Koninkryksverkondigers berig
‘’n Groot deur wat tot bedrywigheid lei, is oopgemaak’ in Kuba
DIE apostel Paulus was ’n uitsonderlike verkondiger van die goeie nuus van God se Koninkryk. Hy het van elke geleentheid gebruik gemaak om ander van die Skepper se beloftes van ewige lewe vir die gehoorsame mensdom te vertel. Terwyl Paulus eertydse Efese besoek het, het hy nuwe omstandighede raakgesien wat hom die geleentheid sou bied om selfs meer mense te help. Hy het gesê: “Ek bly in Efese . . . , want ’n groot deur wat tot bedrywigheid lei, is vir my oopgemaak.”—1 Korintiërs 16:8, 9.
Jehovah se Getuies in Kuba bevind hulle ook in nuwe omstandighede. Hoewel die Getuies nog nie amptelik geregistreer is nie, kan hulle hulle landgenote nou openlik van hulle Bybelhoop vertel. Die regering van Kuba het onlangs hulle ernstige belangstelling uitgespreek om verskeie godsdiensgroepe toe te laat om vryelik te funksioneer. President Castro het Jehovah se Getuies in die openbaar ’n godsdiensgroep genoem waarmee die Kubaanse regering nou ’n beter verhouding geniet.
Hierdie nuwe situasie het “’n groot deur wat tot bedrywigheid lei” vir die Getuies oopgemaak. Jehovah se Getuies het byvoorbeeld onlangs ’n kantoor in Kuba geopen, wat hulle help om hulle predikingswerk in daardie land te koördineer. Meer as 65 000 Getuies help mense om die Bybel te studeer en te verstaan. Hulle gebruik Bybellektuur, soos Die Wagtoring en Ontwaak! Talle regverdiggesinde Kubane vind daarby baat om die Bybel saam met Jehovah se Getuies te studeer.
Die Getuies hou ook gereelde vergaderinge in klein groepe regoor die eiland. Soms geniet hulle selfs die voorreg om groter byeenkomste in groepe van sowat 150 te hou. Hulle waardeer werklik die toestemming wat hulle van die Kubaanse owerheid gekry het, wat hulle die geleentheid bied om saam met hulle geestelike broers en susters te vergader, lofliedere tot God te sing en saam te bid.
’n Tydjie gelede is die “Godvrugtige Vrees”-Streekbyeenkoms meer as 1 000 keer gedurende net drie naweke gehou. Een verslag sê dat “orde, dissipline en vrede” by elkeen van die byeenkomste gesien kon word. Die owerhede het die Getuies gelukgewens hiermee.
Wêreldwyd streef ware Christene daarna om hulle godgegewe bevel uit te voer om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig. Hulle streef terselfdertyd daarna om ’n vreedsame verhouding met regeringsowerhede te handhaaf (Titus 3:1). Jehovah se Getuies volg die raad van die apostel Paulus, wat geskryf het: “Ek vermaan dus allereers dat smekinge, gebede, voorbedes, danksegginge gedoen moet word aangaande alle soorte mense, aangaande konings en almal wat ’n hoë posisie beklee, sodat ons kan voortgaan om ’n kalm en stil lewe met volkome godvrugtige toegewydheid en erns te lei.”—1 Timoteus 2:1, 2.