Die waarheid oor Jesus
DAAR is blykbaar geen einde aan die teorieë en spekulasies oor wie Jesus was en wat hy gedoen het nie. Maar wat van die Bybel self? Wat sê dit vir ons oor Jesus Christus?
Wat die Bybel sê
As jy die Bybel noukeurig lees, sal jy hierdie belangrike feite vind:
◻ Jesus is die enigverwekte Seun van God, die eersgeborene van die hele skepping.—Johannes 3:16; Kolossense 1:15.
◻ Ongeveer twee millenniums gelede het God Jesus se lewe na die baarmoeder van ’n Joodse maagd oorgeplaas om as ’n mens gebore te word.—Matteus 1:18; Johannes 1:14.
◻ Jesus was meer as net ’n goeie mens. Hy was in alle opsigte ’n getroue weerspieëling van die pragtige persoonlikheid van sy Vader, Jehovah God.—Johannes 14:9, 10; Hebreërs 1:3.
◻ Jesus het tydens sy aardse bediening liefdevol omgesien na die behoeftes van die verdruktes. Hy het die siekes wonderdadig gesond gemaak en selfs die dooies opgewek.—Matteus 11:4-6; Johannes 11:5-45.
◻ Jesus het God se Koninkryk as die enigste hoop vir die geteisterde mensdom verkondig, en hy het sy dissipels opgelei om hierdie predikingswerk voort te sit.—Matteus 4:17; 10:5-7; 28:19, 20.
◻ Op 14 Nisan (omstreeks 1 April) 33 G.J. is Jesus in hegtenis geneem, verhoor, veroordeel en tereggestel op die valse aanklag van sedisie.—Matteus 26:18-20, 48–27:50.
◻ Jesus se dood dien as ’n losprys wat die gelowige mensdom van hulle sondige toestand bevry en open sodoende die weg na ewige lewe vir almal wat geloof in hom beoefen.—Romeine 3:23, 24; 1 Johannes 2:2.
◻ Op 16 Nisan is Jesus opgewek, en kort daarna het hy opgevaar hemel toe om die lospryswaarde van sy volmaakte menselewe aan sy Vader te betaal.—Markus 16:1-8; Lukas 24:50-53; Handelinge 1:6-9.
◻ As Jehovah se aangestelde Koning het die verrese Jesus volle gesag om God se oorspronklike voorneme met die mens uit te voer.—Jesaja 9:5, 6; Lukas 1:32, 33.
Die Bybel stel Jesus dus voor as die sleutelfiguur in die uitvoering van God se voornemens. Maar hoe kan jy seker wees dat dit die ware Jesus is—die historiese Jesus wat in Betlehem gebore is en ongeveer 2 000 jaar gelede op hierdie aarde gewandel het?
Grondslag vir vertroue
Baie twyfelgedagtes kan uit die weg geruim word deur bloot die Christelike Griekse Geskrifte onbevooroordeeld te lees. As jy dit doen, sal jy vind dat die Bybelverslag nie ’n vae vertelling van gebeure is nie, wat wel met mitologie die geval is. Inteendeel, dit meld name, spesifieke tye en presiese plekke. (Sien byvoorbeeld Lukas 3:1, 2.) Daarbenewens word Jesus se dissipels met merkwaardige eerlikheid uitgebeeld, met ’n openhartigheid wat vertroue by die leser inboesem. Die skrywers het niemand verontskuldig nie—nie eers hulleself nie—sodat hulle ’n getroue verslag kon saamstel. Ja, jy sal sien dat die Bybel die klank van die waarheid het.—Matteus 14:28-31; 16:21-23; 26:56, 69-75; Markus 9:33, 34; Galasiërs 2:11-14; 2 Petrus 1:16.
Maar dit is nie al nie. Argeologiese ontdekkings het die Bybelverslag herhaaldelik bevestig. As jy byvoorbeeld die Israel-museum in Jerusalem besoek, kan jy ’n steen sien met ’n inskripsie daarop wat Pontius Pilatus by name noem. Ander argeologiese ontdekkings bevestig dat Lisanias en Sergius Paulus, wat in die Bybel gemeld word, werklike mense was en nie fiktiewe skeppinge van die vroeë Christene nie. Oorvloedige bevestiging van gebeure waarvan daar in die Christelike Griekse Geskrifte (Nuwe Testament) verslag gelewer word, kan gevind word in verwysings deur eertydse skrywers, onder meer Juvenalis, Tacitus, Seneka, Suetonius, Plinius die Jongere, Lucianus, Celsus en die Joodse geskiedskrywer Josefus.a
Die verslae in die Christelike Griekse Geskrifte is geredelik deur duisende mense aanvaar wat in die eerste eeu gelewe het. Selfs die vyande van die Christelike godsdiens het nie die waaragtigheid ontken van wat Jesus volgens berig gesê en gedoen het nie. Wat die moontlikheid betref dat Jesus se dissipels ná sy dood op sy karakter voortborduur het, sê professor F. F. Bruce: “Dit kon geensins so maklik gewees het as wat sommige skrywers skynbaar dink om woorde en dade van Jesus te versin in daardie vroeë jare toe so baie van Sy dissipels daar was en kon onthou wat gebeur het en wat nie. . . . Die dissipels kon dit nie bekostig om kanse te waag met onjuisthede (laat staan nog opsetlike knoeiery met die feite) wat onmiddellik oopgevlek sou word deur diegene wat dit maar alte graag sou wou doen nie.”
Waarom hulle nie glo nie
Party geleerdes bly nietemin skepties. Terwyl hulle aanneem dat die Bybelverslag fiktief is, fynkam hulle apokriewe geskrifte gretiglik en aanvaar hulle dít as geloofwaardig! Waarom? Dit is duidelik dat die Bybelverslag dinge bevat wat talle hedendaagse intellektuele nie wil glo nie.
In sy Union Bible Companion, wat in 1871 uitgegee is, het S. Austin Allibone skeptici uitgedaag. Hy het geskryf: “Vra enigiemand wat die waarheid van die Evangeliegeskiedenis bevraagteken watter rede hy het om te glo dat Caesar in die Kapitool gesterf het of dat keiser Karel die Grote in 800 deur pous Leo III tot keiser van die Weste gekroon is? . . . Ons glo al die bewerings . . . wat oor hierdie manne gemaak is; en wel omdat ons historiese bewyse van die waarheid daarvan het. . . . As party nóg weier om te glo nadat sodanige bewyse voorgelê is, beskou ons hulle as koppige dwase of as hopeloos onkundig. Wat sal ons dan sê van diegene wat ondanks die oorvloedige bewyse wat nou met betrekking tot die egtheid van die Heilige Skrif voorgelê word, beweer dat hulle nie daardeur oortuig is nie? . . . Hulle wíl nie iets glo wat hulle trots aantas en hulle sal dwing om ’n ander lewe te lei nie.”
Ja, sommige skeptici het bedekte beweegredes waarom hulle die Christelike Griekse Geskrifte verwerp. Dit is nie die geloofwaardigheid nie, maar die standaarde daarvan wat vir hulle ’n probleem skep. Jesus het byvoorbeeld van sy volgelinge gesê: “Hulle [is] geen deel van die wêreld . . . nie, net soos ek geen deel van die wêreld is nie” (Johannes 17:14). Baie verklaarde Christene is egter diep betrokke by die politieke aangeleenthede van hierdie wêreld en is selfs betrokke by bloedige oorloë. In plaas van hulle by Bybelstandaarde aan te pas, sou baie mense verkies dat die Bybel hom by hulle eie standaarde aanpas.
Dink ook aan die kwessie van sedes. Jesus het die gemeente in Tiatira streng tereggewys omdat hulle die beoefening van hoerery geduld het. “Dit [is ek] wat die niere en harte deursoek”, het hy vir hulle gesê, “en ek sal aan julle individueel gee volgens julle dade”b (Openbaring 2:18-23). Maar is dit nie so dat baie wat bely dat hulle Christene is sedelike standaarde oorboord gooi nie? Hulle sal eerder verwerp wat Jesus gesê het as om hulle onsedelike lewenswandel te verwerp.
Omdat geleerdes nie die Jesus van die Bybel wil aanvaar nie, het hulle hulle eie Jesus geskep. Hulle maak hulle skuldig aan die miteskepping waarvan hulle die Evangelieskrywers valslik beskuldig. Hulle behou die dele van Jesus se lewe wat hulle wil aanvaar, verwerp die res en voeg ’n paar van hulle eie besonderhede by. In werklikheid is hulle swerwende wysgeer of maatskaplike revolusionêr nie die historiese Jesus wat hulle beweer hulle soek nie; hy is eerder ’n blote produk van hierdie geleerdes se trotse verbeelding.
Hoe om die ware Jesus te vind
Jesus het probeer om diegene wat opreg na waarheid en regverdigheid honger se harte te raak (Matteus 5:3, 6; 13:10-15). Sulke persone reageer op Jesus se uitnodiging: “Kom na my toe, almal wat swoeg en swaar belaai is, en ek sal julle verkwik. Neem my juk op julle en leer by my, want ek is saggeaard en nederig van hart, en julle sal verkwikking vir julle siele vind. Want my juk is sag en my vrag is lig.”—Matteus 11:28-30.
Die ware Jesus sal nie gevind word in die boeke wat deur hedendaagse geleerdes geskryf word nie; hy sal ook nie gevind word in die kerke van die Christendom nie, wat ’n broeiplek van mensgemaakte tradisies geword het. Jy kan die historiese Jesus in jou eksemplaar van die Bybel vind. Wil jy graag meer oor hom leer? Jehovah se Getuies sal jou met graagte help om dit te doen.
[Voetnote]
a Sien Die Bybel—God se woord of die mens s’n?, hoofstuk 5, bladsye 55-70, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., vir meer inligting.
b In die Bybel verteenwoordig die niere soms ’n mens se diepste gedagtes en emosies.
[Venster op bladsy 6]
EEUE VAN KRITIEK
Kritiek op die Christelike Griekse Geskrifte het meer as 200 jaar gelede wortelgeskiet toe die Duitse filosoof Hermann Samuel Reimarus (1694-1768) beweer het: “Ons is geregtig om ’n besliste onderskeid te tref tussen die leringe van die Apostels in hulle geskrifte en wat Jesus Self in Sy eie leeftyd verkondig en geleer het.” Van Reimarus se tyd af is baie geleerdes geleer om soortgelyke beskouings te huldig.
Die boek The Real Jesus sê dat baie kritici van die verlede nie hulleself as afvalliges beskou het nie. Inteendeel, “hulle het hulleself as opregter Christene beskou omdat hulle losgebreek het van die kettings van dogma en bygelowigheid”. Hoër kritiek, het hulle gemeen, was ’n “gesuiwerde vorm van die Christelike godsdiens”.
Dit is egter ’n betreurenswaardige feit dat die Christendom ’n broeiplek van mensgemaakte tradisies geword het. Die leerstellings oor die onsterflike siel, die Drie-eenheid en ’n brandende hel is net ’n paar van die leringe wat in stryd is met die Bybel. Maar die skrywers van die Christelike Griekse Geskrifte was nie verantwoordelik vir hierdie afwyking van die waarheid nie. Hulle het eerder in die middel van die eerste eeu, toe Paulus geskryf het dat ’n afvalligheid “reeds aan die werk” was onder verklaarde Christene, geveg teen die eerste spore van valse leringe (2 Tessalonisense 2:3, 7). Ons kan daarvan seker wees dat die inhoud van die Christelike Griekse Geskrifte ’n verslag is wat geskiedkundig en leerstellig waar is.
[Venster op bladsy 7]
WANNEER IS DIE EVANGELIES GESKRYF?
Baie kritici van die Nuwe Testament dring daarop aan dat die Evangelies geskryf is lank ná die gebeure wat hulle beskryf en dat daar dus min twyfel bestaan dat hulle onjuisthede bevat.
Die getuienis dui egter daarop dat Matteus, Markus en Lukas op ’n vroeë datum geskryf is. Onderskrifte in sommige manuskripkopieë van Matteus dui daarop dat die oorspronklike kopie reeds teen 41 G.J. geskryf is. Lukas is waarskynlik tussen 56 en 58 G.J. geskryf, want die boek Handelinge (wat waarskynlik teen 61 G.J. voltooi is) sê dat die skrywer, Lukas, reeds sy “eerste verslag”, die Evangelie, opgestel het (Handelinge 1:1). Markus se Evangelie is blykbaar gedurende die eerste of die tweede gevangenskap van die apostel Paulus in Rome opgestel—waarskynlik tussen 60 en 65 G.J.
Professor Craig L. Blomberg stem saam met ’n vroeër datering van daardie Evangelies. Hy sê dat ons, selfs as ons Johannes se Evangelie insluit, wat aan die einde van die eerste eeu opgestel is, “steeds baie nader aan die oorspronklike gebeure is as in die geval van talle eertydse biografieë. Die twee vroegste biograwe van Aleksander die Grote, Arrianus en Plutarchus, het byvoorbeeld meer as vierhonderd jaar ná Aleksander se dood in 323 v.C. oor hom geskryf, en tog beskou geskiedkundiges hulle oor die algemeen as betroubaar. Ongelooflike legendes oor Aleksander se lewe het mettertyd ontwikkel, maar meestal slegs gedurende die etlike eeue ná hierdie twee skrywers.” Die geskiedkundige dele van die Christelike Griekse Geskrifte is sekerlik ten minste dieselfde vertroue waardig as sekulêre geskiedenis.
[Prent op bladsy 8]
In die komende aardse Paradys sal almal algehele vreugde geniet