Hulle het Jehovah se wil gedoen
’n Klein dogtertjie wat moedig gespreek het
GEDURENDE die tiende eeu v.G.J. was daar ’n gespanne verhouding tussen Israel en Sirië. Gevegte was so algemeen dat dit in die geskiedenis opgeteken is toe drie jaar sonder enige geweldpleging verloop het.—1 Konings 22:1, NW.
Die Siriese rowerbendes, waarvan party uit honderde soldate bestaan het, was destyds veral ’n bedreiging. Hierdie krygsmanne het die Israeliete dikwels aangeval en gestroop asook baie van hulle weggevoer en tot slawe gemaak—selfs kinders.
Tydens een strooptog is “’n klein dogtertjie” genadeloos van haar godvresende gesin af weggeneem (2 Konings 5:2, NW). Sy is na Sirië geneem, waar sy gedwing is om tussen mense te woon vir wie sy dalk bang was en wat sy moontlik vreemd gevind het—’n volk wat die son, maan, sterre, bome, plante en selfs klippe aanbid het. Hoe anders was hulle tog as haar familie en vriende, wat die enigste ware God, Jehovah, aanbid het! Maar selfs in hierdie onbekende omgewing het hierdie dogtertjie uitsonderlike moed aan die dag gelê wat die aanbidding van Jehovah betref. As gevolg hiervan het sy die lewe verander van ’n prominente amptenaar wat onder die koning van Sirië gedien het. Kom ons kyk hoe sy dit gedoen het.
Die moed om te spreek
Die Bybelverslag sê nie wat die klein dogtertjie se naam was nie. Sy het ’n diensmeisie van die vrou van Naäman, ’n dapper leërowerste onder koning Benhadad II, geword (2 Konings 5:1, NW). Hoewel Naäman hooggeag is, het hy die weersinwekkende siekte melaatsheid gehad.
Miskien was dit die dogtertjie se eerbiedige gedrag wat Naäman se vrou beweeg het om haar in haar vertroue te neem. Die vrou het die dogtertjie moontlik gevra: ‘Wat doen hulle in Israel om melaatses te help?’ Hierdie Israelitiese meisie het nie geskroom nie om moedig te sê: “Ag, was my heer maar net by die profeet wat in Samaria is, dan sou hy sy melaatsheid wegneem.”—2 Konings 5:3.
Hierdie dogtertjie se woorde is nie as kinderfantasie verwerp nie. Inteendeel, koning Benhadad is hiervan vertel, en hy het Naäman en ander op ’n 150 kilometer lange reis na Samaria gestuur om na hierdie profeet te gaan soek.—2 Konings 5:4, 5, NW.
Die genesing van Naäman
Naäman en sy manne het na koning Joram van Israel gegaan met ’n bekendstellingsbrief van Benhadad en ’n groot geldgeskenk. Dit is nie verbasend nie dat koning Joram, wat kalfaanbidding beoefen het, nie dieselfde geloof in God se profeet as die diensmeisie geopenbaar het nie. Pleks daarvan het hy gedink dat Naäman moeilikheid kom soek het. Toe God se profeet Elisa van Joram se agterdogtigheid hoor, het hy onmiddellik ’n boodskap gestuur en die koning gevra om Naäman na sy huis te stuur.—2 Konings 5:6-8.
Toe Naäman by Elisa se huis aankom, het die profeet ’n boodskapper uitgestuur wat vir hom gesê het: “Was jou sewe maal in die Jordaan; dan sal jou vlees terugkeer, en jy sal rein wees” (2 Konings 5:9, 10). Naäman was woedend. Aangesien hy verwag het dat sy genesing wonderdadig en met groot vertoon sou plaasvind, het hy gevra: “Is Abana en Farpar, die riviere van Damaskus, nie beter as al die waters van Israel nie? Kon ek my nie daarin was en rein word nie?” Naäman het vererg van Elisa se huis af weggegaan. Maar nadat Naäman se dienaars met hom geredeneer het, het hy uiteindelik toegegee. Ná hy hom sewe maal in die Jordaanrivier gewas het, ‘het sy vlees teruggekeer soos die vlees van ’n jong seun, en hy het rein geword’.—2 Konings 5:11-14.
Naäman het na Elisa teruggegaan en gesê: “Kyk, nou weet ek dat daar geen God op die hele aarde is nie, behalwe in Israel.” Naäman het ’n gelofte gedoen dat hy “nie meer brandoffer of slagoffer aan ander gode [sal] bring nie as net aan [Jehovah, NW]”.—2 Konings 5:15-17.
Lesse vir ons
Naäman sou nie na die profeet Elisa gegaan het as ’n jong diensmeisie nie moedig gespreek het nie. Vandag tree baie jongmense op soortgelyke wyse op. By die skool is hulle dalk tussen leerlinge wat glad nie daarin belangstel om God te dien nie. Nietemin praat hulle oor dit waaraan hulle glo. Party begin dit al op ’n buitengewone jong ouderdom doen.
Neem byvoorbeeld Alexandra, ’n vyfjarige dogtertjie in Australië. Toe sy vir die eerste keer skool toe is, het haar moeder ’n afspraak met haar onderwyseres gemaak om die opvattings van Jehovah se Getuies aan haar te verduidelik. Maar daar het ’n verrassing op Alexandra se moeder gewag. “Ek is reeds met ’n aantal van julle opvattings vertroud, asook met wat Alexandra by die skool sal en nie sal doen nie”, het die onderwyseres gesê. Alexandra se moeder was verbaas, aangesien daar geen ander Getuiekinders in die skool was nie. “Alexandra het met ons gepraat”, het die onderwyseres verduidelik. Ja, hierdie klein dogtertjie het alreeds ’n taktvolle bespreking met haar onderwyseres gehad.
Sulke jonges spreek met vrymoedigheid. Sodoende tree hulle in ooreenstemming met Psalm 148:12, 13 op: “Jongelinge en ook jongedogters, oues saam met die jonges—laat hulle die Naam van die HERE loof! Want sy Naam alleen is hoog; sy majesteit is oor aarde en hemel!”