Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w96 12/15 bl. 9-14
  • Wat is die hoofsaak in jou lewe?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wat is die hoofsaak in jou lewe?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Voorbeeld van wat die hoofsaak is
  • Jehovah hoor en verhoor ons gebede
  • Hoe om vyande se pogings die hoof te bied
  • Ken die pad wat jy moet gaan
  • ’n Hoofman lug sy mening
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • “Leer my om u wil te doen”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
  • Laat ons Jehovah se naam saam verhef
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Jehovah—‘Die Een wat ontkoming verskaf’ het in Bybeltye
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
w96 12/15 bl. 9-14

Wat is die hoofsaak in jou lewe?

“Maak my bekend die pad wat ek moet gaan.”—PSALM 143:8.

1. Tot watter slotsom het koning Salomo gekom oor die mens se strewes en suksesse?

JY IS waarskynlik deeglik bewus van die feit dat die lewe vol bedrywighede en belange is. Wanneer jy daaraan dink, kan jy party van hulle as noodsaaklik identifiseer. Ander bedrywighede en belange is nie so noodsaaklik nie of is selfs sinloos. Die feit dat jy dit besef, beteken dat jy dit eens is met een van die wysste manne wat nog geleef het, koning Salomo. Nadat hy die bedrywighede van die lewe deeglik ondersoek het, het hy tot dié slotsom gekom: “Vrees God en hou sy gebooie; want dit geld vir alle mense” (Prediker 2:4-9, 11; 12:13). Watter betekenis het dit vandag vir ons?

2. Watter fundamentele vraag moet godvresende mense hulle afvra, en tot watter verwante vrae lei dit?

2 As jy ‘God wil vrees en sy gebooie wil hou’, kan jy jou gerus hierdie gedagteprikkelende vraag afvra: ‘Wat is die hoofsaak in my lewe?’ Jy sal nou wel miskien nie daagliks oor hierdie vraag peins nie, maar waarom dink jy nie nou daaroor na nie? Dít gee in werklikheid aanleiding tot ’n paar verwante vrae, soos: ‘Lê ek miskien te veel klem op my werk of beroep of op materiële dinge? Hoe belangrik is my huis, gesin en geliefdes in my lewe?’ ’n Jong persoon kan vra: ‘In watter mate word my aandag en tyd deur opvoeding in beslag geneem? Is ’n stokperdjie, sport of die een of ander vorm van vermaak of tegnologie eintlik my grootste belangstelling?’ En ongeag ons ouderdom of situasie, ons moet ons tereg afvra: ‘Watter plek het God se diens in my lewe?’ Jy sal waarskynlik saamstem dat prioriteite nodig is. Maar hoe en waar kan ons hulp kry om ons prioriteite op ’n verstandige manier te stel?

3. Wat behels dit vir Christene om prioriteite te stel?

3 Iets wat die hoofsaak is, geniet die voorrang bo alle ander dinge en moet eerste in ag geneem word. Of jy nou een van Jehovah se Getuies is of een van die miljoene opregte studente van God se Woord wat met hulle omgaan, beskou gerus hierdie waarheid: “Alles het sy bepaalde uur, en vir elke saak onder die hemel is daar ’n tyd” (Prediker 3:1). Dit sluit met reg in dat jy liefdevolle besorgdheid oor gesinsverhoudings openbaar (Kolossense 3:18-21). Dit behels dat jy op ’n eerlike wyse vir jou huisgesin sorg deur sekulêre werk te doen (2 Tessalonisense 3:10-12; 1 Timoteus 5:8). En vir ’n verandering van roetine sit jy dalk tyd opsy vir ’n stokperdjie of om nou en dan vermaak of ontspanning te geniet. (Vergelyk Markus 6:31.) Maar sal jy nie, nadat jy ernstig hieroor nagedink het, saamstem dat nie een van hierdie dinge die hoofsaak in die lewe is nie? Iets anders is belangriker.

4. Hoe hou Filippense 1:9, 10 verband met die stel van ons prioriteite?

4 Jy besef waarskynlik dat die Bybel se rigsnoere waardevolle hulpmiddele is om prioriteite te stel en verstandige besluite te neem. Christene word byvoorbeeld in Filippense 1:9, 10 aangespoor om oorvloediger te word in “juiste kennis en volle onderskeidingsvermoë”. Met watter doel? Die apostel Paulus het bygevoeg: “Dat julle seker kan maak van wat die belangriker dinge is.” Maak dit nie sin nie? ’n Christen met onderskeidingsvermoë kan op grond van juiste kennis bepaal wat die belangrikste—die hoofsaak—in sy lewe behoort te wees.

’n Voorbeeld van wat die hoofsaak is

5. Hoe toon die Skrif, in ’n beskrywing van die voorbeeld wat vir Christene gelaat is, wat die hoofsaak in Jesus se lewe was?

5 Ons vind ’n waardevolle faset van kennis in die apostel Petrus se woorde: “Tot hierdie weg is julle geroep, omdat ook Christus vir julle gely het en vir julle ’n voorbeeld gelaat het sodat julle sy voetstappe noukeurig kan volg” (1 Petrus 2:21). Ja, om uit te vind wat die hoofsaak in die lewe is, kan ons na Jesus Christus se beskouing daarvan kyk. Psalm 40:8 (NW) het profeties van hom gesê: “Ek het daarin behae geskep, o my God, om u wil te doen, en u wet is in my binneste.” Dit is hoe hy dieselfde gedagte uitgedruk het: “My voedsel is om die wil te doen van hom wat my gestuur het en om sy werk te volbring.”—Johannes 4:34; Hebreërs 12:2.

6. Hoe kan ons dieselfde resultate hê as wat Jesus gehad het deur God se wil eerste te stel?

6 Let op wat daardie sleutel is—die doen van God se wil. Jesus se voorbeeld beklemtoon wat sy dissipels tereg die hoofsaak in hulle lewe moet maak, want hy het gesê dat ‘elkeen wat volmaak onderrig is, soos sy leermeester sal wees’ (Lukas 6:40). En namate Jesus die weg bewandel het wat met sy Vader se voorneme gestrook het, het hy getoon dat daar “versadiging van vreugde” was om God se wil eerste te stel (Psalm 16:11; Handelinge 2:28). Merk jy op wat dit impliseer? Namate Jesus se volgelinge God se wil die hoofsaak in hulle lewe maak, sal hulle “versadiging van vreugde” en die werklike lewe geniet (1 Timoteus 6:19). Daar is dus meer as een rede waarom die doen van God se wil die voorkeur in ons lewe moet geniet.

7, 8. Voor watter beproewinge het Jesus te staan gekom, en wat kan ons hieruit leer?

7 Onmiddellik nadat Jesus hom aangebied het om God se wil te doen en dit gesimboliseer het, het die Duiwel probeer om hom ontrou te laat wees. Hoe? Deur versoekings op drie gebiede. Jesus het elke keer ’n skriftuurlike, ondubbelsinnige antwoord gegee (Matteus 4:1-10). Maar nóg beproewinge het op hom gewag—vervolging, bespotting, verraad deur Judas, valse aantygings en toe die dood aan ’n folterpaal. Tog het nie een van hierdie beproewinge God se lojale Seun van sy weg laat afwyk nie. Op ’n kritieke stadium het Jesus gebid: “Nie soos ek wil nie, maar soos u wil. . . . Laat u wil geskied” (Matteus 26:39, 42). Behoort hierdie aspek van die voorbeeld wat vir ons gelaat is nie elkeen van ons diep te raak en ons te beweeg om ‘vol te hou met gebed’ nie?—Romeine 12:12.

8 Ja, wanneer ons ons prioriteite in die lewe stel, is Goddelike leiding veral waardevol, vernaamlik as ons met vyande van die waarheid en teenstanders van God se wil te doen het. Dink aan getroue koning Dawid se smeekbede om leiding toe hy deur vyande teëgestaan is. Ons sal dit sien terwyl ons ’n gedeelte van Psalm 143 bespreek. Dit behoort ons te help om te onderskei hoe ons ons persoonlike verhouding met Jehovah kan verbeter en versterk kan word om die doen van God se wil eerste in ons lewe te stel.

Jehovah hoor en verhoor ons gebede

9. (a) Wat het Dawid se woorde en dade geopenbaar, hoewel hy ’n sondaar was? (b) Waarom moet ons nie ophou om te doen wat reg is nie?

9 Hoewel Dawid ’n sondige mens was, het hy geglo dat Jehovah na sy smekinge sou luister. Hy het nederig gepleit: “O HERE, hoor my gebed; luister tog na my smekinge; verhoor my in u trou, in u geregtigheid [“regverdigheid”, NW]. En gaan nie na die gereg met u kneg nie, want niemand wat leef, is voor u aangesig regverdig nie” (Psalm 143:1, 2). Dawid was bewus van sy onvolmaaktheid, en tog was sy hart volkome teenoor God. Hy was dus vol vertroue dat hy in regverdigheid verhoor sou word. Bemoedig dit ons nie? Selfs al skiet ons te kort aan God se regverdigheid kan ons vol vertroue wees dat hy ons hoor as ons hart volkome teenoor hom is (Prediker 7:20; 1 Johannes 5:14). Terwyl ons in gebed volhard, moet ons vasbeslote wees om in hierdie goddelose dae “die kwaad met die goeie te oorwin”.—Romeine 12:20, 21; Jakobus 4:7.

10. Waarom het Dawid angstige tye ondervind?

10 Dawid het vyande gehad, net soos ons. Hetsy Dawid as vlugteling skuiling van Saul moes soek in eensame, onbereikbare plekke of as koning deur vyande geteister is, hy het angstige tye beleef. Hy het beskryf watter uitwerking dit op hom gehad het: “Die vyand vervolg my siel . . . ; hy laat my woon in duisternisse . . . En my gees versmag in my, my hart verstyf in my binneste” (Psalm 143:3, 4). Het jy al rede gehad om so te voel?

11. Met watter angstige oomblikke het God se hedendaagse knegte al te kampe gehad?

11 Druk van vyande, beproewinge weens swaar ekonomiese ontberinge, ernstige siekte of ander kommerwekkende probleme het party onder God se volk laat voel dat hulle nie meer kan aangaan nie. Soms was hulle hart ook asof dit verstyf was. Dit is asof hulle individueel uitgeroep het: “Want u het my baie benoudhede en rampspoede laat sien, mag u my weer lewend maak . . . Mag u my omring en vertroos” (Psalm 71:20, 21, NW). Hoe is hulle gehelp?

Hoe om vyande se pogings die hoof te bied

12. Hoe het koning Dawid gevare en beproewinge die hoof gebied?

12 Psalm 143:5 toon wat Dawid gedoen het wanneer hy deur gevare en groot beproewinge omring is: “Ek dink aan die dae uit die voortyd; ek peins oor al u dade; ek [hou my steeds intens besig met, NW] die werk van u hande.” Dawid het teruggedink aan God se handelinge met Sy knegte en hoe hy self verlossing ondervind het. Hy het gepeins oor wat Jehovah ter wille van Sy groot naam gedoen het. Ja, Dawid het hom intens besig gehou met God se werke.

13. Hoe sal dit ons help om te volhard wanneer ons voor beproewinge te staan kom as ons peins oor eertydse en hedendaagse voorbeelde van getroue knegte?

13 Het ons nie al baie keer God se handelinge met sy volk herroep nie? Beslis! Dit sluit die geskiedenis in van die “groot wolk van getuies” in voor-Christelike tye (Hebreërs 11:32-38; 12:1). Gesalfde Christene in die eerste eeu is ook aangemoedig om ‘aan te hou om die vroeëre dae te onthou’ asook dit wat hulle verduur het (Hebreërs 10:32-34). Wat van die ondervindinge van God se hedendaagse knegte, soos dié wat gemeld word in Jehovah se Getuies—verkondigers van God se Koninkryk?a Verslae wat daarin asook elders opgeteken is, stel ons in staat om te onthou hoe Jehovah sy volk gehelp het om verbooie, gevangenskap, gepeupelgeweld asook konsentrasie- en slawearbeidskampe te verduur. Daar was beproewinge in oorloggeteisterde lande, soos Burundi, Liberië, Rwanda en die voormalige Joego-Slawië. Wanneer teenstand kop uitgesteek het, het God se knegte volhard omdat hulle ’n sterk verhouding met Jehovah gehandhaaf het. Sy hand het diegene onderskraag wat die doen van sy wil die hoofsaak in hulle lewe gemaak het.

14. (a) Wat is een voorbeeld van hoe God iemand onderskraag het in ’n situasie wat miskien met ons s’n ooreenkom? (b) Wat leer jy uit daardie voorbeeld?

14 Maar jy sê dalk dat jy nog nie sulke wrede mishandeling ondervind het nie, en jy meen miskien dat dit heel waarskynlik nooit sal gebeur nie. God ondersteun sy volk egter nie altyd net in wat sommige moontlik as dramatiese omstandighede beskou nie. Hy het baie “gewone” mense in “normale” omstandighede ondersteun. Hier is maar net een van baie voorbeelde: Herken jy die foto hierbo, en help dit jou om God se handelinge met sy volk te onthou? Dit het in Die Wagtoring van 1 Desember 1996 verskyn. Het jy die verhaal gelees wat Penelope Makris vertel het? Wat ’n uitstekende voorbeeld van Christelike onkreukbaarheid! Kan jy onthou wat sy van mense verduur het, hoe sy ’n stryd teen ernstige siektes gehad het en hoe sy haar ingespan het om in die voltydse bediening te bly? Wat van haar lonende ondervinding in Mitilini? Die punt is: Beskou jy sulke voorbeelde as middele om ons almal te help om ons prioriteite te stel en die doen van God se wil die eerste plek in ons lewe te gee?

15. Wat is van Jehovah se dade waaroor ons moet peins?

15 Dit versterk ons om oor Jehovah se dade te peins, soos Dawid gedoen het. Ter verwesenliking van sy voorneme het Jehovah voorsiening gemaak vir redding deur sy Seun se dood, opstanding en verheerliking (1 Timoteus 3:16). Hy het sy hemelse Koninkryk opgerig, die hemele van Satan en sy demone gereinig en ware aanbidding hier op aarde herstel (Openbaring 12:7-12). Hy het ’n geestelike paradys opgebou en sy volk met vermeerdering geseën (Jesaja 35:1-10; 60:22). Sy volk gee nou ’n finale getuienis voordat die groot verdrukking uitbreek (Openbaring 14:6, 7). Ja, ons het baie om oor te peins.

16. Waarmee word ons aangemoedig om ons intens besig te hou, en wat sal dit ons op die hart druk?

16 As ons ons intens besig hou met die werk van God se hande eerder as om behep te raak met mensestrewes, sal dit ons op die hart druk dat Jehovah se toegepaste krag onstuitbaar is. Daardie werke is egter nie tot die wonderlike fisiese skeppingswerke in die hemele en hier op die aarde beperk nie (Job 37:14; Psalm 19:2; 104:24). Sy wonderlike werke sluit dade van verlossing vir sy volk van vyandelike onderdrukkers in, soos getoon deur die ondervindinge van sy eertydse uitverkore volk.—Exodus 14:31; 15:6.

Ken die pad wat jy moet gaan

17. Hoe werklik was Jehovah vir Dawid, en hoe kan dit ons gerusstel?

17 Dawid het om hulp gebid sodat sy lewenskrag hom nie verlaat nie: “Ek brei my hande tot U uit; my siel dors na U soos ’n uitgedorde land. Verhoor my tog gou, HERE: my gees beswyk! Verberg u aangesig nie vir my nie, sodat ek nie word soos hulle wat in die kuil neerdaal nie” (Psalm 143:6, 7). Dawid, ’n sondaar, het geweet dat God van sy situasie bewus is (Psalm 31:8). Soms voel ons dalk ook dat ons geestelikheid ’n laagtepunt bereik het. Maar die situasie is nie hopeloos nie. Jehovah, wat ons gebede verhoor, kan ons herstel bespoedig deur ons te verkwik deur middel van liefdevolle ouer manne, artikels in Die Wagtoring of vergaderingdele wat lyk of hulle net vir ons bedoel is.—Jesaja 32:1, 2.

18, 19. (a) Wat moet ons ernstige smeking tot Jehovah wees? (b) Waarvan kan ons seker wees?

18 Ons vertroue in Jehovah beweeg ons om hom te smeek: “Laat my u goedertierenheid in die môre hoor, want op U vertrou ek; maak my bekend die pad wat ek moet gaan” (Psalm 143:8). Het hy suster Makris, wat op ’n Griekse eiland afgesonder was, in die steek gelaat? Sal hy jou dus in die steek laat terwyl jy die doen van sy wil die hoofsaak in jou lewe maak? Die Duiwel en sy agente sou graag ons werk om God se Koninkryk te verkondig, wil belemmer of heeltemal stopsit. Of ons nou in lande dien waar ware aanbidding oor die algemeen toegelaat word en of ons dien waar dit onderdruk word, ons verenigde gebede kom ooreen met Dawid se versoek: “Red my van my vyande, HERE! By U skuil ek” (Psalm 143:9). Ons beveiliging teen geestelike rampspoed hang daarvan af of ons in die skuilplek van die Allerhoogste is.—Psalm 91:1.

19 Ons oortuiging van wat die hoofsaak is, berus op vaste gronde (Romeine 12:1, 2). Weerstaan dan die wêreld se pogings om aan jou op te dwing wat hulle dink belangrik is in die mens se huidige bestel. Hou aan om in elke aspek van jou lewe te weerspieël wat jy weet die hoofsaak is—die doen van God se wil.—Matteus 6:10; 7:21.

20. (a) Wat het ons in Psalm 143:1-9 van Dawid geleer? (b) Hoe weerspieël Christene vandag Dawid se gees?

20 Die eerste nege verse van Psalm 143 beklemtoon Dawid se hegte persoonlike verhouding met Jehovah. Wanneer hy deur vyande omring was, het hy God vryelik om leiding gesmeek. Hy het sy hart uitgestort en hulp gesoek om op die regte pad te gaan. Dit is vandag dieselfde met die oorblyfsel van geesgesalfdes op aarde en hulle metgeselle. Hulle beskou hulle verhouding met Jehovah as kosbaar terwyl hulle hom om leiding smeek. Hulle stel die doen van God se wil eerste, ondanks druk van die Duiwel en die wêreld.

21. Waarom is dit vir ons belangrik om ’n goeie voorbeeld te stel as ons ander wil leer wat die hoofsaak in hulle lewe moet wees?

21 Miljoene mense wat die Bybel saam met Jehovah se Getuies studeer, moet besef dat die doen van God se wil die hoofsaak is. Ons kan hulle help om dit te verstaan wanneer ons hoofstuk 13 van die boek Kennis wat tot die ewige lewe lei bespreek, wat die beginsels beklemtoon wat daarby betrokke is om gehoorsaam aan die Woord te wees.b Ons moet natuurlik vir hulle ’n voorbeeld wees van die dinge wat ons hulle leer. Ná ’n betreklik kort tydjie sal hulle ook weet wat die pad is waarop hulle moet gaan. Namate hierdie miljoene mense persoonlik onderskei wat die allerbelangrikste in hulle lewe behoort te wees, sal baie beweeg word om stappe te doen om hulle toe te wy en te laat doop. Daarna kan die gemeente hulle help om aan te hou wandel op die pad van die lewe.

22. Watter vrae sal in die volgende artikel ondersoek word?

22 Baie erken geredelik dat God se wil die allerbelangrikste saak in hulle lewe moet wees. Maar hoe leer Jehovah sy knegte op progressiewe wyse om sy wil te doen? Watter voordele bring dit vir hulle mee? Hierdie vrae sal in die volgende artikel ondersoek word, tesame met ’n bespreking van ’n sleutelteks, Psalm 143:10.

[Voetnote]

a Uitgegee in 1993 deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.

b In 1995 uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.

Wat is jou antwoord?

◻ Hoe kan ons ons prioriteite stel deur Filippense 1:9, 10 toe te pas?

◻ Hoe het Jesus getoon wat die hoofsaak in sy lewe was?

◻ Wat kan ons leer uit die optrede van Dawid toe hy beproewinge ondergaan het?

◻ Hoe help Psalm 143:1-9 ons vandag?

◻ Wat behoort die hoofsaak in ons lewe te wees?

[Prent op bladsy 10]

Dawid se optrede het getoon dat hy op Jehovah vertrou

[Erkenning]

Gereproduseer uit Illustrirte Pracht - Bibel/Heilige Schrift des Alten und Neuen Testaments, nach der deutschen Uebersetzung D. Martin Luther’s

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel