Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w97 8/15 bl. 8-11
  • Hoe die Bybel ons bereik het—Deel een

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe die Bybel ons bereik het—Deel een
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Vroeë oorskrywery en vertaling van die Bybel
  • Die eerste Christenboekuitgewers
  • Latynse en Slawoniese Bybels
  • Die Hebreeuse Bybel bly behoue
  • Bybelvertaling word teëgestaan
  • Hoe om tekste in jou Bybel te kry
    Nog onderwerpe
  • Die Bybel​—Hoekom so baie vertalings?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Publieke uitgawe)—2017
  • Studie nommer 3—Die plasing van gebeurtenisse in die tydstroom
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Tydlyn
    Die Bybel—Wat is die boodskap daarin?
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
w97 8/15 bl. 8-11

Hoe die Bybel ons bereik het—Deel een

Deel 2 en 3 sal in die nommers van 15 September en 15 Oktober onderskeidelik verskyn.

’N DRUKKER en sy jong vakleerlinge is in ’n werkswin-keltjie besig om ritmies met hulle houtraamdrukpers te werk en onbedrukte velle papier versigtig oor die letters te plaas. Wanneer hulle die papier afhaal, gaan hulle die gedrukte teks na. Dan hang hulle die gevoude blaaie oor toue wat van muur tot muur gespan is sodat die blaaie droog kan word. Skielik is daar ’n harde klop aan die deur. Die drukker ontgrendel verskrik die deur en ’n groep gewapende soldate storm in. Hulle begin soek na die verwerplikste soort onwettige lektuur—die Bybel in die taal van die gewone mense!

Hulle het te laat gekom. Die vertaler en ’n helper het ’n waarskuwing ontvang en het hulle reeds na die werkswinkel gehaas, armsvol blaaie opgeraap, en hulle ontsnap nou met die Rynrivier langs. Hulle het ten minste ’n deel van hulle werk gered.

Die vertaler was in hierdie geval William Tyndale, wat in 1525 hierdie verbode Engelse “Nuwe Testament” in Keulen, Duitsland, probeer druk het. Sy ondervinding was in werklikheid glad nie uniek nie. Dwarsdeur die bykans 1900 jaar sedert die opskrifstelling van die Bybel voltooi is, het baie mans en vrouens alles op die spel geplaas om die Woord van God te vertaal en te versprei. Ons vind vandag nog steeds baat by hulle werk. Wat het hulle gedoen? Hoe het die Bybels wat ons nou in ons hand hou ons bereik?

Vroeë oorskrywery en vertaling van die Bybel

Ware knegte van God het nog altyd die hoogste agting vir sy Woord gehad. Die New Catholic Encyclopedia erken: “Soos hulle Joodse voorgangers, het die vroeë Christene die lees van die Heilige Boeke hoog aangeslaan. In navolging van Jesus se voorbeeld (Mt 4.4; 5.18; Lu 24.44; Joh 5.39) het die Apostels ’n vertroudheid met die O[u] T[estament] gehad wat te kenne gee dat hulle dit voortdurend en sorgvuldig gelees en bestudeer het, en hulle het hulle dissipels dit op die hart gedruk (Ro 15.4; 2Ti 3.15-17).”

Met dié doel moes afskrifte van die Bybel gemaak word. In voor-Christelike tye is ’n groot deel van hierdie werk gedoen deur uiters professionele ‘vaardige kopiïste’ wat ’n groot vrees gehad het om foute te begaan (Esra 7:6, 11, 12, NW). Hulle strewe na volmaaktheid het ’n hoë standaard gestel vir alle Bybelkopiïste ná hulle.

Gedurende die vierde eeu v.G.J. het daar egter ’n uitdaging ontstaan. Aleksander die Grote wou hê dat mense regoor die wêreld in die Griekse kultuur onderrig moes word. Sy verowerings het gewone Grieks, of Koine, dwarsdeur die Midde-Ooste as die spreektaal bevestig. Gevolglik het baie Jode grootgeword sonder dat hulle ooit Hebreeus leer lees het, en hulle kon dus nie die Skrif lees nie. Daarom het ’n groep Hebreeuse geleerdes, omstreeks 280 v.G.J., in Aleksandrië, Egipte, vergader om die Hebreeuse Bybel in die bekende Koine te vertaal. Hulle vertaling het bekend geword as die Septuagint, Latyn vir “Sewentig”, wat verwys na die geraamde getal vertalers wat na bewering daarby betrokke was. Dit is omstreeks 150 v.G.J. voltooi.

In Jesus se tyd is Hebreeus nog in Palestina gepraat. Maar dit was Koine wat daar en in die res van die uitgestrekte provinsies van die Romeinse wêreld die oorheersende taal was. Die Christenbybelskrywers het derhalwe hierdie algemene vorm van Grieks gebruik sodat hulle soveel mense van die nasies moontlik kon bereik. Hulle het ook vryelik uit die Septuagint aangehaal en baie van die uitdrukkings daarin gebruik.

Aangesien die vroeë Christene ywerige sendelinge was, het hulle spoedig vaardig geword in die gebruik van die Septuagint om te bewys dat Jesus die langverwagte Messias was. Dit het die Jode ontstel en veroorsaak dat hulle sekere nuwe vertalings in Grieks gemaak het, wat bedoel was om die Christene hulle argumente te ontneem deur hulle geliefkoosde bewysplase te verander. In Jesaja 7:14 gebruik die Septuagint byvoorbeeld ’n Griekse woord wat “maagd” beteken en wat profeties na die moeder van die Messias verwys. Die nuwe vertalings het ’n ander Griekse woord gebruik wat “jong vrou” beteken. Die feit dat die Christene voortgegaan het om die Septuagint te gebruik, het uiteindelik daartoe gelei dat die Jode hulle taktiek heeltemal laat vaar het en ’n terugkeer tot Hebreeus aangemoedig het. Dit was op die lange duur ’n seën vir latere Bybelvertaling, aangesien dit gehelp het om die Hebreeuse taal lewend te hou.

Die eerste Christenboekuitgewers

Die ywerige vroeë Christene het hulle dit ten doel gestel om soveel afskrifte moontlik van die Bybel te maak, en dit is almal met die hand oorgeskryf. Hulle het ook die weg gebaan vir die gebruik van die kodeks, wat blaaie soos ’n moderne boek gehad het, eerder as om met die gebruik van boekrolle voort te gaan. Behalwe dat ’n kodeks dit makliker gemaak het om tekste gou te vind, kon dit in een boekdeel meer bevat as wat daar in een boekrol geskryf kon word—byvoorbeeld, die hele Griekse Geskrifte of selfs die hele Bybel.

Die kanon van die Christelike Griekse Geskrifte is omstreeks 98 G.J. voltooi met die boeke van die laaste apostel wat nog gelewe het, Johannes. Daar is ’n fragment van ’n afskrif van Johannes se Evangelie, wat die Rylands-papirus 457 (P52) genoem word, wat teruggevoer kan word tot nie later nie as 125 G.J. Tatianus, ’n student van Justinus die Martelaar, het reeds in 150 tot 170 G.J. die Diatessaron geskryf, ’n saamgestelde verslag van Jesus se lewe wat opgestel is uit dieselfde vier Evangelies wat ons in ons huidige Bybels het.a Dit het getoon dat hy slegs daardie Evangelies as eg beskou het en dat dit reeds in omloop was. Omstreeks 170 G.J. is die oudste bekende katalogus van “Nuwe Testament”-boeke, wat die Canon Muratori genoem word, saamgestel. Daarin verskyn die meeste boeke van die Christelike Griekse Geskrifte.

Die verspreiding van Christelike opvattings het spoedig ’n aanvraag na vertalings van die Christelike Griekse Geskrifte sowel as die Hebreeuse Geskrifte geskep. Talle vertalings is uiteindelik in tale soos Armeens, Kopties, Georgies en Siries gemaak. Alfabette moes dikwels met juis daardie doel voor oë ontwerp word. Daar was byvoorbeeld Ulfilas, ’n vierde-eeuse biskop van die Roomse Kerk, wat na bewering die Gotiese skrif ontwerp het om die Bybel te vertaal. Maar hy het die boeke van Konings uitgelaat omdat hy gedink het dat dit die oorlogsugtige neigings van die Gote sou bevorder. Hierdie daad het egter nie die “verchristelikte” Gote verhinder om Rome in 410 G.J. te plunder nie!

Latynse en Slawoniese Bybels

Intussen het Latyn al hoe gebruikliker geword, en etlike Oud-Latynse vertalings het verskyn. Maar die styl en akkuraatheid het gewissel. In 382 G.J. het pous Damasus dus sy sekretaris, Hieronimus, aangestel om ’n gesaghebbende Latynse Bybel saam te stel.

Hieronimus het begin deur die Latynse vertalings van die Christelike Griekse Geskrifte te hersien. Met die Hebreeuse Geskrifte het hy egter daarop aangedring om uit die oorspronklike Hebreeus te vertaal. Hy het derhalwe in 386 G.J. na Betlehem verhuis om Hebreeus te studeer en die hulp van ’n rabbi te verkry. Sy optrede het groot omstredenheid in kerkkringe veroorsaak. Party, waaronder Hieronimus se tydgenoot Augustinus, het geglo dat die Septuagint geïnspireer is, en hulle het Hieronimus daarvan beskuldig dat hy “na die Jode oorgestap het”. Hieronimus het deurgedruk en sy werk omstreeks 400 G.J. voltooi. Deur na aan die bron van die oorspronklike tale en dokumente te kom en deur dit in die lewende taal van sy dag weer te gee, het Hieronimus moderne vertaalmetodes met duisend jaar vooruitgeloop. Sy werk het bekend geword as die Vulgaat, of Gewone vertaling, en mense het eeue lank voordeel daaruit getrek.

In die Oos-Europese deel van die Christendom kon baie nog die Septuagint en die Christelike Griekse Geskrifte lees. Maar later is tale en dialekte wat aan Slawonies, of Slawies verwant is algemeen gebruik in die oostelike dele van Europa. In 863 G.J. het twee Griekssprekende broers, Cyrillus en Methodius, na Morawië gegaan, wat nou in die Tsjeggiese Republiek is. Hulle het die Bybel in Ou Slawonies begin vertaal. Om dít te doen, het hulle die Glagolitiese alfabet ontwerp, wat later vervang is deur die Cyrilliese alfabet, wat na Cyrillus vernoem is. Dit was die oorsprong van die hedendaagse Russiese, Oekraïense, Serwiese en Bulgaarse alfabet. Die Slawoniese Bybel was mense van daardie gebied geslagte lank tot nut. Dit het egter mettertyd, namate tale verander het, vir die gewone mens onverstaanbaar geword.

Die Hebreeuse Bybel bly behoue

Gedurende hierdie tydperk, van ongeveer die sesde tot die tiende eeu G.J., het ’n groep Jode wat as die Masorete bekend gestaan het sistematiese oorskryfmetodes ontwikkel om die teks van die Hebreeuse Geskrifte te bewaar. Hulle het so ver gegaan as om al die reëls en selfs elke individuele letter te tel en afwykings tussen manuskripte neer te skryf—dit alles in ’n poging om ’n egte teks te bewaar. Hulle pogings was nie tevergeefs nie. Om maar een voorbeeld te noem, ’n vergelyking van moderne Masoretiese tekste met die Dooie See-rolle, wat tussen 250 v.G.J. en 50 G.J. geskryf is, toon geen leerstellige verandering in meer as 1000 jaar nie.b

In Europa was die Middeleeue oor die algemeen sinoniem met die Donker Eeue. Die volksmenigte het baie min gelees en geleer. Later kon selfs die meeste geestelikes nie Kerklatyn lees nie, en hulle kon dikwels nie eens hulle eie taal lees nie. Dit was ook die tyd in Europa toe die Jode in ghetto’s saamgehok is. Deels weens hierdie afsondering is kennis van Bybelse Hebreeus bewaar. Maar weens vooroordeel en wantroue was die Jode se kennis dikwels nie beskikbaar buite die ghetto nie. In die westelike deel van Europa was kennis van Grieks ook aan die afneem. Die situasie is verder vererger deur die Westerse Kerk se ontsag vir Hieronimus se Latynse Vulgaat. Dit is oor die algemeen as die enigste statevertaling beskou, selfs al het Latyn teen die einde van die Masoretiese tydperk ’n dooie taal geword. Namate die begeerte om die Bybel te ken stadigaan begin wortelskiet het, het die tyd vir ’n groot konflik aangebreek.

Bybelvertaling word teëgestaan

In 1079 het pous Gregorius VII die eerste van baie Middeleeuse kerkedikte uitgevaardig wat mense verbied het om vertalings in die volkstaal te maak en soms selfs te besit. Hy het toestemming om die mis in Slawonies te hou, herroep op grond daarvan dat dele van die Heilige Skrif vertaal sou moes word. Heeltemal in stryd met die standpunt van die vroeë Christene het hy geskryf: “Dit [het] die almagtige God behaag dat die heilige Skrif op sekere plekke ’n geheim moet wees.” Aangesien dit die amptelike standpunt van die kerk was, is voorstanders van Bybellees al hoe meer as gevaarlik beskou.

Ondanks die ongunstige klimaat het die oorskryf en vertaling van die Bybel in omgangstale voortgegaan. Vertalings in baie tale is in die geheim in Europa versprei. Dit was alles handgeskrewe kopieë, aangesien drukwerk met los letters eers in die middel van die vyftiende eeu in Europa uitgevind is. Maar aangesien kopieë duur was en in beperkte getalle beskikbaar was, kon ’n gewone burger hom gelukkig ag as hy selfs net ’n deel van een boek van die Bybel of net ’n paar bladsye besit het. Party het groot dele uit die hoof geleer, selfs die hele Christelike Griekse Geskrifte!

Ná verloop van tyd was daar egter tekens van wydverspreide bewegings ten gunste van hervorming van die kerk. Dit is deels aangemoedig deur hernieude bewustheid van die belangrikheid van God se Woord in die daaglikse lewe. Hoe sou hierdie bewegings en die ontwikkeling van die drukkuns die Bybel raak? En wat het van William Tyndale en sy vertaling geword, wat aan die begin genoem is? Ons sal in toekomstige nommers die verloop van hierdie interessante verhaal tot vandag toe voortsit.

[Voetnote]

a Die boek Die grootste mens wat nog geleef het, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., is ’n moderne voorbeeld van hoe die vier Evangelies ooreenstem.

b Sien Insight on the Scriptures, Deel 2, bladsy 315, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.

[Prent op bladsy 9]

Vroeë Christene het die weg gebaan vir die gebruik van die kodeks

[Prent op bladsy 10]

Hieronimus het na Betlehem gegaan om Hebreeus te studeer

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel