Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w97 2/15 bl. 25-29
  • ’n Ooreenkoms tussen “God se tempel” en afgode in Griekeland?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Ooreenkoms tussen “God se tempel” en afgode in Griekeland?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoe die “Heiliges” ’n gevestigde posisie gekry het
  • “Ons aanbid wat ons ken”
  • ‘Aanbid met gees en waarheid’
  • Heiliges
    Redenering uit die Skrif
  • Hoe kan ware heiliges jou help?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • Moet ons tot heiliges bid?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2013
  • Is dit gepas om tot “heiliges” te bid?
    Ontwaak!—2010
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
w97 2/15 bl. 25-29

’n Ooreenkoms tussen “God se tempel” en afgode in Griekeland?

OP HIERDIE snikhete somersdag skroei die son neer op die glinsterende klippe. Maar dit lyk nie of die versengende hitte die geesdrif en onvermoeide vasbeslotenheid demp van ’n menigte vroom Grieks-Ortodokse pelgrims wat op pad is na die kapel bo-op die heuwel nie.

Jy sien ’n uitgeputte ou vrou, wat van die ander kant van die land gereis het en haar moeë voete voortsleep. ’n Bietjie hoër op is daar ’n gretige man wat papnat gesweet sy weg naarstiglik deur die woelige skare probeer baan. En ’n jong meisie, wat duidelik in pyn verkeer en ’n desperate uitdrukking op haar gesig het, kruip op haar knieë wat al erg bloei. Die doel? Om die ikon van die beroemde “heilige” betyds te bereik, voor die ikon te bid en, indien moontlik, daaraan te raak en dit te soen.

Tonele wat soortgelyk is aan hierdie een word regoor die wêreld herhaal op plekke wat gewy is aan die verering van “heiliges”. Blykbaar is al hierdie pelgrims daarvan oortuig dat hulle sodoende God se manier volg om hom te nader en deur dit te doen hulle toegewydheid en geloof toon. Die boek Our Orthodox Christian Faith sê: “Ons gedenk [die “heiliges”] en ken heerlikheid en eer aan hulle heilige karakters toe . . . en ons vra dat hulle ten behoewe van ons voor God bid en dat hulle smeekbedes doen en hulp verleen in die talle behoeftes van ons lewe. . . . Ons neem ons toevlug tot die wonderdoenende Heiliges . . . vir ons geestelike en liggaamlike behoeftes.” Volgens die sinodale kerkwette van die Rooms-Katolieke Kerk moet “heiliges” ook aangeroep word as middelaars tussen God en die mens, en die relieke sowel as die beelde van die “heiliges” moet vereer word.

’n Ware Christen moet hoofsaaklik daaroor besorg wees om God “met gees en waarheid” te aanbid (Johannes 4:24). Laat ons dus kyk na sommige feite met betrekking tot die manier waarop die verering van “heiliges” as deel van die godsdiensgebruike van die Christendom ingevoer is. So ’n ondersoek behoort baie insiggewend te wees vir almal wat God op ’n manier wil nader wat vir Hom aanneemlik is.

Hoe die “Heiliges” ’n gevestigde posisie gekry het

In die Christelike Griekse Geskrifte is die “heiliges” al daardie vroeë Christene wat deur die bloed van Christus gereinig is en vir God se diens as voornemende mede-erfgename met Christus afgesonder is (Handelinge 9:32; 2 Korintiërs 1:1; 13:13). Mans en vrouens, vernames en geringes in die gemeente, is almal as “heiliges” beskryf terwyl hulle hier op aarde gelewe het. Dit is voor die hand liggend dat erkenning van die feit dat hulle heiliges in die Skriftuurlike sin is nie tot ná hulle dood uitgestel is nie.

Maar ná die tweede eeu G.J., terwyl die afvallige Christelike godsdiens ontwikkel het, was dit die neiging om die Christelike godsdiens gewild te probeer maak, ’n godsdiens wat by heidense volke byval sou vind en geredelik aanvaarbaar vir hulle sou wees. Hierdie heidene het ’n magdom gode aanbid, en die nuwe godsdiens was streng monoteïsties. ’n Kompromis kon dus aangegaan word omdat “heiliges” die plek van die eertydse gode, halfgode en mitiese helde sou inneem. Die boek Ekklisiastiki Istoria (Kerkgeskiedenis) lewer kommentaar hieroor en sê: “Vir diegene wat van die heidendom tot die Christelike godsdiens bekeer is, was dit maklik om die helde wat hulle agtergelaat het met die karakters van die martelaars te identifiseer en om aan hulle die eer te begin gee wat hulle voorheen aan hulle helde gegee het. . . . Maar hierdie verering van die heiliges was baie dikwels suiwer afgodediens.”

’n Ander naslaanwerk verduidelik hoe “heiliges” in die Christelike godsdiens ingevoer is: “Wat die verering van die heiliges van die Grieks-Ortodokse Kerk betref, vind ons duidelike tekens van die sterk invloed wat heidense godsdiens gehad het. Eienskappe wat aan die Olimpiese gode toegeskryf is voordat [mense] tot die Christelike godsdiens bekeer is, is nou aan die heiliges toegeskryf. . . . Sedert die vroeë jare van die nuwe godsdiens sien ons dat die aanhangers daarvan die songod (Phoebus Apollo) met die profeet Elia vervang deur kerke op, of langsaan, die ruïnes van eertydse tempels of heiligdomme van hierdie god te bou, meestal bo-op heuwels en berge, oral waar die eertydse Grieke die gewer van lig Phoebus Apollo vereer het. . . . Hulle het selfs die Maagd-godin Atena met die Maagd Maria geïdentifiseer. Die leemte wat dus ontstaan het toe die beeld van Atena afgebreek is, is in die siel van die bekeerde afgodedienaar gevul.”—Neoteron Enkyklopaidikon Lexikon (Nuwe Ensiklopediese Woordeboek), Deel 1, bladsye 270-1.

Beskou byvoorbeeld die situasie wat tot die einde van die vierde eeu G.J. nog in Atene bestaan het. Die meeste van die inwoners van daardie stad was nog heidene. Een van hulle heiligste rituele was die Eleusiniese misterieë, ’n gebeurtenis wat uit twee dele bestaan het en jaarliks in Februarie gehou is in die dorp Eleusis wat 23 kilometer noordwes van Atene geleë was.a Om hierdie misterieë by te woon, moes die heidense Ateners die Heilige Weg (Hi·e·raʹ Ho·dosʹ) volg. Die leiers van die stad het ’n alternatiewe plek van aanbidding probeer voorsien, en hulle was taamlik vindingryk hierin. Langs dieselfde pad, ongeveer 10 kilometer van Atene, is die Dafne-klooster gebou om die heidene te lok en te verhoed dat hulle die misterieë bywoon. Die kloosterkerk is op die fondament van die eertydse tempel gebou wat aan die Griekse god Dafnaeus, of Pithios Apollo, gewy was.

Bewyse dat heidense godhede in die verering van “heiliges” opgeneem is, kan ook op die eiland Kithira, Griekeland, gevind word. Op een van die eiland se kruine is daar twee klein Bisantynse kapelle—een van hulle is aan “Sint” Joris gewy, die ander aan die Maagd Maria. Opgrawings het aan die lig gebring dat die kruin die ligging van ’n Minoïese heiligdom was wat byna 3500 jaar gelede as ’n plek van aanbidding gedien het. Gedurende die sesde of sewende eeu G.J. het “Christene” hulle kapel aan “Sint” Joris op die presiese ligging van die bergheiligdom gebou. Die stap was hoogs simbolies; daardie gevorderde sentrum van Minoïese godsdiens het op die seeroetes van die Egeïese See uitgekyk. Die twee kerke is daar gebou om die guns van Maria en “Sint” Joris, te verkry; laasgenoemde is op dieselfde dag as die “seevaarders se beskermer”, “Sint” Nikolaas, herdenk. ’n Koerant wat oor hierdie ontdekking verslag gelewer het, het gesê: “Vandag gaan die [Grieks-Ortodokse] priester teen die berg oploop, net soos die Minoïese priester in vervloë tye sou gedoen het” om heilige diens te verrig!

Ter opsomming van die mate waarin die afvallige Christelike godsdiens deur heidense Griekse godsdiens beïnvloed is, sê ’n geskiedvorser: “Die heidense grondslag van die Christelike godsdiens bly dikwels onveranderd in volksopvattings en getuig dus van die blywende aard van tradisie.”

“Ons aanbid wat ons ken”

Jesus het aan die Samaritaanse vrou gesê: “Ons aanbid wat ons ken. . . . Die ware aanbidders [sal] die Vader met gees en waarheid . . . aanbid, want die Vader soek inderdaad sulke mense om hom te aanbid” (Johannes 4:22, 23). Let op dat dit verpligtend is om met waarheid te aanbid! Dit is dus onmoontlik om God op ’n aanneemlike manier te aanbid sonder juiste kennis van die waarheid en ’n diepe liefde daarvoor. Die ware Christelike godsdiens moet op waarheid gegrond wees, nie op tradisies en gebruike wat uit die heidendom oorgeneem is nie. Ons weet hoe Jehovah voel wanneer mense hom op die verkeerde manier probeer aanbid. Die apostel Paulus het aan die Christene in die eertydse Griekse stad Korinte geskryf: “Watter ooreenstemming is daar . . . tussen Christus en Belial? . . . Watter ooreenkoms het God se tempel met afgode?” (2 Korintiërs 6:15, 16). Enige poging om God se tempel met afgode te verenig, is afstootlik vir hom.

Daarbenewens verbied die Skrif onomwonde die idee van gebede tot “heiliges” sodat hulle as middelaars tussen God en die mens kan optree. In Jesus se modelgebed het hy geleer dat gebede slegs tot die Vader gerig moet word, aangesien hy sy dissipels beveel het: “Julle moet dan só bid: ‘Ons Vader in die hemele, laat u naam geheilig word’” (Matteus 6:9). Jesus het verder gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader behalwe deur my nie. As julle enigiets in my naam vra, sal ek dit doen.” En die apostel Paulus het gesê: “Daar is een God, en een middelaar tussen God en die mense, ’n mens, Christus Jesus.”—Johannes 14:6, 14; 1 Timoteus 2:5.

As ons werklik wil hê dat ons gebede deur God verhoor moet word, is dit noodsaaklik dat ons hom nader op die manier wat sy Woord voorskryf. Toe Paulus die enigste geldige manier beklemtoon het om Jehovah te nader, het hy ook geskryf: “Christus Jesus is die een wat gesterf het, ja, meer as dit, die een wat uit die dode opgewek is, wat aan die regterhand van God is, wat ook vir ons pleit.” “Hy [kan] ook dié wat deur hom tot God nader volkome red, omdat hy altyd lewe om vir hulle te pleit.”—Romeine 8:34; Hebreërs 7:25.

‘Aanbid met gees en waarheid’

Die afvallige Christelike godsdiens het nie die geestelike krag of die ondersteuning van God se heilige gees gehad om die heidene te beweeg om hulle valse aanbidding te verlaat en die waarheidsgetroue leringe van Jesus Christus te volg nie. Dit het in sy soeke na bekeerlinge, mag en gewildheid heidense opvattings en gebruike oorgeneem. Daarom het dit nie ware Christene voortgebring wat vir God en Christus aanneemlik is nie, maar valse gelowiges, “onkruid” wat ongeskik is vir die Koninkryk.—Matteus 13:24-30.

Gedurende hierdie tyd van die einde is daar egter onder Jehovah se leiding ’n grootskaalse beweging om ware aanbidding te herstel. Regoor die wêreld probeer Jehovah se volk, ongeag hulle kulturele, sosiale of godsdiensagtergrond, hulle lewe en opvattings na die standaarde van die Bybel skik. As jy meer wil leer oor hoe om God “met gees en waarheid” te aanbid, kan jy gerus met Jehovah se Getuies in jou omgewing in aanraking kom. Hulle sal jou met graagte help om heilige diens te verrig wat aanneemlik vir God is en op jou denkvermoë en ’n juiste kennis van sy Woord gegrond is. Paulus het geskryf: “Ek [versoek] julle dringend op grond van die medelye van God, broers, om julle liggame aan te bied as ’n offerande wat lewend, heilig en vir God aanneemlik is, ’n heilige diens met julle denkvermoë. En hou op om na hierdie stelsel van dinge gevorm te word, maar word verander deur julle verstand te hervorm, dat julle julle van die goeie en aanneemlike en volmaakte wil van God kan vergewis.” En aan die Kolossense het hy gesê: “Ons [het], van die dag af dat ons daarvan gehoor het, nie opgehou . . . om vir julle te bid nie en te vra dat julle in alle wysheid en geestelike insig vervul mag word met die juiste kennis van sy wil, sodat julle kan wandel op ’n wyse wat Jehovah waardig is om hom ten volle te behaag terwyl julle voortgaan om vrug te dra in elke goeie werk en toe te neem in die juiste kennis van God.”—Romeine 12:1, 2; Kolossense 1:9, 10.

[Voetnoot]

a Die Groter Eleusinië is elke jaar in September in Atene en Eleusis gehou.

[Venster/Prent op bladsy 28]

Onwaarskynlike gebruik van die Parthenon

Die “Christen”-keiser Theodosius II het, met verordeninge wat op die stad Atene (438 G.J.) betrekking gehad het, die heidense ritusse en misterieë afgeskaf, die heidense tempels gesluit. Hulle kon daarna in Christelike kerke omskep word. Die enigste vereiste vir ’n suksesvolle omskepping van ’n tempel was om dit te reinig deur ’n kruis daarin aan te bring!

Een van die eerste tempels wat omskep is, was die Parthenon. Groot herstelwerk is gedoen om die Parthenon geskik te maak om as ’n “Christelike” tempel gebruik te word. Dit het van 869 G.J. as die katedraal van Atene gedien. Aanvanklik is dit geëer as die kerk van “Heilige Wysheid”. Dit kon ’n doelbewuste herinnering aan die feit wees dat die oorspronklike “eienaar” van die tempel, Atena, die godin van wysheid was. Later is dit aan “Ons Liewe Vrou die Atener” gewy. Ná agt eeue van Ortodokse gebruik, is die tempel in die Katolieke kerk St. Maria van Atene omskep. Hierdie godsdienstige “hergebruik” van die Parthenon is voortgesit toe die Ottomaanse Turke dit in die 15de eeu in ’n moskee omskep het.

Vandag word die Parthenon, die eertydse Doriese tempel van Atena Parthenos (“Maagd”), die Griekse godin van wysheid, bloot as ’n meesterstuk van Griekse argitektuur deur duisende toeriste besoek.

[Prent op bladsy 26]

Die Dafne-klooster—’n alternatiewe plek van aanbidding vir die heidene van eertydse Atene

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel