‘Julle moet heilig wees, want Ek is heilig’
“Heilig moet julle wees, want Ek, die HERE julle God, is heilig.”—LEVITIKUS 19:2.
1. Wie is sommige van die mense wat deur die wêreld as heilig beskou word?
IN DIE meeste groot godsdienste van die wêreld is daar mense wat as heilig beskou word. Moeder Teresa wat beroemd geraak het vir haar werk in Indië word dikwels as heilig beskou weens haar toegewydheid aan die armes. Die pous word die “Heilige Vader” genoem. Sommige Katolieke beskou José María Escrivá, die stigter van die hedendaagse Katolieke beweging Opus Dei, as ’n “model van heiligheid”. Hindoeïsme het sy swami’s, oftewel heilige manne. Gandhi is as ’n heilige man vereer. Boeddhisme het sy heilige monnike en Islam sy heilige profeet. Maar presies wat beteken dit om heilig te wees?
2, 3. (a) Wat beteken die woorde “heilig” en “heiligheid”? (b) Watter vrae moet beantwoord word?
2 Die woord “heilig” is al gedefinieer as “1. . . . wat verband hou met ’n goddelike krag. 2. Wat in die lig van aanbidding of verering beskou word of wat dit waardig is . . . 3. Om ooreenkomstig ’n streng of uiters sedelike godsdiens- of geestelike stelsel te lewe . . . 4. Bestem of afgesonder vir ’n godsdienstige doel.” In die Bybel beteken heiligheid “godsdienstige reinheid of vlekkeloosheid”. Volgens die Bybelnaslaanwerk Insight on the Scriptures “beteken die oorspronklike Hebreeuse [woord] qoʹdhesj afgesonderdheid, uitsluitlikheid of gewydheid aan God, . . . ’n toestand waarin jy afgesonderd is vir die diens van God”.a
3 Die nasie Israel is beveel om heilig te wees. God se Wet het gesê: “Ek is die HERE julle God; toon dan dat julle heilig is en wees heilig, want Ek is heilig.” Wie was die Bron van heiligheid? Hoe kon onvolmaakte Israeliete heilig word? En watter lesse kan ons vandag leer uit Jehovah se beroep op heiligheid?—Levitikus 11:44.
Die verband tussen Israel en die Bron van heiligheid
4. Hoe is Jehovah se heiligheid in Israel toegelig?
4 Alles wat met Israel se aanbidding van Jehovah God verband gehou het, moes as heilig beskou word en as sodanig behandel word. Waarom? Omdat Jehovah self die oorsprong en bron van heiligheid is. Moses se verslag oor die voorbereiding van die heilige tabernakel asook die ampsgewade en versierings sluit af met die woorde: “Ten slotte het hulle die blink plaat gemaak, die heilige toewydingsteken, van suiwer goud en ’n inskripsie met die graveerwerk van ’n seël daarop gegraveer: ‘Heiligheid behoort aan Jehovah.’” Hierdie blink plaat van suiwer goud is aan die hoëpriester se tulband vasgeheg, en dit het aangedui dat hy afgesonder was vir ’n diens van spesiale heiligheid. Wanneer die Israeliete hierdie teken in die sonlig sien glinster het, is hulle gereeld aan Jehovah se heiligheid herinner.—Exodus 28:36; 29:6; 39:30, NW.
5. Hoe kon onvolmaakte Israeliete as heilig beskou word?
5 Maar hoe kon die Israeliete heilig word? Slegs deur hulle hegte verhouding met Jehovah en hulle rein aanbidding van hom. Hulle het juiste kennis van “die Heilige” nodig gehad sodat hulle hom in heiligheid, in fisiese en geestelike reinheid, kon aanbid (Spreuke 2:1-6; 9:10). Die Israeliete moes God derhalwe met suiwer beweegredes en ’n rein hart aanbid. Enige huigelagtige vorm van aanbidding sou aanstootlik vir Jehovah wees.—Spreuke 21:27.
Waarom Jehovah Israel veroordeel het
6. Hoe het die Jode in Maleagi se dag Jehovah se tafel behandel?
6 Dit is duidelik toegelig toe die Israeliete minderwaardige, gebrekkige offerandes op halfhartige wyse na die tempel gebring het. Jehovah het hulle minderwaardige offerandes deur middel van sy profeet Maleagi afgekeur: “Ek het in julle geen welgevalle nie, sê die HERE van die leërskare, en in ’n offer uit julle hand het Ek geen behae nie. . . . Julle daarenteen ontheilig dit as julle sê: Die tafel van die HERE is verontreinig, en wat sy opbrings betref—sy spys is veragtelik. En julle sê: Kyk, wat ’n moeite! En julle verag dit, sê die HERE van die leërskare; en julle bring geroofde en lam en siek diere—so bring julle dan die offer! Kan Ek dit met welgevalle uit julle hand aanneem? sê die HERE.”—Maleagi 1:10, 12, 13.
7. Aan watter onheilige dade het die Jode hulle in die vyfde eeu v.G.J. skuldig gemaak?
7 Maleagi is deur God gebruik om die valse gebruike van die Jode te veroordeel, waarskynlik gedurende die vyfde eeu v.G.J. Die priesters het ’n slegte voorbeeld gestel, en hulle gedrag was alles behalwe heilig. Die volk het in navolging van daardie voorbeeld hulle beginsels oorboord gegooi en het selfs so ver gegaan om van hulle vrouens te skei, moontlik sodat hulle jonger heidense vrouens kon neem. Maleagi het geskryf: “Die HERE [is] getuie . . . tussen jou en die vrou van jou jeug aan wie jy ontrou geword het [“met wie jy verraderlik gehandel het”, NW]b, terwyl sy tog jou metgesel is en die vrou van jou verbond. . . . Neem julle dan in ag ter wille van julle gees en wees nie ontrou aan die vrou van jou jeug nie. Want Ek haat egskeiding, sê die HERE, die God van Israel.”—Maleagi 2:14-16.
8. Hoe is party in die Christengemeente deur die hedendaagse beskouing van egskeiding beïnvloed?
8 In talle lande vandag waar dit maklik is om ’n egskeiding te verkry, het die egskeidingsyfer die hoogte ingeskiet. Selfs die Christengemeente is daardeur beïnvloed. In plaas van die ouer manne se hulp te vra om struikelblokke te oorkom en ’n poging aan te wend om hulle huwelik te laat slaag, het party te gou geskei. Dikwels ly die kinders groot emosionele skade.—Matteus 19:8, 9.
9, 10. Hoe moet ons oor ons aanbidding van Jehovah nadink?
9 Soos ons hierbo gesien het, het Jehovah, in die lig van die betreurenswaardige geestelike toestand in Maleagi se dag, Juda se oppervlakkige aanbidding ronduit veroordeel en getoon dat hy slegs rein aanbidding sou aanvaar. Moet dit ons nie laat nadink oor die gehalte van ons aanbidding van Jehovah God, die Soewereine Heer van die heelal, die Bron van ware heiligheid nie? Offer ons werklik heilige diens aan God? Hou ons onsself in ’n geestelik rein toestand?
10 Dit beteken nie dat ons volmaak moet wees nie, wat onmoontlik is, of dat ons ons met ander moet vergelyk nie. Maar dit beteken wel dat elke Christen God op ’n manier moet aanbid wat in die individu se omstandighede sy of haar beste verteenwoordig. Dit verwys na die gehalte van ons aanbidding. Ons diens aan God moet ons beste wees—heilige diens. Hoe kan ons dit doen?—Lukas 16:10; Galasiërs 6:3, 4.
Rein harte lei tot rein aanbidding
11, 12. Waar ontstaan onheilige gedrag?
11 Jesus het duidelik geleer dat ’n persoon deur wat hy sê en doen, sal toon wat in sy hart is. Jesus het aan die eiegeregtige, en tog onheilige, Fariseërs gesê: “Addergebroedsel, hoe kan julle goeie dinge spreek terwyl julle goddeloos is? Want uit die oorvloed van die hart spreek die mond.” Hy het later getoon dat goddelose dade voortspruit uit goddelose gedagtes in die hart, oftewel die innerlike mens. Hy het gesê: “Die dinge wat uit die mond uitgaan, kom uit die hart, en dié dinge verontreinig ’n mens. Uit die hart kom daar byvoorbeeld goddelose redenasies, moorde, egbreuk, hoererye, diefstalle, valse getuienisse, lasteringe. Dít is die dinge wat ’n mens verontreinig.”—Matteus 12:34; 15:18-20.
12 Dit help ons om te verstaan dat onheilige dade nie bloot spontaan of sonder ’n vroeëre grondslag plaasvind nie. Dit is die gevolg van besoedelende gedagtes wat in die hart skuil—geheime begeertes en moontlik fantasieë. Dit is waarom Jesus kon sê: “Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie.’ Maar ek sê vir julle dat elkeen wat aanhou om na ’n vrou te kyk om hartstog vir haar te hê reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het.” Met ander woorde, hoerery en egbreuk het reeds in die hart wortelgeskiet voordat enige daad gepleeg is. Daarna, onder die regte omstandighede, word die onheilige gedagtes onheilige dade. Hoerery, egbreuk, sodomie, diefstal, lasteringe en afvalligheid is sommige van die waarneembare gevolge.—Matteus 5:27, 28; Galasiërs 5:19-21.
13. Wat is sommige voorbeelde van hoe onheilige gedagtes tot onheilige dade kan lei?
13 Dit kan op verskillende maniere toegelig word. In sommige lande verrys casino’s soos paddastoele, en gevolglik is daar baie meer geleenthede om te dobbel. ’n Mens kom dalk in die versoeking om jou tot hierdie skynoplossing te wend in ’n poging om jou finansiële probleme op te los. Bedrieglike redenering kan ’n broer beweeg om sy Bybelbeginsels te verwerp of af te water.c In ’n ander geval kan maklike toegang tot pornografie, hetsy deur TV, video’s, rekenaars of boeke, daartoe aanleiding gee dat ’n Christen hom aan onheilige gedrag skuldig maak. Hy hoef bloot sy geestelike wapenrusting te verwaarloos, en voor hy hom kom kry, het hy onsedelikheid gepleeg. Maar in die meeste gevalle begin die weg wat tot sonde lei in die verstand. Ja, in sulke situasies word Jakobus se woorde vervul: “Elkeen word beproef deurdat hy deur sy eie begeerte meegesleep en verlok word. Dan baar die begeerte, wanneer dit vrugbaar geword het, sonde.”—Jakobus 1:14, 15; Efesiërs 6:11-18.
14. Hoe het baie mense van hulle onheilige gedrag herstel?
14 Gelukkig toon baie Christene wat weens swakheid sondig ware berou, en die ouer manne kan sulke persone help om geestelik te herstel. Selfs baie wat uitgesit word omdat hulle onberouvol is, kom uiteindelik tot besinning en word in die gemeente herstel. Hulle besef hoe maklik Satan hulle oorval het toe hulle toegelaat het dat onheilige gedagtes in hulle hart wortelskiet.—Galasiërs 6:1; 2 Timoteus 2:24-26; 1 Petrus 5:8, 9.
Die uitdaging—Om ons swakhede onder die oë te sien
15. (a) Waarom moet ons ons swakhede onder die oë sien? (b) Wat kan ons help om ons swakhede te erken?
15 Ons moet ’n poging aanwend om ons eie hart objektief te ken. Is ons bereid om ons swakhede onder die oë te sien, hulle te erken, en ons dan in te span om hulle te oorkom? Is ons bereid om ’n eerlike vriend te vra hoe ons kan verbeter en dan na die raad te luister? Om heilig te bly, moet ons ons tekortkominge te bowe kom. Waarom? Omdat Satan ons swakhede ken. Hy sal sy slinkse sette gebruik om ons te laat sondig en om ons ons aan onheilige gedrag skuldig te laat maak. Hy probeer ons deur sy listige dade van God se liefde skei sodat ons nie meer heilig en nuttig vir Jehovah se aanbidding is nie.—Jeremia 17:9; Efesiërs 6:11; Jakobus 1:19.
16. Watter stryd het Paulus gehad?
16 Die apostel Paulus het sy eie beproewinge en toetse gehad, soos hy in sy brief aan die Romeine verklaar het: “Ek weet dat daar in my, dit wil sê in my vlees, niks goeds woon nie; want die vermoë om te wil, is by my aanwesig, maar die vermoë om te bewerk wat voortreflik is, is nie. Want die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil nie, dit beoefen ek. . . . Ek skep werklik behae in die wet van God na die mens wat ek innerlik is, maar ek sien in my lede ’n ander wet, wat stryd voer teen die wet van my verstand en my wegvoer as gevangene van die wet van die sonde wat in my lede is.”—Romeine 7:18-23.
17. Hoe het Paulus die oorwinning behaal in sy stryd teen swakhede?
17 Wat in Paulus se geval van groot belang is, is dat hy sy swakhede erken het. Ten spyte daarvan kon hy sê: “Ek skep werklik behae in die wet van God na die [geestelike] mens wat ek innerlik is.” Paulus het die goeie liefgehad en die kwaad gehaat. Maar hy was nog steeds in ’n stryd gewikkel, dieselfde stryd as wat ons almal voer—teen Satan, die wêreld en die vlees. Hoe kan ons dus die stryd wen om heilig, afgeskeie van hierdie wêreld en sy denke, te bly?—2 Korintiërs 4:4; Efesiërs 6:12.
Hoe kan ons heilig bly?
18. Hoe kan ons heilig bly?
18 Heiligheid word nie verkry deur die maklikste weg te volg of deur genotsugtig te wees nie. Daardie soort persoon sal altyd verskonings vir sy gedrag maak en die skuld op iets of iemand anders probeer afskuif. Ons moet dalk leer om aanspreeklikheid vir ons dade te aanvaar en nie soos sommige te wees wat beweer dat hulle lot weens gesinsagtergrond of genetiese faktore verseël is nie. Die kern van die saak lê in die hart van die individu. Het die persoon regverdigheid lief? Smag hy of sy na heiligheid? Begeer hy of sy God se seën? Die psalmis het getoon hoe belangrik heiligheid is toe hy gesê het: “Wyk af van wat verkeerd is, en doen wat goed is; soek die vrede en jaag dit na.” Die apostel Paulus het geskryf: “Laat julle liefde sonder huigelary wees. Verafsku wat goddeloos is, hou vas aan wat goed is.”—Psalm 34:15; 97:10; Romeine 12:9.
19, 20. (a) Hoe kan ons ons denke opbou? (b) Wat behels doeltreffende persoonlike studie?
19 Ons kan ‘vashou aan wat goed is’ as ons Jehovah se beskouing van sake het en as ons die denke van Christus het (1 Korintiërs 2:16). Hoe kan ons dit regkry? Deur gereelde studie en bepeinsing van God se Woord. Hoe dikwels is hierdie raad nie al gegee nie! Maar neem ons dit ernstig genoeg op? Byvoorbeeld, bestudeer jy werklik hierdie tydskrif en slaan jy die Bybeltekste na voordat jy na die vergadering kom? Met bestudeer bedoel ons nie dat jy net ’n paar frases in elke paragraaf onderstreep nie. ’n Studieartikel kan in ongeveer 15 minute vlugtig gelees en onderstreep word. Beteken dit dat ons die artikel bestudeer het? Dit kan in werklikheid een of twee uur neem om elke artikel te bestudeer en die geestelike voordele daarvan in te neem.
20 Ons moet ons dalk dissiplineer om ’n paar uur elke week weg te kom van die TV en werklik op ons persoonlike heiligheid te konsentreer. Ons gereelde studie bou ons geestelik op en dryf die verstand aan om regte besluite te neem—besluite wat tot “heilige gedragshandelinge” lei.—2 Petrus 3:11; Efesiërs 4:23; 5:15, 16.
21. Watter vraag moet nog beantwoord word?
21 Nou is die vraag: In watter ander bedrywighede en aspekte van gedrag kan ons as Christene heilig wees, net soos Jehovah heilig is? Die volgende artikel sal stof tot nadenke bevat.
[Voetnote]
a Hierdie tweedelige naslaanwerk word deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., uitgegee.
b Sien die Ontwaak! van 8 Februarie 1994, bladsy 21, “Watter soort egskeiding haat God?”, vir ’n breedvoeriger bespreking van wat met “verraderlik” bedoel word.
c Sien die Ontwaak! van 8 Augustus 1994, bladsye 14-15, uitgegee deur die Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania vir meer inligting oor waarom dobbelary onheilige gedrag is.
Onthou jy?
◻ Hoe is die Bron van heiligheid in Israel geïdentifiseer?
◻ In watter opsigte was Israelitiese aanbidding in Maleagi se dag onheilig?
◻ Waar begin onheilige gedrag?
◻ Wat moet ons erken om heilig te wees?
◻ Hoe kan ons heilig bly?