Epafroditus—gesant van die Filippense
“VERWELKOM hom . . . met alle vreugde op die gebruiklike wyse in die Here; en hou aan om hierdie soort manne in eer te hou”, het Paulus aan die Filippense geskryf. Ons sal ongetwyfeld bly wees as ’n Christenopsiener met soveel lof van ons praat (Filippense 2:29). Maar van wie het Paulus gepraat? En wat het die persoon gedoen om so ’n hartlike aanbeveling te verdien?
Die antwoord op die eerste vraag is Epafroditus. Om die tweede te beantwoord, kom ons beskou die omstandighede wat Paulus beweeg het om hierdie woorde te skryf.
In ongeveer 58 G.J. het die Filippense die tyding ontvang dat Paulus in Jerusalem buite die tempel gesleep en deur ’n wrede gepeupel geslaan is, deur die owerheid in hegtenis geneem is en ná ’n aanhouding waartydens geen uitspraak oor hom gelewer is nie in kettings na Rome verskuif is (Handelinge 21:27-33; 24:27; 27:1). Omdat hulle oor sy welstand bekommerd was, het hulle hulle waarskynlik afgevra wat hulle vir hom kon doen. Hulle was materieel arm en ver weg van Paulus af, gevolglik was die hulp wat hulle kon bied beperk. Nogtans het die hartlike gevoel wat die Filippense in die verlede beweeg het om sy bediening te ondersteun hulle steeds beweeg; selfs nog meer, aangesien hy in ’n kritieke situasie was.—2 Korintiërs 8:1-4; Filippense 4:16.
Die Filippense het seker daaroor nagedink of een van hulle nie vir Paulus met ’n geskenk kon gaan besoek en hom kon help indien hy iets nodig gehad het nie. Maar dit was ’n lang en vermoeiende reis, en dit kon gevaarlik wees om hom te help! Joachim Gnilka sê: “Moed was nodig om ’n gevangene te besoek, veral een wie se ‘misdaad’ seker uiters sleg omskrewe voorgekom het.” Die skrywer Brian Rapske sê: “Daar was die bykomende gevaar dat ’n mens eenvoudig te veel met die gevangene of sy beskouings geassosieer kon word of te veel simpatie vir hulle kon hê. . . . ’n Toevallige woord of daad kon nie alleen tot die gevangene se dood nie maar ook tot die helper s’n lei.” Wie kon die Filippense stuur?
Ons kan ons goed voorstel dat ’n reis van hierdie aard kommer en onsekerheid kon wek, maar Epafroditus (wat nie met Epafras van Kolosse verwar moet word nie) was bereid om daardie moeilike sending uit te voer. Te oordeel na sy naam, waarvan Afrodite ’n deel is, was hy moontlik ’n heiden wat hom tot die Christelike godsdiens bekeer het—die seun van ouers wat toegewy was aan daardie Griekse godin van liefde en vrugbaarheid. Toe Paulus aan die Filippense geskryf het om hulle vir hulle vrygewigheid te bedank, kon hy Epafroditus tereg as “julle gesant en persoonlike dienaar vir my behoefte” beskryf.—Filippense 2:25.
Uit wat die Bybel oor Epafroditus sê, kan ons aflei dat hy ondanks sy lofwaardige bereidwilligheid om homself in hierdie diens vir Paulus en sy eie gemeente te gebruik dieselfde soort probleme gehad het as dié waarmee ons dalk te kampe het. Kom ons beskou sy voorbeeld.
“Persoonlike dienaar vir my behoefte”
Ons ken nie die besonderhede nie, maar ons kan ons voorstel dat Epafroditus ná sy reis doodmoeg in Rome aangekom het. Hy het waarskynlik op die Via Egnatia gereis, ’n Romeinse pad wat deur Masedonië geloop het. Hy het dalk die Adriatiese See oorgesteek na die “hak” van die Italiaanse skiereiland en toe met die Appiese Weg na Rome opgegaan. Dit was ’n vermoeiende reis (1 200 kilometer in een rigting) wat waarskynlik meer as ’n maand geneem het.—Sien venster op bladsy 29.
Met watter gees het Epafroditus sy reis begin? Hy is gestuur om ’n “persoonlike diens”, of lei·tour·giʹa, aan Paulus te verrig (Filippense 2:30). Hierdie Griekse woord het oorspronklik verwys na werk vir die Staat wat ’n burger vrywillig onderneem het. Later het dit na die soort diens verwys wat die Staat van burgers vereis het wat spesifieke vermoëns gehad het. Een geleerde sê aangaande die gebruik van hierdie woord in die Griekse Geskrifte: “Die Christen is ’n mens wat vir God en mense werk, eerstens omdat hy wil, met sy hele hart, en tweedens omdat hy gedring word, omdat die liefde van Christus hom verplig.” Ja, wat ’n uitstekende gees het Epafroditus tog aan die dag gelê!
‘Hy het sy siel aan gevaar blootgestel’
Paulus gebruik ’n woord wat uit die dobbeltaal oorgeneem is en sê dat Epafroditus “sy siel aan gevaar blootgestel [pa·ra·bo·leu·saʹme·nos] het”, of letterlik, met sy lewe vir die diens van Christus “gedobbel” het (Filippense 2:30). Ons hoef nie te dink dat Epafroditus enigiets onverstandigs gedoen het nie; die uitvoering van sy heilige diens het eerder sekere gevare ingehou. Het hy dalk die noodlenigingsending gedurende ’n moeilike tyd van die jaar aangepak? Het hy tot die einde deurgedruk nadat hy iewers langs die pad siek geword het? In elk geval, Epafroditus het “tot die dood toe siek geword”. Miskien moes hy by Paulus gebly het om hom te bedien, en daarom wou die apostel blykbaar verduidelik waarom hy vroeër as wat verwag is, teruggekeer het.—Filippense 2:27.
Epafroditus was nietemin ’n dapper persoon wat bereid was om sy lewe op ’n onbaatsugtige wyse te waag om diegene wat dit nodig gehad het te hulp te snel.
Ons kan ons dalk afvra: ‘In watter mate sal ek moeite doen om my geestelike broers te help wat in moeilike omstandighede verkeer?’ So ’n gewillige gees is nie vir Christene opsioneel nie. Jesus het gesê: “Ek gee julle ’n nuwe gebod, dat julle mekaar moet liefhê; net soos ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê” (Johannes 13:34). Epafroditus het sy diens “tot die dood toe” uitgevoer. Epafroditus was dus ’n voorbeeld van iemand wat die “geestesgesindheid” gehad het wat Paulus die Filippense aangespoor het om te hê (Filippense 2:5, 8, 30, Kingdom Interlinear). Sou ons bereid wees om só ver te gaan?
Nogtans het Epafroditus terneergedruk geraak. Waarom?
Sy terneergedruktheid
Stel jou voor dat jy in Epafroditus se skoene staan. Paulus het gesê: ‘Hy verlang om julle almal te sien en is terneergedruk omdat julle gehoor het dat hy siek geword het’ (Filippense 2:26). Epafroditus was bewus daarvan dat die broers in sy gemeente geweet het dat hy siek is en nie vir Paulus kon help soos hulle gehoop het nie. Trouens, dit lyk asof Epafroditus moontlik meer probleme vir Paulus geskep het. Moes die geneesheer Lukas, Paulus se metgesel, ander sake verwaarloos om na Epafroditus om te sien?—Filippense 2:27, 28; Kolossense 4:14.
Epafroditus het waarskynlik as gevolg hiervan terneergedruk geword. Miskien het hy gedink dat broers in sy gemeente hom as onbevoeg beskou het. Miskien het hy skuldig gevoel en “verlang” om hulle te sien en om hulle van sy getrouheid te verseker. Paulus het ’n baie sterk Griekse woord, a·de·mo·neʹo, “om terneergedruk te wees”, gebruik om Epafroditus se toestand te beskryf. Volgens die geleerde J. B. Lightfoot kan hierdie woord verwys na “die verwarde, rustelose, amper radelose toestand, wat deur siekte of deur geestesbenoudheid, soos smart, skaamte, teleurstelling, ens., veroorsaak word”. Die enigste ander gebruik van hierdie woord in die Griekse Geskrifte hou verband met Jesus se intense angs in die tuin van Getsemane.—Matteus 26:37.
Paulus het tot die slotsom gekom dat dit raadsaam sou wees om Epafroditus na die Filippense toe terug te stuur met ’n brief wat die onverwagte terugkeer van hulle gesant verduidelik. Deur te sê: ‘Ek ag dit nodig om Epafroditus na julle toe te stuur’, aanvaar Paulus die verantwoordelikheid vir sy terugkeer, en sodoende verdryf hy enige moontlike vermoede dat Epafroditus misluk het (Filippense 2:25). Epafroditus het inteendeel amper sy lewe verloor sodat hy sy sending kon voltooi! Paulus spoor hulle hartlik aan: “Verwelkom hom . . . met alle vreugde op die gebruiklike wyse in die Here; en hou aan om hierdie soort manne in eer te hou, want weens die Here se werk het hy baie na aan die dood gekom, deurdat hy sy siel aan gevaar blootgestel het, om ten volle daarvoor te vergoed dat julle nie hier was om persoonlike diens aan my te verrig nie.”—Filippense 2:29, 30.
“Hou aan om hierdie soort manne in eer te hou”
Manne en vroue wat dieselfde geestesgesindheid as Epafroditus het, moet waarlik waardeer word. Hulle gee van hulleself om te kan dien. Dink aan diegene wat hulleself aangebied het om ver van die huis af as sendelinge, reisende opsieners of by een van die Wagtoringgenootskap se takkantore te dien. As ouderdom of gesondheidsprobleme party nou verhinder om te doen wat hulle vroeër gedoen het, verdien hulle respek en agting vir hulle jare van getroue diens.
’n Slepende siekte kan ’n mens nietemin terneergedruk of skuldig laat voel. ’n Mens wil graag meer doen. Hoe frustrerend is dit tog! Enigeen wat hom in so ’n situasie bevind, kan by Epafroditus leer. Bowendien, was dit sy skuld dat hy siek geword het? Beslis nie! (Genesis 3:17-19; Romeine 5:12). Epafroditus wou God en sy broers dien, maar siekte het hom beperk.
Paulus het Epafroditus nie tereggewys as gevolg van sy ongesteldheid nie, maar het vir die Filippense gesê om hom te ondersteun. Ons moet ons broers eweneens bemoedig wanneer hulle mismoedig voel. Gewoonlik kan ons hulle prys vir hulle getroue voorbeeld van diens. Die feit dat Paulus Epafroditus waardeer het en so goed van hom gepraat het, moes Epafroditus getroos en sy terneergedruktheid verlig het. Ons kan ook daarvan verseker wees dat ‘God nie onregverdig is sodat hy ons werk sal vergeet en die liefde wat ons vir sy naam getoon het deurdat ons die heiliges gedien het en nog dien nie’.—Hebreërs 6:10.
[Venster op bladsy 29]
Die ongeriewe van die reis
Vandag sal ’n reis tussen twee belangrike Europese stede, soortgelyk aan die een wat Epafroditus onderneem het, dalk nie groot inspanning verg nie. Die rit kan gemaklik binne ’n uur of twee in ’n passasierstraler afgelê word. Dit was ’n heeltemal ander saak om in die eerste eeu so ’n reis te onderneem. Destyds het dit baie ongerief meegebring om van een plek tot ’n ander te reis. Iemand wat te voet gereis het, kon tussen 30 en 35 kilometer per dag aflê, terwyl hy hom aan die weer en verskeie gevare, insluitende “struikrowers”, blootgestel het.—2 Korintiërs 11:26.
Waar sou hy oornag en voedsel kry?
Die geskiedskrywer Michelangelo Cagiano de Azevedo noem dat daar langs die Romeinse paaie “mansiones, volwaardige hotelle, met winkels, stalle en blyplekke vir hulle werkers was; tussen twee opeenvolgende mansiones was daar ’n aantal mutationes, of oornagplekke, waar ’n mens perde of voertuie kon omruil en voorrade kon kry”. Hierdie herberge het ’n slegte reputasie gehad omdat mense van die laagste sosiale stand dit besoek het. Behalwe dat die herbergiers reisigers beroof het, het hulle dikwels hulle inkomste met geld van prostitute aangevul. Die Latynse satiriese digter Juvenalis het opgemerk dat enigeen wat genoodsaak is om in so ’n herberg te bly hom dalk “sy aan sy met ’n moordenaar, in die geselskap van matrose, rowers en drosterslawe, langs laksmanne en doodskistemakers [kon bevind] . . . Een beker is vir almal se gebruik; niemand het ’n bed vir homself of ’n tafel weg van die ander nie.” Ander eertydse skrywers het gekla oor die slegte water en die kamers, wat oorvol, vuil, bedompig en vol vlooie was.
[Kaart op bladsy 27]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Rome
[Prent]
’n Reisiger in Romeinse tye
[Erkennings]
Kaart: Mountain High Maps® Copyright © 1995 Digital Wisdom, Inc.; Reisiger: Da originale del Museo della Civiltà Romana, Roma