Ehud—’n man van geloof en moed
BAIE jare het verbygegaan sedert die Israeliete die Beloofde Land ingegaan het. Moses en sy opvolger, Josua, was lank reeds dood. By die afwesigheid van sulke manne van geloof het waardering vir rein aanbidding grootliks afgeneem. Die Israeliete het selfs die Baäls en die heilige boomstamme begin dien.a Gevolglik het Jehovah sy volk agt jaar lank in die hande van die Siriërs oorgegee. Toe het die Israeliete tot God om hulp geroep. Weens sy barmhartigheid het hy geluister. Jehovah het ’n regter, Otniël, verwek om Sy volk te verlos.—Rigters 3:7-11.
Hierdie gebeurtenisse moes die Israeliete ’n fundamentele waarheid geleer het—gehoorsaamheid aan Jehovah bring seëninge mee, terwyl ongehoorsaamheid vervloekinge tot gevolg het (Deuteronomium 11:26-28). Maar die volk Israel het nie hierdie les geleer nie. Nadat hulle 40 jaar lank vrede geniet het, het hulle weer eens rein aanbidding versaak.—Rigters 3:12.
Deur Moab oorval
Hierdie keer het Jehovah sy volk in die hand van koning Eglon van Moab laat val. Die Bybel beskryf hom as “’n baie vet man”. Met die hulp van Ammon en Amalek het Eglon Israel aangeval en sy paleis in Jerigo, “die Palmstad”, opgerig. Hoe ironies is dit tog dat die eerste Kanaänitiese stad wat deur Israel verower is nou die hoofkwartier van ’n aanbidder van die valse god Kamos gehuisves het!b—Rigters 3:12, 13, 17.
Eglon het die Israeliete die daaropvolgende 18 jaar onderdruk en blykbaar hoë belasting van hulle gehef. Deur periodieke belasting te hef, het Moab sy eie ekonomiese posisie versterk terwyl dit Israel se middele uitgeput het. Dit is te verstane dat God se volk om verligting uitgeroep het, en weer eens het Jehovah geluister. Hy het nog ’n verlosser vir hulle verwek—hierdie keer ’n Benjaminiet met die naam Ehud. Om ’n einde aan Eglon se tirannie oor Israel te maak, het Ehud beplan om op die dag van die volgende betaling van belasting tot aksie oor te gaan.—Rigters 3:14, 15.
Ter voorbereiding vir sy moedige daad het Ehud ’n tweesnydende swaard gemaak wat een el lank was. As dit ’n kort el was, was die wapen ongeveer 38 sentimeter lank. Sommige sou sê dat dit ’n dolk was. Blykbaar was daar nie ’n dwarsstuk tussen die lem en die handvatsel nie. Ehud kon dus sy klein swaard in die voue van sy kleed wegsteek. Aangesien Ehud links was, kon hy boonop sy swaard aan sy regterkant aangord—wat nie die gewone plek vir ’n wapen was nie.—Rigters 3:15, 16.
Ehud se plan was nie sonder risiko’s nie. Sê nou die koning se dienaars het Ehud byvoorbeeld vir wapens deursoek? Al het hulle dit nie gedoen nie, sou hulle tog sekerlik nie hulle koning alleen laat saam met ’n Israeliet nie! Maar as hulle dit wel gedoen het en Eglon doodgemaak kon word, hoe sou Ehud ontsnap? Hoe ver sou hy kon hardloop voordat Eglon se dienaars uitvind wat gebeur het?
Ehud het ongetwyfeld oor sulke besonderhede nagedink en hom dalk ’n aantal rampspoedige moontlikhede voorgestel. Hy het nietemin met sy plan voortgegaan en moed aan die dag gelê en geloof in Jehovah beoefen.
Ehud ontmoet Eglon
Die dag het aangebreek waarop daar weer belasting betaal moes word. Ehud en sy manne het die koning se paleis binnegegaan. Kort voor lank het hulle voor koning Eglon self gestaan. Maar die tyd het nog nie aangebreek vir Ehud om aan te val nie. Nadat hulle die belasting afgelewer het, het Ehud die belastingdraers weggestuur.—Rigters 3:17, 18.
Waarom het Ehud Eglon nie dadelik doodgemaak nie? Het hy voor vrees geswig? Glad nie! Ten einde sy plan uit te voer, moes Ehud die koning alleen spreek—iets wat hy nie toegelaat is tydens hierdie eerste ontmoeting nie. Daarbenewens sou Ehud hom vinnig uit die voete moes maak. Dit sou vir een man baie makliker wees om te ontsnap as vir die hele geselskap van belastingdraers. Ehud het dus sy kans afgewag. Sy kort besoek aan Eglon het hom in staat gestel om vertroud te raak met die uitleg van die paleis en om die omvang van die koning se sekuriteitsmaatreëls vas te stel.
Nadat hulle aangekom het “by die steengroewe wat by Gilgal was”, het Ehud sy manne verlaat en na Eglon se paleis teruggegaan. Ehud moes ongeveer twee kilometer ver loop, en dit het hom ’n bietjie tyd gegee om oor sy sending te dink en te bid dat Jehovah hom sou seën.—Rigters 3:19, NW.
Ehud keer terug
Ehud is blykbaar in die paleis terugverwelkom. Moontlik het die rojale belasting wat hy vroeër afgelewer het vir Eglon in ’n gemoedelike stemming gebring. Al was die aanvanklike besoek kort het dit Ehud moontlik genoeg geleentheid gegee om die koning se vertroue te wen. Hoe dit ook al sy, Ehud was weer in Eglon se teenwoordigheid.
“Ek het ’n geheime [woord, NW] aan u, o koning”, het Ehud gesê. Die feit dat hy so ver gekom het, het getoon dat Jehovah hom gelei het. Maar daar was ’n probleem. Die “geheime woord” wat Ehud gehad het, kon nie in die teenwoordigheid van die koning se dienaars oorgedra word nie. As Jehovah van voorneme was om in te gryp, het Ehud daardie hulp onmiddellik nodig gehad. “Stil!” het die koning beveel. Aangesien Eglon nie wou hê dat enigiemand anders hierdie “geheime woord” moes hoor nie, het hy sy dienaars uitgestuur. Stel jou voor hoe verlig Ehud moes gewees het!—Rigters 3:19.
Eglon het in sy bo-kamer gesit toe Ehud na hom toe gekom en gesê het: “Ek het ’n boodskap van God vir u!” Het Ehud na Kamos verwys toe hy “God” genoem het? Eglon het moontlik so gedink. Sy nuuskierigheid was geprikkel, en hy het hom van sy troon af opgelig en in afwagting gestaan. Ehud het nader gekom en waarskynlik versigtig beweeg sodat die koning nie sou dink dat hy aangeval word nie. Toe het Ehud met ’n vinnige beweging “sy swaard van sy regterheup af met sy linkerhand gegryp en vir Eglon in sy maag gesteek. Die hef het saam met die lem in sy maag ingegaan en die vet het oor die swaard gepeul”.—Rigters 3:20-22, NAV.
Die koning se dienaars, wat daar naby gewag het, het niks gedoen nie. Maar Ehud het nog steeds in gevaar verkeer. Eglon se dienaars kon enige oomblik instorm en die lyk van hulle gevalle koning ontdek. Ehud moes gou wegkom! Hy het die deure gesluit en deur die luggat van die bo-kamer ontsnap.—Rigters 3:23, 24a, vgl. NW.
Die koning word gevind, en hulle ly ’n nederlaag
Eglon se dienaars het weldra nuuskierig geword. Maar hulle het nie gedurf om hulle die koning se misnoeë op die hals te haal deur sy privaat vergadering te onderbreek nie. Toe let hulle op dat die bo-kamer se deure gesluit is. “Die koning is seker besig om hom te ontlas daar in die koel vertrek”, het hulle gedink. Ná ’n ruk is blote nuuskierigheid egter met ’n vlaag van kommer vervang. Eglon se dienaars kon nie langer wag nie. “En toe hulle ’n sleutel vat en [die deure van die bo-kamer] oopsluit, lê hulle koning daar dood op die vloer.”—Rigters 3:24b, 25, NAV.
Intussen het Ehud ontsnap. Hy het verby die steengroewe by Gilgal gegaan en uiteindelik by Seïra gekom, ’n plek in die bergstreek van Efraim. Ehud het die manne van Israel byeengeroep en hulle in ’n verenigde aanval op die Moabiete gelei. Die verslag sê dat hulle “van Moab omtrent tienduisend man verslaan [het], almal goed geboude en almal dapper manne, en niemand het vrygekom nie”. Ná die oorwinning oor Moab het die land van Israel 80 jaar lank vrede geniet.—Rigters 3:26-30.
Leer uit ehud se voorbeeld
Geloof in God het Ehud beweeg. Hebreërs hoofstuk 11 noem hom nie spesifiek as een “wat deur geloof koninkryke in die stryd verslaan het, . . . dapper geword het in oorlog, die leërs van vreemdelinge op die vlug gejaag het” nie (Hebreërs 11:33, 34). Jehovah het Ehud nietemin ondersteun terwyl hy in geloof opgetree het en Israel van koning Eglon se tirannieke mag bevry het.
Een van Ehud se eienskappe was moed. Hy moes moed aan die dag lê om ’n letterlike swaard goed te gebruik. As God se hedendaagse knegte neem ons nie so ’n swaard op nie (Jesaja 2:4; Matteus 26:52). Maar ons gebruik wel “die swaard van die gees”, God se Woord (Efesiërs 6:17). Ehud het sy wapen vaardig gebruik. Ons moet ook God se Woord vaardig gebruik terwyl ons die goeie nuus van die Koninkryk verkondig (Matteus 24:14). Persoonlike studie van die Bybel, gereelde bywoning van Christelike vergaderinge, ywerige deelname aan die bediening en biddende vertroue op ons hemelse Vader sal ons help om die eienskappe na te volg wat Ehud, ’n ware man van geloof en moed, aan die dag gelê het.
[Voetnote]
a Heilige boomstamme was waarskynlik falliese simbole. Hulle is geassosieer met uiters onsedelike seksorgieë.—1 Konings 14:22-24.
b Kamos was die vernaamste god van die Moabiete (Numeri 21:29; Jeremia 48:46). Kinders is waarskynlik in ten minste sommige gevalle aan hierdie afskuwelike valse god geoffer.—2 Konings 3:26, 27.
[Prent op bladsy 31]
Ehud en sy manne het belasting by koning Eglon afgelewer
[Erkenning]
Gereproduseer uit Illustrirte Pracht - Bibel/Heilige Schrift des Alten und Neuen Testaments, nach der deutschen Uebersetzung D. Martin Luther’s