Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w96 10/15 bl. 15-19
  • Eggenoot en ouer man—Hou die verantwoordelikhede in ewewig

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Eggenoot en ouer man—Hou die verantwoordelikhede in ewewig
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ouermanskap en die huwelik is versoenbaar
  • ‘Die getroude man is verdeeld’
  • Goeie eggenote sowel as goeie ouer manne
  • Skriftuurlike pligte teenoor ’n vrou
  • ‘Verdrukking in die vlees’
  • Selfopofferende vrouens
  • Vader en ouer man—Vervul albei rolle
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Moenie skei wat God onder een juk saamgevoeg het nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Wyse raad vir egpare
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Toon liefde en respek as man
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
w96 10/15 bl. 15-19

Eggenoot en ouer man—Hou die verantwoordelikhede in ewewig

‘Die opsiener moet die man van een vrou wees.’—1 TIMOTEUS 3:2.

1, 2. Waarom is die priesterlike selibaat onskriftuurlik?

IN DIE eerste eeu was dit vir getroue Christene ’n saak van belang om al hulle verantwoordelikhede in ewewig te hou. Het die apostel Paulus bedoel dat ’n Christen wat ongetroud bly geskikter is om ’n opsiener in die Christengemeente te wees toe hy gesê het dat so iemand ‘beter sal doen’? Het hy in werklikheid die ongehude staat ’n vereiste vir ouer manne gemaak? (1 Korintiërs 7:38). Daar word vereis dat Katolieke geestelikes ongetroud bly. Maar is die priesterlike selibaat skriftuurlik? Die Oosters-Ortodokse Kerke laat hulle plaaslike pastore toe om getroude mans te wees, maar nie hulle biskoppe nie. Is dit in harmonie met die Bybel?

2 Baie van Christus se 12 apostels, die fondament van die Christengemeente, was getroude mans (Matteus 8:14, 15; Efesiërs 2:20). Paulus het geskryf: “Ons het die reg om ’n suster as vrou rond te neem net soos die res van die apostels en die Here se broers en Sefas [Petrus], nie waar nie?” (1 Korintiërs 9:5). Die New Catholic Encyclopedia gee toe dat “die wet van die selibaat van kerklike oorsprong is” en dat “bedienaars van die N[uwe] T[estament] nie tot die selibaat verplig was nie”. Jehovah se Getuies volg eerder die skriftuurlike patroon as die kerklike wet.—1 Timoteus 4:1-3.

Ouermanskap en die huwelik is versoenbaar

3. Watter skriftuurlike feite toon dat Christenopsieners getroude mans kan wees?

3 Paulus het beslis nie vereis dat manne wat as opsieners aangestel word ongetroud moet wees nie, maar het vir Titus geskryf: “Om dié rede het ek jou in Kreta agtergelaat, dat jy die dinge wat gebrekkig was, sou regstel en in stad na stad ouer manne [Grieks, pre·sbuʹte·ros] sou aanstel, soos ek jou bevel gegee het; as daar enigiemand is wat vry van beskuldiging is, die man van een vrou, met gelowige kinders wat nie van losbandigheid aangekla was of weerbarstig was nie. Want ’n opsiener [Grieks, e·piʹsko·pos, waarvan die woord “biskop” afgelei word] moet as God se bestuurder vry van beskuldiging wees.”—Titus 1:5-7.

4. (a) Hoe weet ons dat die huwelik nie ’n vereiste vir Christenopsieners is nie? (b) Watter voordeel het ’n ongetroude broer wat ’n ouer man is?

4 Aan die ander kant is die huwelik nie ’n skriftuurlike vereiste vir ouermanskap nie. Jesus het ongetroud gebly (Efesiërs 1:22). Paulus, ’n uitsonderlike opsiener in die eerste-eeuse Christengemeente, was destyds ongetroud (1 Korintiërs 7:7-9). Vandag is daar baie ongetroude Christene wat as ouer manne dien. Hulle ongehude staat laat hulle waarskynlik meer tyd toe vir hulle pligte as opsieners.

‘Die getroude man is verdeeld’

5. Watter skriftuurlike feit moet getroude broers erken?

5 Wanneer ’n Christenman trou, moet hy besef dat hy nuwe verantwoordelikhede op hom neem wat eise aan sy tyd en aandag gaan stel. Die Bybel sê: “Die ongetroude man is besorg vir die dinge van die Here, hoe hy die Here se goedkeuring kan verkry. Maar die getroude man is besorg vir die dinge van die wêreld, hoe hy sy vrou se goedkeuring kan verkry, en hy is verdeeld” (1 Korintiërs 7:32-34). In watter opsig verdeeld?

6, 7. (a) Wat is een manier waarop ’n getroude man “verdeeld” is? (b) Watter raad gee Paulus aan getroude Christene? (c) Watter invloed kan dit hê op ’n man se besluit om ’n werk te aanvaar?

6 Om maar een ding te noem, ’n getroude man doen afstand van gesag oor sy eie liggaam. Paulus het dit baie duidelik gestel: “Die vrou oefen nie gesag oor haar eie liggaam uit nie, maar haar man wel; net so ook oefen die man nie gesag oor sy eie liggaam uit nie, maar sy vrou wel” (1 Korintiërs 7:4). Party wat dit oorweeg om te trou, dink dalk dat dit van min belang is omdat seks nie die belangrikste ding in hulle huwelik sal wees nie. Maar aangesien voorhuwelikse kuisheid ’n skriftuurlike vereiste is, ken Christene nie eintlik die intieme behoeftes van hulle toekomstige huweliksmaat nie.

7 Paulus toon dat selfs ’n egpaar wat hulle ‘verstande op die dinge van die gees rig’ mekaar se seksuele behoeftes in ag moet neem. Hy het Christene in Korinte aangespoor: “Laat die man sy vrou gee wat haar toekom; maar laat die vrou ook dieselfde teenoor haar man doen. Moet mekaar dit nie ontsê nie, behalwe met wedersydse instemming vir ’n vasgestelde tyd, dat julle tyd aan gebed kan wy en weer bymekaar kan kom, sodat Satan julle nie weens julle gebrek aan selfbeheersing bly versoek nie” (Romeine 8:5; 1 Korintiërs 7:3, 5). Ongelukkig was daar al gevalle van egbreuk wanneer hierdie raad nie toegepas is nie. Aangesien dit die geval is, moet ’n getroude Christen sake versigtig oorweeg voordat hy ’n werk aanvaar wat hom ’n geruime tyd van sy vrou sal wegneem. Hy het nie meer dieselfde bewegingsvryheid as toe hy ongetroud was nie.

8, 9. (a) Wat het Paulus bedoel toe hy gesê het dat getroude Christene ‘besorg is vir die dinge van die wêreld’? (b) Waaroor moet getroude Christene besorg wees?

8 In watter sin kan daar gesê word dat getroude Christenmans, selfs ouer manne, ‘besorg is vir die dinge van die wêreld [koʹsmos]’? (1 Korintiërs 7:33). Paulus het klaarblyklik nie van die slegte dinge van hierdie wêreld, waarvan alle Christene moet wegbly, gepraat nie (2 Petrus 1:4; 2:18-20; 1 Johannes 2:15-17). God se Woord beveel ons “om goddeloosheid en wêreldse [ko·smi·kosʹ] begeertes te verwerp en om met gesonde verstand en regverdigheid en godvrugtige toegewydheid te midde van hierdie teenswoordige stelsel van dinge te lewe”.—Titus 2:12.

9 ’n Getroude Christen is dus “besorg vir die dinge van die wêreld” omdat hy of sy tereg besorg is oor die alledaagse dinge wat deel uitmaak van die normale getroude lewe. Dit is onder meer verblyf, kos, klere, ontspanning—om nie te praat van tallose ander sorge as daar kinders is nie. Maar selfs in die geval van kinderlose egpare moet die man sowel as die vrou besorg wees oor hoe om die ‘goedkeuring van sy of haar huweliksmaat te verkry’ as hulle ’n suksesvolle huwelik wil hê. Dit is veral van belang vir Christen- ouer manne terwyl hulle hulle verantwoordelikhede in ewewig probeer hou.

Goeie eggenote sowel as goeie ouer manne

10. Voor ’n Christen as ouer man kwalifiseer, wat moet sy broers en mense buite die gemeente kan sien?

10 Hoewel dit nie ’n vereiste vir ouer manne is om getroud te wees nie, moet ’n getroude Christenman, voor hy aanbeveel word om as ouer man aangestel te word, beslis toon dat hy probeer om ’n goeie, liefdevolle eggenoot te wees wat behoorlike hoofskap uitoefen (Efesiërs 5:23-25, 28-31). Paulus het geskryf: “As iemand na ’n opsienersamp streef, begeer hy ’n voortreflike werk. Die opsiener moet dus onberispelik wees, die man van een vrou” (1 Timoteus 3:1, 2). Dit moet duidelik wees dat ’n ouer man alles in sy vermoë doen om ’n goeie eggenoot te wees, hetsy sy vrou ’n mede-Christen is of nie. Trouens, selfs mense buite die gemeente moet kan sien dat hy goed vir sy vrou en sy ander verantwoordelikhede sorg. Paulus het verder gesê: “Hy [moet] ook ’n voortreflike getuienis hê van mense wat buite is, sodat hy nie in smaad en ’n strik van die Duiwel val nie.”—1 Timoteus 3:7.

11. Wat impliseer die uitdrukking “die man van een vrou”, en watter voorsorgmaatreël moet ouer manne dus tref?

11 Die uitdrukking “die man van een vrou” sluit natuurlik veelwywery uit, maar dit impliseer ook huwelikstrou (Hebreërs 13:4). Veral ouer manne moet besonder versigtig wees wanneer hulle susters in die gemeente help. Hulle moet sorg dat hulle nie alleen is wanneer hulle ’n suster besoek wat raad en vertroosting nodig het nie. Dit sal goed wees as ’n ander ouer man of ’n bedieningskneg saam met hulle gaan, of selfs hulle vrou as dit net ’n aanmoedigende besoek is.—1 Timoteus 5:1, 2.

12. Aan watter beskrywing moet die vrouens van ouer manne en bedieningsknegte probeer beantwoord?

12 Terloops, toe die apostel Paulus die vereistes vir ouer manne en bedieningsknegte genoem het, het hy ook raad gehad vir die vrouens van diegene wat in aanmerking kom vir hierdie voorregte. Hy het geskryf: “Vroue moet insgelyks ernstig wees, nie laster nie, matig in gewoontes, getrou in alles” (1 Timoteus 3:11). ’n Christenman kan baie doen om sy vrou te help om aan daardie beskrywing te beantwoord.

Skriftuurlike pligte teenoor ’n vrou

13, 14. Waarom moet ’n ouer man by sy vrou bly en ’n goeie eggenoot wees, al is sy nie ’n mede-Getuie nie?

13 Hierdie raad aan die vrouens van ouer manne of bedieningsknegte word natuurlik gegee in die veronderstelling dat hierdie vrouens self toegewyde Christene is. Dit is gewoonlik waar omdat daar van Christene verwag word om “net in die Here” te trou (1 Korintiërs 7:39). Maar wat van ’n broer wat reeds met ’n ongelowige getroud was toe hy sy lewe aan Jehovah toegewy het, of wie se vrou van die weg afdwaal sonder dat dit sy skuld is?

14 Op sigself sal dit hom nie daarvan verhinder om ’n ouer man te wees nie. Dit gee hom ook nie die reg om sy vrou te verlaat bloot omdat sy nie dieselfde oortuiging as hy het nie. Paulus het gesê: “Is jy gebind aan ’n vrou? Hou op om losmaking te soek” (1 Korintiërs 7:27). Hy het ook gesê: “As enige broer ’n ongelowige vrou het en sy nietemin bereid is om met hom saam te woon, laat hy haar dan nie verlaat nie. Maar as die ongelowige weggaan, laat hom weggaan; onder sulke omstandighede is ’n broer of ’n suster nie in diensbaarheid nie, maar God het julle tot vrede geroep. Want hoe weet jy, vrou, of jy nie dalk jou man sal red nie? Of hoe weet jy, man, of jy nie dalk jou vrou sal red nie?” (1 Korintiërs 7:12, 15, 16). Al is sy vrou nie ’n Getuie nie, moet ’n ouer man ’n goeie eggenoot wees.

15. Watter raad gee die apostel Petrus aan Christenmans, en wat kan die gevolg wees as ’n ouer man sy vrou afskeep?

15 Of ’n Christen- ouer man se vrou ’n medegelowige is of nie, hy moet besef dat sy vrou sy liefdevolle aandag nodig het. Die apostel Petrus het geskryf: “Mans, gaan insgelyks voort om ooreenkomstig kennis met hulle [julle vrouens] saam te woon en aan hulle eer toe te ken as ’n swakker vat, die vroulike, aangesien julle ook saam met hulle erfgename van die onverdiende guns van die lewe is, sodat julle gebede nie verhinder word nie” (1 Petrus 3:7). ’n Man wat doelbewus nalaat om na sy vrou se behoeftes om te sien, stel sy eie verhouding met Jehovah in gevaar; dit kan sy toegang tot Jehovah versper soos “met ’n wolkmassa . . . , sodat gebed nie kan deurdring nie” (Klaagliedere 3:44, NW). Dit kan daartoe lei dat hy nie meer aan die vereistes voldoen om as ’n Christenopsiener te dien nie.

16. Watter belangrike punt maak Paulus, en hoe moet ouer manne hieroor voel?

16 Soos reeds genoem is, is die hoofgedagte van Paulus se redenasie dat ’n man, wanneer hy trou, ’n mate van die vryheid prysgee wat hy as ’n ongetroude man gehad het en wat hom in staat gestel het om ‘volgehoue diens aan die Here te lewer sonder om afgelei te word’ (1 Korintiërs 7:35). Verslae toon dat party getroude ouer manne nie altyd gebalanseerd was as hulle oor Paulus se geïnspireerde woorde geredeneer het nie. Weens hulle begeerte om uit te voer wat hulle dink goeie ouer manne moet doen, laat hulle moontlik van hulle pligte as eggenoot na. Party vind dit moeilik om ’n gemeentelike voorreg van die hand te wys, al is dit duidelik dat dit geestelik gesproke skadelik vir hulle vrouens sal wees. Hulle geniet die voorregte van die huwelik, maar is hulle bereid om die verantwoordelikhede wat daarmee gepaardgaan na te kom?

17. Wat het met party vrouens gebeur, en hoe sou dit verhoed kon word?

17 Ywer is beslis prysenswaardig in ouer manne. Maar is ’n Christen gebalanseerd as hy sy pligte in die gemeente nakom, maar sy skriftuurlike verantwoordelikhede teenoor sy vrou nalaat? Hoewel ’n gebalanseerde ouer man diegene in die gemeente wil ondersteun, moet hy ook besorg wees oor sy vrou se geestelikheid. Party ouer manne se vrouens het geestelik swak geword en party het geestelik “skipbreuk gely” (1 Timoteus 1:19). Hoewel ’n vrou die verantwoordelikheid het om haar eie redding te bewerk, sou die geestelike probleem in party gevalle verhoed kon word as die ouer man sy vrou ‘gevoed en gekoester’ het, “soos die Christus ook met die gemeente doen” (Efesiërs 5:28, 29). Ja, ouer manne moet ‘op hulleself let en op die hele kudde’ (Handelinge 20:28). As hulle getroud is, sluit dit tog sekerlik ook hulle vrouens in.

‘Verdrukking in die vlees’

18. Wat is party aspekte van die “verdrukking” wat getroude Christene ervaar, en watter uitwerking kan dit op ’n ouer man se bedrywighede hê?

18 Die apostel het ook geskryf: “As ’n maagdelike persoon sou trou, sou dié geen sonde pleeg nie. Diegene wat wel trou, sal egter verdrukking in hulle vlees hê. Maar ek spaar julle dit” (1 Korintiërs 7:28). Paulus wou diegene wat sy voorbeeld kon navolg deur ongetroud te bly die sorge spaar wat noodwendig met die huwelik gepaardgaan. Selfs vir kinderlose egpare kan hierdie sorge gesondheids- of finansiële probleme insluit, sowel as skriftuurlike verantwoordelikhede teenoor die bejaarde ouers van hulle huweliksmaat (1 Timoteus 5:4, 8). ’n Ouer man moet hierdie verantwoordelikhede op ’n voorbeeldige wyse nakom, en dit kan soms ’n uitwerking hê op sy bedrywighede as ’n Christenopsiener. Gelukkig kom die meeste ouer manne hulle gesins- sowel as hulle gemeentelike verantwoordelikhede goed na.

19. Wat het Paulus bedoel toe hy gesê het: “Laat dié wat vrouens het . . . wees asof hulle nie het nie”?

19 Paulus het verder gesê: “Die oorblywende tyd is kort. Laat dié wat vrouens het van nou af wees asof hulle nie het nie” (1 Korintiërs 7:29). Met die oog op wat hy reeds in hierdie hoofstuk aan die Korintiërs geskryf het, is dit natuurlik duidelik dat hy nie bedoel het dat getroude Christene hulle vrouens in die een of ander opsig moet afskeep nie (1 Korintiërs 7:2, 3, 33). Hy het getoon wat hy bedoel het toe hy geskryf het: “[Laat] dié wat van die wêreld gebruik maak, [wees] soos dié wat dit nie ten volle gebruik nie; want die toneel van hierdie wêreld is aan die verander” (1 Korintiërs 7:31). Nou, selfs meer as in Paulus se dag of in die apostel Johannes se dag, ‘gaan die wêreld verby’ (1 Johannes 2:15-17). Daarom kan getroude Christene wat besef dat dit nodig is om sekere opofferinge te maak om Christus te volg nie toelaat dat al hulle tyd in beslag geneem word deur die vreugdes en voorregte van die huwelik nie.—1 Korintiërs 7:5.

Selfopofferende vrouens

20, 21. (a) Watter opofferinge is baie Christenvrouens bereid om te maak? (b) Wat kan ’n vrou tereg van haar man verwag, al is hy ’n ouer man?

20 Net soos ouer manne opofferinge maak om ander te bevoordeel, het baie vrouens van ouer manne daarna gestreef om hulle verantwoordelikhede in die huwelik in ewewig te hou met noodsaaklike Koninkryksbelange. Duisende Christenvrouens werk graag saam met hulle mans sodat hulle hulle pligte as opsieners kan uitvoer. Jehovah het hulle hiervoor lief, en hy seën die voortreflike gees wat hulle openbaar (Filemon 25). Paulus se gebalanseerde raad toon nietemin dat die vrouens van opsieners tereg ’n redelike hoeveelheid tyd en aandag van hulle mans kan verwag. Dit is die skriftuurlike plig van getroude ouer manne om genoeg tyd aan hulle vrouens te gee en sodoende hulle verantwoordelikhede as eggenoot en opsiener in ewewig te hou.

21 Maar wat van ’n Christen- ouer man wat nie net ’n eggenoot is nie, maar ook ’n vader? Dit vergroot sy verantwoordelikhede en open ’n bykomende gebied van toesig voor hom, soos ons in die volgende artikel sal sien.

Ter hersiening

◻ Watter skriftuurlike feite toon dat ’n Christenopsiener ’n getroude man kan wees?

◻ Waarvan moet ’n ongetroude ouer man bewus wees as hy trou?

◻ In watter opsigte is ’n getroude Christen “besorg vir die dinge van die wêreld”?

◻ Hoe openbaar baie vrouens van opsieners ’n voortreflike selfopofferende gees?

[Prent op bladsy 17]

Al word ’n ouer man besig gehou met teokratiese bedrywighede, moet hy liefdevolle aandag aan sy vrou gee

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel