Sou jy die Messias erken het?
JESUS CHRISTUS het drie en ’n half jaar daaraan bestee om God se Woord onder die Israeliete te verkondig. Maar teen die einde van sy aardse bediening het die meeste van sy tydgenote hom as die Messias, oftewel God se beloofde “Gesalfde”, verwerp. Waarom?
Die Bybel help ons om verskeie redes te identifiseer waarom eerste-eeuse Jode Jesus nie as die Messias erken het nie. Drie van hierdie redes weerhou baie mense daarvan om Jesus se hedendaagse posisie as die heersende Messiaanse Koning te erken.
‘Ons wil ’n teken sien’
Een rede waarom die eerste-eeuse Jode nie die Messias erken het nie, was hulle weiering om skriftuurlike tekens te aanvaar wat op sy Messiasskap gewys het. Mense wat na Jesus geluister het, het soms daarop aangedring dat hy vir hulle ’n teken gee as bewys dat hy van God af kom. Matteus 12:38 sê byvoorbeeld dat party van die skrifgeleerdes en Fariseërs gesê het: “Leermeester, ons wil ’n teken van u sien.” Het Jesus nie reeds vir hulle tekens gewys nie? Natuurlik het hy.
Teen daardie tyd het Jesus al etlike wonderwerke verrig. Hy het water in wyn verander, ’n sterwende seun genees, Petrus se siek skoonmoeder gesond gemaak, ’n melaatse man gereinig, ’n verlamde man in staat gestel om te loop, die gesondheid herstel van ’n man wat al 38 jaar lank siek was, ’n man se verdorde hand herstel, talle mense van hulle ernstige kwale genees, die slaaf van ’n leëroffisier genees, ’n weduwee se seun uit die dood teruggebring en ’n man genees wat blind en stom was. Hierdie wonderwerke het in Kana, Kapernaum, Jerusalem en Nain plaasgevind. Daarbenewens het die nuus oor hierdie wonderwerke deur die hele Judea en die omliggende gebied versprei.—Johannes 2:1-12; 4:46-54; Matteus 8:14-17; 8:1-4; 9:1-8; Johannes 5:1-9; Matteus 12:9-14; Markus 3:7-12; Lukas 7:1-10; 7:11-17; Matteus 12:22.
Dit is duidelik dat daar geen tekort aan tekens was wat bewys het dat Jesus die Messias is nie. Maar al het hy soveel tekens voor die mense gedoen, het hulle nie geloof in hom gestel nie. Diegene wat die bewyse gesien het dat Jesus deur God gestuur is, maar wat hom nie as die Messias erken het nie, was geestelik blind. Hulle hart was verhard en onontvanklik vir die waarheid.—Johannes 12:37-41.
Wat van ons dag? Sommige mense sê: “Ek glo net dit wat ek met my eie oë sien.” Maar is dit werklik ’n verstandige weg om in te slaan? Bybelprofesieë toon dat Jesus reeds as hemelse Koning in die Messiaanse Koninkryk gekroon is. Aangesien hy onsigbaar is, het ons ’n teken nodig om ons te help om sy heerskappy te onderskei, wat die begin van die laaste dae van hierdie goddelose stelsel van dinge aangedui het. Sien jy die teken?—Matteus 24:3.
Volgens die Bybel sou die begin van Christus se heerskappy as die Messiaanse Koning gekenmerk word deur oorloë, aardbewings, voedseltekorte en peste op ’n ongeëwenaarde skaal. In “die laaste dae” sou menseverhoudinge gekenmerk word deur selfsug, hebsug en ’n gebrek aan selfbeheersing (2 Timoteus 3:1-5; Matteus 24:6, 7; Lukas 21:10, 11). Buiten chronologiese bewyse is daar meer as 20 verskillende aspekte van die laaste dae wat na 1914 wys as die begin van die Messias se bewind.—Sien Die Wagtoring van 1 Maart 1993, bladsy 5.
“Liefhebbers van geld”
Materialisme was nog ’n rede waarom die Jode Jesus as die Messias verwerp het. Omdat baie mense te veel waarde aan rykdom geheg het, het dit hulle verhinder om Jesus te volg. Dit was byvoorbeeld bekend dat die Fariseërs “liefhebbers van geld” was (Lukas 16:14). Neem die geval van ’n welgestelde jong heerser wat Jesus genader het en gevra het hoe hy die ewige lewe kon kry. “Hou . . . aan om die gebooie te onderhou”, was Jesus se antwoord. “Ek het dit alles nagekom; wat kom ek nog kort?” het die jong man gevra nadat hy blykbaar besef het dat meer nodig was as om sekere wette te onderhou. “Verkoop jou besittings en gee vir die armes en jy sal ’n skat in die hemel hê, en kom word my volgeling”, het Jesus vir hom gesê. Wat ’n geleentheid was dit tog nie—om ’n dissipel van die Messias te wees! Tog het die heerser bedroef weggegaan. Waarom? Omdat ’n skat op aarde vir hom belangriker was as ’n skat in die hemel.—Matteus 19:16-22.
Die situasie het nie verander nie. As ons ’n ware volgeling van die Messiaanse Koning wil word, sal dit beteken dat ons geestelike belange voor enigiets anders, met inbegrip van aardse besittings, moet stel. Vir enigeen met ’n materialistiese uitkyk is dit ’n uitdaging. ’n Sendingpaar in een Oosterse land het byvoorbeeld met ’n vrou oor die Bybel gepraat. Omdat die paartjie geglo het dat sy meer wou leer oor Jehovah God en sy Seun, Jesus Christus, het hulle haar Die Wagtoring en Ontwaak! aangebied. Hoe het sy gereageer? “Sal hierdie tydskrifte my help om meer geld te verdien?” het sy gevra. Die vrou het meer in materiële dinge as in geestelike sake belanggestel.
Dieselfde paartjie het die Bybel met ’n jong man gestudeer wat vergaderinge by die Koninkryksaal begin bywoon het. “Jy mors jou tyd”, het sy ouers vir hom gesê. “Jy moet ’n tweede werk in die aand kry en meer geld verdien.” Hoe jammer is dit tog as ouers hulle kinders aanmoedig om materiële dinge voor kennis van die Messiaanse Koning te stel! “Ondanks al sy rykdom kan die heerser nie tienduisend lewensjare koop nie”, sê ’n Chinese spreuk.
Baie het tot die besef gekom dat daar geen plek vir liefde vir geld is as jy omtrent die Messiaanse Koning wil leer en hom wil volg nie. ’n Getuie van Jehovah wat haar eie onderneming en ’n hoë inkomste gehad het, het gesê: “Dit is baie lekker om ’n klomp geld te hê, maar dit is nie noodsaaklik nie. Dit is nie geld wat ’n mens gelukkig maak nie.” Sy is nou ’n lid van die Bethelgesin by ’n Europese tak van die Wagtoringgenootskap.
“Vrees vir die Jode”
Mensevrees was nog ’n rede waarom die Jode nie Jesus as die Messias aanvaar het nie. As hulle sy Messiasskap in die openbaar erken het, sou dit hulle reputasie in gevaar gestel het. Daardie prys was vir party te hoog. Neem die geval van Nikodemus, ’n lid van die Joodse hoër hof wat die Sanhedrin genoem is. Hy was beïndruk deur Jesus se tekens en leringe en het erken: “Rabbi, ons weet dat u as ’n leermeester van God af gekom het, want niemand kan hierdie tekens doen wat u doen nie tensy God met hom is.” Tog het Nikodemus in die nag na Jesus toe gekom, waarskynlik sodat ander Jode hom nie sou herken nie.—Johannes 3:1, 2.
Vir baie wat Jesus hoor praat het, was mense se goedkeuring belangriker as God s’n (Johannes 5:44). Toe Jesus in 32 G.J. vir die Huttefees in Jerusalem was, was daar “onder die skare heelwat op gedempte toon oor hom gepraat”. Niemand het openlik oor Jesus gepraat nie “uit vrees vir die Jode” (Johannes 7:10-13). Selfs die ouers van ’n man wat deur Jesus van sy blindheid genees is, was nie bereid om te erken dat die wonderwerk van God se verteenwoordiger af gekom het nie. Hulle het ook ’n “vrees vir die Jode” gehad.—Johannes 9:13-23.
Vandag besef sommige mense dat Jesus nou as die Messiaanse Koning in die hemel regeer, maar hulle is bang om dit openlik te erken. Dit is vir hulle ’n te hoë prys om hulle aansien by ander te verloor. In Duitsland het ’n Getuie van Jehovah byvoorbeeld ’n Bybelbespreking met ’n man gehad wat erken het: “Wat julle Getuies oor die Bybel verkondig, is die waarheid. Maar as ek vandag ’n Getuie word, sal almal teen môre daarvan weet. Wat sal hulle dink by die werk, in die buurt en by die klub waaraan ek en my familie behoort? Ek sal dit nie kan hanteer nie.”
Wat veroorsaak mensevrees? Trots, liefde vir gewildheid onder familie en vriende, vrees vir bespotting en vernedering, ’n vrees om anders as die meerderheid te wees. Sulke gevoelens is veral ’n toets vir diegene wat die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer. Een jong vrou was byvoorbeeld in die wolke om van die Paradys te leer wat die Messiaanse Koninkryk onder die heerskappy van Jesus Christus op aarde tot stand gaan bring. Maar sy was ’n vurige disko-ondersteuner, en mensevrees het verhinder dat sy met ander oor hierdie hoop praat. Sy het eindelik die moed bymekaargeskraap om vryelik oor die Bybel te praat. Haar diskovriende het haar verwerp, maar haar man en haar ouers het belangstelling getoon. Die vrou en haar moeder is uiteindelik gedoop en haar man en haar vader het begin om die Bybel te bestudeer. Wat ’n beloning tog omdat sy mensevrees oorkom het!
Erken jy werklik die Messias?
Toe Jesus besig was om aan die folterpaal te sterf, was sommige van sy dissipels teenwoordig. Hulle het hom as die voorspelde Messias erken. Daar was ook Joodse leiers teenwoordig wat, as ’t ware, steeds op ’n teken aangedring het. “Laat hy homself red as hy die Christus [of Messias] van God, die Uitverkorene, is” (Lukas 23:35). Sou hulle nooit ophou om ’n teken te vra nie? Jesus het tientalle wonderwerke verrig. Daarbenewens het sy geboorte, bediening, verhoor, teregstelling en opstanding baie profesieë in die Hebreeuse Geskrifte vervul.—Sien “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., bladsye 343-4.
Verbygangers het Jesus gesmaad, aangesien hulle bewyse van sy Messiasskap verwerp het (Matteus 27:39, 40). Materialistiesgesinde soldate het Jesus se klere onder mekaar verdeel en oor sy onderkleed die lot gewerp (Johannes 19:23, 24). Mensevrees het in sommige gevalle ’n rol gespeel. Beskou byvoorbeeld Josef van Arimatea, ’n lid van die Sanhedrin. Hy was “’n dissipel van Jesus . . . , maar in die geheim weens sy vrees vir die Jode”. Ná die Messias se dood het Josef en Nikodemus na Jesus se liggaam omgesien. Josef het dus sy mensevrees oorkom.—Johannes 19:38-40.
Sou jy Jesus as die Messias erken het as jy in die eerste eeu gelewe het? Dit sou vereis het dat jy skriftuurlike bewyse aanvaar, materialistiese denke verwerp en nie voor mensevrees swig nie. Elkeen van ons moet hom in hierdie laaste dae afvra: ‘Erken ek Jesus nóú as die hemelse Messiaanse Koning?’ Hy gaan binnekort die aangeleenthede op aarde oorneem. Sal jy, wanneer dit gebeur, onder diegene wees wat Jesus Christus werklik as die beloofde Messias erken?
[Prente op bladsy 28]
Moet nooit die bewyse dat Jesus die Messiaanse Koning is, verwerp nie
[Prent op bladsy 31]
Om van die Messias te leer, beteken dikwels dat ons die vrees moet oorkom vir wat ander kan sê