Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w96 9/15 bl. 22-24
  • Moet jy werklik verskoning vra?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Moet jy werklik verskoning vra?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Liefde verplig ons om verskoning te vra
  • ‘Omgord julle met ootmoed’
  • Belangrik in die huwelik
  • Die kuns om verskoning te vra
  • Hoekom moet ek jammer sê?
    Jongmense vra
  • Vir ’n gelukkige huwelik: Vra om verskoning
    Hulp vir die gesin
  • Hoe om verskoning te vra
    Ontwaak!—2015
  • Vra verskoning—Herstel só die vrede
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
w96 9/15 bl. 22-24

Moet jy werklik verskoning vra?

‘EK VRA nooit verskoning nie’, het George Bernard Shaw geskryf. ‘Gedane sake het geen keer nie’, sê ander dalk.

Ons is self miskien onwillig om ’n fout te erken omdat ons bang is dat ons aansien sal verloor. Miskien redeneer ons dat die probleem by die ander persoon lê. Of ons neem ons dalk voor om verskoning te vra, maar stel dit uit tot ons dink dat die saak uiteindelik vergete is.

Is dit dus nodig om verskoning te vra? Kan ons werklik enigiets daardeur bereik?

Liefde verplig ons om verskoning te vra

Broederlike liefde is ’n kenmerk van Jesus Christus se ware volgelinge. Hy het gesê: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Johannes 13:35). Die Skrif spoor Christene aan om ‘mekaar intens uit die hart lief te hê’ (1 Petrus 1:22). Intense liefde verplig ons om verskoning te vra. Waarom? Omdat dit onvermydelik is dat menslike onvolmaaktheid gekrenkte gevoelens gaan veroorsaak wat liefde ondermyn as sake nie reggestel word nie.

Byvoorbeeld, as gevolg van persoonlike verskille met iemand in die Christengemeente verkies ons dalk om nie met hom te praat nie. Hoe kan ’n liefdevolle verhouding herstel word as ons iemand aanstoot gegee het? In die meeste gevalle kan dit gedoen word deur verskoning te vra en dan ’n poging aan te wend om op ’n hartlike wyse met die persoon te gesels. Ons is liefde aan ons medegelowiges verskuldig, en wanneer ons sê dat ons jammer is dat ons hom aanstoot gegee het, betaal ons van daardie skuld af.—Romeine 13:8.

Ter toeligting: Mari Carmen en Paqui is twee Christenvroue wat al lank vriende is. Maar omdat Mari Carmen skadelike skinderpraatjies geglo het, het haar vriendskap met Paqui verkoel. Sonder om te verduidelik, het sy Paqui heeltemal vermy. Byna ’n jaar later het Mari Carmen uitgevind dat die skinderpraatjies onwaar was. Wat was haar reaksie? Liefde het haar beweeg om na Paqui te gaan en nederig te sê dat sy baie spyt is oor haar swak gedrag. Hulle het albei in trane uitgebars, en sedertdien is hulle hegte vriende.

Hoewel ons dalk nie meen dat ons enigiets verkeerd gedoen het nie, kan ons deur verskoning te vra ’n misverstand uit die weg ruim. Manuel vertel: “Baie jare gelede het ek en my vrou in die huis van een van ons geestelike susters gebly terwyl sy in die hospitaal was. Ons het alles in ons vermoë gedoen om haar en haar kinders te help terwyl sy siek was. Maar nadat sy huis toe gekom het, het sy by ’n vriend gekla dat ons nie die huishougeld reg gebruik het nie.

“Ons het haar besoek en verduidelik dat ons miskien nie na sake omgesien het soos sy daarna sou omsien nie omdat ons nog jonk en onervare is. Sy het onmiddellik gereageer deur te sê dat sy die een is wat aan ons dank verskuldig is en dat sy waarlik dankbaar was vir alles wat ons vir haar gedoen het. Die probleem is opgelos. Daardie ondervinding het my geleer hoe belangrik dit is om nederig vergifnis te vra wanneer misverstande ontstaan.”

Jehovah het hierdie egpaar geseën omdat hulle liefde betoon het en ‘die dinge nagestreef het wat vrede bevorder’ (Romeine 14:19). Liefde behels ook dat ’n mens van ander se gevoelens bewus moet wees. Petrus spoor ons aan om “meegevoel” te betoon (1 Petrus 3:8). As ons meegevoel het, is dit waarskynliker dat ons bewus sal wees van die pyn wat ons deur ’n onbesonne woord of daad veroorsaak het en sal dit ons beweeg om verskoning te vra.

‘Omgord julle met ootmoed’

Selfs getroue Christen- ouer manne het dalk soms ’n skerp woordewisseling. (Vergelyk Handelinge 15:37-39.) By sulke geleenthede sal dit baie nuttig wees om verskoning te vra. Maar wat sal ’n ouer man of enige ander Christen help wat dit moeilik vind om verskoning te vra?

Nederigheid is die sleutel. Die apostel Petrus het gemaan: ‘Omgord julle met ootmoed teenoor mekaar’ (1 Petrus 5:5). Hoewel albei partye in die meeste gevalle van onenighede die skuld dra, bekommer die nederige Christen hom oor sy eie tekortkominge en is hy bereid om hulle te erken.—Spreuke 6:1-5, NW.

Die een wat om verskoning gevra word, moet dit nederig aanvaar. By wyse van illustrasie: gestel twee mans wat met mekaar moet praat, staan op die spitse van twee berge. As gevolg van die kloof wat hulle skei, is dit onmoontlik om ’n gesprek te voer. Maar wanneer een van hulle na onder in die vallei gaan en die ander een sy voorbeeld volg, kan hulle maklik met mekaar gesels. As twee Christene eweneens ’n verskil tussen hulle uit die weg moet ruim, moet hulle mekaar as ’t ware nederig in die vallei ontmoet, en op gepaste wyse verskoning vra.—1 Petrus 5:6.

Belangrik in die huwelik

In ’n huwelik tussen twee onvolmaakte mense sal daar beslis geleenthede wees om verskoning te vra. En as die man sowel as die vrou meegevoel het, sal dit hulle beweeg om verskoning te vra wanneer hulle iets sê of doen wat onbedagsaam is. Spreuke 12:18 sê: “Daar is een wat onverskillig woorde uitspreek soos swaardsteke, maar die tong van die wyse is genesing.” ‘Onverskillige swaardsteke’ kan nie ongedaan gemaak word nie, maar ’n opregte verskoning kan dit genees. Dit verg natuurlik voortdurende bewustheid en inspanning.

Susana het oor haar huwelik gesê: “Ek en Jack* is al 24 jaar getroud, maar ons leer steeds nuwe dinge omtrent mekaar. ’n Hele ruk gelede het ons ongelukkig uitmekaar gegaan en ’n paar weke weg van mekaar gewoon. Ons het egter na skriftuurlike raad van die ouer manne geluister en is weer verenig. Ons besef nou dat ons as gevolg van ons uiteenlopende persoonlikhede waarskynlik rusie sal maak. Wanneer dit gebeur, vra ons onmiddellik verskoning en probeer ons werklik hard om die ander persoon se sienswyse te verstaan. Ek is bly om te sê dat ons huwelik aansienlik verbeter het.” Jack voeg by: “Ons het ook geleer om daardie tye te identifiseer wanneer ons geneig is om ontsteld te word. Veral dan toon ons groter begrip vir mekaar se gevoelens.”—Spreuke 16:23.

Moet jy verskoning vra as jy dink dat jy nie skuldig is nie? Wanneer diep gevoelens by ’n saak betrokke is, is dit moeilik om objektief te wees oor wie die skuld dra. Maar die belangrike ding is vrede in die huwelik. Dink aan Abigail, ’n Israelitiese vrou deur wie se man Dawid te na gekom is. Hoewel sy nie vir haar man se dwaasheid blameer kon word nie, het sy verskoning gevra. “Vergeef tog die oortreding van u dienares”, het sy gesmeek. Dawid het gereageer deur bedagsaam teenoor haar op te tree en het nederig erken dat hy onskuldige bloed sou vergiet het as dit nie vir haar was nie.—1 Samuel 25:24-28, 32-35.

’n Christenvrou met die naam June, wat al 45 jaar getroud is, meen eweneens dat ’n suksesvolle huwelik daarvan afhang of jy bereid is om eerste verskoning te vra. Sy sê: “Ek herinner my daaraan dat ons huwelik belangriker is as my gevoelens as individu. Wanneer ek dus verskoning vra, voel ek dat ek tot die huwelik bydra.” ’n Bejaarde man met die naam Jim sê: “Ek vra my vrou selfs vir klein dingetjies verskoning. Vandat sy ’n ernstige operasie gehad het, raak sy maklik ontsteld. Ek sit dus gereeld my arm om haar en sê: ‘Jammer Liefling. Ek het nie bedoel om jou te ontstel nie.’ Soos ’n plant wat natgemaak word, is sy onmiddellik opgebeur.”

As ons die een seergemaak het vir wie ons die liefste is, is dit baie goed om onmiddellik verskoning te vra. Milagros stem heelhartig saam en sê: “Ek het nie baie selfvertroue nie, en dit ontsenu my as my man my kwaai aanspreek. Maar wanneer hy verskoning vra, voel ek onmiddellik beter.” Die Skrif sê gepas vir ons: “Vriendelike woorde is soos ’n heuningkoek: soet vir die siel en ’n genesing vir die gebeente.”—Spreuke 16:24.

Die kuns om verskoning te vra

As ons altyd verskoning vra wanneer dit nodig is, sal ons waarskynlik vind dat mense gunstig sal reageer. En miskien sal hulle self verskoning vra. Wanneer ons vermoed dat ons iemand ontstel het, kan ons gerus ’n gewoonte daarvan maak om eerder verskoning te vra as om hard te probeer om onsself te verontskuldig. Die wêreld meen dalk dat dit ’n teken van swakheid is om verskoning te vra, maar dit lewer in werklikheid bewys van Christelike volwassenheid. Ons wil natuurlik nie soos diegene wees wat ’n fout erken maar hulle verantwoordelikheid verklein nie. Sê ons byvoorbeeld ooit dat ons jammer is sonder dat ons dit bedoel? As ons laat kom en oor en oor verskoning vra, neem ons ons dan voor om stipteliker te wees?

Het ons dus werklik nodig om verskoning te vra? Ja, ons het. Ons is dit aan onsself en aan ander verskuldig. As ons verskoning vra, kan dit die pyn verlig wat deur onvolmaaktheid veroorsaak word, en dit kan gespanne verhoudings uit die weg ruim. Elke keer wat ons verskoning vra, is dit vir ons ’n les in nederigheid en word ons geleer om meer bewus te wees van ander se gevoelens. As gevolg hiervan sal medegelowiges, huweliksmaats en ander ons as persone beskou wat hulle toegeneentheid en vertroue verdien. Ons sal gemoedsrus hê, en Jehovah God sal ons seën.

[Voetnoot]

a Nie hulle regte name nie.

[Prente op bladsy 23]

Christelike liefde word bevorder deur opreg verskoning te vra

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel