Vrae van lesers
Kan ons sê dat God se knegte van vandag wat die aardse hoop het net soveel van God se gees as geesgesalfde Christene het?
Dit is nie die eerste keer dat hierdie vraag gevra word nie. Dieselfde saak is in Die Wagtoring van 1 Julie 1952 se “Vrae van lesers” bespreek. Omdat baie sedertdien Getuies geword het, kan ons weer na die vraag kyk en terselfdertyd hersien wat daardie vroeëre artikel gesê het.
Die antwoord is in wese: Ja, getroue broers en susters van die ander skape kan net soveel van God se heilige gees as die gesalfdes ontvang.—Johannes 10:16.
Dit beteken natuurlik nie dat die gees op dieselfde manier op alle individue inwerk nie. Dink terug aan getroue knegte in voor-Christelike tye, wat beslis God se gees ontvang het. Met die krag van die gees het party van hulle wilde diere doodgemaak, siekes genees, selfs die dode opgewek. En hulle het die gees nodig gehad om die geïnspireerde Bybelboeke te skryf (Rigters 13:24, 25; 14:5, 6; 1 Konings 17:17-24; 2 Konings 4:17-37; 5:1-14). Die Wagtoring het gesê: “Hoewel nie van die gesalfde klas nie, was hulle met heilige gees gevul.”
Uit ’n ander oogpunt gesien, dink aan manne en vroue in die eerste eeu wat met die heilige gees gesalf is en sodoende geestelike seuns van God met die hemelse hoop geword het. Hulle almal was gesalf, maar dit beteken nie dat die gees daarna op dieselfde manier op hulle almal ingewerk het nie. Dit is duidelik te sien uit 1 Korintiërs hoofstuk 12. Daar het die apostel Paulus gawes van die gees bespreek. Ons lees in verse 8, 9 en 11: “Aan die een word daar . . . deur middel van die gees woorde van wysheid gegee, aan ’n ander woorde van kennis ooreenkomstig dieselfde gees, aan ’n ander geloof deur dieselfde gees, aan ’n ander gawes van gesondmaking deur daardie een gees. . . . Maar al hierdie werkinge word deur die een en dieselfde gees tot stand gebring, wat aan elkeen onderskeidelik uitdeel net soos dit wil.”
Dit is betekenisvol dat nie al die gesalfdes destyds wonderdadige gawes van die gees gehad het nie. In 1 Korintiërs hoofstuk 14 het Paulus melding gemaak van ’n gemeentelike vergadering waarin een persoon die gawe van tale gehad het, maar waar daar niemand teenwoordig was wat die gawe van vertaling gehad het nie. Elkeen van hulle is nietemin op ’n vroeëre tydstip met die gees gesalf. Sou dit redelik wees om te sê dat die broer wat die gawe van tale gehad het meer van die gees gehad het as die ander wat daar was? Nee. Daardie ander gesalfdes was nie minderbevoorreg in die sin dat hulle die Bybel nie so goed kon verstaan of beproewinge so goed kon verduur soos daardie een nie. Die gees het op ’n spesiale manier op die broer ingewerk wat in tale kon praat. Hy en die ander moes nogtans na aan Jehovah bly en ‘voortdurend met gees vervul word’, soos Paulus geskryf het.—Efesiërs 5:18.
Wat die gesalfdes van vandag betref, hulle het beslis God se gees ontvang. Op een tydstip het dit op ’n spesiale manier op hulle ingewerk—toe hulle gesalf en as geestelike seuns aangeneem is. Daarna ‘word hulle voortdurend met gees vervul’, en dit help hulle wanneer hulle die Bybel beter wil verstaan, die leiding in die predikingswerk neem of voor toetse te staan kom—persoonlik of organisatories.
Hoewel lede van die “ander skape” nie gesalf is nie, ontvang hulle wel heilige gees in ander opsigte. Die Wagtoring van 1 Julie 1952 het gesê:
“Die ‘ander skape’ verrig vandag dieselfde predikingswerk as die oorblyfsel, onder dieselfde moeilike omstandighede, en openbaar dieselfde getrouheid en onkreukbaarheid. Hulle eet aan dieselfde geestelike tafel, en eet dieselfde voedsel, en neem dieselfde waarhede in hulle op. Daar hulle van die aardse klas is, met aardse verwagtinge en ’n innige belangstelling in aardse dinge, mag hulle miskien meer in die skrifte met betrekking tot aardse toestande in die nuwe wêreld belangstel; terwyl die gesalfde oorblyfsel, met hemelse verwagtinge en sterk persoonlike belangstelling in die dinge van die gees, daardie dinge in God se Woord naarstiger mag bestudeer. . . . Nogtans bly die feit dat dieselfde waarhede en dieselfde begrip vir albei klasse beskikbaar is, en dit is maar net ’n kwessie van hoe die indiwidue hulle op die studie toespits wat die begrip van die hemelse en aardse dinge wat hulle verwerf, bepaal. Die Here se gees is in gelyke dele vir albei klasse beskikbaar, en kennis en begrip word aan albei in gelyke mate, met gelyke geleenthede om dit op te neem, aangebied.”