Vertroosting vir die verdruktes
HET jy opgemerk dat daar in jou leeftyd nog altyd sekere woorde was wat oor en oor in die nuus herhaal is? Is jy moeg daarvoor om woorde soos oorlog, misdaad, rampe, hongersnood en lyding te lees? Dit is egter opvallend dat een woord nie in nuusberigte verskyn nie. Tog is dit ’n woord wat iets verteenwoordig wat die mensdom bitter nodig het. Die woord is “vertroosting”.
“Om te vertroos” beteken “om krag en hoop te gee aan” en “om die verdriet of sorge van [iemand] te verlig”. Met al die beroeringe wat die wêreld in die 20ste eeu ondervind het, is daar ’n dringende behoefte aan hoop en ’n verligting van verdriet. Vandag geniet sommige van ons weliswaar meer materiële geriewe as wat ons voorouers ooit van kon droom. Dit is grootliks te danke aan wetenskaplike vooruitgang. Maar die wetenskap en tegnologie het ons nie vertroos in die sin dat hulle die mensdom van al die oorsake van lyding bevry het nie. Wat is hierdie oorsake?
Baie eeue gelede het die wyse man Salomo van een grondoorsaak van lyding gepraat toe hy gesê het: “Die een mens heers oor die ander tot sy ongeluk” (Prediker 8:9). Die wetenskap en tegnologie kon nie die mens se geneigdheid om oor sy medemens te heers, verander nie. In die 20ste eeu het dit tot onderdrukkende diktatorskappe in lande en tot verskriklike oorloë tussen lande gelei.
Sedert 1914 het meer as honderdmiljoen mense weens oorloë gesterf. Dink aan die smart wat hierdie syfer onder mense verteenwoordig—miljoene treurende families wat vertroosting nodig het. En oorloë lei tot ander vorme van lyding benewens gewelddadige sterftes. Aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog was daar meer as 12 miljoen vlugtelinge in Europa. In onlangser jare het meer as een en ’n halfmiljoen mense uit die oorlogsgebiede in Suidoos-Asië gevlug. Oorlogvoering in die Balkan het meer as tweemiljoen mense gedwing om uit hulle huise te vlug—in baie gevalle om aan “etniese suiwering” te ontkom.
Vlugtelinge het beslis vertroosting nodig, veral dié wat hulle huise verlaat met niks meer as die besittings wat hulle kan dra nie, sonder dat hulle weet waarheen om te gaan of wat die toekoms vir hulle en hulle gesin inhou. Sulke mense is van die bejammerenswaardigste slagoffers van verdrukking; hulle het vertroosting nodig.
In vreedsamer dele van die wêreld lewe miljoene mense feitlik as slawe van die wêreld se ekonomiese stelsel. Party het weliswaar baie materiële besittings. Maar die meeste sukkel daagliks om ’n bestaan te maak. Baie mense soek behoorlike huisvesting. ’n Toenemende aantal mense is werkloos. “Die wêreld”, voorspel ’n koerant in Afrika, “stuur op ’n ongeëwenaarde werkloosheidskrisis af, met nog 1,3 miljard mense wat teen die jaar 2020 werk sal soek.” Mense wat ekonomies verdruk word, het beslis “krag en hoop”—vertroosting—nodig.
In reaksie op die wanhopige situasie wend party hulle tot misdaad. Dit veroorsaak natuurlik net ellende vir hulle slagoffers, en hoë misdaadsyfers dra by tot die gevoel van verdrukking. ’n Onlangse opskrif in The Star, ’n koerant in Johannesburg, het gelui: “’n Dag in die lewe van ‘die moorddadigste land ter wêreld’.” Die artikel het ’n tipiese dag in en om Johannesburg beskryf. Op daardie een dag is vier mense vermoor en agt mense se motors geskaak. Sewentien inbrake is in een middelklasvoorstad aangemeld. Daarbenewens was daar ’n aantal gewapende rooftogte. Volgens die koerant het die polisie dit as ’n “stillerige” dag beskryf. Dit is te verstane dat familielede van moordslagoffers en mense wie se huise beroof en motors geskaak word erg verdruk voel. Hulle het gerusstelling en hoop—vertroosting—nodig.
In sommige lande is daar ouers wat hulle kinders as prostitute verkoop. Een Asiatiese land waarheen toeriste vir “sekstoere” stroom, het na wat berig word tweemiljoen prostitute, waarvan baie as kinders gekoop of ontvoer is. Is daar enigiemand wat meer verdruk word as hierdie bejammerenswaardige slagoffers? In ’n bespreking oor hierdie veragtelike handel het die tydskrif Time verslag gedoen oor ’n konferensie wat in 1991 deur Suidoos-Asiatiese vroue-organisasies gehou is. Tydens hierdie konferensie is daar geskat dat “30 miljoen vroue sedert die middel-sewentigerjare regoor die wêreld verkoop is”.
Kinders hoef natuurlik nie as prostitute verkoop te word om slagoffers te word nie. ’n Toenemende aantal word in hulle eie huis deur ouers en familielede liggaamlik mishandel of selfs verkrag. Sulke kinders dra dalk nog lank daarna emosionele letsels. As tragiese slagoffers van verdrukking het hulle beslis vertroosting nodig.
’n Eertydse waarnemer van verdrukking
Die omvang van menslike verdrukking het koning Salomo ontstel. Hy het geskryf: “Daarna weer het ek gesien al die verdrukkinge wat onder die son plaasvind, en kyk, daar was trane van verdruktes, en vir hulle was daar geen trooster nie; en aan die kant van hulle verdrukkers was mag, maar daar was vir hulle geen trooster nie.”—Prediker 4:1.
As die wyse koning 3 000 jaar gelede besef het dat die verdruktes ’n trooster bitter nodig het, wat sou hy vandag gesê het? Maar Salomo het geweet dat geen onvolmaakte mens, hy inkluis, die vertroosting kan bied wat die mensdom nodig het nie. Iemand groter as hy was nodig om die mag van die verdrukker te breek. Is daar so ’n persoon?
In die Bybel praat Psalm 72 van ’n groot trooster vir alle mense. Die psalm is deur Salomo se vader, koning Dawid, geskryf. Die opskrif daarvan lui: “Van Salomo.” Dit is blykbaar deur die bejaarde koning Dawid geskryf oor die Een wat sy troon sou erf. Volgens die psalm sou hierdie Een permanente verligting van verdrukking meebring. “In sy dae sal die regverdige bloei en volheid van vrede, totdat die maan nie meer is nie. En hy sal heers van see tot see en . . . tot by die eindes van die aarde.”—Psalm 72:7, 8.
Toe Dawid hierdie woorde geskryf het, het hy waarskynlik aan sy seun Salomo gedink. Maar Salomo het besef dat dit nie in sy mag was om die mensdom op die manier te dien wat in die psalm beskryf word nie. Hy kon die woorde van die psalm slegs op klein skaal en ten behoewe van die nasie Israel vervul, nie tot voordeel van die hele aarde nie. Hierdie geïnspireerde profetiese psalm het klaarblyklik na iemand baie groter as Salomo gewys. Wie was dit? Dit kan net Jesus Christus wees.
Toe ’n engel Jesus se geboorte aangekondig het, het hy gesê: “Jehovah God sal hom die troon van sy vader Dawid gee” (Lukas 1:32). Boonop het Jesus na homself verwys as “iets meer as Salomo” (Lukas 11:31). Sedert Jesus na God se regterhand opgewek is, is hy in die hemel, in die plek waarvandaan hy die woorde van Psalm 72 kan vervul. Daarbenewens het hy die krag en gesag van God ontvang om die juk van menseverdrukkers te breek (Psalm 2:7-9; Daniël 2:44). Jesus is dus die een wat die woorde in Psalm 72 gaan vervul.
Verdrukking sal binnekort eindig
Wat beteken dit? Dit beteken dat vryheid van alle vorme van menseverdrukking binnekort ’n werklikheid sal wees. Die ongeëwenaarde lyding en verdrukking wat mense gedurende hierdie 20ste eeu gesien het, is deur Jesus voorspel as deel van die teken wat “die voleinding van die stelsel van dinge” sou kenmerk (Matteus 24:3). Hy het onder andere voorspel: “Nasie sal teen nasie opstaan en koninkryk teen koninkryk” (Matteus 24:7). Daardie deel van die profesie het omstreeks 1914 in vervulling begin gaan toe die Eerste Wêreldoorlog uitgebreek het. “Weens die toename in wetteloosheid”, het Jesus bygevoeg, “sal die liefde van die meeste verkoel” (Matteus 24:12). Wetteloosheid en liefdeloosheid het ’n goddelose en onderdrukkende geslag voortgebring. Die tyd moet derhalwe naby wees vir Jesus Christus om as die aarde se nuwe Koning in te gryp (Matteus 24:32-34). Wat sal dit vir verdrukte mense beteken wat geloof in Jesus Christus stel en wat op hom vertrou as die een wat God as die mensdom se Trooster aangestel het?
Om daardie vraag te beantwoord, kan ons nog ’n paar gedagtes uit Psalm 72 lees wat in Christus Jesus vervul word: “Hy sal die behoeftige red wat daar roep om hulp, en die ellendige en wie geen helper het nie. Hy sal hom ontferm oor die arme en behoeftige, en die siele van die behoeftiges sal hy red. Hy sal hulle siel verlos van verdrukking en geweld, en hulle bloed sal kosbaar wees in sy oë” (Psalm 72:12-14). God se aangestelde Koning, Jesus Christus, sal dus toesien dat niemand weens verdrukking hoef te ly nie. Hy het die mag om ’n einde te maak aan alle vorme van onregverdigheid.
‘Dit klink wonderlik’, sê iemand dalk, ‘maar wat van nou? Watter vertroosting is daar vir diegene wat nóú ly?’ Daar is in werklikheid vertroosting vir die verdruktes. Die volgende twee artikels in hierdie tydskrif sal toon hoe miljoene reeds vertroos word deur ’n hegte verhouding met die ware God, Jehovah, en met sy geliefde Seun, Jesus Christus, op te bou. So ’n verhouding kan ons gedurende hierdie verdrukkende tye vertroos en kan ’n mens tot ewige lewe vry van verdrukking lei. Jesus het in gebed tot God gesê: “Dít beteken die ewige lewe, dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus.”—Johannes 17:3.
[Prent op bladsy 4, 5]
Geen mens sal ’n ander in God se nuwe wêreld verdruk nie