Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w97 5/1 bl. 4-7
  • Vertroue in ’n onvolmaakte wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vertroue in ’n onvolmaakte wêreld
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Oorspronklike verlies aan onkreukbaarheid
  • Die grondslag van onkreukbaarheid
  • Vertrouenswaardig tydens beproewing
  • Job se onkreukbaarheid
  • Onkreukbaarheid en die Christelike bediening
  • Onkreukbaarheid—Die belonings
  • Behou jou onkreukbaarheid!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2019
  • Sal jy vashou aan jou onkreukbaarheid?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Waarom moet jy jou onkreukbaarheid handhaaf?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Wandel in die weg van onkreukbaarheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
w97 5/1 bl. 4-7

Vertroue in ’n onvolmaakte wêreld

“DIE goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil nie, dit beoefen ek.” Vind jy dat dit in jou geval waar is? Laat die wete dat die apostel Paulus dieselfde probleem gehad het jou bemoedig; en tog was hy ’n man van merkwaardige Christelike onkreukbaarheid. Is dit nie ’n teenstrydigheid nie? In sy brief aan die Christene in Rome het Paulus die probleem ontleed: “As ek dan nou doen wat ek nie wil nie, is dit nie meer ek wat dit bewerk nie, maar die sonde wat in my woon.” Na watter sonde verwys hy, en hoe het hy dit te bowe gekom sodat hy ’n man van onkreukbaarheid kon wees?—Romeine 7:19, 20.

Paulus het vroeër in sy brief geskryf: ‘Deur een mens het die sonde in die wêreld ingekom en die dood deur die sonde, en die dood het só tot alle mense deurgedring omdat hulle almal gesondig het.’ Die “een mens” was Adam (Romeine 5:12, 14). Adamitiese sonde—die sonde van die eerste mens, Adam—is die oorsaak van die ingebore onvolmaakthede van die mensdom en ’n onderliggende rede waarom dit ’n ware uitdaging is om onkreukbaarheid te handhaaf.

Paulus se beskouing van “oorspronklike sonde”, soos dit voorheen genoem is, word nie vandag algemeen aanvaar nie omdat die Bybel se skeppingsverslag in teologiese kringe verwerp is ten gunste van evolusieteorieë. “Geleerdes het die hele passasie verwerp”, is hoe ’n hedendaagse kommentaar op Romeine 5:12-14 dit stel. Maar honderd jaar gelede het Bybelkommentare deurgaans verduidelik dat “Adam, toe hy gesondig het, . . . met daardie sonde en met die gevolge daarvan al sy afstammelinge besmet het”.a

Oorspronklike verlies aan onkreukbaarheid

Net soos baie vandag die bestaan ontken van Adam, die eerste mens, word Satan, die Duiwel, ook as ’n mitologiese versinsel afgemaak.b Maar ’n man van baie groot gesag, Jesus Christus, sê vir ons dat hierdie een “nie in die waarheid vasgestaan [het] nie”, met ander woorde, hy was nie vertrouenswaardig nie (Johannes 8:44). En dit was op aanstigting van Satan dat Adam en sy vrou, Eva, teen Jehovah in opstand gekom en tydens ’n toets hulle onkreukbaarheid prysgegee het.—Genesis 3:1-19.

Aangesien ons almal van Adam afstam, erf ons almal die neiging om te sondig. Die wyse man Salomo het gesê: “Daar is geen regverdige mens op die aarde wat goed doen sonder om te sondig nie” (Prediker 7:20). En tog kan enige mens vertrouenswaardig wees. Hoe is dit moontlik? Omdat ’n mens nie volmaak hoef te wees om onkreukbaarheid te handhaaf nie.

Die grondslag van onkreukbaarheid

Koning Dawid van Israel het baie foute begaan, met inbegrip van sy owerspelige verhouding met Batseba, wat deeglik geboekstaaf is (2 Samuel 11:1-27). Dawid se vele tekortkominge het die feit beklemtoon dat hy beslis nie volmaak was nie. Wat het Jehovah egter in dié man gesien? Toe Jehovah Dawid se seun, Salomo, aangespreek het, het hy gesê: “Wandel voor my aangesig soos jou vader Dawid gewandel het, met ’n volkome hart [“onkreukbaarheid van hart”, NW] en in opregtheid.” (1 Konings 9:4, ons kursiveer.) Ondanks Dawid se talle foute het Jehovah sy wesenlike vertrouenswaardigheid erken. Waarom?

Dawid het die antwoord gegee toe hy vir Salomo gesê het: “Die HERE deursoek al die harte, en Hy verstaan elke versinsel van die gedagtes” (1 Kronieke 28:9). Dawid het foute begaan, maar hy was nederig en hy wou doen wat reg is. Hy het altyd vermanings en teregwysings aanvaar—trouens, hy het daarom gevra. “Toets my, HERE, en beproef my, [louter, NW] my niere en my hart” was sy versoek (Psalm 26:2). En Dawid ís gelouter. Die beperkings wat die gevolg van sy sonde met Batseba was, het byvoorbeeld tot die einde van sy lewe geduur. Dawid het nietemin nooit sy oortredings probeer regverdig nie (2 Samuel 12:1-12). Nog belangriker, hy het nooit van ware aanbidding afgewyk nie. Om dié rede, en weens Dawid se opregte, hartgrondige gewetenswroeging en berou, was Jehovah bereid om sy sondes te vergewe en hom as ’n man van onkreukbaarheid te aanvaar.—Sien ook Psalm 51.

Vertrouenswaardig tydens beproewing

Jesus is deur Satan die Duiwel beproef in ’n poging om hom sy onkreukbaarheid te laat prysgee. Hy moes sy onkreukbaarheid tydens ontberinge en lyding handhaaf, in teenstelling met Adam, wie se gehoorsaamheid as ’n volmaakte mens bloot op die proef gestel is deur die bevel om ’n Goddelike wet te gehoorsaam. Daarbenewens het Jesus druk ondervind omdat hy geweet het dat die bevryding van die mensdom van sy onkreukbaarheid afgehang het.—Hebreërs 5:8, 9.

Satan, wat vasbeslote was om Jesus sy onkreukbaarheid te laat prysgee, het na hom gekom toe Jesus op sy swakste was—nadat hy 40 dae in die wildernis gepeins en gevas het. Hy het Jesus drie maal versoek—om klippe in brood te verander; om van die tempel se kanteel af te spring, in die veronderstelling dat engele sou ingryp om hom te red en sodoende ’n wonderdadige teken gee om sy Messiasskap te bewys, en om die heerskappy van al die koninkryke van hierdie wêreld te aanvaar in ruil vir slegs een “daad van aanbidding” teenoor Satan. Maar Jesus het elke versoeking verwerp en sy onkreukbaarheid teenoor Jehovah gehandhaaf.—Matteus 4:1-11; Lukas 4:1-13.

Job se onkreukbaarheid

Job se standpunt, sy handhawing van onkreukbaarheid onder beproewing, is welbekend. Dit is interessant dat Job nie verstaan het waarom rampspoed hom getref het nie. Hy het nie geweet dat Satan verkeerde beweegredes aan hom toegeskryf het nie—hy het beweer dat Job God weens selfsugtige redes dien en het gesê dat Job sy onkreukbaarheid gewillig sou prysgee om sy eie lewe te red. God het toegelaat dat Job ’n aantal uiters moeilike ondervindinge deurmaak om Satan verkeerd te bewys.—Job 1:6-12; 2:1-8.

Drie valse vriende het op die toneel verskyn. Hulle het God se standaarde en voornemens doelbewus verdraai. Selfs Job se vrou, wat ook nie die geskil verstaan het nie, het versuim om haar man in sy tyd van uiterste nood te bemoedig (Job 2:9-13). Maar Job het standvastig gebly. “Totdat ek die asem uitblaas, sal ek my [onkreukbaarheid, NW] nie prysgee nie. Aan my geregtigheid hou ek vas en laat dit nie los nie; my hart veroordeel geeneen van my dae nie.”—Job 27:5, 6.

Job se uitmuntende voorbeeld, tesame met die onkreukbaarheid van baie ander getroue manne en vroue, soos opgeteken in die Bybel, het Satan ’n leuenaar bewys.

Onkreukbaarheid en die Christelike bediening

Is onkreukbaarheid ’n eienskap wat Jehovah net vir sy eie bevrediging hoogag? Nee. Onkreukbaarheid het werklike waarde vir ons as mense. Dit was tot ons voordeel dat Jesus ons vermaan het om ‘Jehovah ons God lief te hê met ons hele hart en met ons hele siel en met ons hele verstand’. Dit is waarlik “die grootste en eerste gebod”, en slegs ’n man, vrou of kind van onkreukbaarheid sal dit kan onderhou (Matteus 22:36-38). Wat behels dit, en wat is die belonings?

’n Man van onkreukbaarheid kan vertrou word, nie net deur sy medemens nie maar, nog belangriker, deur God. Die reinheid van sy hart word in sy dade gesien; hy het geen geveinsdheid nie. Hy is nie geslepe of verdorwe nie. Die apostel Paulus het dit so gestel: “Ons het afstand gedoen van die agterbakse dinge waaroor ’n mens jou moet skaam en wandel nie met listigheid nie en vervals ook nie die woord van God nie, maar deur die waarheid openbaar te maak, beveel ons ons by elke menslike gewete voor die aangesig van God aan.”—2 Korintiërs 4:2.

Let op dat Paulus gesindhede meld wat op die Christelike bediening betrekking het. Hoe kan ’n Christenbedienaar ander dien as sy hande nie rein is nie, as hy nie ’n man van onkreukbaarheid is nie? Die hoof van ’n Ierse godsdiensorde wat onlangs sy amp neergelê het, lig die punt goed toe. Hy het erken dat hy “ ’n pedofielpriester toegelaat het om aan te hou om met kinders te werk lank nadat sy kindermolestering bekend geword het”, sê die koerant The Independent. Die verslag het verduidelik dat die molestering oor ’n tydperk van 24 jaar plaasgevind het. Die priester het vier jaar tronkstraf gekry, maar dink aan die lyding wat die kinders moes ondergaan wat hy gedurende daardie jare gemolesteer het omdat sy opsiener nie die morele onkreukbaarheid gehad het om op te tree nie!

Onkreukbaarheid—Die belonings

Die apostel Johannes was ’n moedige man. Jesus het hom en sy broer Jakobus “Seuns van die Donder” genoem weens hulle vurige ywer (Markus 3:17). As ’n man van besondere onkreukbaarheid het Johannes, saam met Petrus, aan die Joodse heersers verduidelik dat hy ‘nie kon ophou praat’ oor die dinge wat hy gesien en gehoor het terwyl hy saam met Jesus was nie. Johannes was ook een van die apostels wat gesê het: “Ons moet eerder aan God as heerser gehoorsaam wees as aan mense.”—Handelinge 4:19, 20; 5:27-32.

Dit lyk of Johannes, toe hy in sy laat negentigerjare was, na die eiland Patmos verban is omdat hy “oor God gepraat en van Jesus getuig het” (Openbaring 1:9). Op sy ouderdom kon hy gedink het dat sy bediening tot ’n einde gekom het. Maar slegs aan ’n man met sý onkreukbaarheid kon die toewysing toevertrou word om die aangrypende visioen van Openbaring op te teken. Johannes was getrou hierin. Wat ’n voorreg was dit tog vir hom! En meer het op hom gewag. Later, klaarblyklik in die omgewing van Efese, het hy sy Evangelieverslag en drie briewe geskryf. Watter groot voorregte om 70 jaar van getroue, vertrouenswaardige diens te kroon!

Om oor die algemeen ’n persoon van onkreukbaarheid te wees, verskaf diep bevrediging. Om in Gód se oë vertrouenswaardig te wees, bring ewige belonings mee. Vandag word “ ’n groot skare” ware aanbidders voorberei om ’n nuwe wêreld van vrede en eenheid in te gaan, met die vooruitsig op ewige lewe (Openbaring 7:9). Onkreukbaarheid moet in lewensbelangrike sake soos sedelikheid en aanbidding gehandhaaf word, ondanks die beproewinge van hierdie stelsel van dinge en die baie toetse wat Satan oor ons kan bring. Wees verseker dat jy met die krag wat Jehovah gee wel kan slaag!—Filippense 4:13.

In ’n dankgebed tot Jehovah praat die psalmis Dawid van die hede sowel as die toekoms en stel ons almal gerus wanneer hy sê: “Wat my betref, weens my onkreukbaarheid het u my ondersteun, en u sal my tot onbepaalde tyd voor u aangesig stel. Mag Jehovah . . . geseënd wees . . . Amen en Amen.”—Psalm 41:12, 13, NW.

[Voetnote]

a Kommentaar in The New Testament of Our Lord and Saviour Jesus Christ, according to the Authorised Version, with a brief commentary by various authors.

b Die naam Satan beteken “teenstander”. “Duiwel” beteken “lasteraar”.

[Prent op bladsy 4]

Ten spyte van Dawid se foute, het hy bewys dat hy vertrouenswaardig is

[Prent op bladsy 5]

Jesus het vir ons die beste voorbeeld van vertrouenswaardigheid gestel

[Prent op bladsy 7]

Dit verskaf groot bevrediging om vertrouenswaardig te wees

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel