Wat beteken dit om God lief te hê?
ONGEVEER sesduisend jaar gelede is die eerste mensebaba gebore. Ná sy geboorte het sy moeder, Eva, gesê: “Ek het ’n man verkry met die hulp van die HERE” (Genesis 4:1). Eva se woorde gee te kenne dat sy en haar man, Adam, hoewel hulle reeds weens hulle opstand ter dood veroordeel was, steeds van Jehovah se Godheid bewus was. Later het hulle ’n tweede seun gehad. Die seuns is Kain en Abel genoem.
Terwyl die seuns grootgeword het, het hulle ongetwyfeld baie van Jehovah se liefde geleer deur bloot na sy skepping te kyk. Hulle het die pragtige kleure in die natuur asook die verskeidenheid diere en plante geniet. God het hulle nie alleen die lewe gegee nie, maar hy het hulle ook die vermoë gegee om die lewe te geniet.
Hulle het geleer dat hulle ouers volmaak geskep is en dat dit Jehovah se oorspronklike voorneme was dat mense vir ewig moes lewe. Adam en Eva het waarskynlik die pragtige tuin van Eden aan hulle beskryf, en op die een of ander manier moes hulle verduidelik het waarom hulle uit so ’n paradysagtige tuiste gesit is. Kain en Abel was dalk ook bewus van die Goddelike profesie wat in Genesis 3:15 opgeteken is. Deur middel van daardie profesie het Jehovah sy voorneme bekend gemaak om sake op sy bestemde tyd reg te stel tot voordeel van diegene wat hom liefhet en lojaal aan hom is.
Toe Kain en Abel van Jehovah en sy eienskappe geleer het, moes dit by hulle ’n begeerte na God se guns gewek het. Hulle het Jehovah gevolglik genader deur offers aan hom te bring. Die Bybelverslag sê: “Ná verloop van tyd het Kain van die vrugte van die land aan die HERE ’n offer gebring. En Abel het ook van die eersgeborenes van sy kleinvee gebring, naamlik van hulle vet.”—Genesis 4:3, 4.
Hulle begeerte na God se guns het ’n grondslag vir ’n verhouding met hom gelê. Kain het op die ou end teen God in opstand gekom, terwyl Abel steeds deur ware liefde vir God aangespoor is. Abel sou nooit so ’n verhouding met God aangekweek het tensy hy eers kennis van Jehovah se persoonlikheid en sy voornemens opgedoen het nie.
Jy kan ook Jehovah leer ken. Byvoorbeeld, in die Bybel kan jy leer dat God ’n werklike persoon is, nie net ’n lewelose krag wat bloot per toeval dinge skep nie. (Vergelyk Johannes 7:28; Hebreërs 9:24; Openbaring 4:11.) Die Bybel leer ook dat Jehovah ‘’n barmhartige en genadige God is, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou’.—Exodus 34:6.
“Om gehoorsaam te wees is beter as slagoffer”
Soos die verslag van Kain en Abel toelig, is kennis van God en ’n begeerte na ’n hegte verhouding met hom nie genoeg nie. Die twee broers het weliswaar offers aan God gebring. Tog sê die verslag: “Die HERE het Abel en sy offer genadig aangesien, maar Kain en sy offer nie aangesien nie. Toe word Kain baie kwaad, en hy het sy hoof laat hang.”—Genesis 4:3-5.
Waarom het Jehovah Kain se offer verwerp? Was daar iets fout met die gehalte van sy offer? Het Kain Jehovah mishaag omdat hy die “vrugte van die land” pleks van ’n diereoffer gebring het? Nie noodwendig nie. Later het God met graagte offers van graan en ander vrugte van die land van baie van sy aanbidders aanvaar (Levitikus 2:1-16). Daar was dus blykbaar iets fout met Kain se hart. Jehovah kon Kain se hart lees, en hy het hom gewaarsku: “Waarom is jy kwaad, en waarom laat jy jou hoof hang? Is daar nie verheffing as jy goed doen nie? En as jy nie goed doen nie—die sonde lê en loer voor die deur, en sy begeerte is na jou.”—Genesis 4:6, 7.
Ware liefde vir God behels meer as om net offers te bring. Dit is waarom Jehovah Kain aangemoedig het ‘om goed te doen’. God wou gehoorsaamheid hê. Sulke gehoorsaamheid aan God sou Kain gehelp het om ’n goeie grondslag vir ’n liefdevolle verhouding met die Skepper te lê. Die Bybel beklemtoon die waarde van gehoorsaamheid met hierdie woorde: “Het die HERE behae in brandoffers en slagoffers soos in gehoorsaamheid aan die stem van die HERE? Kyk, om gehoorsaam te wees is beter as slagoffer, om te luister beter as die vet van ramme.”—1 Samuel 15:22.
Hierdie begrip is later verder versterk met die woorde in 1 Johannes 5:3: “Dít is wat die liefde vir God beteken, dat ons sy gebooie onderhou; en tog is sy gebooie nie swaar nie.” Daar is geen beter manier om ons liefde vir Jehovah te betoon as om ons aan sy gesag te onderwerp nie. Dit beteken gehoorsaamheid aan die Bybel se sedewette (1 Korintiërs 6:9, 10). Dit beteken dat ons die goeie moet liefhê en die kwaad moet haat.—Psalm 97:10; 101:3; Spreuke 8:13.
Een belangrike manier waarop ons ons liefde vir God toon, is deur ons liefde vir ons naaste. Die Bybel sê vir ons: “As iemand die bewering maak: ‘Ek het God lief’, en tog sy broer haat, is hy ’n leuenaar. Want hy wat sy broer, wat hy gesien het, nie liefhet nie, kan nie God liefhê, wat hy nie gesien het nie.”—1 Johannes 4:20.
Intimiteit met God is moontlik
Party sê dalk: ‘Ek aanbid Jehovah. Ek gehoorsaam sy wette. Ek behandel my medemens regverdig. Ek doen al hierdie dinge. Nogtans voel ek nie werklik na aan God nie. Ek voel nie ’n innige liefde vir hom nie, en dit laat my skuldig voel.’ Party meen dalk dat hulle nie waardig is om so ’n intieme verhouding met Jehovah te verkry nie.
Ná byna 37 jaar van toegewyde diens aan Jehovah het ’n Christen geskryf: “Ek het al baie kere in my lewe gevoel dat my diens aan Jehovah ietwat meganies is en dat ek dit miskien nie eens uit my hart doen nie. Maar ek het geweet dat om Jehovah te dien die regte ding is om te doen, en ek sou myself nie toelaat om op te hou nie. Maar elke keer wanneer ek van iemand gelees het wat sê dat sy of haar ‘hart oorloop van liefde vir Jehovah’ sou ek my afvra: ‘Wat is fout met my, aangesien ek nog nooit so gevoel het nie?’” Hoe kan ons intimiteit met God verkry?
Wanneer ’n mens iemand werklik liefhet, dink jy dikwels oor daardie persoon. Jy het ’n sterk begeerte om na aan hom te wees omdat jy vir hom omgee. Hoe meer jy hom sien, met hom praat en oor hom dink, hoe groter word jou liefde vir hom. Hierdie beginsel geld ook vir die liefde wat jy vir God aankweek.
In Psalm 77:13 sê die geïnspireerde skrywer: “[Ek wil] al u werk oordink, en ek wil peins oor u dade.” Bepeinsing is noodsaaklik as ’n mens liefde vir God wil aankweek. Dit is veral waar in die lig van die feit dat hy onsigbaar is. Maar hy sal ’n groter werklikheid vir jou word namate jy meer oor hom dink. Slegs dan kan jy ’n opregte en liefdevolle verhouding met hom aankweek—omdat hy vir jou ’n werklikheid is.
Jou geneigdheid om gereeld oor Jehovah se weë en dade te peins, sal afhang van hoe dikwels jy na hom luister. ’n Mens luister deur sy Woord, die Bybel, gereeld te lees en te bestudeer. Die psalmis praat van ’n gelukkige man as iemand wie se ‘behae in die wet van die HERE is, en wat sy wet dag en nag oordink’.—Psalm 1:1, 2.
Nog ’n belangrike faktor is gebed. Dit is waarom die Bybel ons herhaaldelik aanspoor om te bid—“by elke geleentheid”, ‘om tyd aan gebed te wy’, ‘om vol te hou met gebed’ en ‘onophoudelik te bid’ (Efesiërs 6:18; 1 Korintiërs 7:5; Romeine 12:12; 1 Tessalonisense 5:17). Ons onophoudelike gebede tot Jehovah sal ons gelief by hom maak, en die versekering dat hy luister, sal ons nader aan hom laat kom. Dit is deur die psalmis bevestig toe hy gesê het: “Ek het lief, want die HERE hoor my stem, my smekinge, want Hy het sy oor tot my geneig; daarom sal ek Hom in my dae aanroep.”—Psalm 116:1, 2.
Volg die God van liefde na
Jehovah is goed vir ons. Aangesien hy die Skepper van die heelal is, het hy sekerlik baie dinge om aan te dink en voor te sorg. Nogtans vertel die Bybel ons dat hy ondanks sy grootsheid steeds vir sy menseskepping omgee. Hy het ons lief (1 Petrus 5:6, 7). Die psalmis bevestig dit met sy woorde: “O [Jehovah, NW], onse Here, hoe heerlik is u Naam op die ganse aarde! U wat u majesteit gelê het op die hemele. As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre wat U toeberei het—wat is die mens dat U aan hom dink, en die mensekind dat U hom besoek?”—Psalm 8:2, 4, 5.
Hoe het Jehovah aan die mens gedink? Die Bybel antwoord: “Hierdeur is die liefde van God in ons geval openbaar gemaak, want God het sy enigverwekte Seun in die wêreld uitgestuur sodat ons deur hom die lewe kan verkry. Hierin lê die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat hy ons liefgehad en sy Seun uitgestuur het as ’n soenofferande vir ons sondes.”—1 Johannes 4:9, 10.
Hoe is hierdie soenofferande die grootste blyk van God se liefde? Kom ons kyk na wat in die tuin van Eden gebeur het. Adam en Eva moes besluit of hulle hulle aan Jehovah se wet sou onderwerp wat die vooruitsig op volmaakte lewe vir ewig sou inhou en of hulle teen Jehovah in opstand sou kom wat die dood tot gevolg sou hê. Hulle het gekies om in opstand te kom (Genesis 3:1-6). Deur dit te doen, het hulle ook die hele mensdom ter dood veroordeel (Romeine 5:12). Hulle het ons op aanmatigende wyse van die geleentheid beroof om vir onsself te besluit. Geeneen van ons het seggenskap in die saak gehad nie.
Jehovah het egter liefdevol aan die mens gedink en sy verknorsing besef. Deur die offerdood van Sy Seun, Jesus Christus, het Jehovah die regsgronde voorsien sodat ons elkeen self tussen die lewe en die dood, gehoorsaamheid en opstand, kan kies (Johannes 3:16). Dit is asof Jehovah ons die geleentheid gebied het om self in die hof te verskyn—’n geleentheid om as ’t ware terug na Eden te gaan en vir onsself te besluit. Dit is die grootste liefdeblyk nog.
Dink net aan die pyn wat Jehovah verduur het terwyl hy gesien het hoe sy eersgeborene beledig, gemartel en soos ’n misdadiger aan ’n paal gehang word. En God het dit om ons onthalwe verduur. Ons bewustheid van die inisiatief wat Jehovah aan die dag gelê het deur ons eerste lief te hê, behoort ons op ons beurt aan te spoor om hom lief te hê en ons aan te moedig om hom te soek (Jakobus 1:17; 1 Johannes 4:19). Die Bybel nooi ons: “Vra na die HERE en sy sterkte; soek sy aangesig altyddeur. Dink aan sy wonders wat Hy gedoen het, aan sy wondertekens en die oordele van sy mond.”—Psalm 105:4, 5.
Om ’n persoonlike gehegtheid aan God en ’n liefdevolle verhouding met hom te hê, om sy vriend te wees, is nie onrealisties nie. Dit is moontlik. Dit is waar dat ons streng gesproke nie ons liefde vir God met menseverhoudings kan gelykstel nie. Die liefde wat ons vir ons huweliksmaat, ouers, broers en susters, kinders of vriende voel, verskil van die liefde wat ons vir God het (Matteus 10:37; 19:29). Om Jehovah lief te hê, behels ons toegewydheid, aanbidding en ’n onvoorwaardelike toewyding aan hom (Deuteronomium 4:24, NW). Geen ander verhouding het sulke implikasies nie. Ons kan nogtans op eerbiedige wyse en met ontsag sterk en diepe gevoelens vir God aankweek.—Psalm 89:7, NW.
Hoewel jy onvolmaak is, het jy soos Kain en Abel die vermoë om vir jou Skepper lief te wees. Kain het sy keuse gedoen, by Satan aangesluit en die eerste mensemoordenaar geword (1 Johannes 3:12). Jehovah sal Abel daarenteen as ’n man van geloof en regverdigheid onthou, en hy sal met lewe in die komende Paradys beloon word.—Hebreërs 11:4.
Jy het ook ’n keuse. Met behulp van God se gees en sy Woord kan jy God werklik “met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag” leer liefkry (Deuteronomium 6:5). Jehovah sal op sy beurt aanhou om jou lief te hê, want hy is “die beloner . . . van dié wat hom ernstig soek”.—Hebreërs 11:6.
[Prent op bladsy 7]
Abel se offer was vir God aanneemlik