Die slang se saad—Hoe is dit aan die kaak gestel?
“Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad.”—GENESIS 3:15.
1. (a) Waarom is Jehovah die gelukkige God? (b) Wat het hy gedoen om ons in staat te stel om in sy vreugde te deel?
JEHOVAH is tereg die gelukkige God. Hy is die grootste en vernaamste Gewer van goeie gawes, en daar is niks wat die vervulling van sy voornemens kan dwarsboom nie (Jesaja 55:10, 11; 1 Timoteus 1:11; Jakobus 1:17). Hy wil hê dat sy knegte in sy vreugde moet deel, en hy voorsien hulle van goeie redes om dit te doen. Daarom het hy tydens een van die donkerste tye in die mensegeskiedenis—die opstand in Eden—die grondslag voorsien sodat ons met hoop na die toekoms kan uitsien.—Romeine 8:19-21.
2. Hoe het Jehovah vir Adam en Eva se nageslag ’n grondslag vir hoop voorsien toe hy oordeel oor die rebelle in Eden uitgespreek het?
2 Een van Jehovah se geesseuns het homself op daardie tydstip Satan die Duiwel gemaak deur God teë te staan en te belaster. Die eerste mense, Eva en daarna Adam, het onder sy invloed gekom en Jehovah se duidelik uiteengesette wet oortree. Hulle is tereg ter dood veroordeel (Genesis 3:1-24). Toe Jehovah oordeel oor hierdie rebelle uitgespreek het, het hy nietemin vir Adam en Eva se nageslag ’n grondslag vir hoop voorsien. Hoe? Soos in Genesis 3:15 opgeteken staan, het Jehovah gesê: “Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hy sal jou die kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen byt.” Daardie profesie is ’n leidraad om die hele Bybel te verstaan, asook gebeure van die hede en die verlede waarby die wêreld sowel as Jehovah se knegte betrokke is.
Wat die profesie beteken
3. Identifiseer die volgende in Genesis 3:15 (a) die Slang, (b) “die vrou”, (c) die Slang se “saad”, (d) die vrou se “saad”.
3 Laat ons na die verskillende dele van die profesie self kyk om die betekenis daarvan te begryp. In Genesis 3:15 is die een wat aangespreek word die Slang—nie die nietige slang nie, maar die een wat die slang gebruik het (Openbaring 12:9). “Die vrou” is nie Eva nie, maar Jehovah se hemelse organisasie, die moeder van sy geesgesalfde knegte op aarde (Galasiërs 4:26). Die Slang se “saad” is Satan se saad, sy nageslag—demone en mense sowel as menseorganisasies wat die eienskappe van Satan aan die dag lê en wat vyandskap teenoor die “saad” van die vrou openbaar (Johannes 15:19; 17:15). Die vrou se “saad” is in die eerste plek Jesus Christus, wat in 29 G.J. met heilige gees gesalf is. Die 144 000, wat “weer gebore word . . . uit water en gees” en wat saam met Christus erfgename van die hemelse Koninkryk is, is ’n sekondêre deel van daardie saad van die belofte. Van Pinkster 33 G.J. af is hulle by die vrou se Saad gevoeg.—Johannes 3:3, 5; Galasiërs 3:16, 29.
4. Hoe hou Genesis 3:15 verband met die feit dat die aarde ’n paradys gaan word, gevul met mense wat vry is van sonde en die dood?
4 Die letterlike slang in Eden is as ’n mondstuk gebruik deur die een wie se bedrog daartoe gelei het dat die mens die Paradys verloor het. Genesis 3:15 het heen gewys na die tyd wanneer die een wat daardie slang gebruik het, vermorsel sal word. Dan sal dit weer eens vir menslike knegte van God moontlik wees om in die Paradys te woon, vry van sonde en die dood. Wat ’n vreugdevolle tyd sal dit tog wees!—Openbaring 20:1-3; 21:1-5.
5. Watter eienskappe kenmerk die geestelike nageslag van die Duiwel?
5 Ná die opstand in Eden het individue en organisasies te voorskyn begin kom wat eienskappe soos dié van Satan die Duiwel aan die dag gelê het—opstandigheid, leuens, laster en moord gepaard met teenstand teen Jehovah se wil en diegene wat Jehovah aanbid. Daardie eienskappe het die nageslag, die geestelike kinders, van die Duiwel geïdentifiseer. Onder hulle was Kain, wat Abel vermoor het toe Jehovah Abel se aanbidding goedgekeur het en nie dié van Kain nie (1 Johannes 3:10-12). Nimrod, wie se naam hom as ’n rebel geïdentifiseer het, het ’n geweldige jagter en heerser in verset teen Jehovah geword (Genesis 10:9, NW). Daarbenewens was daar ’n opeenvolging van eertydse koninkryke, onder andere Babilon, met hulle godsdienste wat deur die staat ondersteun is en op onwaarhede gegrond was, en hulle het die aanbidders van Jehovah wreed verdruk.—Jeremia 50:29.
“Vyandskap tussen jou en die vrou”
6. Op watter maniere het Satan vyandskap teenoor Jehovah se vrou geopenbaar?
6 Gedurende al hierdie tyd was daar vyandskap tussen die Slang en Jehovah se vrou, tussen Satan die Duiwel en Jehovah se hemelse organisasie van lojale geesskepsele. Satan se vyandskap is geopenbaar deurdat hy Jehovah uitgetart het en Jehovah se hemelse organisasie probeer omverwerp het deur engele te verlok om hulle gepaste woonplek te verlaat (Spreuke 27:11; Judas 6). Dit is geopenbaar toe Satan sy demone gebruik het om engeleboodskappers te probeer keer wat deur Jehovah uitgestuur is (Daniël 10:13, 14, 20, 21). Dit was veral opvallend gedurende hierdie 20ste eeu toe Satan die Messiaanse Koninkryk by sy geboorte probeer vernietig het.—Openbaring 12:1-4.
7. Waarom was Jehovah se lojale engele vyandiggesind teenoor die simboliese Slang, maar waarvan het hulle hulle weerhou?
7 Daar was ook vyandskap aan die kant van Jehovah se vrou, die liggaam van lojale engele, teenoor die simboliese Slang. Satan het God se goeie naam belaster; hy het ook die onkreukbaarheid van al God se intelligente skepsele in twyfel getrek, ook dié van al die engele, en hy het daadwerklik probeer om hulle lojaliteit aan God te ondermyn (Openbaring 12:4a). Lojale engele, gerubs en serafs kon nie anders as om die een wat homself Duiwel en Satan gemaak het te verafsku nie. Hulle het nietemin op Jehovah gewag om sake op sy eie tyd en manier te hanteer.—Vergelyk Judas 9.
Vyandskap teenoor die saad van God se vrou
8. Na wie was Satan op die uitkyk?
8 Intussen was Satan op die uitkyk na die voorspelde Saad van die vrou, die een wat Jehovah gesê het die Slang se kop sal vermorsel. Toe die engel uit die hemel aangekondig het dat Jesus, wat in Betlehem gebore is, die ‘Redder is, wat Christus die Here is’, was dit deurslaggewende bevestiging dat hy die voorspelde Saad van die vrou sou word.—Lukas 2:10, 11.
9. Hoe het Satan ná Jesus se geboorte boosaardige vyandskap geopenbaar?
9 Die boosaardige vyandskap van Satan het gou duidelik geword toe hy heidense sterrewiggelaars op ’n sending gelei het wat hulle eers na koning Herodes in Jerusalem geneem het en toe na die huis in Betlehem waar hulle die seuntjie Jesus en sy moeder, Maria, gevind het. Kort daarna het koning Herodes beveel dat al die seuntjies van twee jaar en daaronder in en om Betlehem doodgemaak word. Hierdeur het Herodes sataniese haat teenoor die Saad getoon. Herodes het blykbaar baie goed geweet dat hy die lewe probeer vernietig van die een wat die Messias sou wees (Matteus 2:1-6, 16). Die geskiedenis bevestig dat koning Herodes gewetenloos, slu en moorddadig was—gewis een van die Slang se saad.
10. (a) Hoe het Satan self ná Jesus se doop probeer om Jehovah se voorneme met betrekking tot die beloofde Saad te dwarsboom? (b) Hoe het Satan die Joodse godsdiensleiers gebruik om sy doel te probeer bereik?
10 Nadat Jesus in 29 G.J. met heilige gees gesalf is en nadat Jehovah uit die hemel gepraat het en Jesus as sy Seun erken het, het Satan herhaaldelik probeer om Jesus voor versoeking te laat swig, en sodoende het hy Jehovah se voorneme met betrekking tot sy Seun probeer dwarsboom (Matteus 4:1-10). Toe hy nie daarin kon slaag nie, het Satan weer sy toevlug tot menslike agente geneem om sy doel te bereik. Die huigelagtige godsdiensleiers was onder diegene wat hy gebruik het om Jesus in onguns te probeer bring. Hulle het gebruik gemaak van leuens en laster, die middele wat Satan self ook gebruik. Toe Jesus vir ’n verlamde man gesê het: “Skep moed, . . . jou sondes is vergewe”, het die skrifgeleerdes, sonder dat hulle gewag het om te sien of die man wel genees is, gesê dat Jesus ’n lasteraar is (Matteus 9:2-7). Toe Jesus mense op die Sabbat genees het, het die Fariseërs hom as ’n verbreker van die Sabbatwet veroordeel en beraadslaag om hom dood te maak (Matteus 12:9-14; Johannes 5:1-18). Toe Jesus demone uitgedryf het, het die Fariseërs hom daarvan beskuldig dat hy kop in een mus is met “Beëlsebub, die heerser van die demone” (Matteus 12:22-24). Nadat Lasarus uit die dood opgewek is, het baie mense geloof in Jesus gestel, maar die hoofpriesters en die Fariseërs het weer eens beraadslaag om hom dood te maak.—Johannes 11:47-53.
11. Wie is deur Jesus drie dae voor sy dood as deel van die Slang se saad geïdentifiseer, en waarom?
11 Op 11 Nisan 33 G.J. het Jesus, hoewel hy deeglik van hulle planne bewus was, onbevrees tot in die tempelgebied in Jerusalem gegaan en daar in die openbaar oordeel oor hulle uitgespreek. As ’n groep het die skrifgeleerdes en Fariseërs herhaaldelik getoon watter soort mense hulle was; daarom het Jesus gesê: “Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! want julle sluit die koninkryk van die hemele toe voor die mense; want julle gaan self nie in nie, en ook laat julle dié wat op pad in is nie toe om in te gaan nie.” Jesus het uitdruklik gesê dat hulle ’n deel van die saad van die Slang is en gesê: “Slange, addergebroedsel, hoe sal julle die oordeel van Gehenna ontvlug?” (Matteus 23:13, 33). Sy taal verwys terug na die profesie in Genesis 3:15.
12, 13. (a) Hoe het die hoofpriesters en die skrifgeleerdes verdere bewys gelewer van wie hulle geestelike vader was? (b) Wie het by hulle aangesluit? (c) Hoe was die vrou se Saad ter vervulling van Genesis 3:15 in die hakskeen gebyt?
12 Was hulle, toe hulle Jesus se woorde gehoor het, diep getref sodat hulle God om barmhartigheid gesmeek het? Het hulle oor hulle goddeloosheid berou gehad? Nee! Net die volgende dag, volgens Markus 14:1, tydens ’n vergadering in die voorhof van die hoëpriester, het “die hoofpriesters en die skrifgeleerdes . . . ’n manier gesoek om [Jesus] deur ’n slinkse plan gevange te neem en dood te maak”. Hulle het voortgegaan om die moorddadige gees van Satan te openbaar, van wie Jesus vroeër as ’n mensemoordenaar gepraat het (Johannes 8:44). Nie lank hierna nie het Judas Iskariot, wat deur Satan verlei is om afvallig te word, by hulle aangesluit. Judas het die skuldelose Saad van God se vrou die rug toegekeer en by die saad van die Slang aangesluit.
13 Vroeg op die oggend van 14 Nisan het die lede van die Joodse godsdienshof Jesus as ’n gevangene na die Romeinse goewerneur geneem. Nou was dit die hoofpriesters wat die voortou geneem het en geskreeu het dat hy aan die paal gehang moes word. Toe Pilatus gevra het: “Moet ek julle koning aan die paal hang?” was dit die hoofpriesters wat geantwoord het: “Ons het geen koning behalwe Caesar nie” (Johannes 19:6, 15). Hulle het inderdaad in elke opsig getoon dat hulle ’n deel van die saad van die Slang was. Maar hulle was beslis nie die enigstes nie. Die geïnspireerde verslag sê in Matteus 27:24, 25: ‘Pilatus het water geneem en sy hande voor die skare gewas.’ Toe het al die mense gesê: “Laat sy bloed op ons en op ons kinders kom.” Baie Jode van daardie geslag het hulleself gevolglik as deel van die Slang se saad geïdentifiseer. Voor daardie dag om was, was Jesus dood. Deur sy sigbare saad te gebruik, het Satan die Saad van God se vrou in die hakskeen gebyt.
14. Waarom het die feit dat die vrou se Saad in die hakskeen gebyt is, nie beteken dat Satan die oorwinning behaal het nie?
14 Het Satan die oorwinning behaal? Beslis nie! Jesus Christus het die wêreld en sy heerser oorwin (Johannes 14:30, 31; 16:33). Hy het sy lojaliteit teenoor Jehovah tot die dood gehandhaaf. Sy dood as ’n volmaakte mens het die losprys voorsien wat nodig was om die lewensreg terug te koop wat Adam verloor het. Hy het dus die ewige lewe moontlik gemaak vir diegene wat geloof in daardie voorsiening sou beoefen en God se bevele sou gehoorsaam (Matteus 20:28; Johannes 3:16). Jehovah het Jesus uit die dood tot onsterflike lewe in die hemel opgewek. Op Jehovah se bestemde tyd sal Jesus Satan heeltemal verbrysel. In Genesis 22:16-18 word daar geprofeteer dat Jehovah guns sal betoon aan al die families van die aarde wat die nodige stappe doen om hulleself deur middel van daardie lojale Saad te seën.
15. (a) Hoe het Jesus se apostels voortgegaan om ná sy dood die saad van die Slang aan die kaak te stel? (b) Watter verdere vyandskap is reg tot in ons dag deur die saad van die Slang geopenbaar?
15 Ná Jesus se dood het die geesgesalfde Christene voortgegaan om die saad van die Slang aan die kaak te stel, soos hulle Here gedoen het. Die apostel Paulus is deur heilige gees beweeg om die Christene te waarsku teen “die mens van wetteloosheid” wie se teenwoordigheid “volgens die werking van Satan” sou wees (2 Tessalonisense 2:3-10). Hierdie saamgestelde “mens” is die geestelikes van die Christendom. Die saad van die Slang het op sy beurt die volgelinge van Jesus Christus wreed vervolg. In die profesie in Openbaring 12:17 het die apostel Johannes voorspel dat Satan sou aanhou om reg tot in ons dag teen die oorblyfsel van die saad van God se vrou oorlog te voer. Dit is presies wat gebeur het. In talle lande is Jehovah se Getuies verbied, aangeval, in die tronk gesit of in konsentrasiekampe gegooi weens die ferm standpunt wat hulle vir God se Koninkryk en sy regverdige weë ingeneem het.
Hoe die Slang se saad in ons dag aan die kaak gestel is
16. Wie is in hedendaagse tye as deel van die saad van die Slang aan die kaak gestel, en hoe?
16 In navolging van Jesus Christus het ware Christene onbevrees voortgegaan om die Slang en sy saad aan die kaak te stel. In 1917 het die Bybelstudente, soos Jehovah se Getuies destyds bekend gestaan het, die boek The Finished Mystery uitgegee, waarin hulle die huigelary van die Christendom se geestelikes aan die kaak gestel het. Vervolgens is ’n gedrukte resolusie met die titel Ecclesiastics Indicted in 1924 uitgegee. Vyftigmiljoen eksemplare is in etlike lande versprei. In 1937 het J. F. Rutherford, die destydse president van die Wagtoringgenootskap, Satan se saad op kragtige wyse aan die kaak gestel in toesprake met die titels “Blootgelê” en “Religie en Christendom”. Die volgende jaar, terwyl gehore by 50 streekbyeenkomste in verskillende lande geluister het, het hy die toespraak “Hou rekening met die feite” deur middel van radiotelefoon vanaf Londen, Engeland, gehou. ’n Maand later het ’n uitgebreide radionetwerk in die Verenigde State die toespraak “Fascisme of vryheid” uitgesaai. Dit is aangevul deur kragtige blootleggings in boeke soos Vyande en Religie asook in die boekie Blootgelê. In ooreenstemming met wat sedert die twintigerjare gepubliseer is, toon die boek Openbaring—Sy groot klimaks is ophande!,a wat nou in 65 tale uitgegee word, dat korrupte politieke leiers en hebsugtige, beginsellose kommersiële uitbuiters ook onder die vernaamste lede van die sigbare saad van die Slang tel. Wanneer politieke leiers ’n gewoonte daarvan maak om hulle onderdane met onwaarhede te mislei, geen ontsag vir die heiligheid van bloed te toon nie en Jehovah se knegte te onderdruk (en sodoende haat teenoor die saad van God se vrou openbaar), toon hulle onteenseglik dat hulle ’n deel van die saad van die Slang is. Dieselfde geld vir kommersiële uitbuiters wat, sonder enige gewetenswroeging, leuens vertel om finansiële wins te maak, wat produkte vervaardig of verkoop wat daarvoor bekend is dat dit siektes veroorsaak.
17. Watter geleentheid kan vername persone wat dalk uit die wêreld se stelsel kom nog benut?
17 Nie elke persoon wat deur wêreldse godsdiens, politiek of handel besmet is, sal uiteindelik as deel van die saad van die Slang beskou word nie. Party van hierdie manne en vroue bewonder Jehovah se Getuies. Hulle gebruik hulle invloed om die Getuies te help, en mettertyd begin hulle ware aanbidding beoefen. (Vergelyk Handelinge 13:7, 12; 17:32-34.) Op al sulkes is hierdie beroep gedoen: “Wees dan nou verstandig, o konings; laat julle waarsku, o regters van die aarde! Dien die HERE met vrees, en juig met bewing. Kus die Seun, dat Hy nie toornig word en julle op die weg vergaan nie; want gou kan sy toorn ontvlam. Welgeluksalig is almal wat by Hom skuil!” (Psalm 2:10-12). Dit is inderdaad noodsaaklik dat almal wat graag Jehovah se guns wil hê nou daadwerklik optree, voordat die hemelse Regter die deur van geleentheid toemaak!
18. Wie is nietemin aanbidders van Jehovah, hoewel hulle nie deel van die saad van die vrou is nie?
18 Net diegene wat die hemelse Koninkryk sal uitmaak, is deel van die saad van die vrou. Hulle is maar min (Openbaring 7:4, 9). Daar is egter ’n groot skare ander, ja, miljoene van hulle, wat as aanbidders van Jehovah na ewige lewe op ’n paradysaarde uitsien. In woord en in daad sê hulle vir Jehovah se gesalfdes: “Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor dat God met julle is.”—Sagaria 8:23.
19. (a) Watter keuse moet alle mense maak? (b) Op wie word daar veral ’n ernstige beroep gedoen om met wysheid op te tree terwyl die geleentheid nog daar is?
19 Dit is nou die tyd wanneer die hele mensdom moet kies. Wil hulle Jehovah aanbid en sy soewereiniteit ondersteun of gaan hulle Satan toelaat om hulle heerser te wees deur te doen wat hom behaag? Saam met die oorblyfsel van die vrou se saad, die Koninkrykserfgename, het sowat vyfmiljoen mense uit alle nasies Jehovah se kant gekies. Agtmiljoen ander het belangstelling getoon deur die Bybel saam met hulle te studeer of deur hulle vergaderinge by te woon. Aan hulle almal sê Jehovah se Getuies: Die deur van geleentheid is nog steeds oop! Neem julle standpunt onteenseglik aan Jehovah se kant in. Erken Christus Jesus as die beloofde Saad. Gaan vreugdevol om met Jehovah se sigbare organisasie. Mag julle al die seëninge geniet wat Hy deur middel van die heerskappy van die Koning, Christus Jesus, sal voorsien.
[Voetnoot]
a Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
Onthou jy?
◻ Wie is die Slang waarna daar in Genesis 3:15 verwys word? En wie is die vrou?
◻ Watter eienskappe kenmerk die saad van die Slang?
◻ Hoe het Jesus die Slang se saad aan die kaak gestel?
◻ Wie is in hedendaagse tye as deel van die Slang se saad aan die kaak gestel?
◻ Watter dringende optrede is nodig sodat ’n mens nie met die Slang se saad geassosieer word nie?
[Prent op bladsy 10]
Jesus het huigelagtige godsdiensleiers as deel van die saad van die Slang aan die kaak gestel