Koninkryksverkondigers berig
Hy Het ’n “Pêrel Van Groot Waarde” Gevind
“DIE koninkryk van die hemele is . . . soos ’n reisende koopman wat goeie pêrels soek. Toe hy een pêrel van groot waarde vind, het hy weggegaan en dadelik alles verkoop wat hy gehad het en dit gekoop.” Jesus het met hierdie woorde die oortreffende waarde van God se Koninkryk geïllustreer (Matteus 13:45, 46). Diegene wat die Koninkryk se waarde erken, doen dikwels groot persoonlike opofferinge om dit te bekom. Dit word toegelig deur die volgende ondervinding uit die Pingtoeng-distrik, Taiwan.
In 1991 het mnr. en mev. Lin die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer. Toe ’n plaaslike predikant dit te hore kom, het hy hulle probeer oorhaal om by sy kerk aan te sluit. Aangesien die Lins ’n onderneming gehad het wat vark- en eendebloed by die plaaslike mark verkoop het, het hulle besluit om die predikant se beskouing oor die saak te vra. “Alles wat God gemaak het, kan as voedsel vir mense dien”, het hy geantwoord. Daarenteen het die Getuies hulle aangemoedig om te kyk wat God se Woord daaroor sê. Hulle het uitgevind dat Jehovah God bloed as heilig beskou, want “die lewe van ’n skepsel is die bloed” (Levitikus 17:10, 11, The New English Bible). Ware Christene moet hulle dus “onthou . . . van bloed” (Handelinge 15:20). Weens hulle ondersoek na wat die Skrif oor hierdie onderwerp sê, het die Lins besluit om nie meer bloed te verkoop nie, al het dit ’n groot deel van hulle inkomste uitgemaak. Kort daarna het hulle egter voor ’n selfs groter toets te staan gekom.
Voor die Lins die waarheid geleer het, het hulle 1300 betelneutpalms op hulle landgoed geplant. Hoewel die bome eers ná vyf jaar wins sou oplewer, kon die Lins verwag om R360 000 per jaar te verdien sodra die bome hulle volle opbrengs begin lewer het. Namate die eerste oestyd nader gekom het, moes die Lins ’n belangrike besluit neem. Hulle het uit hulle studie van die Bybel geleer dat Christene hulle “van elke verontreiniging van die vlees en die gees” moet reinig deur onrein gewoontes, soos tabakrokery, die misbruik van dwelms en die kou van betelneut, of die bevordering daarvan, te vermy (2 Korintiërs 7:1). Wat sou hulle doen?
Aangesien sy gewete hom gekwel het, het mnr. Lin besluit om sy studie te staak. Intussen het mev. Lin die betelneute van party van hulle ouer palms verkoop en ’n wins van meer as R14 000 gemaak. Dit was net ’n voorsmaak van wat hulle kort voor lank kon kry as hulle hulle bome gehou het. Maar mnr. Lin se gewete het hom bly aankla.
Hy het met die probleem geworstel totdat hy eendag die plaaslike Getuies gevra het om sy betelpalms vir hom af te saag. Die Getuies het verduidelik dat hy self die besluit moes neem; hy moes dus “sy eie vrag dra” en self die bome afsaag (Galasiërs 6:4, 5). Hulle het hom aangemoedig om die belofte in 1 Korintiërs 10:13 te onthou, wat sê: “Geen versoeking het oor julle gekom nie, behalwe wat eie is aan mense. Maar God is getrou, en hy sal nie toelaat dat julle versoek word bo wat julle kan verdra nie, maar saam met die versoeking sal hy ook die uitweg gee, sodat julle dit sal kan verduur.” Die Getuies het ook met hom geredeneer en gesê: “As ons jou bome vir jou afsaag, sal jy dalk spyt daaroor hê en ons vir die verlies blameer.” Kort daarna is mev. Lin deur die geluid van ’n kettingsaag wakker gemaak. Haar man en kinders was besig om die betelpalms af te saag!
Mnr. Lin het gevind dat Jehovah Sy beloftes nakom. Hy het werk gekry wat hom met ’n skoon gewete gelaat het en hom in staat gestel het om ’n lower van Jehovah te word. Hy is in April 1996 by ’n kringbyeenkoms van Jehovah se Getuies gedoop.
Ja, mnr. Lin het as ’t ware “alles verkoop wat hy gehad het” en ’n “pêrel van groot waarde” gekoop. Nou het hy die onskatbare voorreg om ’n persoonlike verhouding met Jehovah God te hê en Sy Koninkryksbelange te bevorder.