Vrae van lesers
Sal dit vir ’n Christen verstandig wees om ’n geestesgesondheidspraktisyn te raadpleeg?
Verslae uit party lande toon dat daar in hierdie “laaste dae” ’n toename in emosionele en geestesiektes is (2 Timoteus 3:1). Christene het diepe medelye met medegelowiges wanneer hulle hierdeur geraak word, maar hulle besef dat elkeen self moet besluit of hy behandeling vir sy siekte wil ontvang en, indien wel, watter soort behandeling.a “Elkeen sal sy eie vrag dra” (Galasiërs 6:5). Party wat swaar ly aan skisofrenie, bipolêre versteuring, diep kliniese depressie, obsessief-kompulsiewe steurnis, selfverminking en ander kwellende steurnisse lei ’n redelik normale lewe nadat hulle die regte professionele hulp ontvang het.
Op party plekke het dit taamlik algemeen geword om vir terapie te gaan. In baie gevalle het die pasiënt nie ’n ernstige geestesiekte nie, maar hy of sy vind dit moeilik om ’n situasie in die lewe baas te raak. Dit is egter die Bybel wat die beste hulp voorsien om die moeilike probleme van die lewe die hoof te bied (Psalm 119:28, 143). Deur middel van die Bybel voorsien Jehovah wysheid, denkvermoë en ware kennis—dinge wat ons verstandelik en emosioneel versterk (Spreuke 2:1-11; Hebreërs 13:6). Getroue knegte van God kan soms dinge sê wat irrasioneel is as gevolg van ernstige innerlike verwarring (Job 6:2, 3). Jakobus 5:13-16 moedig sulkes aan om die ouer manne om hulp en raad te vra. ’n Christen is dalk geestelik siek of dalk is hy ontsteld as gevolg van ’n onveranderlike situasie of drukkende spanning, of dalk meen hy dat hy onregverdig behandel word (Prediker 7:7, NW; Jesaja 32:2; 2 Korintiërs 12:7-10). So ’n persoon kan hulp van die ouer manne ontvang, wat ‘hom met olie sal salf’—met ander woorde, hom op ’n bekwame wyse vertroostende Bybelraad sal gee—en ook ‘oor hom sal bid’. Die gevolg? “Die gebed van geloof sal die een wat ongesteld is gesond maak, en Jehovah sal hom oprig [uit sy neerslagtigheid of sy gevoel dat God hom verlaat het].”
Maar gestel ’n persoon se geesteskwelling en -verwarring duur voort ondanks die bekwame hulp van geestelike herders. Party wat in hierdie situasie verkeer het, het besluit om ’n deeglike fisiese ondersoek te laat doen. (Vergelyk Spreuke 14:30; 16:24; 1 Korintiërs 12:26.) ’n Fisiese probleem is dalk die oorsaak van emosionele of geesteskwellinge. Die behandeling van so ’n probleem het in party gevalle verligting gebring vir die emosioneel siek persoon.b Indien geen fisiese probleem gevind word nie, kan die geneesheer, op versoek, ’n deskundige op die gebied van geestesgesondheid aanbeveel. Wat dan? Soos gesê is, is dit ’n besluit wat elke individu self moet oorweeg. Ander moenie kritiseer of oordeel nie.—Romeine 14:4.
Praktiese wysheid moet nietemin aan die dag gelê word, en ’n mens moet oppas dat jy nie Bybelbeginsels uit die oog verloor nie (Spreuke 3:21, NW; Prediker 12:13). In die geval van fisiese siekte het pasiënte ’n verskeidenheid behandelings waarvan hulle kan kies, van konvensionele geneeskunde tot terapie soos naturopatie, akupunktuur en homeopatie. Daar is ook verskillende soorte geestesgesondheidspraktisyns. Onder hulle is analitiese psigoterapeute en ander, wat dalk ondersoek sal instel na die pasiënt se persoonlike geskiedenis om redes vir ongewone gedrag of pynlike emosies te probeer vind. Gedragspsigoterapeute sal die pasiënt dalk probeer help om nuwe gedragspatrone aan te leer. Party geestesgesondheidspraktisyns meen dat die meeste geestesiektes met medikasie behandel moet word.c Ander beveel na wat berig word diëte en vitamiene aan.
Pasiënte en hulle gesinne moet hierdie keuses versigtig oorweeg (Spreuke 14:15). Dit is betekenisvol dat professor Paul McHugh, direkteur van die Departement Sielkunde en Gedragswetenskap aan die Mediese Fakulteit van die Johns Hopkins-universiteit, gesê het dat die geestesgesondheidsprofessie “’n soort geneeskunde is wat in sy beginstadium is. Dit is nie maklik om bewyse te kry vir die aanbevelings wat hulle doen nie ten spyte van die feit dat dit met versteurings van die ingewikkeldste aspekte van menselewe—die verstand en gedrag—te doen het.” Hierdie toedrag van sake laat die deur oop vir eksentrisiteit en bedrog, asook goed bedoelde behandelings wat dalk meer kwaad as goed doen.
Hou ook in gedagte dat hoewel psigiaters en sielkundiges professionele, nagraadse kwalifikasies het, daar baie ander is wat geen professionele kwalifikasies het nie en sonder toesig as raadgewers of terapeute praktiseer. Party individue het baie geld aan raadgewing deur sulke ongekwalifiseerde persone bestee.
Selfs met ’n opgeleide, gekwalifiseerde geestesgesondheidsdeskundige is daar dinge om in ag te neem. Wanneer ons ’n mediese dokter of chirurg kies, moet ons seker daarvan wees dat hy ons Bybelse opvattings sal respekteer. Dit sal eweneens gevaarlik wees om ’n geestesgesondheidsdeskundige te raadpleeg wat nie ons godsdiens- en sedelike opvattings respekteer nie. Baie Christene probeer hard om ondanks geestes- en emosionele verwarring ‘dieselfde geestesgesindheid te hê as wat Christus Jesus gehad het’ (Romeine 15:5). Hulle is met reg besorg oor die gesindhede van enigiemand wat hulle denke of gedrag kan beïnvloed. Party praktisyns beskou enige beperkings wat deur skriftuurlike opvattings gestel word as onnodig en potensieel skadelik vir ’n mens se geestesgesondheid. Gebruike soos homoseksualiteit of huweliksontrouheid wat in die Bybel veroordeel word, word dalk deur hulle goedgekeur of selfs aanbeveel.
Hierdie idees word ingesluit in wat die apostel Paulus “die teenstrydighede van die valslik so genoemde ‘kennis’” genoem het (1 Timoteus 6:20). Hulle weerspreek die waarheid aangaande die Christus en is deel van “die filosofie en leë bedrog” van hierdie wêreld (Kolossense 2:8). Die Bybel se standaard is duidelik: “Daar is geen wysheid, en daar is geen verstand, en daar is geen raad teenoor die HERE nie” (Spreuke 21:30). Geestesgesondheidspraktisyns wat “sleg goed noem en goed sleg” is “slegte omgang”. Pleks van onstabiele verstande te help genees, sal hulle ‘nuttige gewoontes bederf’.—Jesaja 5:20; 1 Korintiërs 15:33.
’n Christen wat meen dat dit nodig is om ’n geestesgesondheidsdeskundige te raadpleeg, moet dus noukeurig ondersoek instel na die kwalifikasies, gesindheid en reputasie van die praktisyn en die moontlike gevolge van enige behandeling wat aanbeveel word. As ’n Christen wat ontsteld is dit nie self kan doen nie, kan ’n volwasse, intieme vriend of familielid dalk help. ’n Christen wat onseker is oor hoe verstandig dit sal wees om ’n sekere soort behandeling te aanvaar, sal dit moontlik nuttig vind om met die gemeentelike ouer manne te praat—hoewel die finale besluit sy eie is (of sy ouers s’n, of die gesamentlike besluit van ’n man en vrou).d
Die wetenskap kan vandag baie meer as in die verlede doen om lyding te verlig. Maar daar is steeds baie siektes—fisies sowel as verstandelik—wat tans ongeneeslik is en tot die einde van hierdie stelsel van dinge verduur moet word (Jakobus 5:11). Intussen reik “die getroue en verstandige slaaf”, die ouer manne en alle ander in die gemeente ’n hand van medelye en ondersteuning aan siekes uit. En Jehovah self versterk hulle sodat hulle kan volhard tot daardie glorieryke tyd wanneer siekte nie meer daar sal wees nie.—Matteus 24:45; Psalm 41:2-4; Jesaja 33:24.
[Voetnote]
a Soms word ’n persoon dalk gevra om ’n psigiatriese evaluering te ondergaan, miskien wanneer hy of sy vir ’n bestuurspos oorweeg word. Hetsy iemand so ’n evaluering laat doen of nie is ’n persoonlike besluit, maar let daarop dat ’n psigiatriese evaluering nie psigiatriese behandeling is nie.
b Sien “Wen die stryd teen depressie” in Die Wagtoring se nommer van 1 Maart 1990.
c Party geestesiektes reageer blykbaar goed op die regte medikasie. Maar hierdie medikasie moet versigtig onder die toesig van bekwame en kundige mediese geneeshere of psigiaters gebruik word, aangesien daar ernstige newe-effekte kan wees indien die dosisse nie korrek aangepas word nie.
d Sien die artikel “Geesteskwelling—Wanneer ’n Christen dit ervaar” in Die Wagtoring van 15 Oktober 1988.