Jongmense wat aan hulle Skepper dink
“En dink aan jou Skepper in die dae van jou jonkheid.”—PREDIKER 12:1.
1. Watter woorde van ’n 11-jarige toon dat ons Skepper vir hom ’n werklike persoon is?
HOE goed is dit tog wanneer jongmense dinge sê en doen wat toon dat hulle Jehovah God as ’n werklike persoon beskou wat hulle bewonder en wil behaag! ’n Elfjarige seuntjie het gesê: “Wanneer ek alleen is en by die venster uitkyk, sien ek hoe wonderlik Jehovah se skeppingswerke is. Dan droom ek van hoe pragtig die Paradys in die toekoms gaan wees en van hoe ek dan aan die diere sal kan raak” (Jesaja 11:6-9). Hy het bygevoeg: “Wanneer ek alleen is, bid ek tot Jehovah. Ek weet hy sal nie kwaad word omdat ek heeltyd met hom praat nie. Ek weet hy hou my altyd dop.” Is ons Skepper net so werklik vir jou as wat hy vir hierdie seuntjie is?
Hoe werklik is God vir jou?
2. (a) Hoe kan jou Skepper vir jou ’n werklike persoon word? (b) Watter rol kan ouers daarin speel om hulle kinders te help besef dat God ’n werklike persoon is?
2 As jy wil hê dat Jehovah en sy beloftes vir jou ’n werklikheid moet wees, moet jy eers van hom en die wonderlike toekoms leer wat hy vir jou in die vooruitsig stel in die regverdige nuwe wêreld wat die Bybel beskryf (Openbaring 21:3, 4). As jou ouers jou van hierdie dinge geleer het, het jy rede om dankbaar te wees omdat dit jou in staat stel om ag te gee op die geïnspireerde bevel: “En dink aan jou Skepper.” (Prediker 12:1, ons kursiveer.) Een jeugdige het die volgende oor die vroeë opleiding wat haar ouers haar gegee het, gesê: “Daar is altyd vir ons gewys watter rol Jehovah in ons lewe speel. Dit was die vernaamste rede waarom ek aan my Skepper gedink het.” ’n Ander jong vrou het gesê: “Ek is my ouers ewig dankbaar dat hulle my geleer het dat Jehovah ’n werklike persoon is. Hulle het my gewys hoe om hom lief te hê en my vertel van die vreugde om hom voltyds te dien.”
3, 4. Wat kan jou help om aan Jehovah as ’n werklike persoon te dink?
3 Maar baie vind dit moeilik om aan God te dink as ’n werklike persoon wat in hulle belangstel. Wat van jou? Een jeugdige is deur hierdie verklaring in Die Wagtoring gehelp om aan God as ’n persoon te dink: “Hoe groot Jehovah God ten opsigte van sy liggaam is, weet ons nie.” God se verhewenheid lê natuurlik nie in sy grootte of vorm nie, soos die volgende sin in daardie Wagtoring gesê het: “Sy werklike grootheid is deur die soort God te wees wat hy is”, ja, ’n getroue, medelydende, liefdevolle en vergewensgesinde God (Exodus 34:6; Deuteronomium 32:4; Psalm 86:5; Jakobus 5:11).a Beskou jy Jehovah as so ’n persoon, ’n vertroude vriend met wie jy ’n kosbare verhouding kan hê?—Jesaja 41:8; Jakobus 2:23.
4 Jesus het sy vroeë volgelinge gehelp om ’n persoonlike verhouding met God te geniet. Toe die apostel Johannes derhalwe oor sy verwagte opstanding tot hemelse lewe geskryf het, het Johannes gesê: ‘Ons sal soos God wees, want ons sal hom sien net soos hy is’ (1 Johannes 3:2; 1 Korintiërs 15:44). Vandag kan jongmense ook gehelp word om God as ’n werklike persoon te beskou, iemand wat hulle goed kan leer ken al kan hulle hom nie self sien nie. ’n Jong man het gesê: “My ouers het my gehelp om aan Jehovah te dink deur baie vrae te stel, soos: ‘Wat sou Jehovah sê? Hoe sal jy dit in jou eie woorde verduidelik? Wat beteken dit?’” Laat sulke vrae ons nie nadink oor ons persoonlike verhouding met God nie?
Wat dit beteken om aan hom te dink
5. Watter voorbeelde in die Bybel toon dat dit meer behels om aan iemand te dink as om bloot sy naam te onthou?
5 Om ag te slaan op die opdrag: “En dink aan jou Skepper”, beteken meer as om net oor Jehovah te dink. Dit behels optrede, om te doen wat hom behaag. Toe die misdadiger Jesus gesmeek het: “Dink aan my wanneer u in u koninkryk kom”, wou hy nie net hê dat Jesus sy naam moes onthou nie. Hy wou hê dat Jesus iets moes doen, hom moes opwek (Lukas 23:42). Toe Josef ’n gevangene was, het hy eweneens een of ander optrede ten behoewe van hom verwag toe hy Farao se skinker gevra het om aan hom te dink wanneer hy voor Farao verskyn. En toe Job God versoek het: ‘Dink aan my’, het Job gevra dat God op een of ander tyd in die toekoms sou optree om hom op te wek.—Job 14:13, ons kursiveer; Genesis 40:14, 23.
6. Hoe impliseer die Hebreeuse woord vir “dink aan” geneentheid vir die voorwerp of persoon waaraan gedink word?
6 Een gesaghebbende sê dat die Hebreeuse woord wat as “dink aan” vertaal word dikwels “die geneentheid van die verstand en die optrede wat met herroeping gepaardgaan”, impliseer. Die feit dat “geneentheid” deur die woorde “dink aan” geïmpliseer word, kan in die woorde van “die gemengde bevolking” in die wildernis gesien word: “Ons dink aan die visse wat ons in Egipte . . . kon eet.” Net soos Job God versoek het om ten goede aan hom te dink, het Hiskia, Nehemia, Dawid en ’n ongenoemde psalmis ook gesmeek dat Jehovah met geneentheid aan hulle dink ter erkenning van hulle getrouheid.—Numeri 11:4, 5, ons kursiveer; 2 Konings 20:3; Nehemia 5:19; 13:31; Psalm 25:7; 106:4.
7. Hoe sal dit ons gedrag beïnvloed as ons met geneentheid aan God dink?
7 Ons kan dus vra: ‘Dink ons met geneentheid aan ons Skepper en vermy ons enige optrede wat hom sal grief of krenk?’ ’n Jeugdige het gesê: “My ma het my help besef dat Jehovah gevoelens het, en op ’n vroeë ouderdom was ek bewus daarvan dat my dade hom raak” (Psalm 78:40-42). ’n Ander jeugdige het verduidelik: “Ek het geweet dat my dade die aantyging wat Satan teen Jehovah gemaak het, sou steun of weerlê. Ek wou Jehovah se hart verbly, en dit het my dus gehelp en help my vandag nog steeds.”—Spreuke 27:11.
8. (a) Wat kan ons nastreef om te toon dat ons met geneentheid aan Jehovah dink? (b) Oor watter vrae sal jongmense wyslik nadink?
8 Dit is weliswaar nie altyd maklik om in hierdie goddelose wêreld aan Jehovah te dink deur ’n volle aandeel aan bedrywighede te hê wat hom behaag nie. Maar hoe goed sal dit tog nie wees as jy jong Timoteus van die eerste eeu kan navolg nie—om nie eens te praat van duisende godvresende jongmense van vandag nie—deur die Christelike bediening voltyds as ’n pionierbedienaar na te streef! (Handelinge 16:1-3; 1 Tessalonisense 3:2). Daar kan egter gevra word: Sal jy jouself in die pionierbediening kan onderhou? En sal jy die vaardighede hê om vir diegene in jou gesin te sorg as jy sou trou? (1 Timoteus 5:8). Dit is belangrike vrae, en dit is van groot belang dat jy ernstig daaroor nadink.
Opvoeding met ’n doel
9. Watter besluit moet jongmense in verband met sekulêre opvoeding neem?
9 Namate die mensegemeenskap komplekser raak, is meer opleiding dalk nodig om voldoende werk te kry om jou in die pionierdiens te onderhou. Jy het moontlik opgemerk dat party wat ’n universiteitsopleiding het selfs verder moes studeer om nuwe vaardighede te leer waaraan werkgewers vandag waarde heg. Hoeveel opleiding gaan julle as jongmense wat God wil behaag dus nastreef? Die besluit moet tereg geneem word met die geïnspireerde bevel in gedagte: “En dink aan jou Skepper.”
10. Wat is die beste opvoeding wat ons kan ontvang?
10 Jy sal natuurlik dít wat selfs talle sekulêre owerhede as die beste opvoeding beskou, wil nastreef—die opvoeding wat ons kry as ons God se Woord noukeurig bestudeer. Die Duitse skrywer Johann Wolfgang von Goethe het gesê: “Hoe groter die intellektuele vooruitgang van [’n volk], hoe groter sal die moontlikheid ook word om die Bybel as die grondslag sowel as die instrument van opvoeding te gebruik.” Ja, ’n studie van die Bybel sal jou beter vir die lewe toerus as enige ander opvoeding!—Spreuke 2:6-17; 2 Timoteus 3:14-17.
11. (a) Wat is die belangrikste werk wat ons kan doen? (b) Waarom wou een jeugdige ’n mate van opvoeding hê?
11 Aangesien kennis van God lewegewend is, is die belangrikste werk wat jy vandag kan doen om daardie kennis aan ander bekend te maak (Spreuke 3:13-18; Johannes 4:34; 17:3). Maar om dit doeltreffend te doen, moet jy ’n basiese opvoeding hê. Jy moet helder kan dink, logies kan praat en goed kan lees en skryf—vaardighede wat op skool geleer word. Neem dus jou skoolopleiding ernstig op, soos Tracy, ’n jeugdige in Florida, VSA, wat haar hoërskoolopleiding met lof voltooi het. Sy het haar hoop uitgespreek: “Dit was nog altyd my doelwit om ’n voltydse kneg van my God Jehovah te wees, en ek hoop my opvoeding help my om hierdie doelwit te bereik.”
12. Watter doel kan dit jou help bereik as jy op bykomende sekulêre opleiding besluit?
12 Het jy al nagedink oor waarom jy skool toe gaan? Is dit hoofsaaklik om jou toe te rus om ’n bekwame bedienaar van Jehovah te word? Indien wel, sal jy ernstig wil nadink oor hoe goed jou opvoeding aan hierdie doel beantwoord. Nadat jy dit met jou ouers bespreek het, besluit julle dalk dat jy meer opleiding moet nastreef as die minimum wat deur die wet bepaal word. Sulke bykomende opleiding kan jou help om werk te kry om jouself te onderhou en jou steeds met genoeg tyd en energie oorlaat om ’n volle aandeel aan Koninkryksbedrywighede te hê.—Matteus 6:33.
13. Hoe het twee Russiese Christene wat aanvullende opvoeding nagestreef het, getoon wat hulle doel in die lewe is?
13 Party wat aanvullende opvoeding nastreef, neem aan die voltydse bediening deel selfs terwyl hulle verdere opleiding ontvang. Kyk byvoorbeeld na Nadia en Marina, twee tienermeisies in Moskou, Rusland. Hulle is al twee in April 1994 gedoop en het as hulppioniers begin dien. Hulle het kort daarna hulle hoërskoolopleiding voltooi en vir ’n twee jaar lange rekeningkundekursus ingeskryf. In Mei 1995 het hulle as gewone pioniers begin dien, maar hulle het nogtans ’n A-gemiddelde in hulle rekeningkundeklasse gehandhaaf. Daarbenewens kon hulle twee gemiddeld 14 Bybelstudies elke week hou terwyl hulle hulle kursus geloop het. Die meisies hoop dat hulle opleiding in rekeningkunde hulle in staat sal stel om voldoende werk te kry sodat hulle hulleself in die voltydse diens kan onderhou.
14. Wat moet die belangrikste ding in ons lewe wees, ongeag op hoeveel sekulêre opvoeding ons besluit?
14 As jy meer sekulêre opvoeding nastreef as wat deur die wet bepaal word, sal dit verstandig wees om die rede waarom jy dit doen te ondersoek. Is dit om naam te maak en om materiële rykdom te verkry? (Jeremia 45:5; 1 Timoteus 6:17). Of is dit jou doel om aanvullende opvoeding te gebruik om ’n voller aandeel aan Jehovah se diens te hê? Lydia, ’n jeugdige wat gekies het om verdere opvoeding na te streef, het ’n voortreflike beskouing van geestelike sake uitgespreek en verduidelik: “Ander jaag naskoolse geleerdheid na en laat toe dat materialisme ’n struikelblok word, en hulle het van God vergeet. My verhouding met God is vir my die belangrikste ding.” Wat ’n prysenswaardige gesindheid is dit tog vir ons almal om na te volg!
15. Watter verskeidenheid van opvoedkundige agtergronde was daar onder eerste-eeuse Christene?
15 Dit is opmerkenswaardig dat eerste-eeuse Christene ’n groot verskeidenheid van opvoedkundige agtergronde gehad het. Die apostel Petrus en Johannes is byvoorbeeld as “ongeleerde en gewone” mense beskou omdat hulle nie in die rabbynse skole opgelei is nie (Handelinge 4:13). Die apostel Paulus het daarenteen ’n opvoeding ontvang wat vandag vergelykbaar is met ’n universiteitsopleiding. Maar Paulus het nie daardie opleiding gebruik om die aandag op homself te vestig nie; dit was eerder ’n aanwins wanneer hy vir mense van verskillende stande getuig het (Handelinge 22:3; 1 Korintiërs 9:19-23; Filippense 1:7). Manaen, wat “saam met Herodes, die distriksheerser, opgevoed is”, was eweneens onder diegene wat die leiding in die gemeente in Antiogië geneem het.—Handelinge 13:1.
Waarom jou geldsake wyslik bestuur?
16. (a) Waarom is dit dalk moeiliker om aan ons Skepper te dink as ons in die skuld is? (b) Hoe toon een van Jesus se illustrasies die belangrikheid daarvan om te dink voordat ons geld uitgee?
16 As jy nie jou geldsake wyslik bestuur nie, sal dit dalk moeiliker wees om aan jou Skepper te dink deur te doen wat hom behaag. Want as jy in die skuld raak, kan daar gesê word dat jy ’n ander heer het. Die Bybel verduidelik: “Hy wat leen, is ’n slaaf van die man wat uitleen” (Spreuke 22:7). Een van Jesus se illustrasies beklemtoon die belangrikheid daarvan om te dink voordat ons geld uitgee. “Wie van julle”, het Jesus gesê, “wat ’n toring wil bou, gaan nie eers sit en die koste bereken, om te sien of hy genoeg het om dit te voltooi nie? Anders lê hy miskien die fondament daarvan, maar is hy nie in staat om dit klaar te maak nie, en almal wat dit sien, sal hom dalk begin spot.”—Lukas 14:28, 29.
17. Waarom is dit dikwels moeilik om beheer uit te oefen oor die geld wat ’n mens uitgee?
17 Dit sal derhalwe wys van jou wees om volgens die skriftuurlike beginsel te probeer lewe om aan “niemand enigiets verskuldig [te] wees nie, behalwe om mekaar lief te hê” (Romeine 13:8). Maar dit is moeilik om dit te doen, veral wanneer daar ’n voortdurende voorraad nuwe produkte is wat adverteerders beweer ons werklik nodig het. Een ouer, wat sy kinders probeer help het om onderskeidingsvermoë aan die dag te lê, het gesê: “Ons het baie tyd daaraan bestee om te bespreek wat noodsaaklikhede is en wat die dinge is wat mense wil hê.” Skole het oor die algemeen versuim om kinders in sulke sake te onderrig en voorsien min of geen onderrigting oor hoe om geldsake op ’n verantwoordelike wyse te behartig. “Wanneer ons ons hoërskoolopleiding voltooi, weet ons meer van ’n gelykbenige driehoek as hoe om te spaar”, het een maatskaplike werker gesê. Wat kan jou dus help om geld wyslik te bestee?
18. Wat is ’n sleutel tot die wyse bestuur van geldsake, en waarom?
18 ’n Sleutel tot die wyse bestuur van jou geldsake is om ag te slaan op die vermaning: “En dink aan jou Skepper.” Dit is omdat jy prioriteit daaraan verleen om Jehovah te behaag wanneer jy daardie opdrag gehoorsaam, en jou geneentheid vir hom beïnvloed hoe jy jou geld bestee. Gevolglik sal jy probeer om nie toe te laat dat dinge wat jy wil hê inbreuk maak op die heelhartige toegewydheid wat jy aan God gee nie (Matteus 16:24-26). Jy sal jou oog “eenvoudig” probeer hou, met ander woorde, skerp ingestel op God se Koninkryk en die doen van sy wil (Matteus 6:22-24). Jy sal sodoende die Goddelike vermaning om ‘Jehovah met jou waardevolle dinge te eer’ as ’n vreugdevolle voorreg beskou.—Spreuke 3:9, NW.
Navolgenswaardige jongmense
19. Hoe het jongmense in die verlede aan hulle Skepper gedink?
19 Gelukkig het baie jongmense van die hede en die verlede aan hulle Skepper gedink. Jong Samuel het standvastig gebly in sy diens by die tabernakel ondanks die onsedelike invloed van diegene met wie hy gedien het (1 Samuel 2:12-26). ’n Verloklike verleidster, Potifar se vrou, kon die jong Josef nie verlei om hoerery te pleeg nie (Genesis 39:1-12). Al was Jeremia nog “jonk” het hy moedig gepreek ondanks kwaai teenstand (Jeremia 1:6-8). ’n Klein Israelitiese dogtertjie het ’n magtige Siriese leërowerste onbevrees aangemoedig om hulp in Israel te soek, waar hy oor Jehovah kon leer (2 Konings 5:1-4). Jong Daniël en sy metgeselle het hulle geloof gehandhaaf toe hulle ten opsigte van God se dieetvoorskrifte op die proef gestel is. En die jeugdiges Sadrag, Mesag en Abednego het verkies om eerder in ’n vuuroond gegooi te word as om hulle lojaliteit aan God prys te gee deur voor ’n beeld te aanbid.—Daniël 1:8, 17; 3:16-18; Exodus 20:5.
20. Hoe het baie jongmense in ons dag aan hulle Skepper gedink?
20 Vandag dien meer as 2 000 jongmense tussen die ouderdomme van 19 en 25 by die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies in die staat New York, VSA. Hulle maak slegs ’n klein deel uit van die tienduisende jongmense oor die wêreld wat aan hulle Skepper dink. Soos Josef van die ou tyd het hulle geweier om hulle sedelike reinheid prys te gee. Baie was eerder aan God as aan mense gehoorsaam toe hulle gedwing is om te kies wie hulle sal dien (Handelinge 5:29). In 1946 in Pole is die 15-jarige Henryka Zur gemartel toe sy geweier het om ’n afgodiese daad te verrig. “Dink net wat jy wil”, het een van haar folteraars voorgestel, “maak net die Katolieke teken van die kruis.” Omdat sy geweier het, is sy in die woud ingesleep en geskiet, haar gewaarborgde hoop op ewige lewe ongeskonde!b
21. Watter uitnodiging sal dit verstandig wees om te aanvaar, en met watter gevolg?
21 Hoe moet Jehovah se hart tog nie verbly word deur jongmense wat deur die eeue heen aan hom gedink het nie! Gaan jy reageer op sy uitnodiging: “En dink aan jou Skepper”? Hy verdien beslis dat jy aan hom dink! Dink elke dag oor alles wat hy vir jou gedoen het en nog gaan doen, en aanvaar sy uitnodiging: “Wees wys, my seun, en verbly my hart, sodat ek hom wat my smaad, kan antwoord gee.”—Spreuke 27:11.
[Voetnote]
a Die Wagtoring, 1 Maart 1954, bladsy 72.
b Sien 1994 Yearbook of Jehovah’s Witnesses, bladsye 217-18, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
Onthou jy?
◻ Hoe kan jongmense gehelp word om God as ’n werklike persoon te beskou?
◻ Wat beteken dit om aan jou Skepper te dink?
◻ Watter doel moet ons opvoeding bereik?
◻ Waarom is dit belangrik om ons geldsake wyslik te bestuur?
◻ Watter jongmense is navolgenswaardig?
[Prent op bladsy 17]
Het jy al nagedink oor waarom jy skool toe gaan?
[Prent op bladsy 18]
Leer jy om geldsake wyslik te bestuur?