Ons dien Jehovah as ’n verenigde gesin
SOOS VERTEL DEUR ANTONIO SANTOLERI
My pa was 17 toe hy in 1919 Italië verlaat het. Hy het Brasilië toe gegaan om ’n beter lewe te soek. Mettertyd het hy ’n barbierswinkel in ’n klein dorpie in die binneland van die staat Sao Paulo gehad.
EENDAG in 1938, toe ek sewe was, het my pa die Brasileira-vertaling van die Bybel by ’n man gekry wat by sy winkel was. Twee jaar later het my ma ernstig siek geword, en was tot haar dood ’n invalide. My pa het ook siek geword, en gevolglik het ons almal—Ma, Pa en ek en my suster Ana—by familie in die stad Sao Paulo gaan woon.
Terwyl ek in Sao Paulo op skool was, het ek baie boeke gelees, veral boeke oor die geskiedenis. Die feit dat hulle soms na die Bybel verwys het, het my beïndruk. ’n Roman, wat ek by Sao Paulo se openbare biblioteek uitgeneem het, het verskeie kere na die Bergpredikasie verwys. Dit is toe dat ek besluit het om ’n Bybel te kry en self daardie preek te lees. Ek het na die Bybel gaan soek wat my pa jare tevore gekry het en het dit uiteindelik onder in ’n kis gevind, waar dit sewe jaar gelê het.
Ons gesin was Katoliek en gevolglik is ek nooit aangemoedig om die Bybel te lees nie. Nou, op my eie, het ek geleer hoe om die hoofstukke en verse op te soek. Dit het my groot plesier verskaf om nie alleen die Bergpredikasie te lees nie, maar die hele boek Matteus sowel as ander Bybelboeke. Wat my die meeste beïndruk het, was die opregtheid waarmee Jesus se leringe en wonderwerke aangebied is.
Omdat ek besef het dat die Katolieke godsdiens grootliks verskil van wat ek in die Bybel gelees het, het ek na die Presbiteriaanse Kerk begin gaan, en Ana het saamgekom. Maar ek het nog steeds ’n leemte in my hart gevoel. Ek het jare lank ywerig na God gesoek (Handelinge 17:27). Een sterrenag, toe ek in ’n nadenkende gemoedstemming was, het ek my afgevra: ‘Waarom is ek hier? Wat is die doel van die lewe?’ Ek het na ’n plek in die agterplaas gegaan waar ek alleen kon wees, op my knieë gegaan en gebid: ‘Here God! Wie is u? Hoe kan ek u leer ken?’ Ek het kort daarna ’n antwoord gekry.
Ek leer Bybelwaarheid
Eendag in 1949 het ’n jong vrou my pa genader toe hy van ’n trem afgeklim het. Sy het vir hom Die Wagtoring en Ontwaak! aangebied. Hy het op Die Wagtoring ingeteken en haar gevra om na ons huis te kom en het verduidelik dat hy twee kinders het wat na die Presbiteriaanse Kerk gaan. Gedurende die vrou se besoek het sy die boek Kinders by Ana gelaat en ’n Bybelstudie met haar begin. Later het ek ook by die studie aangesluit.
In November 1950 het ons ons eerste streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies bygewoon. Daar is die boek “Laat God waaragtig wees” vrygestel, en ons het ons Bybelstudie met daardie boek as ons handleiding voortgesit. Kort daarna het ons tot die slotsom gekom dat ons die waarheid gevind het, en in April 1951 is ons as simbool van ons toewyding aan Jehovah gedoop. My pa het hom ’n paar jaar later toegewy en het God getrou gedien tot sy dood in 1982.
Gelukkig in die voltydse diens
In Januarie 1954, toe ek net 22 was, is ek aanvaar vir diens by die takkantoor van Jehovah se Getuies, wat Bethel genoem word. Toe ek daar aangekom het, was ek verbaas om uit te vind dat ’n man wat net twee jaar ouer as ek was, Richard Mucha, die takopsiener was. In 1955, toe meer kringknegte, soos reisende opsieners destyds genoem is, nodig was, was ek een van die vyf mans wat gevra is om hierdie diens te betree.
Ek is na die staat Rio Grande do Sul gestuur. Daar was net 8 gemeentes van Jehovah se Getuies toe ek begin het, maar binne 18 maande is 2 nuwe gemeentes en 20 afgesonderde groepe gestig. Vandag is daar 15 kringe van Jehovah se Getuies in hierdie gebied, wat elk uit ongeveer 20 gemeentes bestaan! Aan die einde van 1956 is ek in kennis gestel dat my kring in vier kleiner kringe verdeel is wat deur vier kringknegte bedien sou word. Ek is toe gevra om terug te kom Bethel toe vir ’n nuwe toewysing.
Tot my verbasing en vreugde is ek na die noorde van Brasilië gestuur as ’n streekkneg, ’n reisende bedienaar wat ’n aantal kringe bedien. Daar was destyds 12 000 bedienaars van Jehovah se Getuies in Brasilië, en die land het twee streke gehad. Richard Wuttke het in die suide gedien, en ek het die streek in die noorde gehad. Ons is by Bethel opgelei om ’n projektor te hanteer sodat ons die rolprente kon vertoon wat Jehovah se Getuies gemaak het, naamlik The New World Society in Action en The Happiness of the New World Society.
In daardie dae het ons nie soos vandag gereis nie. Omdat geeneen van die Getuies ’n motor gehad het nie, moes ek per kano, roeiboot, oskar, perd, wa, vragmotor en eenkeer per vliegtuig reis. Dit was opwindend om oor die Amasonewoud te vlieg en in Santarém te land, ’n stad halfpad tussen Belém by die monding van die Amasonerivier en Manaus, die hoofstad van die staat Amazonas. Streekknegte het destyds min kringbyeenkomste gehad om te bedien en gevolglik het ek baie van my tyd gebruik om die Genootskap se rolprente te vertoon. In groter stede het honderde die vertonings bygewoon.
In noordelike Brasilië is ek die meeste beïndruk deur die Amasonestreek. Terwyl ek in April 1957 daar gedien het, het die Amasonerivier en sy sytakke hulle oewers oorstroom. Ek het die voorreg gehad om een van die rolprente in die woud te vertoon en moes hiervoor ’n geïmproviseerde skerm tussen twee bome span. Die krag vir die projektor het van ’n motorboot gekom wat in die rivier daar naby geanker was. Vir die meeste mense in die gehoor was dit die eerste rolprent wat hulle gesien het.
Ek het kort daarna weer by Bethel gaan dien, en die volgende jaar, in 1958, het ek die voorreg gehad om die geskiedkundige “Goddelike Wil”-Internasionale Byeenkoms van Jehovah se Getuies, in die stad New York, by te woon. Afgevaardigdes van 123 lande was onder die 253 922 wat die Yankee-stadion en die nabygeleë Polo-terrein op die laaste dag van daardie agt dae lange byeenkoms gevul het.
Veranderinge in my lewe
Kort nadat ek weer Bethel toe gegaan het, het ek Clara Berndt ontmoet, en in Maart 1959 is ons getroud. Ons is gestuur om op die kring in die staat Bahia te dien, waar ons ongeveer ’n jaar was. Ek en Clara onthou steeds met vreugde die nederigheid, gasvryheid, ywer en liefde van die broers daar; hulle was materieel arm, maar ryk aan Koninkryksvrug. Toe is ons na die staat Sao Paulo oorgeplaas. Dit was daar, in 1960, dat my vrou verwagtend geword het, en ons moes uit die voltydse bediening tree.
Ons het besluit om na ’n plek in die staat Santa Catarina te verhuis, waar my vrou gebore is. Ons seun, Gerson, was die eerste van ons vyf kinders. Ná hom was daar Gilson in 1962, Talita in 1965, Tárcio in 1969 en Janice in 1974. Met Jehovah se hulp en die goeie raad wat hy voorsien, kon ons die uitdaging die hoof bied om hulle in “die dissipline en verstandsregulering van Jehovah” groot te maak.—Efesiërs 6:4.
Elkeen van ons kinders is vir ons kosbaar. Die psalmis het ons gevoelens baie goed uitgedruk: “Kyk, seuns is ’n erfdeel van die HERE” (Psalm 127:3). Ondanks probleme het ons na ons kinders omgesien soos ons na enige “erfdeel van die HERE” sou omsien deur die raad wat in sy Woord gevind word voor oë te hou. Daar was baie belonings. Dit het ons onuitspreeklike vreugde verskaf toe al vyf na mekaar, afsonderlik en uit hulle eie hulle begeerte uitgespreek het om gedoop te word as simbool van hulle toewyding aan Jehovah.—Prediker 12:1.
Ons kinders se keuses
Ons was baie bly toe Gerson, kort nadat hy ’n kursus in dataverwerking voltooi het, gesê het dat hy by Bethel wil dien en gevolglik eerder die voltydse bediening as ’n professionele loopbaan gekies het. Maar Bethellewe was nie in die begin vir Gerson maklik nie. Nadat ons hom besoek het toe hy maar net vier maande in Bethel was, is ek getref deur die hartseer wat ek in sy gesig kon sien toe ons vertrek het. In ons motor se truspieël kon ek sien hoe hy ons agternakyk tot ons om die eerste draai in die pad was. My oë was so vol trane dat ek langs die pad moes stilhou voordat ek die 700 kilometer lange rit huis toe kon voortsit.
Gerson het dit mettertyd werklik geniet om in Bethel te wees. Nadat hy byna ses jaar daar was, het hy met Heidi Besser getrou, en hulle het nog twee jaar saam in Bethel gedien. Toe het Heidi verwagtend geword, en hulle moes Bethel verlaat. Hulle dogter, Cintia, wat nou ses is, vergesel hulle wanneer hulle Koninkrykswerk doen.
Nie lank nadat ons Gerson die eerste keer by Bethel gaan besoek het nie, het Gilson, wat pas tevore sy eerste jaar in sakeadministrasie voltooi het, gesê dat hy óók daar wil dien. Dit was sy plan om sy sakekursus voort te sit nadat hy ’n jaar by Bethel gedien het. Maar hy het van plan verander, en hy het in Betheldiens gebly. In 1988 is hy getroud met Vivian Gonçalves, ’n pionier, soos voltydse bedienaars genoem word. Van daardie tyd af dien hulle al baie jare saam by Bethel.
Ons het verdere vreugde gehad toe ons derde kind, Talita, in 1986 besluit het om ’n pionier te word nadat sy ’n tekenkursus gevolg het. Drie jaar later is sy ook genooi om Bethel toe te kom. In 1991 is sy met José Cozzi getroud, wat toe al tien jaar in Betheldiens was. Hulle dien steeds daar as ’n egpaar.
Ek en my vrou was weer eens baie bly toe Tárcio, ons volgende kind, dieselfde woorde herhaal het wat ons al drie keer gehoor het: “Pa, ek wil Bethel toe gaan.” Sy aansoek is aanvaar, en in 1991 het hy ook Betheldiens begin, waar hy tot 1995 gedien het. Ons is bly dat hy sy jeugdige krag meer as drie jaar gebruik het om Jehovah se Koninkryksbelange op hierdie manier te bevorder.
Ons jongste kind, Janice, het ook besluit om Jehovah te dien en is gedoop toe sy 13 was. Terwyl sy op skool was, het sy ’n jaar lank as ’n hulppionier gedien. Toe, op 1 September 1993, het sy ’n gewone pionier in ons gemeente hier in die stad Gaspar geword.
Die weg van sukses
Wat is die geheim om ’n gesin verenig in die aanbidding van Jehovah te hou? Ek glo nie daar is die een of ander wonderresep nie. Jehovah het raad in sy Woord voorsien wat Christenouers moet volg, en gevolglik kom alle eer hom toe vir die goeie resultate wat ons geniet het. Ons het maar net sy leiding probeer volg (Spreuke 22:6). Al ons kinders het my Latynse sentimentaliteit oorgeërf en ’n praktiese Germaanse gees van hulle ma. Maar die belangrikste ding wat hulle van ons ontvang het, is ’n geestelike erfenis.
Ons gesinslewe het om Koninkryksbelange gedraai. Dit was nie maklik om hierdie belange voor alle ander dinge te stel nie. Dit was byvoorbeeld moeilik om altyd met ’n gereelde gesinsbybelstudie vol te hou, maar ons het nooit die handdoek ingegooi nie. Vandat hulle net ’n paar dae oud was, is elke kind na die Christelike vergaderinge sowel as na kring- en streekbyeenkomste geneem. Net siekte of ’n noodgeval het ons verhinder om dit by te woon. Daarbenewens het die kinders ons van jongs af in die Christelike bediening vergesel.
Toe hulle omtrent tien was, het die kinders toesprake in die Teokratiese Bedieningskool begin hou. Ons het hulle gehelp om hulle eerste toesprake voor te berei en het hulle aangemoedig om eerder ’n skets as ’n manuskrip te gebruik. Mettertyd het hulle elkeen hulle eie toesprake voorberei. Elkeen van hulle het ook gereeld aan die bediening begin deelneem toe hulle tussen die ouderdom van 10 en 12 was. Dit was die enigste lewenswyse wat hulle geken het.
My vrou, Clara, het ’n allerbelangrike rol in die grootmaak van ons kinders gespeel. Clara het elke aand, toe hulle baie klein was—die tyd wanneer ’n kind alles wat hy geleer word soos ’n spons absorbeer—vir hulle ’n Bybelstorie gelees en saam met elkeen gebid. Sy het goed gebruik gemaak van die boeke Van die Verlore Paradys tot die Herwonne Paradys, Luister na die Groot Onderwyser en My boek met Bybelverhale.a Ons het ook die oudio- en videobande van Jehovah se Getuies gebruik toe hulle beskikbaar geword het.
Ons ondervinding as Christenouers bevestig die feit dat kinders elke dag aandag nodig het. Intense liefde, individuele belangstelling en baie tyd is van die basiese behoeftes van jongmense. Ons het dit nie net as ons ouerlike plig beskou om na die beste van ons vermoë in hierdie behoeftes te voorsien nie, maar dit het ons ook groot vreugde verskaf om dit te doen.
Dit maak ouers waarlik gelukkig wanneer hulle die vervulling van die woorde in Psalm 127:3-5 sien: “Kyk, seuns is ’n erfdeel van die HERE; die vrug van die moederskoot is ’n beloning. Soos pyle in die hand van ’n held, so is die seuns van die jeug. Gelukkig is die man wat sy pylkoker daarmee gevul het!” Dit verskaf ons voorwaar groot vreugde om Jehovah as ’n verenigde gesin te dien!
[Voetnoot]
a Almal uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
[Prent op bladsy 26]
Antonio Santoleri saam met sy gesin