Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w96 9/15 bl. 16-21
  • Mag Jehovah aan jou erkenning gee

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Mag Jehovah aan jou erkenning gee
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Kennis maak ons aanspreeklik
  • Aanspreeklikheid vir ons bediening
  • Gesinne moet goeie rekenskap van hulleself gee
  • Ouer manne gee rekenskap—Hoe?
  • Hou aan om goeie rekenskap van jouself te gee
  • Almal moet aan God rekenskap gee
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Glanspunte uit die boek Nehemia
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • “Dink tog aan my, o my God, ten goede”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • Bybelboek nommer 16—Nehemia
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
w96 9/15 bl. 16-21

Mag Jehovah aan jou erkenning gee

“Dink . . . hieraan ten gunste van my, o my God . . . Dink aan my, o my God, ten goede.”—NEHEMIA 13:22, 31, NW.

1. Wat help diegene wat aan God toegewy is om goeie rekenskap van hulleself aan Jehovah te gee?

JEHOVAH se knegte het al die hulp wat hulle nodig het om goeie rekenskapaan hom te gee. Waarom? Omdat hulle as deel van God se aardse organisasie ’n hegte verhouding met hom het. Hy het sy voornemens aan hulle bekend gemaak, en hy het hulle deur middel van sy heilige gees hulp en geestelike insig gegee (Psalm 51:13; 119:105; 1 Korintiërs 2:10-13). In die lig van hierdie spesiale omstandighede vereis Jehovah liefdevol van sy aardse knegte om rekenskap van hulleself aan hom te gee vir wat hulle is sowel as vir wat hulle in sy krag en met behulp van sy heilige gees bereik.

2. (a) In watter opsigte het Nehemia goeie rekenskap van homself aan God gegee? (b) Met watter smeking het Nehemia die Bybelboek afgesluit wat sy naam dra?

2 ’n Man wat goeie rekenskap van homself aan God gegee het, was Nehemia, skinker van die Persiese koning Artasasta (Longimanus) (Nehemia 2:1). Nehemia het die goewerneur van die Jode geword en het Jerusalem se muur ten spyte van vyande en gevare herbou. Hy het met ywer vir ware aanbidding God se Wet toegepas en besorgdheid vir die onderdruktes getoon (Nehemia 5:14-19). Nehemia het die Leviete aangespoor om hulle gereeld te reinig, die poorte te bewaak en die Sabbatdag te heilig. Hy kon dus bid: “Dink ook hieraan ten gunste van my, o my God, en voel tog jammer vir my na die oorvloed van u liefderyke goedhartigheid.” Nehemia het ook gepas sy Goddelik geïnspireerde boek afgesluit deur te smeek: “Dink aan my, o my God, ten goede.”—Nehemia 13:22, 31, NW.

3. (a) Hoe sou jy iemand beskryf wat goed doen? (b) Watter vrae sal ons ons moontlik afvra as ons oor Nehemia se lewensweg nadink?

3 Iemand wat goed doen, is deugsaam en verrig regverdige dade wat ander bevoordeel. Nehemia was so ’n man. Hy het ’n eerbiedige vrees vir God en groot ywer vir ware aanbidding gehad. Daarbenewens was hy dankbaar vir sy voorregte in God se diens en het hy goeie rekenskap van homself aan Jehovah gegee. As ons oor sy lewensweg nadink, sal ons ons moontlik afvra: ‘Hoe beskou ek my godgegewe voorregte en verantwoordelikhede? Watter soort rekenskap gee ek van myself aan Jehovah God en Jesus Christus?’

Kennis maak ons aanspreeklik

4. Watter opdrag het Jesus sy volgelinge gegee, en wat het diegene gedoen wat “die regte gesindheid vir die ewige lewe gehad het”?

4 Jesus het sy volgelinge hierdie opdrag gegee: “Gaan . . . en maak dissipels van mense van al die nasies, en doop hulle . . . , en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het” (Matteus 28:19, 20). Dissipels moes gemaak word deur hulle te leer. Diegene wat dus geleer is en wat “die regte gesindheid vir die ewige lewe gehad het”, sou, soos Jesus, gedoop word (Handelinge 13:48; Markus 1:9-11). Hulle begeerte om alles te onderhou wat hy hulle beveel het, sou uit die hart voortspruit. Hulle sou tot toewyding vorder deur juiste kennis van God se Woord in te neem en toe te pas.—Johannes 17:3.

5, 6. Hoe moet ons Jakobus 4:17 verstaan? Lig toe hoe dit toegepas kan word.

5 Hoe grondiger ons Bybelkennis is, hoe beter is die grondslag van ons geloof. Terselfdertyd word ons aanspreeklikheid teenoor God groter. Jakobus 4:17 sê: “As iemand . . . weet hoe om te doen wat reg is en dit tog nie doen nie, is dit vir hom ’n sonde.” Hierdie verklaring is blykbaar ’n slotsom na aanleiding van wat die dissipel Jakobus pas tevore gesê het oor grootpratery eerder as algehele vertroue op God. As iemand weet dat hy niks blywends sonder Jehovah se hulp kan bereik nie, maar nie in ooreenstemming hiermee optree nie, is dit ’n sonde. Maar Jakobus se woorde kan ook van toepassing wees op sondes van versuim. In Jesus se gelykenis van die skape en die bokke word die bokke byvoorbeeld veroordeel, nie weens slegte dade nie, maar omdat hulle nie Christus se broers gehelp het nie.—Matteus 25:41-46.

6 Een man met wie Getuies van Jehovah ’n Bybelstudie gehou het, het min geestelike vordering gemaak, blykbaar omdat hy nie opgehou rook het nie, hoewel hy geweet het dat hy dit moes doen. ’n Ouer man het hom gevra om Jakobus 4:17 te lees. Nadat die ouer man oor die betekenis van hierdie teks kommentaar gelewer het, het hy gesê: “Hoewel jy nie gedoop is nie, is jy aanspreeklik en moet jy die volle verantwoordelikheid vir jou besluit dra.” Gelukkig het die man gunstig gereageer, opgehou rook en weldra aan die vereistes voldoen om gedoop te word as simbool van sy toewyding aan Jehovah God.

Aanspreeklikheid vir ons bediening

7. Wat is een manier waarop ons ons dankbaarheid vir “die kennis van God” kan toon?

7 Ons hartgrondige begeerte moet wees om ons Skepper te behaag. Een manier waarop ons ons dankbaarheid vir “die kennis van God” kan toon, is om die opdrag uit te voer om dissipels van sy Seun, Jesus Christus, te maak. Dit is ook ’n manier waarop ons ons liefde aan God en aan ons naaste betoon (Spreuke 2:1-5; Matteus 22:35-40). Ja, ons kennis van God maak ons aanspreeklik teenoor hom, en ons moet ons medemens as potensiële dissipels beskou.

8. Waarom kan ons sê dat Paulus teenoor God aanspreeklik gevoel het vir sy bediening?

8 Die apostel Paulus het geweet dat heelhartige aanvaarding van die goeie nuus en gehoorsaamheid daaraan tot redding lei, terwyl verwerping daarvan vernietiging kan meebring (2 Tessalonisense 1:6-8). Hy het derhalwe teenoor Jehovah aanspreeklik gevoel vir sy bediening. Trouens, Paulus en sy metgeselle het hulle bediening so hoog op prys gestel dat hulle versigtig was om nie eers die indruk te skep dat hulle finansiële wins daaruit maak nie. Daarbenewens het Paulus se hart hom beweeg om te sê: “As ek dan nou die goeie nuus bekend maak, is dit vir my geen rede om te roem nie, want die dwang is my opgelê. Waarlik, wee my as ek die goeie nuus nie bekend maak nie!”—1 Korintiërs 9:11-16.

9. Watter belangrike skuld moet alle Christene afbetaal?

9 Aangesien ons Jehovah se toegewyde knegte is, ‘is die dwang ons opgelê om die goeie nuus bekend te maak’. Dit is ons opdrag om die Koninkryksboodskap te verkondig. Ons het daardie verantwoordelikheid aanvaar toe ons ons aan God toegewy het. (Vergelyk Lukas 9:23, 24.) Daarbenewens het ons ’n skuld om af te betaal. Paulus het gesê: “Teenoor Grieke sowel as Barbare, teenoor wyses sowel as onverstandiges is ek ’n skuldenaar: vandaar die gretigheid van my kant om ook aan julle wat daar in Rome is die goeie nuus bekend te maak” (Romeine 1:14, 15). Paulus was ’n skuldenaar omdat hy geweet het dat dit sy plig was om te preek sodat mense die goeie nuus kon hoor en gered kon word (1 Timoteus 1:12-16; 2:3, 4). Hy het hom derhalwe ingespan om sy opdrag uit te voer en sy skuld aan sy medemens af te betaal. As Christene het ons ook so ’n skuld om af te betaal. Die verkondiging van die Koninkryk is ook ’n belangrike manier om liefde aan God, aan sy Seun en aan ons naaste te betoon.—Lukas 10:25-28.

10. Hoe het sommige hulle bediening uitgebrei?

10 Een manier waarop ons rekenskap kan gee wat vir God aanvaarbaar is, is om ons vermoëns te gebruik om ons bediening uit te brei. Ter toeligting: In onlangse jare het mense van baie nasionaliteite Brittanje binnegestroom. Om hierdie mense met die goeie nuus te bereik, is meer as 800 pioniers (voltydse Koninkryksverkondigers) en honderde ander Getuies besig om ander tale te leer. Dit het die bediening hernieude momentum gegee. ’n Pionier wat ’n Chinese klas onderrig, het gesê: “Ek het nooit gedink dat ek ooit my taal aan ander Getuies sou leer sodat hulle die waarheid aan ander kan verkondig nie. Dit is so bevredigend!” Kan jy jou bediening op ’n soortgelyke wyse uitbrei?

11. Wat het gebeur toe een Christen informeel getuig het?

11 Elkeen van ons sou waarskynlik alles in ons vermoë doen om ’n drenkeling te red. Jehovah se knegte is eweneens gretig om hulle vermoëns te gebruik om by elke geleentheid vir ander te getuig. ’n Getuie het onlangs langs ’n vrou in ’n bus gesit en met haar oor die Bybel gepraat. Die vrou was verheug oor wat sy geleer het en het baie vrae gevra. Net toe die Getuie van die bus wou afklim, het die vrou haar gesoebat om eerder na haar huis toe te kom, aangesien sy nog baie vrae gehad het. Die Getuie het ingestem. Die gevolg? ’n Bybelstudie is begin, en ses maande later het die vrou ’n ongedoopte Koninkryksverkondiger geword. Kort voor lank het sy self ses tuisbybelstudies gehou. Wat ’n vreugdevolle beloning tog vir iemand wat haar vermoëns in Koninkryksdiens gebruik het!

12. Hoe kan ons vermoëns as bedienaars goed in die velddiens gebruik word?

12 Ons vermoëns as bedienaars kan met welslae in die veld gebruik word as ons publikasies soos die boek met 192 bladsye Kennis wat tot die ewige lewe lei gebruik. Teen April 1996 het die Skryfkomitee van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies die publisering van die Kennis-boek in meer as 140 tale goedgekeur, en teen daardie tyd is 30 500 000 eksemplare daarvan reeds in 111 tale gedruk. Hierdie boek is met die doel geskryf om Bybelstudente te help om genoeg aangaande God se Woord en voornemens te leer sodat hulle hulle aan Jehovah kan toewy en gedoop kan word. Aangesien Koninkryksverkondigers nie jare lank ’n tuisbybelstudie met dieselfde student sal hou nie, kan hulle met meer mense studeer of hulle deelname aan die huis-tot-huis-werk en ander aspekte van die bediening vergroot (Handelinge 5:42; 20:20, 21). Omdat hulle weet dat hulle teenoor God aanspreeklik is, vestig hulle die aandag op Goddelike waarskuwings (Esegiël 33:7-9). Maar hulle hoofdoel is om Jehovah te eer en om in die kort tydjie wat nog vir hierdie goddelose stelsel van dinge oorbly soveel mense moontlik te help om van die goeie nuus te leer.

Gesinne moet goeie rekenskap van hulleself gee

13. Waarom moet godvrugtige gesinne ’n gereelde gesinsbybelstudie hê?

13 Elke individu en gesin wat die ware Christelike geloof aanneem, is teenoor God aanspreeklik en moet dus “tot volwassenheid voortbeur” en “vas in die geloof” word (Hebreërs 6:1-3; 1 Petrus 5:8, 9). Diegene wat byvoorbeeld die Kennis-boek bestudeer het en gedoop is, moet hulle Bybelkennis uitbrei deur gereeld vergaderinge by te woon sowel as deur die Bybel en ander Christelike publikasies te lees. Godvrugtige gesinne moet ook ’n gereelde gesinstudie hê, want dit is ’n belangrike manier om ‘wakker te bly, in die geloof vas te staan, ons soos manne te gedra en sterk te word’ (1 Korintiërs 16:13). As jy ’n gesinshoof is, is jy veral teenoor God aanspreeklik om seker te maak dat jou gesin geestelik goed gevoed is. Net soos voedsame fisiese voedsel tot fisiese gesondheid bydra, is oorvloedige en gereelde geestelike voedsel nodig as jy en jou gesin “gesond in die geloof” gaan bly.—Titus 1:13.

14. Wat het die getuienis wat deur ’n goed opgeleide Israelitiese meisie gegee is tot gevolg gehad?

14 As daar kinders in julle huisgesin is, sal God aan julle erkenning gee omdat julle aan hulle heilsame geestelike opleiding gee. Sulke onderrigting sal hulle bevoordeel, net soos dit ’n klein Israelitiese meisie bevoordeel het wat in die dae van God se profeet Elisa deur die Siriërs gevange geneem is. Sy het die diensmeisie van die vrou van ’n melaatse Siriese hoofman, Naäman, geword. Hoewel die meisie nog jonk was, het sy vir haar meesteres gesê: “Ag, was my heer maar net by die profeet wat in Samaria is, dan sou hy sy melaatsheid wegneem.” As gevolg van haar getuienis het Naäman Israel toe gegaan, uiteindelik aan Elisa se opdrag gehoor gegee om sewe maal in die Jordaanrivier te bad en is hy van sy melaatsheid genees. Wat meer is, Naäman het ’n aanbidder van Jehovah geword. Hoe verheug moes daardie meisie tog nie daaroor gewees het nie!—2 Konings 5:1-3, 13-19.

15. Waarom is dit belangrik vir ouers om aan hulle kinders goeie geestelike opleiding te gee? Lig toe.

15 Dit is nie maklik om godvresende kinders groot te maak in hierdie sedelik verdorwe wêreld wat in Satan se mag lê nie (1 Johannes 5:19). Maar van kleintyd af het Timoteus se grootmoeder Loïs en sy moeder, Eunice, hom met welslae die Skrif geleer (2 Timoteus 1:5; 3:14, 15). Om die Bybel met jou kinders te studeer, hulle gereeld na Christelike vergaderinge te neem en hulle uiteindelik saam met jou in die bediening te neem, is alles deel van die opleidingsprogram waarvoor jy aan God rekenskap moet gee. ’n Christen in Wallis, wat nou in haar middel-tagtigerjare is, onthou dat haar vader haar in die vroeë twintigerjare saam met hom geneem het wanneer hy 10 kilometer ver oor ’n berg geloop het (20 kilometer heen en weer) om Bybeltraktate onder dorpenaars in die volgende vallei te versprei. “Dit is wanneer ons so geloop het dat my vader die waarheid in my hart ingeskerp het”, sê sy met dankbaarheid.

Ouer manne gee rekenskap—Hoe?

16, 17. (a) Watter voorregte het geestelik volwasse oudstes in eertydse Israel geniet? (b) Waarom word daar vandag meer van Christen- ouer manne vereis in vergelyking met die situasie in eertydse Israel?

16 “Grysheid is ’n luisterryke kroon wanneer dit op die weg van regverdigheid gevind word”, het die wyse man Salomo gesê (Spreuke 16:31, NW). Maar dit is nie bloot fisiese ouderdom wat ’n man vir verantwoordelikheid in die gemeente van God se volk toerus nie. Geestelik volwasse oudstes in eertydse Israel het as regters en as amptenare vir regspraak en die handhawing van vrede, goeie orde en geestelike gesondheid gedien (Deuteronomium 16:18-20). Hoewel dit ook in die Christengemeente geld, word daar meer van ouer manne vereis namate hierdie stelsel van dinge sy einde nader. Waarom?

17 Die Israeliete was ’n ‘uitverkore volk’ wat deur God uit eertydse Egipte verlos is. Aangesien hulle die Wet deur middel van hulle middelaar, Moses, ontvang het, is hulle nakomelinge in ’n toegewyde nasie gebore en was hulle vertroud met Jehovah se gebooie (Deuteronomium 7:6, 11). Maar vandag word niemand as lid van so ’n toegewyde nasie gebore nie, en betreklik min word in godvrugtige gesinne groot wat goed vertroud is met skriftuurlike waarheid. Veral diegene wat onlangs ‘in die waarheid begin wandel’ het, het dalk leiding nodig oor hoe om volgens skriftuurlike beginsels te lewe (3 Johannes 4). Wat ’n verantwoordelikheid rus derhalwe op die skouers van getroue ouer manne terwyl hulle ‘vashou aan die patroon van gesonde woorde’ en Jehovah se volk help!—2 Timoteus 1:13, 14.

18. Watter soort bystand moet gemeentelike ouer manne bereid wees om te gee, en waarom?

18 ’n Jong kindjie wat leer loop, struikel dalk en val. Hy voel onseker en het ouerlike hulp en gerusstelling nodig. Iemand wat aan Jehovah toegewy is, kan eweneens geestelik struikel of val. Selfs die apostel Paulus het dit nodig gevind om hard te stry om te doen wat reg of goed in God se oë is (Romeine 7:21-25). Herders van God se kudde moet liefdevolle bystand aan Christene verleen wat gesondig het maar waarlik berouvol is. Toe ouer manne ’n toegewyde vrou besoek het wat ’n ernstige fout begaan het, het sy in die teenwoordigheid van haar toegewyde man gesê: “Ek weet julle gaan my uitsit!” Maar sy het begin huil toe hulle vir haar sê dat die ouer manne wou weet watter hulp nodig was om die gesin se geestelikheid te herstel. Omdat die ouer manne weet dat hulle rekenskap moet gee, was hulle bly om ’n berouvolle medeaanbidder te help.—Hebreërs 13:17.

Hou aan om goeie rekenskap van jouself te gee

19. Hoe kan ons aanhou om goeie rekenskap van onsself aan God te gee?

19 Gemeentelike ouer manne en alle ander knegte van God moet aanhou om goeie rekenskap van hulleself aan Jehovah te gee. Dit is moontlik as ons by God se Woord bly en sy wil doen (Spreuke 3:5, 6; Romeine 12:1, 2, 9). Ons wil veral goed doen aan diegene wat in die geloof aan ons verwant is (Galasiërs 6:10). Maar die oes is steeds groot, en die werkers bly min (Matteus 9:37, 38). Laat ons dus aan ander goed doen deur die Koninkryksboodskap ywerig te verkondig. Jehovah sal aan ons erkenning gee as ons ons toewyding uitleef, sy wil doen en die goeie nuus getrou verkondig.

20. Wat leer ons uit Nehemia se lewensweg?

20 Laat ons derhalwe altyd volop hê om in die Here se werk te doen (1 Korintiërs 15:58). En dit is goed om te dink aan Nehemia, wat Jerusalem se muur herbou het, God se Wet toegepas het en ware aanbidding ywerig bevorder het. Hy het gebid dat Jehovah God hom sou onthou vir die goeie dinge wat hy gedoen het. Mag jy net so toegewyd aan Jehovah wees en mag hy aan jou erkenning gee.

Wat is jou antwoorde?

◻ Watter voorbeeld het Nehemia gestel?

◻ Waarom maak kennis ons aanspreeklik teenoor God?

◻ Hoe kan ons in ons bediening aanvaarbare rekenskap aan Jehovah gee?

◻ Wat kan gesinne doen om goeie rekenskap aan God te gee?

◻ Hoe gee Christen- ouer manne rekenskap?

[Prente op bladsy 18]

Soos Paulus, kan ons as Koninkryksverkondigers voortreflike rekenskap aan God gee

[Prent op bladsy 19]

Is julle kinders sterk in geloof soos die klein Israelitiese meisie in Naäman se huis?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel