Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w97 2/1 bl. 20-23
  • Onderskraag deur my vertroue in Jehovah

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Onderskraag deur my vertroue in Jehovah
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ek kry vertroue in Jehovah
  • Versterk deur geestelike bedrywighede
  • Uitgebreide voltydse bediening
  • My Betheltoewysings
  • Ons Bethelfasiliteite
  • Kosbare voorregte
  • Betheldiens—Meer vrywilligers is nodig
    Ons Koninkryksbediening—1995
  • Kan dit die beste loopbaan vir jou wees?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • ’n Ope uitnodiging!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
  • Kan jy jou beskikbaar stel?
    Ons Koninkryksbediening—2001
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
w97 2/1 bl. 20-23

Onderskraag deur my vertroue in Jehovah

SOOS VERTEL DEUR AGENOR DA PAIXÃO

Ons enigste seun, Paul, het aan brongitis gesterf toe hy net 11 maande oud was. Drie maande later, op 15 Augustus 1945, het my dierbare vrou aan longontsteking gesterf. Ek was 28, en hierdie terugslae het my bedroef en neerslagtig laat voel. Maar vertroue in Jehovah en sy beloftes het my onderskraag. Ek wil vertel hoe ek hierdie vertroue gekry het.

SEDERT my geboorte in Salvador, in die staat Bahia, Brasilië, op 5 Januarie 1917, het my moeder my geleer om die “heiliges” van die Katolieke Kerk te aanbid. Sy het my en my broers selfs vroeg in die oggend wakker gemaak sodat ons saam kon bid. Maar my ouers het ook candomblé-sessies, die Afro-Brasiliaanse voedoe-ritusse, bygewoon. Ek het hierdie opvattings gerespekteer, maar ek het geen vertroue in die sogenaamde heiliges van Katolisisme of in candomblé gehad nie. Wat my veral teleurgestel het, was die rassevooroordeel wat in hierdie godsdienste geopenbaar is.

Mettertyd het my twee ouer broers die huis verlaat om werk te gaan soek. Later het my vader die gesin verlaat. Op negejarige ouderdom moes ek dus werk kry om my moeder en my jonger suster te help. Ongeveer 16 jaar later het gesprekke met ’n medefabriekswerker tot ’n keerpunt in my lewe gelei.

Ek kry vertroue in Jehovah

Ek het Fernando Teles in 1942 ontmoet. Hy het dikwels gesê dat dit verkeerd is om “heiliges” te aanbid (1 Korintiërs 10:14; 1 Johannes 5:21). Ek het my aanvanklik nie aan hom gesteur nie. Maar sy opregtheid en sy belangstelling in mense, ongeag hulle kleur, het my aangetrek, en ek het sy Bybelkennis begin bewonder, veral wat hy gesê het oor God se Koninkryk en ’n paradysaarde (Jesaja 9:5, 6; Daniël 2:44; Openbaring 21:3, 4). Toe hy sien dat ek belangstel, het hy my ’n Bybel en Bybellektuur gegee.

’n Paar weke later het ek ’n uitnodiging aanvaar om ’n gemeentelike Bybelstudie by te woon. Die groep het die boek Religie bestudeer, wat deur die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap uitgegee is. Ek het die studie geniet en al die gemeentelike vergaderinge van Jehovah se Getuies begin bywoon. Wat my veral beïndruk het, was die afwesigheid van vooroordeel en die manier waarop ek onmiddellik aanvaar is. Ongeveer dié tyd het ek Lindaura die hof begin maak. Toe ek haar vertel wat ek leer, het sy die vergaderinge saam met my begin bywoon.

Iets anders wat my by die vergaderinge beïndruk het, was die klem wat op die predikingswerk gelê is (Matteus 24:14; Handelinge 20:20). Weens die aanmoediging van die pioniers, soos voltydse bedienaars genoem word, het ek informeel met ander op die trein begin praat terwyl ek na en van die werk gereis het. Wanneer ek iemand gevind het wat belangstel, het ek sy adres gevra en hom besoek om daardie belangstelling lewendig te probeer hou.

Intussen het my vertroue in Jehovah en in die organisasie wat hy gebruik, bly toeneem. Gevolglik is ek op 19 April 1943 in die Atlantiese Oseaan gedoop nadat ek na ’n Bybeltoespraak oor Christelike toewyding geluister het. Op daardie selfde dag het ek vir die eerste keer aan die gewone huis-tot-huis-bediening deelgeneem.

Twee weke later, op 5 Mei, is ek en Lindaura getroud. In Augustus 1943 is sy gedoop tydens die eerste byeenkoms wat Jehovah se Getuies in die stad Salvador gehou het. Die 1973 Yearbook of Jehovah’s Witnesses het aangaande daardie byeenkoms gesê: “Weens optrede van die geestelikes kon die openbare lesing in Salvador nie gehou word nie, maar nie voordat daar wyd en syd ’n goeie getuienis . . . gelewer is nie.” Bewyse van Jehovah se leiding tydens kwaai vervolging het my vertroue in hom versterk.

Soos ek aan die begin vertel het, het my dierbare vrou Lindaura net twee jaar ná haar doop—en drie maande ná die dood van ons seun—gesterf. Sy was maar net 22. Maar die vertroue wat ek in Jehovah gehad het, het my gedurende daardie moeilike maande onderskraag.

Versterk deur geestelike bedrywighede

In 1946, ’n jaar nadat ek my vrou en seun verloor het, is ek aangestel as Bybelstudiekneg in die enigste gemeente wat toe in Salvador bestaan het. Daardie selfde jaar het die Teokratiese Bedieningskool in die gemeentes in Brasilië begin, en ek het die eerste skoolkneg in die staat Bahia geword. Toe is die “Blye Nasies”- Teokratiese Byeenkoms in Oktober 1946 in die stad Sao Paulo gehou. My werkgewer by wie ek toe tien jaar gewerk het, het gesê dat hy my nodig het, en hy het druk op my uitgeoefen om nie te gaan nie. Maar ná ek vir hom verduidelik het hoe belangrik dit vir my sou wees om die byeenkoms by te woon, het hy my ’n groot geskenk gegee en my ’n voorspoedige reis toegewens.

Die byeenkomssessies in Sao Paulo se stadskouburg is in Portugees gehou—die taal van Brasilië—asook in Engels, Duits, Hongaars, Pools en Russies. By daardie byeenkoms is die Ontwaak! in Portugees vrygestel. Die byeenkoms het my so geraak—ongeveer 1700 het die openbare toespraak bygewoon—dat ek ’n aansoekvorm ingevul het om op 1 November 1946 in die pionierdiens te begin.

Destyds het ons die grammofoon baie in ons pionierwerk gebruik. Ons het die toespraak “Beskerming” dikwels vir huisbewoners gespeel. Daarna het ons gesê: “Om ons teen ’n onsigbare vyand te beskerm, moet ons na aan ’n vriend bly wat ook onsigbaar is. Jehovah is ons grootste vriend en is baie magtiger as ons vyand, Satan. Ons moet dus na aan Jehovah bly om ons teen hom te beskerm.” Dan het ons die boekie Beskerming aangebied, wat verdere inligting voorsien het.

Ek was minder as ’n jaar lank ’n pionier toe ek ’n uitnodiging ontvang het om as ’n spesiale pionier in die Carioca-gemeente in Rio de Janeiro te dien. Daar het ons soms voor groot teenkanting te staan gekom. My pioniermaat, Ivan Brenner, is selfs een maal deur ’n huisbewoner aangeval. Die bure het die polisie gebel, en ons almal is na die polisiestasie geneem.

Tydens die ondervraging het die woedende huisbewoner ons daarvan beskuldig dat ons die vrede versteur het. Die polisiehoof het hom beveel om stil te bly. Toe het die polisiehoof na ons gedraai en met ’n vriendelike stem gesê dat ons maar kan gaan. Hy het ons beskuldiger aangehou en hom weens aanranding aangekla. Sulke situasies het my vertroue in Jehovah versterk.

Uitgebreide voltydse bediening

Op 1 Julie 1949 was ek verheug toe ek uitgenooi is om in Bethel te dien, soos die takfasiliteite van Jehovah se Getuies in ’n land genoem word. Die Bethel in Brasilië was toe in Licínio Cardosostraat 330, Rio de Janeiro, geleë. Destyds was daar net 17 in die hele Bethelgesin. Ek het ’n tyd lank vergaderinge in die plaaslike Engenho de Dentro-gemeente bygewoon, maar later is ek as die presiderende opsiener gestuur na die enigste gemeente in Belford Roxo, ’n stad wat ’n paar kilometers van Rio de Janeiro af geleë is.

Naweke was baie besig. Op Saterdae het ek per trein na Belford Roxo gereis, in die middag aan die veldbediening deelgeneem en dan in die aand na die Teokratiese Bedieningskool en Diensvergadering gegaan. Ek het by die broers oorgeslaap en die volgende oggend aan die veldbediening deelgeneem. Daardie middag het ek die openbare Bybeltoespraak en Wagtoring-studie bygewoon en ongeveer halftien na Bethel teruggekeer. Vandag is daar 18 gemeentes in Belford Roxo.

In 1954, ná ek daardie rooster drie en ’n half jaar gevolg het, is ek weer as presiderende opsiener na die Sao Cristóvao-gemeente in Rio de Janeiro gestuur. Ek het die volgende tien jaar saam met daardie gemeente gedien.

My Betheltoewysings

My eerste toewysing in Bethel was om ’n motorhuis te bou vir die Genootskap se enigste voertuig, ’n 1949-Dodge-stasiewa wat vanweë sy bruin kleur die bynaam Chocolate gegee is. Toe die motorhuis klaar was, is ek toegewys om in die kombuis te werk, waar ek drie jaar gewerk het. Daarna is ek oorgeplaas na die Smoutdrukafdeling, waar ek nou al meer as 40 jaar is.

Baie van die drukkerstoerusting wat ons gehad het, was tweedehands. Ons het byvoorbeeld baie jare lank ’n ou degelpers gehad wat ons goedig na Abraham se vrou Sara vernoem het. Dit was jare lank in die fabriek by die Wagtoringgenootskap se hoofkwartier in Brooklyn, New York, gebruik. In die vyftigerjare is dit toe na Brasilië verskeep. Hier het die pers op sy oudag, soos Abraham se vrou, vrug voortgebring—in die vorm van Die Wagtoring en Ontwaak!

Die toename in die aantal publikasies wat in Brasilië se drukkery gedruk word, verstom my nog steeds. In 1953 het ons vir die hele jaar 324 400 tydskrifte gedruk, maar nou word meer as driemiljoen elke maand gedruk!

Ons Bethelfasiliteite

Dit was opwindend om deur die jare heen te sien hoe ons Bethelfasiliteite in Brasilië uitbrei. In 1952 het ons ’n tweeverdiepingfabriek agter ons Bethelhuis in Rio de Janeiro gebou. Toe, in 1968, het Bethel na ’n nuwe gebou in die stad Sao Paulo oorgetrek. Toe ons intrek, het alles so groot en ruim vir ons Bethelgesin van 42 lede gelyk. Ons het werklik gedink dat hierdie gebou voldoende sou wees vir al ons toekomstige groei. Maar in 1971 is twee vyfverdiepingaanbousels bygevoeg en is ’n aangrensende fabriek gekoop, omgebou en met hierdie kompleks verbind. Maar binne ’n paar jaar het die voortgesette toename in Koninkryksverkondigers—ons het die 100 000-merk in 1975 oorskry—meer ruimte vereis.

Daarom is ’n nuwe kompleks van geboue ongeveer 140 kilometer van Sao Paulo naby die dorpie Cesário Lange gebou. In 1980 het ons Bethelgesin van 170 lede na hierdie nuwe fasiliteite oorgetrek. Sedertdien het die Koninkrykswerk dramaties toegeneem. Ons het nou meer as 410 000 wat gereeld aan die predikingswerk in Brasilië deelneem! Om na die geestelike behoeftes van al hierdie Koninkryksverkondigers om te sien, moes ons voortdurend nuwe fabrieke bou om Bybellektuur te druk asook nuwe woongeboue om Bethelvrywilligers te huisves. Ons het tans omtrent 1100 lede in ons Bethelgesin!

Kosbare voorregte

Ek beskou Betheldiens as ’n kosbare voorreg. Hoewel ek dit vroeër jare oorweeg het om weer te trou, het ek besluit om my toe te lê op my voorregte in Bethel en in die predikingswerk. Hier het ek die vreugde gesmaak om saam met tallose jongmense in die drukkery te werk en om hulle in hulle toewysings op te lei. Ek het hulle soos my eie seuns probeer behandel. Hulle ywer en onselfsugtigheid was ’n bron van groot bemoediging vir my.

Nog ’n voorreg was om deur die jare heen saam met goeie kamermaats te bly. Persoonlikheidsverskille was weliswaar soms ’n uitdaging. Maar ek het geleer om nie volmaaktheid van ander te verwag nie. Ek het probeer om nie berge van molshope te maak of om myself te ernstig op te neem nie. Om vir my eie foute te lag, het my gehelp om ander s’n te verdra.

Nog ’n kosbare voorreg wat ek geniet het, was om groot internasionale byeenkomste in die Verenigde State by te woon. Een was die “Ewige Goeie Nuus”-Byeenkoms wat in 1963 in Yankee-stadion, New York, gehou is, en die ander een was die “Vrede op Aarde”- Internasionale Byeenkoms wat in 1969 op dieselfde plek gehou is. Terwyl ek daar was, het dit my groot vreugde verskaf om die nabygeleë wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies in Brooklyn, New York, te besoek!

Dit was ook my voorreg om tien jaar lank tydens die Bethelgesin se oggendaanbidding—om die beurt met ander—die leiding te neem. Maar die grootste voorreg, een wat my groot vreugde verskaf en my baie bemoedig het, is om die Koninkryksboodskap na opregtes van hart te bring, net soos ons Heer, Jesus Christus, gedoen het.

In die laaste jare moes ek die uitdaging van Parkinson se siekte verduur. Die liefdevolle sorg van die broers en susters in Bethel se sieke-afdeling is voortdurend ’n bron van hulp en vertroosting vir my. Met volle vertroue bid ek dat Jehovah my die krag moet gee om voort te gaan om my bes ten behoewe van sy ware aanbidding doen.

[Prent op bladsy 23]

Die takkantoor in Brasilië waar ek nou woon

[Prent op bladsy 23]

Saam met my vrou, wat in 1945 oorlede is

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel