erken en werklik jammer is. (Vergelyk Psalm 32:3-5 met Spreuke 28:13.) Dit help ons egter as ons in gedagte hou dat vergifnis nie beteken dat ons ander se oortredings verskoon of geringag nie. Om te vergewe, beteken dat ons van ons wrok ontslae moet raak. ’n Wrok is ’n swaar las om te dra. Dit kan ons gedagtes oorheers en ons dan van ons geluk beroof. Dit kan selfs ons gesondheid aantas. Daarenteen strek vergifnis, wanneer dit gepas is, ons tot voordeel. Mag ons, soos Dawid, nooit moed opgee en Jehovah die rug toekeer as gevolg van iets wat ander mense vir ons gesê of aan ons gedoen het nie!
Wanneer ons te kort skiet
8. (a) Waarom voel party soms veral skuldig? (b) Watter gevaar hou dit vir ons in as ons so deur skuldgevoelens verswelg word dat ons geen hoop meer vir onsself het nie?
8 “Ons almal struikel baie kere”, sê Jakobus 3:2. Wanneer ons struikel, is dit net natuurlik om skuldig te voel (Psalm 38:4-9). Skuldgevoelens kan veral sterk wees as ons teen ’n swakheid van die vlees stry en van tyd tot tyd terugslae ervaar.a ’n Christen wat so ’n stryd gehad het, het verduidelik: “Ek wou nie verder lewe nie, want ek het nie geweet of ek die onvergeeflike sonde gepleeg het of nie. Ek het gemeen dat dit nie sou help om my in Jehovah se diens in te span nie, aangesien dit vir my seker in elk geval te laat was.” Wanneer ons so deur skuldgevoelens verswelg word dat ons geen hoop meer vir onsself het nie, gee ons die Duiwel ’n kans—en hy sal dit dalk gou benut! (2 Korintiërs 2:5-7, 11). Ons het dalk ’n meer gebalanseerde beskouing van ons skuldgevoelens nodig.
9. Waarom moet ons vertroue in God se barmhartigheid stel?
9 Wanneer ons sondig, is dit gepas om in ’n mate skuldig te voel. Maar skuldgevoelens duur soms voort omdat ’n Christen meen dat hy nooit God se barmhartigheid waardig kan wees nie. Tog gee die Bybel ons hierdie hartlike versekering: “As ons ons sondes bely, is hy getrou en regverdig om ons ons sondes te vergewe en ons van alle onregverdigheid te reinig” (1 Johannes 1:9). Is daar enige goeie rede om te glo dat God dit nie in ons geval sal doen nie? Onthou dat Jehovah, in sy Woord, sê dat hy “vergewensgesind” is (Psalm 86:5; 130:3, 4). Aangesien hy nie kan lieg nie, sal hy doen wat sy Woord belowe, mits ons hom met ’n berouvolle hart nader.—Titus 1:2.
10. Watter hartverblydende versekering is in ’n ouer Wagtoring oor die stryd teen ’n swakheid van die vlees gepubliseer?
10 Wat moet jy doen as jy teen ’n swakheid stry en ’n terugval het? Moenie moed opgee nie! As jy terugval, maak dit nie noodwendig die vordering wat jy reeds gemaak het tot niet nie. Hierdie tydskrif se nommer van 1 Mei 1954 het hierdie hartverblydende versekering gebied: “Ons vind dalk dat ons dikwels struikel en val oor die een of ander slegte gewoonte wat dieper in ons vorige lewenspatroon ingewortel is as wat ons besef het. . . . Moenie moed opgee nie. Moenie die gevolgtrekking maak dat u die onvergeeflike sonde gepleeg het nie. Dit is net soos Satan graag wil hê dat u moet redeneer. Die feit dat u gegrief en vir uself kwaad is, is op sigself bewys dat u nie te ver gegaan het nie. Moet nooit moeg word om u nederig en ernstig tot God te wend en sy vergifnis en reiniging en hulp te soek nie. Gaan na hom toe soos ’n kind na sy vader toe gaan as hy in die moeilikheid is, dit maak nie saak hoe dikwels oor dieselfde swakheid nie, en Jehovah sal genadiglik aan u die hulp gee weens sy onverdiende goedheid en, as u opreg is, sal hy u laat besef dat u ’n gereinigde gewete het.”
Wanneer ons voel dat ons nie genoeg doen nie
11. (a) Hoe moet ons ons deelname aan die Koninkrykspredikingswerk beskou? (b) Met watter gevoelens oor hulle deelname aan die bediening worstel sommige Christene?
11 Die Koninkrykspredikingswerk speel ’n belangrike rol in die lewe van ’n Christen, en om daaraan deel te neem, bring vreugde mee (Psalm 40:9). Party Christene voel egter baie skuldig omdat hulle nie in staat is om meer in die bediening te doen nie. Sulke skuldgevoelens kan ons selfs van ons vreugde beroof en veroorsaak dat ons moed opgee omdat ons meen dat ons nooit genoeg in Jehovah se oë doen nie. Beskou die gevoelens waarmee party worstel.
“Weet julle hoe tydrowend dit is om arm te wees?” het een Christensuster geskryf wat saam met haar man drie kinders grootmaak. “Ek moet spaar waar ek ook al kan. Dit beteken dat ek tyd daaraan moet bestee om deur tweedehandse winkels en uitverkopings te soek of selfs klere te maak. Ek bestee ook ’n uur of twee elke week om [afslagvoedsel]koepons uit te sny, te bêre en daarmee te koop. Hierdie dinge laat my soms baie skuldig voel, omdat ek voel dat ek daardie tyd in die velddiens moet deurbring.”
“Ek het gedink dat ek nie werklik lief genoeg vir Jehovah kan wees nie”, het ’n suster met vier kinders en ’n ongelowige man verduidelik. “Daarom was my diens aan Jehovah ’n stryd. Ek het werklik hard probeer, maar ek het nooit gevoel dat dit genoeg is nie. Jy sien, ek het geen gevoel van eiewaarde gehad nie, daarom kon ek my nie indink dat Jehovah ooit my diens aan hom kon aanvaar nie.”
’n Christen wat die voltydse diens moes verlaat, het gesê: “Ek kon nie die gedagte verdra dat ek nie by my besluit kon bly om Jehovah voltyds te dien nie. Julle kan julle nie indink hoe teleurgesteld ek was nie! Dit laat my huil as ek nou net daaraan dink.”
12. Waarom voel party Christene baie skuldig omdat hulle nie in staat is om meer in die bediening te doen nie?
12 Dit is net natuurlik om Jehovah so heelhartig moontlik te wil dien (Psalm 86:12). Waarom voel sommige dan so skuldig omdat hulle nie in staat is om meer te doen nie? In party se geval hou dit blykbaar verband met ’n algemene gevoel van waardeloosheid, wat dalk die gevolg van onaangename lewensondervindinge is. In ander gevalle is onnodige skuldgevoelens dalk die gevolg van ’n onrealistiese beskouing van wat Jehovah van ons verwag. “Ek het gevoel dat jy nie genoeg doen tensy jy gedaan is nie”, het een Christen erken. Sy het gevolglik uitermate hoë standaarde vir haarself gestel—en dan selfs skuldiger gevoel as sy dit nie kon bereik nie.
13. Wat verwag Jehovah van ons?
13 Wat verwag Jehovah van ons? Eenvoudig gestel, Jehovah verwag van ons dat ons hom heelhartig dien en doen wat ons omstandighede ons toelaat (Kolossense 3:23). Maar daar is dalk ’n groot verskil tussen wat ons wil doen en wat ons realisties kan doen. Ons word dalk beperk deur faktore soos ouderdom, gesondheid, fisiese stamina of gesinsverantwoordelikhede. As ons nietemin alles doen wat ons kan, kan ons verseker wees dat ons diens aan Jehovah heelhartig is—niks meer en niks minder heelhartig as die diens van iemand wie se gesondheid en omstandighede hom toelaat om in die voltydse diens te wees nie.—Matteus 13:18-23.
14. Wat kan jy doen as jy hulp nodig het om vas te stel wat jy realisties van jouself moet verwag?
14 Hoe kan jy dan vasstel wat jy realisties van jouself moet verwag? Dalk wil jy die saak bespreek met ’n vertroude, ryp Christenvriend, moontlik ’n ouer man of ’n ervare suster wat jou vermoëns, jou beperkings en jou gesinsverantwoordelikhede ken (Spreuke 15:22). Onthou dat jou waarde as persoon in God se oë nie gemeet word aan hoeveel jy in die veldbediening doen nie. Al Jehovah se knegte is vir hom kosbaar (Haggai 2:7; Maleagi 3:16, 17). Wat jy in die predikingswerk doen, is dalk meer of minder as wat ander doen, maar solank dit jou beste verteenwoordig, is Jehovah daarmee tevrede en het jy nie nodig om skuldig te voel nie.—Galasiërs 6:4.
Wanneer veel van ons geëis word
15. In watter opsigte word daar veel van gemeentelike ouer manne geëis?
15 “Van elkeen aan wie veel gegee is”, het Jesus gesê, “sal veel geëis word” (Lukas 12:48). Daar word beslis “veel geëis” van diegene wat as gemeentelike ouer manne dien. Soos Paulus gee hulle hulle uit ten behoewe van die gemeente (2 Korintiërs 12:15). Hulle het toesprake om voor te berei, herdersbesoeke om te doen, geregtelike sake om te hanteer—en dit alles sonder om hulle eie gesinne af te skeep (1 Timoteus 3:4, 5). Party ouer manne is ook besig om Koninkryksale te help bou, op Hospitaalskakelkomitees te dien en as vrywilligers by kring- en streekbyeenkomste te werk. Hoe kan hierdie hardwerkende, toegewyde manne voorkom dat hulle moeg word as gevolg van al hierdie verantwoordelikhede?
16. (a) Watter praktiese oplossing het Jetro vir Moses gebied? (b) Watter eienskap sal dit vir ’n ouer man moontlik maak om gepaste verantwoordelikhede met ander te deel?
16 Toe Moses, ’n beskeie en nederige man, homself uitgeput het deur na die probleme van ander om te sien, het sy skoonvader, Jetro, ’n praktiese oplossing gebied: deel van die verantwoordelikhede met ander bekwame manne (Exodus 18:17-26; Numeri 12:3). “By die beskeidenes is wysheid”, sê Spreuke 11:2. Om beskeie te wees, beteken om bewus te wees van jou beperkings en dit te aanvaar. ’n Beskeie man is nie teësinnig om aan ander te delegeer nie, en hy is ook nie bang dat hy op die een of ander manier beheer verloor deur gepaste verantwoordelikhede met ander bekwame manne te deel nie (Numeri 11:16, 17, 26-29).b Hy is eerder gretig om hulle te help om vordering te maak.—1 Timoteus 4:15.
17. (a) Hoe kan gemeentelede die vrag van ouer manne ligter maak? (b) Watter opofferinge maak ouer manne se vroue, en hoe kan ons vir hulle toon dat ons dit nie as vanselfsprekend aanvaar nie?
17 Gemeentelede kan baie doen om die vrag van ouer manne ligter te maak. As ander verstaan dat ouer manne hulle eie gesinne het om na om te sien, sal hulle nie onredelike eise stel wat ouer manne se tyd en aandag betref nie. Hulle sal ook nie die gewillige opofferinge van die ouer manne se vrouens wat hulle mans onselfsugtig met die gemeente deel as vanselfsprekend aanvaar nie. Een moeder van drie wie se man as ’n ouer man dien, het verduidelik: “Iets waaroor ek nooit kla nie, is die bykomende vrag wat ek in die huis gewillig dra sodat my man as ’n ouer man kan dien. Ek weet dat Jehovah ons gesin ryklik seën omdat hy as ’n ouer man dien, en ek is nie afgunstig op wat hy gee nie. Tog moet ek meer dikwels in die tuin werk en meer van ons kinders se dissipline self behartig omdat my man besig is.” Ongelukkig vind hierdie suster dat sommige, pleks van haar bykomende las te besef, ongevoelige opmerkings maak soos: “Waarom is jy nie ’n pionier nie?” (Spreuke 12:18). Hoeveel beter is dit tog om ander te prys vir wat hulle doen as om hulle te kritiseer vir wat hulle nie kan doen nie!—Spreuke 16:24; 25:11.
Want die einde het nog nie gekom nie
18, 19. (a) Waarom is dit nie nou die tyd om op te hou hardloop in die wedloop om die ewige lewe nie? (b) Watter tydige raad het die apostel Paulus aan die Christene in Jerusalem gegee?
18 Wanneer ’n hardloper weet dat die einde van ’n lang wedloop naby is, gee hy nie moed op nie. Sy liggaam het dalk sy uithougrens bereik—afgemat, warm en ontwater—maar só na aan die einde is nie die tyd om op te hou hardloop nie. As Christene is ons eweneens in ’n wedloop om die lewe as prys, en ons is baie na aan die wenstreep. Dit is nie nou die tyd om op te hou hardloop nie!—Vergelyk 1 Korintiërs 9:24; Filippense 2:16; 3:13, 14.
19 Christene in die eerste eeu het voor ’n soortgelyke situasie te staan gekom. Omstreeks 61 G.J. het die apostel Paulus aan die Christene in Jerusalem geskryf. Die tyd het min geraak—die goddelose “geslag”, die afvallige Joodse stelsel van dinge, was op die punt om ‘verby te gaan’. Veral die Christene in Jerusalem moes wakker en getrou wees; hulle sou uit die stad moes vlug wanneer hulle dit deur leërkampe omsingel gesien het (Lukas 21:20-24, 32). Paulus se geïnspireerde raad was dus tydig: ‘Moenie moeg word en in julle siele beswyk nie’ (Hebreërs 12:3). Die apostel Paulus het hier twee beskrywende Griekse werkwoorde gebruik: “moeg word” (kaʹmno) en “beswyk” (e·kluʹo·mai). Volgens een Bybelkenner is hierdie Griekse woorde “deur Aristoteles gebruik vir hardlopers wat ophou om hulle in te span en ineenstort nadat hulle oor die wenstreep is. Die lesers [van Paulus se brief] was nog in die wedloop. Hulle moet nie te vroeg ophou nie. Hulle moet nie toelaat dat hulle weens uitputting flou word en ineenstort nie. Weer kom die oproep om ondanks ontbering te volhard.”
20. Waarom is Paulus se raad vandag vir ons tydig?
20 Hoe tydig is Paulus se raad vandag tog vir ons! Wanneer ons voor toenemende druk te staan kom, is daar dalk tye wanneer ons soos ’n moeë hardloper voel wie se bene enige oomblik gaan ingee. Maar ons moet nie so na aan die wenstreep moed opgee nie! (2 Kronieke 29:11). Dit is net wat ons Teenstander, die “brullende leeu”, wil hê ons moet doen. Gelukkig het Jehovah voorsienings gemaak wat aan ‘die vermoeide krag gee’ (Jesaja 40:29). Wat dit is en hoe dit ons tot voordeel kan strek, sal in die volgende artikel bespreek word.
[Voetnote]
a Party voer dalk ’n stryd om byvoorbeeld ’n diepgewortelde karaktertrek, soos ’n vinnige humeur of ’n probleem met masturbasie te bowe te kom.—Sien die Ontwaak!, 22 Mei 1988, bladsye 19-21; 8 Maart 1982, bladsye 16-20, uitgegee deur die Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania en Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, bladsye 198-211, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
b Sien die artikel “Ouere manne—Delegeer!” in Die Wagtoring van 15 Oktober 1992, bladsye 20-3.
Wat is jou antwoord?
◻ Hoe kan ons keer dat ons moed opgee as ander ons teleurstel of seermaak?
◻ Watter gebalanseerde beskouing van skuldgevoelens sal voorkom dat ons moed opgee?
◻ Wat verwag Jehovah van ons?
◻ Hoe kan beskeidenheid gemeentelike ouer manne help om nie moeg te word nie?
◻ Waarom is Paulus se raad in Hebreërs 12:3 vandag vir ons tydig?