Wat beteken godsdiensvryheid vir jou?
Hoewel godsdiensvryheid in die Verenigde State as ’n basiese reg beskou word, het daar in die veertigerjare ’n vlaag van gepeupelgeweld teen Jehovah se Getuies deur die land versprei
MILJOENE het daarvoor geveg. Party het selfs daarvoor gesterf. Dit is voorwaar een van die mens se kosbaarste besittings. Wat is dit? Vryheid! The World Book Encyclopedia definieer vryheid as “die vermoë om keuses te maak en dit uit te voer”. Dit sê voorts: “Uit ’n wetlike oogpunt is mense vry as die gemeenskap nie aan hulle onregverdige, onnodige of onredelike perke stel nie. Die gemeenskap moet ook hulle regte beskerm—dit wil sê hulle basiese vryhede, magte en voorregte.”
Die idee klink eenvoudig. Maar in die praktyk lyk dit asof dit vir mense feitlik onmoontlik is om saam te stem oor presies waar die grense van vryheid getrek moet word. Sommige meen byvoorbeeld dat ’n regering wette moet uitvaardig om sy burgers se vryheid te beskerm. Maar ander sal aanvoer dat hierdie wette juis die boeie is waarvan burgers bevry moet word! Dit is duidelik dat vryheid verskillende dinge vir verskillende mense beteken.
Wat van godsdiensvryheid?
Godsdiensvryheid, wat al gedefinieer is as “die reg om in die godsdiens van jou keuse te glo en dit te beoefen”, is moontlik dié vryheid wat die vurigste geskille ontketen. Volgens die Verenigde Nasies se Universele Verklaring van Menseregte “het almal die reg op vryheid van denke, gewete en godsdiens”. Dit sluit ’n persoon se reg in “om sy godsdiens of sy opvattings te verander”, sowel as die vryheid “om sy godsdiens of opvattings te openbaar in leringe, gebruike, aanbidding en vierings”.—Artikel 18.
Ons sal tog sekerlik verwag dat enige nasie wat opreg oor sy onderdane besorg is sulke vryheid sal toestaan. Ongelukkig gebeur dit nie altyd nie. “Godsdiens raak die diepste gevoelens van baie mense”, sê The World Book Encyclopedia. “Party regerings het noue bande met een godsdiens en beskou mense van ander gelowe as ’n bedreiging vir hulle politieke gesag. ’n Regering kan godsdiens dalk ook as ’n politieke gevaar beskou omdat godsdienste getrouheid aan God bo gehoorsaamheid aan die staat kan stel.”
Om hierdie redes stel sommige regerings beperkings op die beoefening van godsdiens. ’n Paar ontmoedig mense om hoegenaamd enige godsdiens te beoefen. Ander, hoewel hulle beweer dat hulle godsdiensvryheid voorstaan, hou alle godsdiensbedrywighede streng in toom.
Beskou byvoorbeeld die situasie wat jare lank in Mexiko geheers het. Hoewel die grondwet godsdiensvryheid verseker het, het dit bepaal: “Kerke wat vir openbare aanbidding gebruik word, is die eiendom van die volk, soos verteenwoordig deur die Federale Regering wat sal bepaal watter kerke mag voortgaan om as sodanig gebruik te word.” In 1991 is die grondwet gewysig om hierdie beperking uit die weg te ruim. Hierdie voorbeeld lig nietemin toe hoe godsdiensvryheid in verskillende lande verskillend vertolk kan word.
’n Ander soort godsdiensvryheid
Is daar godsdiensvryheid in die land waar jy woon? Indien wel, hoe word dit gedefinieer? Kan jy God op die manier aanbid wat jy verkies, of moet jy noodgedwonge ’n lid van die staatsgodsdiens word? Word jy toegelaat om godsdienslektuur te lees en te versprei, of verbied die regering sulke gedrukte materiaal? Kan jy met ander oor jou geloof praat, of word dit as ’n skending van hulle godsdiensregte beskou?
Die antwoorde op hierdie vrae hang af van waar jy woon. Maar interessant genoeg, daar is ’n soort godsdiensvryheid wat glad nie afhang van waar jy woon nie. Terwyl Jesus in 32 G.J. in Jerusalem was, het hy vir sy volgelinge gesê: “As julle in my woord bly, is julle werklik my dissipels, en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.”—Johannes 8:31, 32.
Wat het Jesus met hierdie woorde bedoel? Sy Joodse luisteraars het daarna gesmag om van Romeinse oorheersing bevry te word. Maar Jesus het nie vryheid van politieke onderdrukking bespreek nie. Hy het sy dissipels eerder iets veel beters belowe, soos ons in die volgende artikel sal sien.